Nuuskommentaar: Suid-Afrika daal op korrupsiepersepsie-indeks

Die goeie nuus is dat Suid-Afrika onder die mins korrupte lande op die Afrika-kontinent tel. Die slegte nuus is dat Suid-Afrika agteruit geboer het, en dat twee buurlande, Botswana en Namibië, beter as Suid-Afrika op die indeks vaar.

Volgens Transparency International se jongste korrupsie-persepsie-indeks wat gister uitgereik is, het Suid-Afrika van 4,5 verlede jaar na 4,1 vanjaar teruggesak. Hoe nader aan tien, hoe minder korrup word ‘n land beskou. ‘n Land wat minder as 5 punte kry, word as hoogs korrup beskou. Somalië het 1,1 gekry, Soedan 1,6 en nader tuis het Angola 2 gekry. Zimbabwe het 2,2 gekry, en Mosambiek met 2,7 voltooi die korrupsiekorridor om Suid-Afrika. Finland met 9,4, Swede met 9,3, Noorweë met 9 en Nederland met 8,9 tel onder die skoonstes, terwyl lande soos Kanada en Australië ook goed vaar. Japan se telling van 8 is ook baie belangrik.

Korrupsie, meen Transparency International, staan breed in die pad van die oplos van die wêreld se skuldkrisis, wat weer onderliggend is aan die wêreld se ekonomiese krisis. Trouw, in sy reaksie, wys daarop dat van die grootste skuldiges in die Europese krisis, Griekeland (3,4) en Italië (3,9) bedroewend op die indeks vaar. Trouens, hulle vaar swakker as Suid-Afrika. Die ander PIIGS-lande, Portugal (6,1), Spanje (6,2) en Ierland (7,5) vaar egter betreklik goed, terwyl Ysland wat die krisis ingelui het, op 8,3 baie goed vaar.

Soos op die laaste pervryheidsindeks, is Suid-Afrika ook op die korrupsie-persepsie-indeks die swaeltjie wat die somer in die Brics-geledere bring. Brasilië met 3,8 kom die naaste aan Suid-Afrika, met Indië op 3,1, China met 3,6 en Rusland met 2,4 wat die agterhoede vorm. Onder Suid-Afrika se hegste vriende het Kuba, wat verlede jaar nog aansienlik meer korrup was as Suid-Afrika, die sokkies opgetrek en vaar nou effens beter as Suid-Afrika. Venezuela het egter agteruit geboer, en staan nou op 1,9.

Die nuutste indeks kon nie op ‘n slegter tyd gekom het nie as juis nou dat Afrikalande by COP 17 aangedui het dat hulle tot R5 triljoen nodig het om die impak van klimaatsverandering teen te werk. Met slegs Botswana wat sy posisie op die indeks verbeter het en nou nie meer as hoogs korrup kwalifiseer nie, moet potensiële skenkerlande koue rillings kry oor waar dié fondse, sou dit realiseer, in werklikheid gaan beland.

Gelukkig vir Afrika, as ‘n mens na die wêreld se korrupsiekaart kyk, lyk die donker kontinent nie veel erger as Suid-Amerika en Asië nie – behalwe dat Afrika nie eens ‘n uitsondering het wat werklik goed op die indeks vaar nie. Suid-Amerika het darem vir Uruguay en Chili, terwyl Asië se ligstraaltjie Japan is. Word dié kaart egter weer met Freedom House se allerbelangrike persvryheidskaart vergelyk, bly Afrika en Asië as die donker kontinente agter.

Statistieke Suid-Afrika het in sy oorsig – Slagoffers van Misdaad 2011 – vasgestel dat 5-komma-6 persent van huishoudings in die land tussen 2008 en 2010 gevra is om omkoopgeld aan staatsamptenare te betaal. Byna 16 persent het vir rybewyse betaal en 14 persent werksoekers het amptenare omgekoop om werk te kry. Meer as 52 persent van Suid-Afrikaners is al gevra om omkoopgeld aan ‘n verkeersamptenaar te betaal, ten einde ‘n boete vry te spring. Korrupsie is ‘n kanker wat dwarsdeur ‘n land se ekonomie vreet, en volgens die wêreldbank daarop neerkom dat ‘n land van sy toekoms beroof word. Dit steel veral van die armes.

Die karakter van die nuwe Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting laat die gevaarligte ongelukkig flikker dat dit dit nog moeiliker gaan maak om korrupsie hok te slaan. Grootliks handel dit oor persepsies, maar die mens en daarom sy ekonomieë reageer dikwels op persepsies eerder as die werklikheid. Gister was juis ‘n goeie voorbeeld toe van die wêreld se vernaamste sentrale banke ooreengekom het om likiede middele in die finansiële stelsel te vergroot. Hoewel die reëling eers op 5 Desember in werking tree, het Europese beurse blitsig gereageer en met tot amper vyf persent gestyg. Ook die Johannesburgse effektebeurs het goed gereageer. Selfs die prys van goud, platinum en silwer, en ongelukkig ook ru-olie, het opgeskiet.

Vir Suid-Afrika lê harde werk voor om die persepsies oor sy korrupsievlakke te verbeter, en die land sal ook moet toesien dat die kontinent sy posisie verbeter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.