Nuuskommentaar: Studentespesie

Beeld se voorblad op 21 Februarie 2014

Beeld se voorblad op 21 Februarie 2014

“Studente is eintlik meerminne – nóg vis, nóg vlees.” So het ‘n gesoute proffie eendag gesê nadat hy die soveelste studente-onhebbelikheid betrag het. Hy het na klas sy motortjie op ‘n verkeerseiland aangetref waar studente dit heen gedra het.

Nie meer kind nie, en ook nog nie heeltemal volwasse nie, en boonop midde-in ‘n studentekultuur waar grense toets so alledaags is soos ‘n peuter wat ook grense toets om sy leefruimte te probeer bepaal.

Studente is ook veronderstel om ‘n elite te verteenwoordig wat intellektueel oor die vermoë te beskik om in die eerste plek op ‘n kampus te wees.

Geleenthede, en ‘n gebrek aan geleenthede, en ‘n skolestelsel wat afgestudeerde matrikulante kan oplewer wie se lees- en skryfvaardighede – om nie van syfervaardighede te praat nie – veel te wense oorlaat, en ander wat wél deeglik studentemateriaal is maar nie die finansiering vir studeer kan bekom nie, versteur weliswaar die ideale studenteprofiel.

‘n Deel van die ontsteltenis in die debat or die jongste studente-gebeure handel egter oor ‘n ander aspek van kennis: Waar lê die grens van aanvaarbare (en dus verskoonbare) onkunde oor aktuele sake?

Moderne tegnologie bring ‘n magdom kennis tot aan ons vingerpunte. Die spreekwoordelike wandelende ensiklopedie is nie meer hy of sy wat ander met hul ongelooflike algemene kennis verstom nie, maar ‘n stuk tegnologie wat in ‘n aktetas of selfs ‘n hempsak pas.

Die gevolg is ‘n ouer geslag wat bekommerd is oor die volgende geslag wie se kennis in die kop oor aktuele sake te min is om behoorlike geïntegreerde denke te kan vorm, en ‘n jonger geslag wat meen die “ou mense weet niks.”

Dit is maklik om te verstaan hoekom studente verwar kan word oor wat hulle geoorloof is, en wat nie. Op die Kovsiekampus dateer die Rooi Plein uit die dae toe kommunisme in die Suid-Afrikaanse establishment as ‘n baie groot euwel beskou is. Die studente wat dié naam vir die oop ruimte laat posvat het, het heel waarskynlik geweet dat Stalin tussen 20 miljoen en 60 miljoen mense van die gras af laat maak het. Deur die naam te gebruik het hulle geensins bedoel om sulke grudade te verheerlik nie, inteendeel.

Op die oomblik wemel dit in die media en die sosiale media oor die saluut wat ‘n groep Pukke gebruik het en nou selfs ‘n ministeriële ondersoek tot gevolg gehad het. Die vraag of die studente sou weet van Hitler en die Romeine , en of onkunde as verweer gebruik kon word, doen die veronderstelde intellektuele vlak van die studente geen eer aan nie. Die vraag moes eerder wees of die optrede binne die grense van aanvaarbare studentepret sou kon val, en of die volwassenes in hul kritiek (of aanvaarding) daarvan die nodige ewewigtigheid en konsekwentheid aan die dag lê.

Die Romeinse saluut is onaanvaarbaar omdat Hitler dit ook gebruik het, maar die amandla-saluut is aanvaarbaar al het Stalin dit ook gebruik?

Beteken ‘n ten volle getransfomeerde, genormaliseerde samelewing dat ‘n alomteenwoordige rassebewustheid tot ‘n duisternis ongeskrewe reëls oor aanvaarbaarheid lei – dat iets wat met Hitler geassosieer kan word ‘n groot taboe oor het, en dit wat met Stalin geassosieer word so aanvaarbaar is dat eksponente met die name van lughawens vereer kan word?

‘n Ouer wat sy peuter met inkonsekwentheid benader verwar die kind. Presies hoe konsekwent en volwasse hanteer die “grootmenswêreld” sake wat uit die studentegeledere kom? Bepleit ‘n getransformeerde kampus waar ras nie ‘n norm is nie, maar maak van iets dadelik ‘n rassevoorval as studente dalk in hul onderonsies heeltemal by ras verbygekyk het toe ‘n onderonsie uitgebreek het? Dui die verontwaardigde “grootmense” se rasbewuste reaksie nie dalk juis daarop dat hulle nie aanbeweeg het nie?

Dit is ook die soort vrae wat Rhoda Kadalie in haar rubriek in Die Burger vra. Onder die opskrif, Nie vir sissies nie: dink voor jy ‘raswolf’ skree (dit is ʼn moet-lees rubriek) vra sy op haar reeds baie bekende skerp en reguit manier vrae wat politieke korrektes laat steier – harde vrae oor die geneigdheid om in elke voorval waar mense van meer as een ras betrokke was, ‘n noodwendige rassekonnotasie in te soek. Dikwels is diegene wat die appels geswaai het nie die rassiste waarvoor hulle uitgemaak is nie, maar die rassisme is opgesluit in die reaksie.

Sober beoordeel, vra Kadali dat die feite eers vasgestel word voor dit tot ‘n rassevoorval gereduseer word. Dat die samelewing (nog) nie gereed is daarvoor nie, blyk uit die feit dat verskeie media vanuit die staanspoor, en sonder enige proses om die waarheid vas te stel, die rasseoordeel oor insidente uitspreek.

Dit herinner aan die voorval van die Reitz-vier. In ‘n stadium het die uitstellanddros die politici en media gemaan om nie die regspraak vooruit te loop en die studente sonder ‘n skuldigbevinding te veroordeel nie. Minder as ‘n week daarna plaas ‘n groot Afrikaanse koerant ‘n brief waarin die briefskrywer na die vier as misdadigers verwys. Die landdros het haar asem gemors. Onder appèl is die verhoorlanddros – hy was die hooflanddros – onder meer gestriem omdat hy die vier ook gevonnis het vir sake waaraan hulle nie skuldig bevind is nie.

Instansies soos AfriForum word gereeld verkwalik omdat hulle plaasaanvalle as ras- of polities-gemotiveerd sou voorhou. Die argument is dat navorsing toon dat die aanvallers blote misdadigers is met persepsies dat daar in opstalle volop wapens en kontant te roof is. Hierdie kritici vergeet dat dit ook dikwels voorvalle is waar misdaad oor rasgrense heen plaasvind,en die politieke aard van die misdaad nie net deur die motiewe van die misdadigers bepaal word nie, maar veral deur die regering se reaksie (of gebrek aan reaksie) daarop (soos die afskaffing van kommando’s sonder dat behoorlike plaasvervangende strukture in plek is), en die persepsies wat by die publiek losgelaat word – onder meer deur die onbeskryflike wreedheid waarmee baie van die aanvalle gepaard gaan.

Die “grootmense” moet minstens konsekwent wees.

Die Suid-Afrikaanse regstelsel ken die beginsel van oorsaak en gevolg. ‘n Sewejarige seuntjie speel met vuurhoutjies, en ‘n plantasie word afgebrand. Hy word swaar gevonnis. ‘n Regter wat die saak hersien, stel die vonnis ter syde omdat die kind nie met sy vuurhoutjiespelery kon voorsien het dat die plantasie sou afbrand nie, en nog minder het hy die afbrand van die plantasie beoog. Die vonnis teen die kind – lyfstraf – was toe egter reeds voltrek.

Studente is nie sewe jaar oud nie. Daar is ‘n veronderstelling dat hulle bewus sal wees van die interpretasies wat (sommige) mense in die “grootmenswêreld” daaraan sou heg.

Maar wees konsekwent in die opvoedingstaak.

En stel die voorbeeld. Moenie in spesiale lesings ter ondersteuning van transformasie dinge kwytraak wat deur eensydigheid juis die rassegemoedere opsweep nie.

Watter voorbeeld stel ‘n skoolhoof waar ontgroening verbied is, maar die senior leerlinge nie net toegelaat word nie, maar aangemoedig word om lustig met ontgroeningspraktyke voort te gaan en dit net oriëntasie of iets anders te noem? Op universiteit word praktyke waarin die skoolhoof die voorbeeld gestel het voortgesit, maar as daar gevolge is moet die studente self pa en ma daarvoor staan.

Moenie in die klaskamers predik van die audi alteram partem-beginsel (die reg om jou kant van die saak te stel), en in hoofartikels ‘n verbintenis tot beste joernalistieke praktyke maak, maar as die bom bars, is dit die predikers van hierdie beginsels wat juis dit weggooi en reeds die titel “rassistiese voorval” daaroor skryf nie.

Ja, dit is dan ‘n rassistiese voorval – in die oordele wat deur die “grootmense” wat die voorbeeld en ook die konsekwente voorbeeld moet stel, maar hulle tot boendoe-geregtigheid verlaag en ‘n baie swak voorbeeld aan die meerminne stel.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chris ·

Herman Toerien, uitstekende artikel. Jy is skerp en vat die probleme hieroor goed saam.

Johannes Cilliers ·

Ek sien die man wat “Umshini Wami” op die ANC se nasionale kongres in Desember 2012 op Bloemfontein voorgesing het nl. Pres. Jacob Zuma nou ook tot die Puk-saluut debakel wil toetree.

Ek wonder toe nou: Hoe vinnig kan die Puk-studente “Umshini Wami” aanleer??

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.