Nuuskommentaar: Studente en rommelstatus – onderrig agter doringdraad?

Foto: ANA

Foto: ANA

Daar was nog nooit ʼn tyd dat studentemoleste bloot lomp hanteer kon word nie, maar met meer as R600 miljoen skade later, kan daar nie langer uitgestel word en vandale nié aangekla word oor hul dade nie. Die voltooiing van die akademiese jaar balanseer op ʼn mespunt. En so tussenin laat blyk Standard & Poors dat daar kommer is oor politiekery in Suid-Afrika.

Dinge word nie maklik gemaak vir die kredietagentskappe wat binnekort oor ʼn moontlike rommelstatus vir Suid-Afrika moet besluit nie.

Aan die een kant gooi die minister van finansies, Pravin Gordhan, erg wal en gee versekerings dat hard gewerk word om aan die agentskappe se voorwaardes te voldoen.

Aan die ander kant stuur Standard & Poors ʼn minder subtiele boodskap aan Suid-Afrika dat daar kommer oor die politieke stabiliteit in die land is. Gordhan het nie veel regstreekse beheer hieroor nie; dit is die domein van pres. Jacob Zuma en sy vernaamste ringkoppe.

En dis nou ook in die hande van molesmakende studente.

Word na prof. Adam Habib, rektor van Wits, geluister, is dit vandag reeds D-dag. Slaag die universiteit nie vandag daarin om oop te bly nie, is dit te laat om die akademiese jaar te red. Dit beteken vanjaar se eerstejaars is volgende jaar weer eerstejaars, en daar sal nie gegradueerdes aan die einde van die jaar wees nie. Ander universiteite het dalk ʼn rukkie langer grasie, maar dit kan ook nie te veel wees nie.

Dit lyk nie of die probleem gou opgelos gaan word nie. Soos prof. Amanda Gouws vandag in ʼn rubriek uitwys, word sake bemoeilik deur die studente wat kort-kort die doelpale verskuif.

Die “dekolonisasie van leerplanne” is egter ʼn taai toffie, want dit is (as daartoe ingestem word) ʼn omvattende proses. Dit raak veral gekompliseerd as dit aan die arbeidsmark se verwagtinge moet voldoen, en ook aan internasionale kriteria sodat plaaslike universiteite sinvol op internasionale indekse kan meeding.

Habib trek die streep in die sand, maar bied ook aan dat van sy akademici aan taakspanne beskikbaar gestel word om te werk aan nuwe finansieringsmodelle vir universiteite.

Dat daar gepraat moet word, is gewis, en dat die regering baie brouwerk het om reg te stel, is ook so. Maar daar is nie meer ʼn luukse om alles andersins tot stilstand te knars terwyl die prosesse hul langsame, en soms voeteslepende verloop neem nie.

Daar is baie studente – en volgens peilings die meerderheid – wat nou op hul studie en die suksesvolle afhandeling van die akademiese jaar wil fokus. En hulle het die reg daartoe om aan te dring dat dit wel moontlik moet wees. Dus geen klaskamer-indringing, opskeur van vraestelle en die uitboender van studente uit eksamenlokale nie.

Die twee prosesse moet geskei word, en benewens die “dun blou lyn” (die polisie en veiligheidsdienste) lyk dit al meer asof die groepe met rolle doringdraad in korridors van mekaar geskei moet word. Rugbytoetse is immers al so gespeel.

Maar hoe nou as die helfte van ʼn koshuis se inwoners wil moles maak, en die ander helfte wil slaag? Moet daar ʼn polisieman in elke gang gevestig word?

Dis egter nie ʼn mooi prentjie wat na die kredietagentskappe gestuur word nie. Gister se imbizo hieroor het klaarblyklik nie veel gedoen om die situasie te verlig nie. Pres. Zuma, wat die verrigtinge kom open het, was meer as ʼn uur laat, en het tot die ontsteltenis van verskeie studenteleiers ook die verrigtinge ná sy toespraak verlaat.

Later is aangekondig dat Zuma ná ʼn skriftelike versoek bereid sal wees om studenteleiers te ontmoet.

Boonop het Zuma se voordrag van sy toespraak moeisaam geklink, met min aanduiding dat die president self enige inspraak daarin gehad het. Dit het weer die indruk gewek dat Zuma se rol nou grootliks seremonieel is, en dat die land nou eintlik deur ʼn groep gelei word wat nog nie lekker as span kan saamtrek nie. Indien dit die geval is, is ʼn gesprek tussen Zuma en die studente vanuit ʼn praktiese oorweging min of meer sinneloos.

En die kredietagentskappe is wawyd wakker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

humor ·

Kom ons maak dit vir die spul juis in hierdie benouende warboel nog baie moeiliker en laat hul goed verstaan dit hierdie die keerpunt is. Hierdie treurige verval regverdig duidelik dat selfbeskikkingsreg vir die die Afrikaner geregverdig is.

Johann ·

Versugting: Kan ons nie maar die horlosie terugskuif en ’94 van vooraf onderhandel nie?

Lance ·

Ek glo ons verdien rommelstatus …dankie zuma en anc julle het SA nou mooi opgetert !

Hendrik ·

Wel almal bly feitlik agter doringdraad om veilig te bly waar hulle woon. Miskien is dit die tyd om by die kampusse ook dit te doen. Isoleer elke gebou en sorg dat net dat die studente wat daar hoort toegelaat word totdat hierdie hele situasie weer onder beheer is. Dit is tyd om die koring van die kaf te skei en hierdie opstokers te verwyder.

Theuns ·

Daar is ‘n dieperligende rede hoekom die belhamels wil he dat die Akademiese jaar opgeskort moet word! Hull weet dat hulle hulle kanse die jaar verspeel het en dat hlle in elk geval nie gaan slaag nie daarom wil hulle met hul optrede ‘n “vry” Akademiese jaar afdwing! Dit sluit seker in kos, blyplek en studie geld!

Johan ·

Ek is nie Siener Van Rensburg nie, maar 10 jaar gelede het ek beslis om te emmigreer. My vrae was: Wat is die reaksie teenoor Mugabe se vergrype; wat gebeur met die verkragting saak en bedrog saak teen Zuma. Baie my was dit duidelik waarheen SA oppad was. Die ANC se slagspreuk was nog altyd “Liberation before education.” Dit het in ’76 in die skole begin en hulle glo nog steeds daaraan. Wat die opstokers mee besig is, is net om die anc se manifes tot gestalte te bring. As daar enige erns van regerings kant was oor opvoeding en opleiding sou hul al lankal opgetree het. Ek glo die plan is om universiteite op Afrika standaaard te verlaat. Dan kan almal ‘n graad kry wat in alle geval niks werd sal wees. Die buiteland vra al reeds vrae oor die SA graad se waardeur en standard. Na dese sal dit nie eens gesien word as gelyk met diplomas nie.
Sterkte.

AM ·

Moontlike oplossing vir 2016 Akademiese jaar:
Werk met alle studente se Vorderings punt van die einde van die derde termyn se laaste punte voor die betogings begin het. Die wat slaag, slaag die jaar. Die wat pluk, pluk die jaar.
Sluit dan kampusse en werk n daadwerklike plan uit vir 2017!
Regverdige idee??

Riana71 ·

Ek stem saam met AM. Ek kan my kop op ‘n blok sit dat die “stakendes” in elk geval nie die akademiese jaar sal slaag nie. Aan die einde van die jaar dring hulle weer daarop aan dat almal wees “benadeling” deurgesit moet word.

Emile ·

Universiteite is nie skool nie. Die leermateriaal is aansienlik meer omvattend as skool. Elke semestertoetsreeks of eksamen is die ekwivalent van ‘n matriekeindeksamen. Indien die akademiese jaar nou opgeskort sou word sal die gevolglike kennisleemte eenvoudig net te groot wees om aantaande jaar se nuwe kennis op voort te bou. Hulle sal moet van voor af begin.

Johann ·

Nee. Hulle gaan aandring op gevorderde grade in anargie brand breek en verwoes. Persoonlik onderteken deur NUMBA WHONE…mense; ons staan en toekyk hoe ons land in vlamme en klippe opgaan!!!!!! Dis ernstig.

Alida ·

Roep vir Nzibande en Zuma dat hulle staan en kyk wat doen hulle mense. Liberation before education is mos hulle slagspreuk. Kry vir julle !!!!

Alida ·

Die stakendes of dit nou studente is of sommer net rondlopers is moet aangemoedig word om by Zuma en ou Blade se huise te gaan klippe gooi en brande stig. Hulle wil nie hoor nie. Maak lekker beloftes soos altyd en as dit nie realiseer nie kry hulle dit wat nou gebeur.

John ·

Daar is mense in die regering wat die gebeure snaak vind en dit aflag. Die woord barbarisme is in die woordeboek, nogsteeds. Hoekom is dit nog daar? As studente vanjaar met ‘n halfjaar se werk kan slaag, hoekom nie weer in 2017 nie… nee wag, dis dalk ‘n briljante idee. In die tweede semester kan almal gratis werk vir die land verrig, soos die skoonmaak van riviere of gemeenskapsdiens in hospitale of koppel dit aan hul studierigtings ter betaling van die eerste deel se skuld. Dit sal hulle ook uit die kwaad hou…

Inez ·

Ons moet seker maar soos die Amerikaners begin maak, en alles wat beweeg, begin dagvaar! Die studente wat nou hul jaar sal moet herhaal moet die “Student Councils” en studente (in hul privaathoedanigheid), wat nou amok maak, dagvaar vir die skade wat aangerig word, en die finansiële verliese wat hulle gaan ly! Dit geld ook sommer vir die “Workers’ Unions” wat die oorsaak is van baie skade tydens hul optogte. Wie en wat ook al agter al hierdie nonsens sit, sal miskien nie meer so populêr wees nie! As mens die kultuur van die mense ook mooi verstaan, dagvaar jy ook sommer die “chief en elders” van die gemeenskap waaruit hulle kom OOK! DAN sal die gemors eers stop! Vat aan hul kultuur, en jy gaan resultate begin sien met disipline! Ek sê maar net…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.