Nuuskommentaar: Suid-Afrika vanuit ’n pantservoertuig bekyk

Te veel areas in Suid-Afrika word nou weens die greep van misdadigers te gevaarlik om te besoek, terwyl selfs die sogenaamde veilige areas gereeld geteiken word deur misdadigers wat ekskursies onderneem na areas waar geld en goedere van hande kan verwissel – selfs al geskied dit teen lewensverlies. Ook buitelanders het al so deurgeloop.

“As jy in Suid-Afrika wil reis, moet jy dit in ’n tenk doen,” was min of meer die woorde van ’n Nederlandse toeris wat deel was van ’n groep toeriste wat beroof is terwyl hul toerbus aangehou is.

Dit is nie die eerste keer dat oorsese burgers in Suid-Afrika misdaadslagoffers geword het of selfs hul lewe verloor het nie. Van die voorvalle het redelik baie nuusdekking gekry, en in sulke berigte is daar dan gereeld agtergrond in die vorm van misdaadstatistieke verskaf. In enkele gevalle het oorsese burgers wat op plase in Suid-Afrika gewoon het, in wrede plaasaanvalle omgekom, en dan was daar skielik baie agtergrondmateriaal oor die omvang van plaasaanvalle in Suid-Afrika vir die andersins redelik swygsame media.

Veral in sommige lande is daar besondere deernis, ook in die media, met medelandsburgers wat in die buiteland teenspoed kry. So word breedvoerig berig oor ’n medeburger wat saam met verskeie ander mense in die Alpe in die moeilikheid beland. ’n Medeburger wat oorsee ontvoer word, word amper as nasionale ramp ervaar. Selfs burgers wat in die buiteland in ’n ongeluk omkom of beseer word, wek wye empatie op.

Dink net aan die kollektiewe gevoel as ’n bus vol medeburgers die slagoffers van geweldsmisdadigers word.

Maar sou daar, hipoteties, ’n gepantserde troepedraer ingerig word om die plek van ’n luukse toerbus in te neem – wat sou die besoeker waarneem?

Suid-Afrikaners onderneem daagliks sulke toere terwyl hulle in Jan Tuisbly se karretjie ry, maar deur ’n koerant (gedruk of in elektroniese formaat) blaai. Opskrifte soos die brandstofpryse wat weer styg, ’n erge bakleiery tydens ’n ANC-provinsiale leiersverkiesingskongres in die Oos-Kaap, ’n boer wat herstel nadat hy tydens ’n plaasaanval deur die kop geskiet is (met ander wat nie so gelukkig was nie), sterftes tydens motorongelukke, taxigeweld, politieke moorde… noem maar op, dit is te lese.

Ons lees dit, of volg dit op radio en TV, gewoonlik vanuit die veiligheid van ons eie (beveiligde) huise. Dit geskied in ’n land waar huisrooftogte plaasvind, en waar rowers ’n kitsbank uit Wachthuis, destydse hoofkwartier van die polisie, gesteel het.

Tog is ons in alle waarskynlikheid meer gewoond daaraan om so te leef as die gemiddelde Nederlander, of burger van ’n ander land.  Daar is uitsonderings, soos die gereelde skietvoorvalle in die VSA waar dit gewoonlik alleenlopers is wat mense by ’n saamtrek van die een of ander aard afmaai. Met die jongste voorval, in Las Vegas, het minstens 59 mense omgekom en is honderde ander gewond.

In Europa is min of meer volstruispolitiek gespeel oor die Katalaanse onafhanklikheidspoging – tot die Spaanse regering met soveel polisiegeweld toegeslaan het dat berigte lui dat Europa al ’n hele ruk nie meer aan sulke beelde gewoond is nie. Nou word omsigtige verklarings uitgereik, en gaan die Europese parlement môremiddag (Woensdag) die kwessie bespreek.

Maar hoe gaan Suid-Afrika vanuit ’n luukse gepantserde voertuig vir buitelandse besoekers lyk, veral as die pantser die toeroperateurs die vrymoedigheid gee om ook areas wat andersins vermy word, te besoek?

Gaan hulle sien hoe jong kinders op die Kaapse Vlakte daagliks aan dwaalkoeëls van strydende bendes blootgestel word?  Gaan hulle sien hoe armoede vanuit vervalle strukture lyk, hoe toeriste kom besoek aflê soos besoekers dieretuine besoek?

Gaan die toeriste hul koppe breek oor hoe dit kan wees dat ’n nasie nou al meer as twee dekades lank, en veral die jongste aantal jare, dit op hulself trek deur vir dieselfde party te stem? En nou nie kan plan maak met ’n president wat soos ’n neet klou terwyl die land onder hom verkrummel en moreel verweer nie? Trouens, waar staatskaping tot ’n ongekende vlak gevorder het, en die drywers daarvan nie net skynbaar onaantasbaar is nie, maar afgesien van ’n struikelblok of twee, lustig kan voortgaan om die land leeg te suig… Terwyl korrupsie ook jaarliks die ekonomie met miljarde rande verarm.

Vanuit ’n gepantserde voertuig kan dit wat verkeerd loop, soos riool wat in ’n straat in plaas van in die rioolstelsel af loop, helder en duidelik raakgesien word.

In daardie gepantserde voertuig kan die toeris rustig aan sy koue drankie suig, terwyl ’n horde honger kinders agterna tou – handjies uitgestrek. Of is dit om ’n aalmoesie te kry om bietjie gom te kan koop om te snuif?

Gelukkig gaan dit nie oral in Suid-Afrika so nie. Daar is genoeg veilige plekke waar toeriste kan afklim, met die bevolking kan meng en foto’s kan neem. Ook Suid-Afrikaners het ’n sintuig ontwikkel om te weet waar dit gewoonlik veiliger is as ander plekke, hoewel dit ook nie waterdig is nie. Sekere gebiede word, sonder om dit hardop te noem, as “no go-areas” beskou. Dis plekke waar misdadigers blatant koning kraai, en vanwaar misdaadstrooptogte elders uitgevoer word.

Maar ongeag hoe veilig daardie “misdaadvrye” omgewings is, dit bly blootgestel aan gewapende rowerbendes wat nie eens skroom om in skietgevegte met spesiale taakmagte van die polisie betrokke te raak nie.

Hoe kan ons die land terugneem?

Die sogenaamde oliekolbenadering gaan van die standpunt uit dat as almal saamstaan – veral in georganiseerde verband – ’n oliedruppel ’n groot kol op die water kan maak. Wanneer die veiligheidsmagte,  private sekuriteit, burgerlike bewegings, buurtwagte en vele meer saamstaan, word ’n area te warm vir die misdadiger. Sy terrein van optrede krimp soos die oliekol uitbrei.

Dit moet uiteraard gepaard gaan met die verligting van armoede en erge sosio-ekonomiese ongelykheid (volgens statistiek), en ’n morele herlewing.

Baie belangrik is egter dat die land se leiers die voorbeeld moet stel…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Charles Austin ·

Die huidige regeering kan niks doen nie want hulle is aan bestuur van korupte sake, n nuwe regeeringkan moontlik, maar die twyfel is te groot. Deporteer alle onwetige buitelanders sodoende sal meer werkssgeleenthede ontstaan en minder misdaad. Doodstraf sal nie help nie, die regeering is die draers van doodstraf.

bgj van der westhuizen ·

die regering sal niks doen om misdaat te voor kom nie of op te los nie maak geld uit dit en dit skep werk meer goed moet gekoop word meer security wagte moet aan gestel word meer alarms moet in gesit word en op alles moet vat betaal wod en so kry die regering al meer geld in om te mors of te steel

marie ·

Gister hier by die Hartenbosrivier te Mosselbaai honderde swart mense, busse, opgeslaande tente, maar nêrens lees mens in die nuus enige verklaring vir doe damekoms nie. Is dit nou weer ‘n tipe plakkersoorname wat deur die munisipaliteit stilgehou word of straks ‘n massa optrede om die rivier skoon te maak?

Jordaan ·

“massa optrede om die rivier skoon te maak?” Hoe lekker het ek nou gelag toe ek die lees.

Jon ·

Eks bitter bly eks daar weg, nou sal my mede Nederlanders luister as ek vir hulle sê vermy daai land, spandeer jul geld in n land wat werk.

Botterblommetjie ·

Vas misdadigers se mense regte weg…. is dit nie wat hulle met wetgehoorsaamde burgers doen nie… en maak die tronk ‘n nagmêrrie wat jy nooit ooit weer wil beleef nie, die reabillitasie werk elkgeval nie… en sit dan die nagmêrrie moontlikheid wat jou kan toekom as jy enige tipe misdaad pleeg op sosiale media en koerante en op pale sodat jy kan sidder….

Eish ·

Daar is nie salf te smeer aan die ewig eskalerende misdaad nie. Diegene wat moet saamwerk ten einde n verskil te maak, sê agendas is ligjare uitmekaar. Van die organisasies soos die SAPS is deursuur met n misdadige element wat net plek soek om n slag te slaan. Die enigste salf is op mikrovlak waar n blok inwoners die area se toegang beheer soos by n veiligheidskompleks en waar patrollies gestap word.

Diegene wat voorwaar n stryd gaan hê, is ons ouer mense. Wat n ramp om jou aftrede in die helhool deur te bring. Waneer die oues sieklik is, is verswak, osteperose, parkinsons en watter ander oumenskwaal beleef, word jou lewenstoutjie nog korter deur die misdaad in die land en jou onvermoë tot paraatheid. Wat n ewige vrees om in te lewe!

Bullseye ·

Ja Eish..en wanneer jy oud en weerloos is…slaan hulle toe.. soos nou reeds gebeur..

Sjo! ·

Ja nee dankie anc dankie vir jul nie effektiewe kontrolering van die grense wat lei tot misdaad, dankie vir al die werk wat jul nie skep nie wat lei tot misdaad, dankie vir al die belegers en blanke boere wat jul so verjaag met jul rassistiese beleid wat lei tot misdaad! Dankie vir al jul korrupsie wat die land so lam le en weereens lei tot misdaad….jul is seker dso trots op juself ne! Maar ek weet vir n feit dit pla jul nie,geen gewete,geen trots of selfrespek of respek vir ander nie,dis als net n geval van steel soveel julle kan terwyl julle kan…..

Stofskoen ·

Presies hierdie dinge was op ‘n haar voorspel deur slim manne van gister. Ongelukkig wou meeste stemgeregtiges eerder aan internationale krieket deelneem en het JA gestem vir FW.
Hulde aan Dr. A.P. Treurnicht.
Daar is nie nou omkeer nie, ons kort ‘n einde van die wêreld gebeurtenis om dinge te verander.
Intussen hou maar by die gesegde “Afrika is nie vir sissies nie” en STERKTE.

Johannes Meintjes ·

Iewers het die hele SA bevolking na mening in ‘n diep koma verval. Hoe anders verduidelik leiers en landsburgers hoe die land in so ‘n toestand van swak etiek, lae moraliteit, wangedrag, swak regering, swak dienste, oneerlike korrupsie en wanordelikheid verval het. Indien dit sistematies so bewimpel is vir ‘n “oorname”, dink die politieke struikrowers en apatiese kerk-leiers in en om die Nuwe SA werklik dat alles eensklaps beter sal word … as wat gebeur? Inteendeel, ek meen ons en ons kinders gaan nog lank gebuk gaan onder hierdie immorele alomteenwoordige nasionale monster wat almal in SA saam geskep het of siende-blind toegelaat het.

Helien ·

Ek wonder soms wat is die doel van al die moorde ens en hoekom hierdie pragtige land deur al die dinge wat hier aan gaan moet deur loop. Self ons diere is nie eers veilig hier nie. Ons moet aan hou bid dat God ons land weer sal bring waar dit was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.