Nuuskommentaar: Suid-Afrika, die juweel

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa. (Foto: departement van kommunikasie)

Adjunkpresident Cyril Ramaposa het in die parlement voorspel dat die land eendag “weer” ’n juweel sal wees. Die taak om dit te vermag kan heel moontlik nog sy eie word, maar is hy opgewasse daartoe om endemiese korrupsie nek om te draai? En gaan die kiesers, eers van die ANC en dan van die land, hom in ’n posisie stel om dit te doen?

“Dis net ’n kwessie van tyd voordat Suid-Afrika weer as ’n juweel beskou sal word.” So berig die SAUK oor ’n stelling wat adjunkpresident Cyril Ramaphosa gister in die parlement gemaak het.

Dit sal interessant wees om te weet wanneer Ramaphosa meen Suid-Afrika as ’n juweel beskou is as hy sê dat die land eendag “weer” een sal wees. Uiteraard kan hy nie die tydperke van kolonialisme en apartheid voor 1994 as sodanig beskou nie, want dit was só boos dat dit met geweld en terreur omvergewerp moes word.

Na 1994? Dis baie oppervlakkig om die Nelson Mandela-presidentskap, selfs saam met die ou Nasionale Party, as ’n juweeltydperk te beskou. Wat van Sarafina? Wat van dr. Sibusiso Bengu se rampspoedige tydperk in beheer van die onderwys? Wat van ’n uiters vreemde buitelandse beleid waar Mandela die diktator Muammar Gaddafi omhels het? En Suid-Afrika se vreemde keuse rondom Mianmar?

Zuma het immers nie staatsverval ontdek nie, net vervolmaak.

Waarop Suid-Afrikaners hoop is dat die land eendag die status en posisie sal kan bereik waartoe dit in staat is.

En vir diegene wat twyfel of Suid-Afrika in tamatiestraat is – hieroor het Ramaphosa hom ook sonder om doekies om te draai uitgelaat. RSG stel dit so: “Ramaphosa het in antwoord op vrae in die parlement erken dat graderingsagentskappe Suid-Afrika se kredietgradering afwaarts aangepas het weens die onstabiliteit van die regering. Hy het gesê wanneer die agentskappe Suid-Afrika beoordeel, sien hulle korrupsie, misdaad en ʼn onbestendige regering.”

Om behoorlik op sy voete te kom, gaan ’n enorme poging verg – en dié een wat dit regkry gaan spanne standbeelde verdien (maar sal dit tipies van ’n werklike groot leier van die hand wys). Die eerste omvangryke taak gaan wees om die grondwet te herstel, en waar daar leemtes is wat so mildelik deur Zuma uitgebuit is, dit reg te stel. Die gesindheid moet verander van een waar een gemeenskap ten koste van ’n ander uitgesuig word, na een waar die sterkpunte van almal optimaal gebruik en beloon kan word sonder rasvoorkeur. ’n Groot verskuiwing sal moet wees dat die regering ingestel word daarop om ’n veel groter nasionale harmonie te bewerkstellig.

Volke en kultuurgemeenskappe se minderheidsregte moet ooreenkomstig internasionale bepalings bevorder word sodat die land nie ’n tweede Katalonië beleef nie.

Staatskaping moet met wortel en tak uitgeroei word, en so veel as moontlik van die geld moet vir die staatskas herwin word. Korrupsie het endemies geword, wat beteken dit is in omtrent elke hoekie verstrengel, maar moet ook met mening aangepak word, want korrupsie, aldus die Wêreldbank, beroof ’n land van sy toekoms. Laat staan nog ’n juweel-toekoms.

Is Ramaphosa die man? Ons weet reeds dat sy vernaamste teenstander, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, haar gewese man se “ekonomiese beleidsrigtings” wil voortsit, en daarom sal sy nie die groot held kan wees nie, selfs al pak sy staatskaping en korrupsie.

Met net twee maande oor voor die ANC se Desember-kongres waar ’n opvolger vir Zuma as ANC-president gekies moet word, sou ’n mens al iets van die daadkrag van Ramaphosa verwag het wat nodig is om die land reg te ruk. Sy stellings oor wat in die land verkeerd is, is egter aangebied as ’n kollektiewe affêre waar dit klink of hy mede-verantwoordelikheid voor aanvaar, en dat dit die huidige vrotspul (homself ingesluit) se werk sal wees om die juweel te “herstel”. Baie kiesers koop eenvoudig nie meer ’n weergawe waar Zuma en sy kornuite deel van die oplossing kan en behoort te wees nie.

Voorts het Ramaphosa, op ’n vraag of hy somaar sal gaan as Zuma hom as die land se adjunkpresident afdank, (Zuma kan hom nie as adjunkpresident van die ANC afdank nie want hy is tot die amp verkies), so mak soos ’n lammetjie gereageer.

Dus, nog min sterkman-aanduidings.

Is daar nog ruimte vir ’n gentleman-geveg in die ANC? Of verstaan Ramaphosa bloot die binnewerking van die ANC beter as die analiste van buite?

Ramaphosa se hertoetrede tot die ernstige politiek (deur in 2012 Zuma se ANC-presidentskap te steun in ruil vir die ANC se adjunkpresidentskap) is allerweë as ’n treetjie in die rigting van die presidentskap beskou. Met die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro het ’n Nederlandse atleet tweede in die 100 meter eindrondte vir vroue gekom. Sy was woedend, want, sê sy, sy het nie Rio toe gekom om tweede te kom nie, maar om te wen.

Gaan dieselfde lot nou Ramaphosa onder die argitektuur en gekonkel van Zuma tref?

En sou Ramaphosa wel die pyp rook, is hy die man wat ’n kat se kans staan om die land as juweel te herstel?

Of moet die gewone landsburgers maar hul hoop begin plaas op die persoon wat al meer as kompromiskandidaat genoem word – Zweli Mkhize. Hy is die ANC se tesourier-generaal en is ’n mediese dokter. Hy word as besonder knap beskou, en het hom daartoe verbind om korrupsie te beveg. Of sou hy ’n goeie belegging vir die toekoms wees as Ramaphosa kans gekry het om te doen waarvoor ’n groot deel van Suid-Afrika wag?

Natuurlik is daar ’n sterk alternatiewe moontlikheid. In 2019 gaan die land na die stembus, en die kanse word al hoe beter dat ’n koalisieregering aan bewind kan kom. ’n Mens kan maar net hoop dat so ’n koalisieregering die huidige opposisie-felheid teen korrupsie sal kan voortsit.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Lank terug ·

Juweel… wel, ek wonder altyd, as die ou regering so sleg was, waarom het Afrikane van heinde en verre, van trots onafhanklike lande, steeds hierheen gestroom?

Wax ·

Ons eens pragtige veilige land wat nommer 1 in Afrika was is al klaar so ver in die afgrond gedompel deur die wolve met hul hondsdolheid dat dit jare sal neem om uit daai diep riool plaas te kom. Kyk na ander Afrika lande waar korrupsie, gierigheid,bedrog, onveiligheid, roof, moord ens.. hoogty vier dan sal mens duidelik sien waarheen ons oppad is en so te se klaar daar is.
Al wat ons kan doen is Bid, Glo en Vertrou dat ons uit die kloue van die duiwels gered sal word.
Ons bloei vir jou Suid Afrika!!

LOUIS ·

Die vraag in die eerste paragraaf word gevra of hy instaat is om die indemiese korrupsie nek om te draai.
Moet maar vra indemiese korrupsie, misdaad, geweld die nek om te draai. Weet nie as jy misdaad, korrupsie asook geweld met handskoene en sagtens hanteer of die land OOIT weer daardie juweel sal word nie

Uvonka ·

Die enigste juweel in die land is ju-weel te veel vat om jul self te verryk.

kat ·

Soory maar die JUWEEL is aan die Guptas verkoop – hulle het die JUWEEL in die agtersak.

Eish ·

Lanklaas n artikel so geniet met die regte vrae wat gevra word en soos n lem sny! Die leser voel die oorweldigende drang om die antwoorde uit te skree! Miskien omdat ons almal reeds weet wat dit is en dit grens nie eens aan n positiewe uitkoms nie.

Die ondersoek na politieke sluipmoorde in Natal het na gister se getuienis moes hoor dat die redes daarvoor is onder andere mag, geld en apartheid.

Dit het my nog altoos dwars verwond wanneer enige mislukking die etiket kry. Nou moet ek erken die “penny het gedrop” en ek verstaan presies hoekom dit gesê word. Al drie die konsepte is van Westerse oorsprong en dus onbestuurbaar deur Afrikane. Op dieselfde wyse as wat Afrika konsepte soos Sangomas, onbestuurbaar is deur diegene met n Westerse onderleg.

Dit is dan juis vanweë diè rede, dat ek oortuig is dat Ramaphosa se voorspellings n hersenskim is, in totaliteit onhaalbaar met bestaande kapasiteit asook vir die afsienbare toekoms, met bestaande tersiêre materiaal.

Lollie ·

Hulle hoef nie ń tyd daaraan te koppel nie, ons weet wanneer was SA ń juweel! Dink hulle weet dit ook maar is te bang om dit re sê. Daar sal BAIE water in die see moet loop voordat dit naastenby weer ń juweel sal wees!!!!

zoom zoom ·

Jan Brand het ook gesê alles sal regkom en ons wag nog vir daai dag.

Denise ·

En ek moet hom nou glo asb ?????? En die juweel het julle misbruik nou is daar net moord, armoede, geweld, en so kan ek aangan!!!!

Gogga ·

Wat help dit om kommentaar te lewer? Mens voel sò moedelois- asof jou hande afgekap is, want elke dag word meer korrupsie blootgelê, almal maak beloftes, beloftes van ondersoeke wat geloods gaan word, word gemaak en daar kom niks van nie- net om môre op te staan en te hoor van nuwe kabinetskomnelings ens! Dit hou NOOIT op nie?? Wat doen Cyril regtig? Hy moet homself nou begin bewys.!!

hendrik ·

Ek sal maar nie kommentaar lewer nie want dit gaan nie geplaas word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.