Nuuskommentaar: Strooipoppe word voos geskiet

Argieffoto: Pixabay

Op die oomblik is daar soveel debatte, veral op sosiale media, oor hoe goed of sleg sekere bekendes nou eintlik is. In baie gevalle is die werklikheid nie so erg nie, en daarom word strooipoppe opgestel wat pa of ma moet staan vir vele werklike of gewaande slegte optredes.

Hoeveel sake waaroor die publiek en die media so stof opskop is die gevolg daarvan dat strooipoppe van die werklikheid geskep word, en die strooipoppe, eerder as die werklikheid, dan onder skoot kom?

Hoeveel van die volgehoue aanvalle op Helen Zille, Wes-Kaapse premier, is nog op die werklike persoon gemik, en hoeveel op ’n strooipop van haar wat vir teikenskiet gebruik word?

En so af en toe word sommer nog strooipoppe langsaan opgetrek en na geskiet. Seker die mees klassieke voorbeeld is toe Max du Preez onlangs in een van sy rubrieke oor Zille se twiet skryf: “G’n wonder nie verstokte ras-fundamentaliste soos Steve Hofmeyr en Kallie Kriel het dadelik tot Zille se redding gekom.” So ’n beskuldiging teen Kriel staan in skrille kontras met ’n advertensie wat op die oomblik loop van AfriForum Jeug Kovsies waarin rasbeheptheid afgewys word.

Maar dit is asof Max en die ander lede van die Seunse Weenkoor, wanneer dit by die Solidariteit Beweging en sy filiale kom, kompulsief dinge kwytraak wat nie werklik is nie, en ook ander leiers is al as strooipoppe opgestel. Lees gerus Kallie Kriel se artikel hieroor op Maroela Media. Die opskrif: “Die tirannie van politieke korrektheid knou oop gesprek.

Kriel wys daarop, en dit kan met vele voorbeelde gestaaf word, dat sekere historiese kwessies deur die ANC tot heilige koeie verhef word, en dat enige aanval daarop as rassisme afgemaak word. ’n Goeie voorbeeld was toe dr. Pieter Mulder, toe nog leier  van die Vryheidsfront Plus, ’n “lesing” oor grondbesit in die parlement gelewer het. Sy feite was in skrille kontras met gereelde stellings van onder meer Zuma self dat wit mense die grond bekom het deur dit van swart mense te steel. Die ANC se strooipop, dus. So onthuts was die ANC en ander partye dat Zuma self tot die debat toegetree het en vir Mulder die leviete voorgelees het.

Op ’n globale skaal is daar ’n reuse-histerie oor Donald Trump se verkiesing tot Amerikaanse president. Trump leen hom tot kritiek, maar die volgehoue histerie van byvoorbeeld sekere media lyk ook al meer na kompulsiewe gedrag om hul teleurstelling / ongeloof te verwoord oor die linkses / liberales teen hul verwagting die kreeftegang gegaan het.

Trump se ondersteuners reageer in gelyke munt om vir hom in die bresse te tree, met soms die mees verregaande stories wat vir die waarheid opgedis word.

Dieselfde geld ook ander karakters soos Wladimir Poetin, die Russiese president, en op die oomblik, Geert Wilders, die vurige Nederlandse politikus. Daar is net geen einde aan skrywes van analiste om Wilders se vertoning in die Nederlandse verkiesing af te maak, of op te hemel nie. En steeds word die strooipoppe van Wilders opgestel … sy ondersteuners wat van hom ’n politieke wonder maak, en sy teenstanders wat hom en sy ideologie as gevaarlik beskou. Baie van die “feite” wat opgedis word versmelt met die samesweringsteorieë.

Oor baie sake is daar nie besonderse politieke korrekte weergawes wat die een of ander kant as heilige koei kan opstel nie.

Die EFF kan tegnies nie sy mond veel oor die Zille-twiet lug nie, want sy eie leier, Julius Malema, het enkele jare gelede by Medunsa gesê apartheid was nie net sleg nie. Tog sal die EFF dit anders sien – Malema is swart en Zille is wit. En siedaar, ons het nog ’n voorbeeld van politieke korrektheid wat ’n rasbenepe tirannie skep.

Voorbeelde van hoe vooroordeel tot die opstel van strooipoppe kan lei is volop. Na afloop van die Reitz-vier-debakel skryf ’n senior joernalis oor die voorval asof die video-opnames soos ’n “candid camera”-opname geskiet is, met die skoonmakers wat salig onbewus daarvan was. In werklikheid het hulle vrywillig deelgeneem, en toe die eindproduk vir hulle gewys is, het hulle van hul vriende gaan roep om saam te kyk. Uiteindelik is die vier gevonnis op aanklagte waarvoor hulle nie eens aangekla was nie, en moes die hooggeregshof met ’n appèl sake in die reine bring.

In die ou Suid-Afrika is gereeld kursusse aangebied oor hoe kulture verskil sodat konfliksituasies voorkom kan word. So is onder meer verduidelik dat in die wit kultuur ’n vrou eerste by ’n deur moet in- of uitgaan, terwyl dit in die swart kulture die man is wat eerste moet deurgaan om seker te maak daar wag nie gevare aan die ander kant nie.

Kursusgangers het byvoorbeeld ook geleer welke uitspraak vir die naam, Mangaung, die korrekte is. Spreek dit verkeerd uit, en dit beteken “die plek wat stink”. Ongelukkig word dié weergawe gereeld oor nasionale senders gehoor.

Is kursusse waar wit en swart kan leer wat kwetsend teenoor mekaar is, nie nou gebiedend noodsaaklik is nie? Hoeveel wit mense was voor die Zille-kwessie bewus daarvan dat die woord “kolonialisme” so ’n negatiewe konnotasie het? Dit kon nie sonder meer “geweet” gewees het nie weens die voorkeurgebruik van Engels, die verklaring van koloniale grense as onaantasbaar al is baie van hierdie grense permanente bronne van konflikgenerering, en vele meer.

Net so, hoeveel wit mense was bewus van die sensitiwiteit oor “blackfacing” voor ’n voorval groot opskudding veroorsaak het?

Maar die skoen is soms ook aan die ander voet, soos wanneer ’n LP tydens ’n debat oor plaasaanvalle uitroep die boere moet lewend begrawe word. Of om wit mense van gronddiefstal te beskuldig, en Jan van Riebeeck te gaan slegsê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

John ·

Hoofstuk… hoeveel? Die skaapagtige pers… ja. Eintlik beledig ek skape want ten minste is daar altyd een of twee wat duskant toe pad kies en nie saam met die hoofstroom geblinddoek oor die sinkgatpad skarrel nie. Maar as jy ‘in’ wil wees dan volg jy CNN, die New York Times en Navo se stink paadjies en skree bravo vir elke bebloede kop wat voor die valbyl rol, opgeoffer vir die intrinsieke ‘waarheid’ wat ‘human rights’ op deeske aardbodem sou kon impliseer. Eintlik gaan dit oor Hillary… Hillary, wat nou president ‘is’ en die Demokorate wat aanhou ‘regeer’ en al die vuilste kulkunsies in die hekseboek optower om die onnoseles op ‘n towertapyt na Lalaland weg te voer… ons joernaliste ook… so breindood as kan kom… En enige kommentaar van die geaarde volk word met vurige ‘doom’-gedoopte pyle gepot of op ‘n boser slang se gesis gehoop om ‘n stommerik se stem te stil…

Gerhard ·

Die wat alles wat RT en Poetin opdis net so glo is niks beter nie, net skape van ‘n ander kleur.

Boerseun ·

Gerhard. Ons sal nie weet nie, hoofstroom media publiseer nie graag iets wat Poetin , hoe se jy, opdis nie. Kan jy voorbeelde verskaf asb of spoeg jy weer net snert omdat jy kwaad is dat die westerse wereld weg beweeg van jou manier van dink.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.