Nuuskommentaar: Stylverskille (en suksesverskille) tussen Cosatu en Solidariteit

Cosatu

Cosatu

’n Spesiale kongres van Cosatu vind nou plaas, nadat die hou daarvan in ’n hofaansoek opgedwing is. Die kongres het nog nie mooi begin nie, of dit is mildelik in omstredenheid gedompel.

Hierdie kongres handel oor die siel van die ANC. Dit sou die finale waterskeiding wees of Cosatu, onder Sdumo Dlamini se presidentskap, hom vierkant in die Zuma-kamp sou bevind, en of dit die rug teen Zuma styf maak. Ná ’n hewige toutrekkery oor akkreditasie (en ’n hofbevel tussenin) het die stemming plaasgevind, met die Dlamini-kamp wat oorweldigend gewen het.

Dié uitslag is nie heeltemal onverwags nie. Numsa is immers geskors, en tussen hofsake deur het dit so gebly. Numsa was voor sy skorsing Cosatu se grootste vakbond.

Dié stemming beteken byna seker dat Suid-Afrika ’n nuwe vakbondreus en waarskynlik ’n nuwe politieke party gaan kry. Na berig word, voer die leier van Numsa, Irvin Jim, al die afgelope maand samesprekings met AMCU, die vakbond wat die NUM so van lede gestroop het. Die NUM was eens die ruggraatvakbond van Cosatu, maar het weens die AMCU-aanslag tot waarskynlik die derde grootste lidvakbond teruggesak met Numsa wat as die grootste na vore getree het. Boonop word die NUM se nuwe leier, David Siphunzi, as ’n “vennoot” van Zwelinzima Vavi beskou. Na berig word, meen NUM-afgevaardigdes dié vakbond is in die middel verdeel.

Die stemming het skynbaar Vavi se doppie in Cosatu geklink, en Vavi sal waarskynlik nou ’n belangrike rolspeler wees in die koers wat Jim en sy maats inslaan.

Komplekse faktore speel nou ’n rol oor wat met die vakbondwese in hierdie linkse geledere gaan gebeur, en herinner ligweg aan wat eens in Zimbabwe gebeur het toe die ZANU-PF-geaffilieerde vakbond die rug op Mugabe gekeer en uiteindelik as die MDC die politiek betree het. Is Mugabe nie toegelaat om te konkel nie, sou die MDC waarskynlik minstens een verkiesing gewen het. Die MDC het in ’n stadium byna skoonskip gemaak onder die stedelike Shonas, en Mugabe moes met gratis plase en ander middele terugval om te verseker dat hy die lojale ondersteuning van die landelike Shonas behou.

Cosatu is deel van die ANC se drieparty-alliansie. Deurdat die Zuma-gesinde groepe nou op die oog af die duidelike oorhand gekry het, lyk dit of Cosatu sal moet sluk aan sy kritiek op die e-tol, Nkandla en ander kwessies waar die fynskrif dikwels op ’n anti-Zuma-aanslag neergekom het.

Die tweede aspek is die olifant in die vertrek waaroor niemand (durf) praat nie, naamlik die kwessie van etnisiteit. Daar is voldoende tekens dat daar ook ’n magstryd tussen Xhosa en Zoeloe plaasgevind het.

Hierdeur het Zuma nou in beginsel sy stedelike steun by die landelike Zoeloesteun gevoeg. Sy inprop van tradisionele leiers het ook ’n magsbasis buite die Zoeloe-geledere verseker.

Politieke partye wat uit die ANC weggebreek het, het egter nog min sukses gehad, met Agang wat sekerlik die grootste windeier gelê het. Sal dit nou anders kan wees? Hoe gaan die EFF-faktor die vorming van ’n lewensvatbare opposisie teen die ANC beïnvloed?

Afgesien daarvan dat die ontwikkeling van ’n sterk politieke party in hierdie geledere eintlik net die voordeel inhou dat dit die ANC kan beperk, is daar min troos. Hierdie groepering gaan anders as die MDC in Zimbabwe, byna seker links van die ANC sy politieke nes skrop. Dit is werklik slegte nuus.

Die kongres word verder gekenmerk deur die tydelike uitsluiting van die media terwyl die koppestampery oor akkreditasie in volle gang was. Polisiebeamptes, sommige in burgerlike drag en ander in die uniforms van die onlustepolisie, is aan diens wat lyk of fisieke geweld gevrees is en die verrigtinge het twee uur laat begin.

Hoe groot is die kontras nie met Solidariteit se onlangse doen-beraad nie? ’n Ganse beraad is ordelik afgehandel in die tyd wat dit by Cosatu se kongres geneem het vir laatkommers om ook op te daag, en die verrigtinge te laat begin. By die Cosatu-kongres is almal by wyse van implikasie deel van die ANC, by die Solidariteit-beraad was mense van verskillende politieke partye.

By die Cosatu-kongres is die media uitgegooi, by die Solidariteit-beraad het daar later ’n wanklankie gekom deur ’n dosis hoernalistiek wat uit ’n bepaalde geledere gevolg het.

So tussenin het Solidariteit met ’n hofbevel Telkom in sy herstruktureringsplanne tot orde geroep, en lyk dit of Telkom se nuwe planne veel meer deurdag en menslik is. Trouens, Solidariteit het sedert die beraad al ’n lang lys doen-dinge aangepak.

Daar is inderdaad ’n reuseverskil tussen ’n vakbond wat tot die internasionale Christelike vakbondwese behoort en vakbonde wat mekaar met Marxistiese retoriek die stryd aansê.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Cathy Kotze ·

Ek stem volkome saam wat die skrywe van die Solidariteit kongres betref, maar het jy regtig “hoernalistiek” bedoel? (daaroor stem ek ook saam:-) )

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.