Nuuskommentaar: Suid-Afrikaner eerste, of Afrikaner eerste?

hands-296x300Eintlik, so blyk dit uit die jongste bevindinge van die versoeningsbarometer, sou die vraag moet lui: “Is ek eerstens ’n Suid-Afrikaner, of is ek eerstens wit/swart/bruin?”

Die jongste barometer is gister deur die Instituut vir Geregtigheid en Versoening bekend gemaak. Burgers se strewe na ’n verenigde nasionale identiteit het sedert 2003 van 72,9% tot 55% afgeneem. “South Africans are disillusioned with the idea of a united nation,” skryf Business Tech in sy beriggewing hieroor. (Die instituut se volledige verslag kan hier afgelaai word.)

Die Instituut wys daarop dat meer mense nou hulle volgens ras as belangrike “merker” van identiteit meet as voorheen.

Die redes hoef nie ver gesoek te word nie, beginnende by die nasionale uitsaaier wat in die Afrikaanse TV-nuus om 19:00 breedvoerig uit die verslag aangehaal het, maar in die opperste vorm van nuusmanipulasie hierdie deel van die verslag soos ‘n stopstraat geïgnoreer het. En ’n ou waarheid van strategiese kommunikasie is as mense begin agterkom iemand probeer met hulle koppe smokkel, sal hulle hul daarteen verset.

Tot RSG se krediet is in die nuus om 16:00 genoem dat die Instituut bevind het Suid-Afrikaners is ontnugter met die reënboognasie.
Maroela het telkemale daarop gewys dat die regering se rasbenepenheid en eintlik obsessie met ras presies dít in die hand gaan werk – ‘n rasbewustheid met die nodige rassisme as newe-produk.

Wat anders as daar nou waarskynlik meer rasgedrewe wette op die wetboek is as wat daar op die hoogtepunt van apartheid was? Wetgewing wat die mens se lewe van die wieg tot die graf rig, met geen aanduiding van ’n sonsondergangklousule nie. Veral as onthou word dat die vorige regering ruim voor 1994 die laaste apartheidswet uit die wetboek verwyder het.

Weens die blanke se getalle, is die blankes se aandeel in die verkryging van die jongste persentasies eintlik onbeduidend, hoewel in die groter konteks nie minder belangrik nie.

Tradisioneel, hoe dieper die ANC in die moeilikheid (by sy eie kiesers) is, hoe harder word die rassetamboer gewoon geslaan en is alles weer “reg.”

Die jongste manifestasie was die minister van hoër onderwys en SAKP-leier, dr. Blade Nzimande, se monduitspoelery oor Akademia, waar die bysleep van ras suiwer ’n verbeeldingsvlug van die minister en sy “adviseurs” is.

Nie dat daar nie “Afrikaners” is wat help stook nie. Gister was daar ’n foto op Facebook van dr. Corné Mulder van die VF Plus saam met Anchen Dreyer (DA) en Lindiwe Zulu (ANC) afgeneem kort voor hul deelname aan ’n TV-program. Onderaan, nogal onder sy eie naam, skryf een: “Ek pleeg eerder selfmoord as om saam met ’n m…d (Nederlandse woord vir volwasse meisie) op ‘n foto te verskyn.”

Iemand wil nie dalk vir die persoon ‘n stomp mes aanstuur ter wille van die Afrikaner se behoud in die land nie?

Nog ‘n bevinding van die opname is dat net 53% van die blankes saamgestem het dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom was. Hierteenoor het 80% van die swart mense, 77% Indiërs en 70% bruin mense dit geglo. In die geheel het 86,5% van die mense in 2003 gemeen apartheid was ’n misdaad teen die mensdom, teenoor 76,4% nou. (News 24 se opsomming van die verslag kan hier gelees word.)

Op die gevaar af om te oorvereenvoudig, of mis te kyk dat die verslag dalk metodologie- of uitlegfoute bevat, is dit moeilik om tot ’n ander gevolgtrekking te kom as dat die skynbare opwelling van ras-identtieit ten koste van nasionale identiteit nie deur ‘n groot deel van die publiek van alle rasse as negatief ervaar word nie. Oor te veel ander aspekte is daar “positiewe” bevindings (dit sou inderdaad positief wees as dit met feite gestrook het). Net 24% van die ondervraagdes meen die ekonomiese toestande het versleg terwyl 39,5% meen dit het verbeter. Weliswaar meen 41,2% indiensneming het agteruitgeboer teenoor 31,1% wat meen dit het verbeter. Maar 44% meen rasseverhoudinge het die afgelope dekade verbeter, teenoor 17,4% wat meen dit het versleg. Altesaam 41,4% meen moraliteit het verbeter teenoor net 21,4% wat meen dit het versleg.

Met soveel skynbare inherente uitskieters en teenstrydighede moet die verslag met groot waaksaamheid, baie vertolking en heel waarskynlik ’n gesonde skoot skeptisisme deeglik bestudeer word alvorens dit in enige beleidsraamwerk ingeweef kan word.

’n Insiggewende aanhaling uit die Instituut se opsomming van die verslag lui soos volg: “Key findings point to a significant decline in confidence and trust in governance institutions. In particular, results show a drop in citizen’s confidence in governance institutions, especially national government (10.8% decrease since 2012), as well as a 13% increase in the percentage of citizens who feel that government does not care about people like them. It is of interest to note that these declines occurred in the wake of the African National Congress (ANC) National Conference that was held in Mangaung in December last year, and in the run-up to the 2014 general elections.”

Teen dié tyd weet die Afrikaner dat hy maklik die sondebok gemaak word vir alles wat sleg is. Juis daarom moet die Afrikaner sorg dat sy neus skoon bly – of eintlik meer: dat hy die morele hoë grond beklee. Die morele hoë grond maak dit moontlik dat Afrikaner-belangeorganisasies soos onlangs, die VN se onderskeie komitees met gesag kan toespreek en, gelaai met werklike feite, daar invloed kan uitoefen. Uiteindelik kan die Afrikaner hom beroep op internasionale geregtigheid.

Maar dan moet die Afrikaner die morele hoë grond beklee… en die reg aan sy kant hê. En om ras, en veral rassisme en haatspraak-uitlatings deel hiervan te maak, is nie deel van die internasionale reg of die grondwet nie. In daardie geledere het ras net ’n “negatiewe reg”, met ander woorde, duidelike sake wat verbied word, soos dat daar nie onbillik teen ‘n bepaalde ras gediskrimineer mag word nie, dat daar nie haatspraak teen ’n ander ras gepleeg mag word nie, ensovoorts. Maar kom dit by minderheidsregte, is daar ook positiewe regte wat uitgeoefen mag word. Maar in ons grondwet, soos in artikel 235, en in die internasionale reg soos universiteite vir minderheidstale, is ras uitgesluit. Die twee soorte regte moet dus duidelik geskei word as die Afrikaner wil droom oor enige minderheidsregte.

En haatspraak is nie die manier om daar uit te kom nie.

Die debat oor Suid-Afrikanerskap eerste sal nog lank woed, en die wyse waarop analiste dit aanspreek, en die regering die voetwerk (reg) doen, gaan tot ’n groot mate die uitkoms bepaal. Maar as die regering gemeen het optredes wat tot vervreemding van gemeenskappe lei (die verslag toon aan dat bruin mense van die mees ontnugterdes is) is ‘n metode om nasionale eenheid aanmekaar te timmer, wys die verslag nou dat dit boemerang.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

18 Kommentare

Hanno Visagie ·

From: Johan Malan Sent: Monday, December 01, 2014 9:02 PM To: Hanno Subject: “Volk”
Hallo Hanno. Daar is enger en breër definisies van ‘n volk as kultuurgroep, maar ek dink mens sal moeilik wegkom van die feit dat ‘n volk in sy kern en oorsprong ook deel van ‘n bepaalde rassegroep is. Daarom praat ons tereg van blanke volke, swart volke, Asiatiese volke, ens. Deur assimilasie, verbastering en ondertrouing het baie volke meer heterogeen begin raak wat hulle raskundige samestelling betref, vandaar die nuwe, nie-rassige definisies. Groete, Johan.

Bolander ·

Net 53% van witmense dink dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom was. Ek sou graag wou weet hoeveel swartmense dink dat BEE-beleide en sport-kwotas ‘n misdaad teen die mensdom is. Dit is dan op dieselfde ideologie geskoei.

Pietsnot ·

Hanno, dis presies wat ons nie moet kwytraak nie. Ons mede-landsgenote sien dit as verdediging van apartheid, en onmiddelik het jy die morele hoë grond verloor, en is enige hoop op gesprek in die drein af.
Versigtig om sulke goed te sê – jy doen ons almal se saak skade aan.

Kobus ·

Nou kan ek verstaan hoekom pietsnot se naam pietsnot is. Sorry man, maar daar is twee pole, die een is polities en die ander een is die realiteit, of hoe Herman?

Pietsnot ·

Die vraag is nie wat die feite is nie. Die vraag is nie wat jou & my mening is nie.
Die vraag is: wat doen die Afrikaner se saak goed, of skade.
Die realiteit kan wees wat dit wil, maar as jy daarop gaan bly hamer en in die proses jou teenkant vervreem, het jy verloor nog voor jy begin het.
As jy vir die Afrikaner baklei, baklei intelligent.

Kobus ·

Maar natuurlik moet ons mos polities korrek wees, die werklikheid maak mos nie saak nie. Niemand wil dit hoor nie en ook nie pietsnot nie.

Die feite van Zuma wil ons ook nie hoor nie, want dit is nie polities korrek nie.

Ag man, gaan blaas jou neus!

Kobus ·

Skuus pietsnot, of bedoel jy ons moet so saggies doodgaan en sterf? Of moet ons net stilbly omdat ander nie …… Ja en mag ek dit nie sê nie, want dan … Skuus dat ek lewe, skuus dat ek gesels, maar wanneer moet ons die realiteit in die oë kyk? Dalk sal nog so ‘n mijoen jaar in Afrika tyd reg wees.

En weet jy, dit gaan nie oor rassisme nie, kry dit in jul koppe. As SA net kon weet hoe om mense saam positief die toekoms in te vat, sal dit ‘n beter plek wees. Maar nee, dit hap mos so op die grond en weet dit nie van beter nie.

Herman Toerien ·

Bolander, ek het eintlik beplan om ‘n peiling van Pondering Panda ook te gebruik, maar kon nie die data in die hande kry nie. Breedweg, soos ek onthou, is die vraag aan jong Suid-Afrikaners gestel of die huidige regering apartheid teruggebring het (met al die AA en BEE ens). Die meeste wit, bruin en Indiëkinders het bevestigend geantwoord, maar die meeste swart kinders het gedink die huidige rassistiese reëlings kom nie op apartheid neer nie. As ek dit nie mis het nie, het ander peilings ook getoon dat die huidige ras-reëlings by die meersdereid swart mense op die een of ander manier nie rassisties is nie. Al wat ek kan dink, is dat dit iets met die rassitiese uitgangspunt verband hou dat swart mense per definisie nie rassisties kan wees nie. ‘n Interessante syfer wat ek ook al in nuuskommentare gebruik het, is dat swart mense in die VSA self die swart mense as die mees rassistiese groep beskou, dus het die plaaslike “definisie” nie internasionaal drakrag het nie.

Theresa Papenfus ·

Dankie vir hierdie artikel, Herman. Ek sien uit na die dag wanneer Afrikaners nie meer die sondebok is vir alles wat skeef loop nie, maar die stem van hoop, selfrespek en medemenslikheid.

Kobus ·

Ek vang hier en daar net ‘n woord. Ek moes nou liewer als gelees het, maar toe sien ek als word weer voor die Afrikaner se deur gegooi.

Herman, nou vra ek graag, kyk ons (ons né) debateer mos so aanmekaar met onsself. Nou waarom sal dit wees dat ons so worstel met die Afrikaner en die wit mense? Ons rubriekskrywers skets dinge so dat hulle daarom kan worstel.

Hoekom kry ons nie bed nie?? mmmmm?

Wat van ons gee net die werklikheid weer soos die realiteit is, soos dit werklik gebeur het.

Waar staan ons dan?

Kobus ·

O’ja, en dan kan ek byvoeg, ons skryf elke dag aan ons eie geskiedenis. Daardie realiteite soos dit gebeur mag ons nie sê nie, want dan is ons rassiste.

Ook is dit die persepsies wat mense van hulle skep wat nie help dat mens etikette om daardie mense se nekke hang nie, maar dan mag mens dit nie uitwys nie, want dan kom die ras-ding weer by.

Partykeer is dit moeliker om dinge self uit te werk as wat ander mense dit vir jou uit spel.

Herman Toerien ·

Ek verstaan nie Kobus. In die nuuskommentaar word die ANC se rasbeheptheid en rassisme onomwonde as verkeerd uitgespel. Daar is niks mee verkeerd om dit uit te spel nie, en iemand wat so iemand kritiseer is mos doodgewoon ‘n bewysbare rassis. Waarteen wel gemaan word, is hoe ‘n mens daarop reageer, en die voorbeeld wat gebruik word van wat verkeerd is, is mos in enige beskaafde geselskap verkeerd. Dit benadeel die groter saak, en kan dit selfs verongeluk. As jy ‘n ander, sinvolle uitleg het, stel ek voor dat jy dit behoorlik uitspel en aan Die Groot Debat vir oorweging voorlê. (Onder jou eie naam, uiteraard).

Kobus ·

Die wie The Sapphires vroeg aand op 103 gekyk het sal verstaan waar ek vandaan kom en wie ek is. Dit is die geskiedenis wat nie ontken word nie en is daar aan beweeg. Ons in SA weer soek gedurig ‘n plak en ‘n Afrikaner om pak te gee.

Kan ons rubriekskrywers dit nie in hul koppe kry en ook aan beweeg nie? Maar as dit gebeur, waaroor skryf hulle dan?

Kobus ·

Dan is die realiteit: In Bosbokrand is ‘n persoon vandag van sy kar beroof. Hy is in die proses dood geskiet. Ek sê maar.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.