Nuuskommentaar: Suid-Afrika te koop

Cyril Ramaphosa

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa (Foto: GCIS)

’n Waarskynlik apokriewe verhaaltjie uit die bosoorlog lui dat die hoof van die geneeskundige dienste ’n tydelike kamp op die grens besoek het. Hy wou weet hoe die troepe drinkwater veilig kry. Die stafsersant verduidelik toe dat hulle die water in die rivier gaan skep, deur ’n sif gooi en dan deur ’n doek. Dan kook hulle dit en gooi ’n watersuiweringspilletjie in.

“Maar net om doodseker te maak drink ons bier.”

’n Amper soortgelyke gevoel pak ’n mens beet as jy lees hoeveel geld “begroot” word om na bewering stemme tydens die ANC se verkiesingskonferensie te koop. ’n Totale bedrag van R500 miljoen word genoem, met R100 000 wat per individu “betaal” word. Of dié syfer oordrewe is, klink waarskynlik, maar daar is ook vertel dat met die vorige kongres, toe pres. Jacob Zuma sy tweede termyn kon betree, groot bedrae geld uit kattebakke opgediep is. Dit, terwyl daar volgens die ANC se grondwet ’n omvattende verkiesingsproses is wat lank voor die kongres begin. ’n Hele proses, wat – so wil dit voorkom – ’n streep deurgetrek word wanneer die koeverte met die “Kersgeskenk” uit ’n kattebak opgediep word.

Die ANC se proses om nuwe leiers te verkies begin op takvlak. Dit is te verstane dat die stryd fel sal wees in ’n land waar armoede nog wyd gesaai is, en die bedrae geld wat kort voor Kersfees soos ’n geelwortel uitgehang word, ’n groot motivering bied om ’n afgevaardigde te wees. Per slot van sake is dit op nasionale vlak boonop geheime stemme, en niemand sal weet as die koevert geneem is, maar elders gestem is nie.

Die stryd neem allerlei vorms aan. “Kitslede” wat by takke ingeskryf word om ’n bepaalde kandidaat te steun (die lidmaatskapgeld word vir hulle betaal), faksievorming, spooktakke, hofsake en selfs moord. Analiste begin sommetjies maak… en dop gereeld die toets.

Maar waar kom die enorme bedrae geld vandaan, hetsy R500 miljoen, of minder?

En wie het soveel geld dat enorme bedrae “geskenk” kan word sonder om deur die boeke te gaan?

Die eerste instink is om dit aan staatskaping te koppel. Terwyl die Guptas volgens alle aanduidings sentraal in die staatskaping staan, het ook ander name, veral uit die geledere van tenderpreneurs, in die kollig beland.

Nkosazana Dlamini Zuma. Foto: Flickr/GovernmentZA

Instansies met groot beleggings in die land sal ook ’n groot belang hê by wie die pyp rook. Veral die uitsprake van dr. Nkosazana Dlamini-Zuma dui op min begrip vir die ekonomie, en is trouens by voorbaat tot mislukking gedoem. Slegs gryp-en-hollers kan belang hê daarby dat sy verkies word – wanneer die inploffing plaasvind, het hulle reeds met hul rykdomme na die buiteland laat spat.

Ná die kernkragdebakel is dit baie onwaarskynlik dat ’n buitelandse moondheid of moondhede dit sal waag om ’n geldjie in ’n leier van keuse te “belê”. Veral Rusland, so lyk dit, het nou al sy vingers verbrand. Aan die ander kant het Zuma, in weerwil van ’n hofuitspraak, die gedagte aan ’n kernprogram net lewend genoeg gehou dat lande wat belangstel om ’n kontrak los te slaan dalk ’n meevallertjie kan laat deurglip.

Die enigste persoon wat tot dusver feitlik verseker is dat sy verkiesingsveldtog aan hom die amp gaan besorg wat hy verlang, is die premier van Mpumalanga se veldtog om adjunk-president van die ANC te word. Boonop het hy nou ook baie troewe in die hand om te besluit wie van Ramaphosa of Dlamini-Zuma die president gaan word (tensy die koeverte ook sy planne deurmekaar krap).

Die laaste ding wat Suid-Afrika nodig het, is nog ’n president wat in iemand se sakkie is. Met rommelstatus het die land se “verkoopswaarde” waarskynlik reeds erg afgeneem.

Wat die land nou nodig het, is ’n president wat ’n gesonde begrip van die ekonomie het, en beleidsrigtings kan aanvoer wat die land weer op koers kan plaas. Dit sluit in om van ’n reuse-netwerk van korrupte politici en tenderpreneurs ontslae te raak.

Wat in die proses van die bespreking van die komende kongres nou dikwels uit die oog verloor word, is dat dit ook ’n beleidmakende kongres is. Beleidsvoorstelle wat vroeër vanjaar tydens ’n konsultatiewe kongres gemaak is, moet nou goed- of afgekeur word. Dit klink amper onmoontlik dat die ANC in net vier dae die registrasie, toesprake, leiersverkiesing én beleidsdeel sal kan afhandel. Veral as daar dispute met die registrasie van bepaalde afgevaardigdes is, kan die program erg omvergewerp word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Eish ·

Dit is absoluut hartveskeurend om die klas van berigte te lees. Met die situasie is die hele verkiesing bloot n rookskerm. NDZ is dus verseker die volgende president. Die spul sou almal rowers gewees het indien hul nie die politieke affiliasie gehad het nie. Dieselfde daad en gevolg, slegs die modus operandi verskil.
Ek word Minnaar, maar wanneer ek die klas van feite mee gekonfronteer word, word ek Pienaar en dan wil ek net Kotzè!

John ·

Vind net uit wie vir die ultra-Afrika-modeskeppings betaal waarmee dr X haarself daagliks voortydig presidensieel tooi, dan kom ons nader aan die antwoord wie so geld gooi na die komende Desember-sirkus vir ‘goeie’ opkoms en baie springmielies. Dit wil voorkom of die finansiele-konsep ‘geld’ uit die antieke grafskrifte in Egiptiese grafkelders ontleen, steeds nog nie orals in Afrika ingesink het nie veral nie in putte met bodems nie. Soms word dit met waspoeier behandel, andersins as omkoop- of stenigingsmiddel of vir blitsige verduister asof die muti-dokter se straf daarop rus. Sou dit in Westerse geboue geberg word, moet dit uitgetonnel of uitgedinamiet word. ‘Delete’ en ‘outsource’ en Dubai het dieselfd betekenis, maar die term ‘spaar’ laat die hare rys. Al wat plaaslike voorvadergees is, glo tot in die -10de-mag, se woede word daarmee gewek… selfs net die suising van die wind wat naastenby so klink…

Veritas ·

Oulike opsomming John. So na aan die waarheid as wat fit kan kom.

snoefie ·

om te weet is een ding maar om dit oir te dra sodat die wysheid ingesien kan word, is n onbegonne taak.

Johann Marx ·

Die persone wat nou skep is die Tradisionele Leiers…..hulle kry nou fondse, voertuie, beeste en ander luukshede….want hulle job is om seker te maak die oningeligtes trek hulle kruisies reg (gebasseer op leë beloftes wat in elk geval nie hoef nagekom te word nie….solank die “kieser” net reg kies!!) In die vorige bedeling was ‘n gedeelte van die populasie ongeskoold en onopgevoed gehou….vir ‘n rede. Bitter min het verander sedert daardie tyd….

Chris ·

Ek neem aan jy verwys na diegene wat in die 1994 referendum ‘JA’ gestem het ?

alwyn burger ·

Die geld kom van China. China het berge geld. Die VSA het berge skuld. China wil Afrika hê. China het fie een-kind-beleid laat vaar. Die Chinese spoorlyn loop al tot by Madrid. Hoe lank gaan dit neem vir 1500 miljoen Chinese om te verdubbel?. Waar gaan hulle bly? . Ons tuisdorpie Middelburg O.K. word deur toeris in die Nasionale pers beskryf as die vuilste dorp in die land. Selfs hier kry jy al Chinese.

Justice ·

Nou waar is die transito rowers wanneer jy hulle nodig het?

V ·

Het Jacques Pauw se boek hierdie naweek gelees. Het nooit kon droom soveel dinge gebeur agter die skerms nie. Kan net 1 gevolgtrekking maak… Numa one en sy skaduwees kan nie bekostig dat Cyril wen nie. Kyk ook maar na Adriano Mazzotti se invloed op NDZ.

CAV ·

Onwillikeurig laat dit my dink en wonder oor die transito en ander roof, wat al meer en meer begin word

Basjan ·

Geagte Maroela Media, die skrywer van hierdie artikel, Herman Toerien, het die situasie insake die ANC verkiesingsveldtog uitstekend opgesom! Dankie!

Frans C ·

Suid Afrika te koop? Hoe dom van my was altyd onder die indruk dat dit in 1994 al verkoop is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.