Nuuskommentaar: Studenteleiers se minagting van grondwet stel teleur

studente

Foto: Argief

In Volksblad het die afgelope ruk “skielik” briewe van Afrikaanssprekende SR-lede, “ongeag die media-verbod op interne sessies, met vurige, eenstemmige standpunte téén Afrikaans” verskyn. Volksblad het vandag in sy hoofartikel die kwessie in oënskou geneem.

Dat die onvolwasse en maklik weerlegbare argumente in die briewe hinderlik is, is een ding, maar die feit dat SR-lede standpunte kan inneem wat geen ruimte vir moedertaalsprekers se grondwetlike regte maak nie, is ontstellend.

Byna net so ontstellend is die feit dat die een SR-lid duidelik in haar argumentering oor hoekom sy self Engels as onderrigmedium verkies, die “slegs” Engelse handboeke as ’n rede aanvoer. Dat daar ’n enorme verskil tussen studie en papegaaiwerk is, kom skynbaar nie by haar op nie.

Oor die toegang wat Afrikaans aan Afrikaanssprekendes tot Nederlandse en so ook onregstreeks Duitse bronne bied, wat nié vir die Engelse bronne hoef terug te staan nie, swyg die SR-lede ook. En wye blootstelling eerder as om ’n papegaai te wees is immers waaroor studie gaan, en die vaslegging en interpretasie van kennis sodat dit in die praktyk toegepas kan word.

Moet die grondwet en die regte wat dit bied dan maar eenvoudig in die slag bly ten koste van jeugdige naïwiteit? Hul standpunte herinner in elk geval aan ’n modegier.

Dit is jammer dat hierdie pas-bekeerdes wat nou meer “Rooms” as die pous probeer wees, nie net ’n titseltjie substansie in hul argumente kon invoer dat daar immers bietjie volwasse daaroor debatteer kan word nie.

In ’n afsonderlike artikel gesels Volksblad met die nuutverkose Kovsie-voorsitter, Lindokuhle “Lindo” Mtuli. As 23-jarige is hy nie meer so jonk nie, en as vierdejaar regstudent word darem al heelwat insigte oor die grondwet verwag. Maar dit bly helaas uit in die redes wat hy aanvoer waarom Afrikaans as onderrigtaal “sy toepaslikheid op akademiese gebied verloor”.

Die ABC van ’n grondwet en grondwetlike demokrasie is juis dat dit moet keer dat minderhede onder die diktatuur / tirannie van die meerderheid moet verval. ’n Grondwet, soos ook die Suid-Afrikaanse, bied verskanste en selfs spesiaal-verskanste regte ongeag meerderheidswil.

Dit word gerugsteun deur die grondwetlike inbinding van die internasionale reg en internasionale verdrae. Suid-Afrika is juis nou by die Internasionale Strafhof in die sop oor die Omar al-Basjir-geval, skynbaar nadat die regering baie swak regsadvies ingewin het.

Die ding van die internasionale reg is dat dit minderheidsregte, wat tersiêre onderrig in die moedertaal insluit, uitbrei en nie nek omdraai soos wat die aanslag van heethoofde, skynbaar lui dosente en naïewe meelopers hier probeer realiseer nie.

Anders gestel, by hoeveel universiteite oorsee sal ’n heethoof ’n aks met sy saak vorder as hy by inskrywing of diensaanvaarding wel deeglik kennis neem van die reglemente van die instelling, dan die betrokke kontrak sluit, net om daarna moles te maak oor daar aspekte is waarmee hy nie gelukkig is nie?

’n Paar jaar gelede het Christen-studente by Kovsies ingeskryf onder die bewoording van die leuse, In Deo Sapientiae Lux. Toe hulle egter graad kry, was dit skoonveld, en geen sprake meer van die verrigtinge wat met gebed open nie. Gaan studente nou ook onder meerderheidswil / afpersing in die middel van hul studies verneem hul kontrak met die universiteit oor onderrigmedium word eensydig gewysig? Tot hul nadeel. Tel hel met grondwetlik-verskanste regte.

Suid-Afrika moet nou gou besluit of hy ’n regstaat  wil wees waarin die oppergesag van die grondwet erken word – met al die implikasies daaraan vasgeweef, en of dit ’n anargistiese staat wil wees waar persepsies en wanpersepsies na willekeur beleid bepaal al vernietig dit verskanste regte.

En van studente op SR-vlak word ’n sinvoller omgang met die grondwet se inhoud verwag. Maar sies vir hulle soos hulle nou standpunte inneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

AmY ·

Afrikaans is nêrens meer welkom nie. Oor 20 jaar gaan Afrikaans seker weer ñ kombuistaal wees. As daar enige afrikaners in die land gaan oor wees.

Bruno Stef ·

Die Afrikaner of n redelike groep van hulle het ongelukkig verval in n groep napraters wat beinvloed word deur slinkse meningsvormers.Materieele welvaart tesame met gemaksugtigheid/selfsugtigheid en eiebelang gaan ons duur te staan kom soos iemand tevore al opgemerk het die Afrikaner sal begin saamstaan as ons in verlee toue met die hoed in die hand staan vir n stukkie kos. Solidariteit/Afriforum en diesulkes voer n verbete stryd teenoor die propaganda wat daagliks besig is om onverbiddelik op die Afrikanervolk neer te reen.Dit is aanvaarbaar dat n mens soms n graaf n graaf noem om van jou frustrasie ontslae te raak veral as jy met Judas bokke te doen het.

Maddox ·

Dis ‘n feit, die Anc wil die grondwet verander, om dit te doen moet hulle twee-derde meerderheid he. Teiken Afrikaans en blankes, en sien hoe die swart haat groei teen blankes, wat blykbaar nie wil “transformer” nie. Gevolglik sal die swartes saam staan en die 2/3 meerderheid bereik om die grondwet te verander.
Hierdie aksies teen Universiteite en Afrikaners is laaaankal uitgewerk voor die tyd- die blanke is net te dom-onnesel om te verstaan wat aan’t kom is.
Hartseer, maar waar………….

Izzy ·

Die enigste manier HOE Afrikaans kan voortbestaan, is as dit by onsself en ons eie gesinne begin.Koop Afrikaanse boeke en lees, praat Afrikaans, raak by Afrikaanse kultuur organisasies betrokke, besoek afrikaanse kuber ruimtes(websites), dring aan op Afrikaans op rekening state ens .Dis meer as net ‘n taal….dis wie ek is!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.