Nuuskommentaar: Stryd teen Zuma voor groot toets op Werkersdag

Pres. Jacob Zuma tydens Donderdag se Vryheidsdagvieringe. Foto: Kopano Tlape/GCIS

’n Tradisionele gebruik tydens Cosatu se tradisionele hooffunksie tydens sy jaarlikse Meidagviering het nou onverwags vir pres. Jacob Zuma en die ANC ’n baie warm patat geword. Die saak sal waarskynlik voor Maandag agter die skerms vir vertoon na buite tot rus gebring word, maar agter die skerms sal die bloedlating nie sommer ook so onder die mat ingevee kan word nie.

’n Interessante aspek rakende die stryd om van pres. Jacob Zuma ontslae te raak, speel hom nou af – maar dié keer binne die drieparty-alliansie. Zuma is geskeduleer om op Werkersdag Cosatu se hoofsaamtrek, wat dié keer in Bloemfontein plaasvind, by te woon en toe te spreek, maar dit is by voorbaat in omstredenheid gedompel nadat ’n brief van een van die filiale, Nehawu, uitgelek het waarin gevra word dat Zuma as spreker onttrek word.

Ook die Kommunikasiewerkersvakbond het so ’n brief aan Cosatu gestuur.

Dié onvrede is geen verrassing nie, aangesien Cosatu, soos die derde alliansievennoot, die SAKP, die veldtog en oproepe steun dat Zuma as president sy tassies moet pak.

Maar heeltemal so eenvoudig is dit nie.

Binne die tipe vakbondwese wat Cosatu verteenwoordig, is die sekretaris-generaal dikwels die belangrikste funksionaris. Toe Zuma rondom die Marikana-gebeure sy Zumafikasie en Zoeloefikasie van instansies wat Cosatu insluit die hardste gedryf het, het hy daarin geslaag dat sy bondgenoot, Sidumo Dlamini, dié vakbondfederasie se president word. Die werklike gesag en gesig van Cosatu was egter die sekretaris-generaal, Zwelinzima Vavi. Daar sou op ’n ander manier van Vavi ontslae geraak moes word. Vavi het nie lekker met Zuma gestryk nie, en hy is later behoorlik uit Cosatu uitgewerk. Dit het daartoe bygedra dat Numsa, wat tradisioneel Cosatu se ruggraat was, maar met die opkoms van die onafhanklike Amcu na die derde plek teruggesak het, ook uitgewerk is.

Die somtotaal is dat Cosatu nie meer die krag binne die ANC is wat dit was nie.

Cosatu het tradisioneel aan die ANC ’n belangrike logistieke onderbou tydens verkiesings gegee. Dit geld ook ander liggame soos die ANC se jeugliga wat sedert Zuma se bewindsaanvaarding heelwat in statuur verloor het.

Met Vavi uit, en Dlamini as president, het die pad geplavei gelyk vir Zuma om ook op Cosatu as bondgenoot te kon reken, al was dit dan ook ’n verswakte vennoot. Maar Cosatu het nogtans besluit om Zuma die rug toe te keer, en onder meer besluit om Zuma se 75ste verjaardagpartytjie te boikot. Dlamini het egter wel opgedaag en ook sy steun aan Zuma toegesê, iets waarvoor hy amptelik deur Cosatu gerepudieer is.

Daar is heelwat tradisie ingebou in die hooffunksie van Cosatu se Meidagviering. Die verrigtinge word onder andere deur die president van Cosatu, asook die leier van die SAKP toegespreek, en die ANC, wat ook genooi word om ’n spreker te stuur, “ontplooi” dan ook sy president. Dit was dus eintlik ’n vanselfsprekende verwikkeling dat Zuma as spreker “ontplooi” sou word.

In sekere sin sou dit ook ’n veilige keuse kon wees. Die Vrystaat se premier is deel van die sogenaamde Premierliga wat Zuma sterk steun. Premier Ace Magashule het baie sterk aanhang wat sy teenstanders in die ANC oordonder. Sy betrokkenheid sou verseker dat daar baie Zuma-ondersteuners by die verrigtinge sou wees.

Nehawu en die kommunikasiewerkersvakbond redeneer egter dat dit onbehoorlik sou wees dat Cosatu formeel om Zuma se kop op die skavot roep, maar dat hy nogtans een van die hoofsprekers by hul hooffunksie sal wees. Met ook dr. Blade Nzimande, die SAKP-grootbaas, as spreker is daar minstens een spreker wat geen ooghare vir Zuma het nie. Dlamini sal waarskynlik weer vir Zuma in die bres tree, en interne ontevredenheid binne Cosatu verdiep. Cosatu kan dit nie werklik bekostig nadat Vavi die leiding geneem en tot leier verkies is van die nuwe vakbondfederasie, South African Federation of Trade Unions (SAFTU), nie. Nog Cosatu-vakbonde kan besluit om te dros.

Zuma self sou ook geadviseer word om die eerbare ding te doen en hom as spreker te onttrek. Zuma self het egter tot dusver die optogte en protesaksies teen sy voortgesette presidentskap afgemaak, en selfs in pseudo-godsdienstige terme veroordeel omdat teen hom, as aangewys deur God, in opstand gekom is.

Die paleisrewolusie binne die ANC raak nou erg ingewikkeld. In sy hofstukke om die UDM se aansoek voor die konstitusionele hof teen te staan dat die komende mosie van wantroue in die parlement per geheime stem plaasvind, voer Zuma onder meer aan dat drie van die ANC se groot ses wat sy kabinetskommeling gekritiseer het, sedertdien “in die openbaar” om verskoning gevra het. Die drie, Gwede Mantashe, Cyril Ramaphosa en dr. Zweli Mkhize, het egter nou op ’n streep ontken dat hulle enigsins vir hul kritiek om verskoning gevra het. Hiermee beskuldig hulle by implikasie vir Zuma dat hy in sy stukke aan die konstitusionele hof meineed gepleeg het.

Suid-Afrikaners sal nie lank hoef te wag om te sien hoe die paleisrewolusie vir Maandag se Bloemfonteinse verrigtinge ontplooi nie. Na verwagting sal op hoë vlak skadebeheer toegepas word, en van grootskaalse “window dressing” gebruik gemaak word om die vonk weg van die petrol te hou.

Maar agter die skerms gaan die bloedvloei nie sommer gestuit word nie, en Zuma se posisie al meer onder druk kom – ironies teen die agtergrond dat Zuma se posisie juis weens die druk in ander ANC-sektore nou versterk word.

Dit verhoog op die lange duur die kanse vir ’n skeuring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

AL ·

Die wêreld raak ñ koue vyandige plek vir ons president. Inderdaad het die Here ons volk se smeekgebede verhoor en is Hy al ñ geruime tyd besig met die opbou van gebeure wat op ñ spits gedryf word.

Simon ·

Die Amerikaners is onverbiđdelik en sou lankal gepraat het van n sif.

Kosie ·

Wat jy saai sal jy maai.
Hierdie is Afrika mense, Hierdie man is niks anders as n despoot nie. Hy lei sy eie mense, soos wat sy voorvaders maar altyd gedoen het, om die bos ter veryking van homself en sy mede koruptes. Weet verseker, sy dag kom vinnig nader. Hy sal betaal vir die oneer wat hy die RSA aandoen. Hy is besig om oor die afgrond te stort. Betoog, slaan op tromme, skreeu, wees hardhandig, praat direk, dis al taal wat die nuwe demokrate verstaan. Hy is soos IDI AMIN en net so hopeloos. Israel stuur jou weermag om ons te kom verlos van hom net soos in IDI AMIN se geval. Sterkte Mense.

John ·

Die wereld word warm… en nie danksy aardverwarming nie, maar vanwee die epiese spel oor geheime planne teen ons heersers en BBP’s wat weer ter plaatse afgestof word danksy die geniale Hawks… Erdogan het dit mos onlangs gespeel. Ons geliefde voet-in-die-graf buurman, ken ook die speletjie en dan is daar die Kubaanse-speelbord en die grooot-grooot spel van Noord-Korea, waar die leiers hul sigselwers ook sommer aanbid ter bewaring van landsveiligheid teen aanvalle van regoor die heelal…

JWM ·

Gaan en kan sy eie leuens uiteindelik Zuma se ondergang wees?

Saartjie ·

Dit raak nou ‘n kwessie van hond jaag sy eie stert / hond eet hond. Weer eens maar net ‘n bewys moenie wolf skaapwagter maak nie, want daardie skaapwagter eet sy eie skapies en lammertjies. Gee maar tou dat die spulletjie hulself ophang.

Johannes van Staden ·

So bly niemand soek hom daar nie …wie wil nou jou belasting vir SO n ou gee …om wat mee te maak wel dit is gesteel soos ons almal reeds weet …genade geen wonder SA is junk status ons verdien dit tog SO met sulke mense as leiers ! !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.