Nuuskommentaar: Suid-Afrikaners glo self SA is korrup

SAvlagVolgens die jongste data glo 83% van alle Suid-Afrikaners dat korrupsie in die land aan die toeneem is, en dit moet noodwendig ’n impak op beleggersvertroue hê. Hoe ver het die vis al van sy kop vrot geword?

As 83% van alle Suid-Afrikaners glo korrupsie in die land is aan die toeneem, hoe moet potensiële beleggers oor die kwessie voel?

Dié syfer blyk uit die jongste weergawe van die Afro-barometer wat saam deur Transparency International en Afrobarometer bekend gemaak is.

Wat Afrika in geheel betref, glo “net” 58% dat korrupsie aan die toeneem is.

Altesaam 79% van die Suid-Afrikaners glo die regering vaar vrot in die geveg teen korrupsie.

Daar is waarskynlik voor die hand liggende verklarings oor hoekom die publiek in Suid-Afrika negatiewer oor korrupsie is as elders in Afrika. Die omvang van mediadekking oor korrupsie in die land is as faktor genoem. Boonop het die verslag die tydperk ingesluit waartydens die hele Nkandla-kwessie op die spits gedryf is. Daar is ook ’n wye spektrum van belangegroepe wat voel hulle het genoeg – eintlik ver meer as genoeg – van korrupsie gehad. Massa-optogte het onder meer plaasgevind.

Tog bly die regering in ’n toestand van ontkenning. Na berig is, was die minister van polisie, Nathi Nhleko, tydens die opening van ’n nuwe polisiestasie in Yeoville, Johannesburg, erg langlippie omdat die publiek “omkopery en korrupsie uitsluitlik aan die polisie toedig”.

Transparency International het wel bevind die polisie word as die mees korrupte groep in Suid-Afrika beskou, maar dat dié persepsie uitsluitlik die polisie toeval, is darem ook om die waarheid bietjie wyd te rek.

Die minister probeer die bal na die publiek aangee deur te sê indien ’n gemeenskap korrup is, is dit onvermydelik dat polisielede uit daardie gemeenskap ook só sal wees. (Soos aangehaal uit RSG se nuus.)

Nhleko moet miskien eerder wonder hoe ’n groot rol sy eie Nkandla-verslag, wat pres. Zuma van alle onheilighede met Nkandla vryspreek, daarmee te make het dat die polisie se korrupsiebeeld soos ’n baba se vuil doek ruik.

Dat die president in een van sy verbale verleenthede gesê het korrupsie is ’n Westerse konsep, het stellig ook nie gehelp om die land in geheel se beeld te bevorder nie.

Afgesien van die laaste indeks van Transparency International, toe Suid-Afrika se posisie ’n klein bietjie verbeter het, het die land skerp op die internasionale korrupsiepersepsie-indeks agteruitgeboer, veral sedert Zuma president geword het.

Volgens die 2014-indeks was Suid-Afrika toe die 67ste mees korrupte land ter wêreld. Die vorige jaar was die land nog die 72ste mees korrupte land ter wêreld – dis nou volgens persepsies.

Die interessante feit is egter dat Suid-Afrika in 2010 nog die 54ste mees korrupte persepsie gehad het, maar sedertdien tot 2013 flink die kreeftegang gegaan het – in 2011 was dit in posisie 64, in 2012 in posisie 69 en in 2013 in posisie 72. Dit moet egter onthou word dat die land op die omkoopindeks oneindig swakker vaar, en byvoorbeeld die DRK die loef afsteek.

Volgens die Wêreldbank beroof korrupsie ’n land van sy toekoms.

Iemand wat hom aan korrupsie skuldig maak, maak hom dus eintlik aan sedisie skuldig. Nie ver hier agter nie, ook diegene wat nie korrupsie help beveg nie.

Geen aksie om korrupsie hok te slaan is eintlik te groot nie. Minstens twee lande, Georgië en die Oekraïne, het hul hele verkeerspolisiedepartement, of bykans die hele, ontslaan en opnuut saamgestel om die beeld van verkeerspolisiebeampte = omkopery die nek te probeer inslaan.

Korrupsie is nie maar ’n nietigheid nie. Die grootste sonde is ook nie om uitgevang te word nie, maar om daarby betrokke te wees.

Indekse soos die korrupsiepersepsie-indeks, die persvryheidsindeks, die indeks vir lewensvatbare state (die sogenaamde piesangrepubliek-indeks), die innovasie-indeks, die beleggersvertroue-indeks en die vredesindeks beïnvloed mekaar. So het Suid-Afrika ook teen alle logika in sy posisie effens op die jongste persvryheidsindeks verbeter, en dit verklaar miskien die land se verrassende effens verbeterde posisie op die korrupsiepersepsie-indeks. Die verbeterde posisie op Verslaggewers sonder Grense se persvryheidsindeks was egter aan ’n fout te wyte – die instansie het gemeen Zuma het “geweier” om die sogenaamde snoerwet te teken, terwyl dit slegs vir tegniese regstellings teruggestuur is parlement toe. Op Freedom House se indeks het SA egter steeds die kreeftegang gegaan.

Die indekse is egter nou byna ’n jaar oud en dit sal werklik verbasend wees as die land weer sy posisie kon verbeter – al geskied daar hoeveel diplomatieke beïnvloeding agter die skerms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Loeis ·

Die prentjie by die berig is gepas: die vlag waarmee korrupsie saam gekom het, i.e. die Korrupsie Vlag.

Rietrot ·

Die vis is klaar vrot. En die reuk is oral a.g.v. korrupsie

GES ·

Ons regstelsel in samewerking met die polisie het my by ‘n paar geleenthede baie teleur gestel. Dit veroorsaak dat ‘n mens baie graag die slegste wil glo.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.