Nuuskommentaar: Suid-Afrika bevry na 750 dae van ramptoestand?

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Presidensie/Twitter)

President Cyril Ramaphosa het die afgelope Maandagaand aangekondig dat die ramptoestand na 750 dae (!) opgehef gaan word – “with immediate effect”.

Solidariteit het in die aanloop tot hierdie aankondiging, en ook daarna, dit as ʼn groot wen vir hulself opgeëis. Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, het verlede week in ʼn brief aan die vakbond die waarborg gegee dat die ramptoestand op 5 April opgehef gaan word – dit natuurlik in ʼn poging om Solidariteit te oortuig om hul dringende hofaansoek te onttrek wat op 5 April aangehoor sou word.

Op die aand van 4 April het president Ramaphosa, oënskynlik ongeneë, aangekondig dat die ramptoestand wel opgehef gaan word. Daar sal, soos wat die ramptoestandwetgewing bepaal, vir 30 dae nog bepaalde regulasies kragtens die wet in plek bly in die sogenaamde afbestuur van die ramp.

Die eerste ding wat regtig belangrik is om te noem, ongeag die pad wat verder in die opsig voorlê, is dat dit ʼn ongelooflike oorwinning vir burgerlike teenstand en “burgerlike oorsig” is. Dit is regtig moeilik om na hierdie tydlyne te kyk en nie die afleiding te maak dat Solidariteit se hofdatum ʼn regstreekse impak gehad het op die datum van beëindiging van die ramptoestand nie.

Die regering wou regtig die verhoor van hierdie hofsaak vermy en het op hul eie voorwaardes seker gemaak dat hulle mag nie op hierdie wyse in die hof uitgedaag word nie. Minstens in hierdie geval het Solidariteit, tesame met ander burgerlike instellings soos AfriForum en Sakeliga wat deurlopend onhoudbare regsdruk geplaas het, dit reggekry om tot ʼn mate in dieselfde gewigsklas as die regering te boks.

Die einde van hierdie ramptoestand is natuurlik nie ʼn volledige bevrydingsmoment nie, maar is tog belangrik. Onder ramptoestandwetgewing kon die regering ʼn wettige diktatuur bedryf deurdat hulle eensydig ingrypende regulasies kon uitvaardig soos dit hulle behaag – sonder enige daadwerklike insette of oorsig. Die koronavirusbeheerraad bestaan steeds as enigmatiese diktatuurraad wat met min tot geen aanspreeklikheidsmeganismes vir langer as twee jaar oor ons almal geheers het.

Die einde van die ramptoestand dui nie noodwendig op die einde van drakoniese beheermaatreëls nie. Daar lê nog groot gevegte in die hof voor oor die voorgestelde gesondheidsregulasies. Die einde van die ramptoestand stel egter ʼn proses van groter aanspreeklikheid en oorsig daar – soos wat Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, uitwys, maak die einde van die ramptoestand minstens plek vir parlementêre toesig oor die uitvaardiging van verdere regulasies. Die einde van die ramptoestand is die einde van ʼn era.

AfriForum het hierdie ophef van die ramptoestand beskryf as slegs simbolies, met die organisasie wat nie die regering se voortslepende magshonger en -vergrype sal duld nie. Die VF+ noem hierdie stappe ook ʼn blote magsverskuiwing met die ramptoestand wat teoreties opgehef is, maar in die gedaante van die gesondheidsregulasies sal herleef. Sakeliga beskryf ook hoe die ramptoestand hierweens net in naam beëindig is.

Die pas afgelope Dinsdag het Dlamini-Zuma, nes hierdie regering hul trots kan probeer red, op ʼn mediakonferensie bevestig dat hulle weer ʼn ramptoestand sal kan instel – indien die Covid-pandemie weer in ʼn ramp ontaard, kan die regering “genoodsaak” word om die ramptoestand opnuut in te stel. So asof ons net gewaarsku moet wees om nie so laks te raak dat die regering, ons wyse en getroue voog, nou weer hierdie drastiese stappe moet doen vir ons eie beswil nie.

Howard Feldman, radioaanbieder en aktualiteitskommentator, skryf Woensdag weer op News24 dat die ramptoestand nou verby is en dat ons almal onsself ʼn klop op die skouer kan gee. Hoewel daar sommige vreemde besluite langs die pad geneem is, het die regering hulself oor die algemeen goed van hul taak gekwyt betreffende die hantering van die pandemie. ʼn Belangrike punt wat Feldman uitwys, is dat dit onregverdig is om terugskouend verlede optrede/besluite te veroordeel aan die inligting wat vandag tot ons beskikking is – ʼn mens moet besluite oordeel in die konteks waarbinne dit geneem is.

Dit is natuurlik 100% waar. In oënskou van die pandemie is die probleem egter nie dat ons van die regering verwag het om destyds besluite te neem met huidige inligting tot hul beskikking nie. Die ganse wêreld het die pandemie betree met ewe min inligting – aanvanklik deels te danke aan China se verwoestende en onverskoonbare oneerlikheid oor die virus. Die probleem is eerder dat die regering met die verloop van tyd in absolute weerwil van die feite, werklikhede en tasbare bewyse volstaan het by uitgediende en weerlegde besluite. Dit is hoe die regering in die posisie gekom het waar hulle eie mediese raadgewers lank reeds hul regulasies as uitgedien bestempel het – met die regering wat uiteindelik net weens regsdruk die ramptoestand afskaf.

Selfs met die beperkte inligting wat hulle aan die begin van die pandemie gehad het, het hulle uitsonderlike swak, onsamehangende en onlogiese besluite geneem. Dit het ingesluit strande wat toegemaak word terwyl casino’s oopbly, ʼn verbod op e-handel terwyl almal by die huis moet sit, verbod op plakkies en kortbroeke, verbod op sigarette en ʼn verbod op warm winkel-etes om “handelsdiskriminasie” teen wegneemete-restaurante te keer. Vanuit feitlike elke hoek het die regering swak hanteer, omdat hulle daarop aangedring het om die pandemie volledig eiehandig met groot mag en moeite te bestuur. En dit boonop aangewend het as geleentheid om ons verder te besteel.

Die punt van hierdie oorwinning oor die ramptoestand is nie dat die regering vanself afstand gaan doen van mag en beheer nie. Die punt is wel dat die regering se onwilligheid om afstand hiervan te doen toenemend gefnuik word deur hul onvermoë om daaraan vas te hou. Dit is waarom burgerlike teenstand te midde van staatsverval nou noodsaakliker as ooit tevore is. Oorwinnings gaan nie maklik of noodwendig verseker wees nie, maar is steeds die moeite werd om na te jaag. Elke oorwinning wat burgerlike organisasies behaal, is die regering se magsmonopolie wat mettertyd weggekalwe word. In die stelselmatige verbrokkeling van dié magsmonopolie kan die burgerlike samelewing hul bestaande suksesse soos behaal ten spyte van regeringsmag, vermenigvuldig te danke aan grootskaalse staatsmagsverval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
T-Man

Suid Afrika sal bevry wees as die ANC ontbind en nie meer regeer nie.

JohanR

Die ANC het gou beweeg toe daar gedruig word om hulle hof toe te vat. Wie weet of die ramptoestand nie nog ‘n maand sou verleng geword het nie? Die ANC hou daarvan om speeletjies te speel!

Marius

Moenie mak raak nie, die groot gemors kom nog.

Groen Ghoen

‘n Veel erger ramptoestand leef net eenvoudig voort in die voorgestelde “Gesondheidsregulasies.” Laasgenoemde is eintlik “Siekteregulasies.” Dit gaan die ANC se diktatuur permanent maak en is die demokrasie se doodsvonnis.

casper

LMGA — Die regte ramp is die ANC en hulle is nog volstoom hier !!!