Nuuskommentaar: Studenteprotes teen Afrikaans

Argieffoto

Argieffoto

In die jongste voorval van dié aard is lesings in Afrikaans by dié landboukollege voorlopig geskrap nadat ’n groepie van 14 swart studente luidrugtig teen die gebruik van Afrikaans as onderrig beswaar gemaak het. Lesings word ook reeds net in Engels aangebied. Sowat 150 Afrikaanssprekende studente weier nou om klasse by te woon totdat die amptelike beleid van 50-50 herstel is.

By die Grootfontein-kollege op Middelburg in die Karoo het die departement bloot besluit die onderrigtaal sal net in Engels wees, maar het ernstige teenspoed van onder meer AfriForum op die lyf geloop. ’n Mens wil huil oor wat van Afrikaans by die Glen-landboukollege buite Bloemfontein geword het, en dan is daar nog die voortdurende skermutselings by Potchefstroom se landboukollege, of te wel die Pampoenboere.

Ook uit vroeëre gebeure by Potchefstroom, Kovsies en Stellenbosch lyk dit of daar groepe is wat hulle nie net vir meer Engels, en selfs ander inheemse tale beywer nie, maar ’n vendetta spesifiek teen Afrikaans voer.

By Kovsies is die kwessie nou formeel aan ’n ondersoek blootgestel, terwyl dr. Dan Kgwadi, tot sy krediet, die protesmakers daarop gewys het dat daar ook so iets is soos ander se grondwetlike regte.

Terwyl universiteite opvoedkundige inrigtings is waar respek vir die grondwet vasgesement behoort te word, ignoreer hierdie heethoofde die grondwet en skop versoening onseremonieël onder die blaker. Oor die gevolge van roekeloos omgaan met versoening is al boekdele geskryf, veral die deel dat dit onhoudbare druk op selfs die beste grondwet ter wêreld plaas om hoegenaamd te kan werk.

Kan die omstrede Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, werklik ontstig wees oor Cosas-leerlinge wat in Soweto en Mamelodi, en later in Sunnyside in Pretoria, amok gemaak en winkels beskadig het, as hul ouboete nie net straffeloos met molesmakery wegkom nie, maar dikwels boonop hul sin kry? Lesufi het immers self hard probeer om versoening vir ’n ses te slaan tot die hof hom in ’n mate laat afkoel het.

Na berig word is die oorsaak van dié protes die afdanking van Prasa se hoof, Lucky Montana. Wat op dees aarde dit met skoliere uit te waai het weet nugter.

Die studenteprotes is duidelik polities teen Afrikaans gemik. By Kovsies is daar by baie Engelse (lees swart) studente ’n opvatting dat Afrikaanse studente deur onder meer notas bevoordeel word. Die meer waarskynlike rede dat daar ’n akademiese agterstand ontstaan wat weerspieël word in ’n pas voltooide verslag van Pansat, waarmee die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, akkoord gaan. Na berig word is dit juis die gebruik van Engels wat die probleem is – veral leerlinge uit die minder gegoede skole is swak toegerus om die sprong na onderrig in Engels op tersiêre vlak te maak. Pansat en die minister spreek hulle nou duidelik uit ten gunste van die ontwikkeling van Afrikatale as onderrigmedium, en Afrikaans het selfs ’n pluimpie gekry vir die voorbeeld wat dit stel. Soos dr. Nzimande se jongste opmerkings vir prof. Wannie Carstens verras het, sal dit ook die meeste Maroela-lesers verras. Nzimande was immers in die verlede baie sterk in sy voorkeur vir slegs Engels.

Gaan ons binnekort weer moet vra dat die regte Blade tog sal opstaan?

In weerwil van studie op studie, ook elders ter wêreld, wat sterk bewyse toon vir die voordele vir onderrig in die moedertaal (sodat dit ook deel van die internasionale reg uitmaak), is daar deurlopend ook akademici wat die teenoorgestelde aanvoer. By Kovsies, so lyk dit, is dit skynbaar een van die dryfvere vir die bevordering van die slegs Engelse onderrig- veldtog vanuit bestuursgeledere. Dit is ook bekend dat van die dosente ongelukkig is oor die dubbele werklading om klasse in Afrikaans en weer in Engels te moet aanbied. (Niemand het hulle verplig om vir die poste aansoek te doen nie.)

Tog, uit die verhitte trant van die studente se eise lyk dit nie of dit om gesonde rasionale handel nie, maar eenvoudig op ’n vendetta teen Afrikaans neerkom.

En so leer die taal van die wetenskap – vir elke reaksie is daar ’n teenreaksie, en dan is daar nog iets soos die grondwet ook.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Jaco ·

Dankie vir ‘n baie goeie eerlike artikel. Ek is bly ons spreek die vendetta teen afrikaans aan.

Bruno Stef ·

Diegene wat nie die pas kan byhou word op n gewetenlose gebruik om n insident te skep en andere se agenda uit te voer.Ek wil n klip in die bos gooi deur te voorspel dat al die kunste feeste binnekort deur aangeryde beswaar makers ontwrig gaan word en dan aangevoer gaan word dat dit gebeur omdat hulle uitgesluit voel. Die Afrikaner en sy taal is vir die oppertuniste n steen des aanstoots wat vernietig moet word maar ek het nuus vir diegene wat so dink die Magtige Britse ryk kon dit nie eers regkry nie met wetgewing en al.

pop ·

Studente is veronderstel om die toekoms van die land te weerspieel, nou roer hulle nie kwessies soos geweldsmisdade aan nie, maar n taal. Dit is kommerwekkend dat sulke dom trutte in n universiteit is.

wilma ·

Die nie blankes kan nie net terug staan en hulle sin vir hulle gee nie. Die swart studente word al reeds bevoordeel met slag vereiste wat net 50% en 80% vir ons blankes. Hoekom word dit nie ondersoek.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.