Nuuskommentaar: Suid-Afrikaners nie gelukkig en dis amptelik

hartseerSuid-Afrikaners is betreklik ongelukkig, aldus die jongste gelukkigheidsindeks wat die Universiteit van Columbia se Earth Institute namens die VN opstel.

Dié indeks is nie sommer ‘n hierjy-indeks nie – dit meet ‘n groot verskeidenheid aspekte wat wissel van werkloosheid en korrupsie tot aspekte soos geestelike gesondheid.

Die opname is tussen 2010 en 2012 gedoen, en die huidige vlaag stakings en diensleweringsbetogings het dus nie Suid-Afrika se stand skielik afwaarts geruk nie. Die swak posisie wat Suid-Afrika inneem bevestig die kreeftegang wat Suid-Afrika op ander saakmakende indekse soos die pervryheidsindeks, die korrupsiepersepsie-indeks, innovasie-indeks, geweldsindeks en indeks vir mislukte state gaan.

Terwyl Denemarke, Noorweë, Switserland, Nederland en Swede die boonste plekke beklee, verkeer Suid-Afrika op die verskillende indekse wat gemeet is in die orde van 90ste. Afrikalande neig om aan die onderpunt te wees van die verskillende indekse, maar daar is ook verskeie Afrikalande wat feitlik deurgaans beter as Suid-Afrika presteer.

Hierdie indeks toon onomstootlik watter gekkeparadys die waarnemende hoof van die SAUK wil skep deur nuusbulletins met 70 persent positiewe “nuus” te wil laai. (Maroela Media het die kwessie in gister se nuuskommentaar bespreek.)

Dit werp egter ook ‘n lang skadu oor die demokratiese volwassenheid van die Suid-Afrikaanse kiesers dat hulle na twintig jaar van ‘n regering wat die land in hierdie posisie in regeer het volgens alle aanduidings weer aan bewind gaan stel.

Dit beteken egter nié dat Suid-Afrikaners nie ook op die onmiddellike impak van die huidige vlaag stakings, en die oorsake daarvan moet let nie.

Suid-Afrika het volgens die Wêreldbank die grootste inkomstegaping ter wêreld, en volgens verskeie bronne een van die grootste loongapings ter wêreld, dws die inkomstegaping van mense wat wel werk het. Bloot uit die politieke sosiologiese konsep van relatiewe deprivasie bestaan hier dus in beginsel ‘n rewolusionêre klimaat, en dit sal dom wees om die impak hiervan op aspekte soos stakings en diensleweringsbetogings nie behoorlik te verreken nie. Volgens peilings geniet Julius Malema se party onder jong mense aansienlike steun, en dié party buit hierdie verskynsel genadeloos uit.

Maar die waarneming van politieke analiste dat die huidige vlaag stakings, en veral die karakter daarvan, ook ander dimensies het moet nie gering geskat word nie. In wese kom dit daarop neer dat ‘n politieke magstryd binne die ANC-alliansie woed waar elke groep steun probeer konsolideer deur ander te oorbie (en te ondergrawe), en terselfdertyd die oog op die rysmierimpak van AMCU moet hou, deur nie te veel deur AMCU se oordadige eise in die skadu gestel te moet word nie.

Mnr. Flip Buys, hoof van Solidariteit, het in sy rubriek in Rapport die kwessie insiggewend ontleed.

Politieke waarnemers is verstaanbaar nog uiters sku om die skynbare herlewing van “tribalism” as ‘n teenreaksie op pres. Jacob Zuma se Zoeloefikasie te verreken en selfs by die naam te noem. Maroela het onlangs reeds op die skielike stilte rondom Gwede Mantashe, die normaalweg bekkige sekretaris-generaal van die ANC, te wys. Hoewel hy pas ‘n verwoede aanval op NUMSA geloods het, en hom daardeur skynbaar weer in die Zuma-kamp probeer inwurm, is dit onder politieke analiste ‘n betreklike oop geheim (met die “status” van skinderstorie wat ernstig verreken word) dat daar ‘n groot uitval was tussen Zuma en Mantashe. Mantashe (‘n Xhosa) is gevolglik effektief uitgerangeer, en Zuma het Zwele Mkhize uit KwaZulu-Natal na Luthuli-huis ontbied.

Voeg hierby dat Zuma in elk geval nou eerder sy ore aan die NUK as aan Luthuli-huis uitleen. Met die vorige nasionale kongres is die NUK nie net effektief van bruin mense en Indiërs gestroop nie, maar ook net vier blankes het “oorleef.” Maar meer insiggewend is dat daar ‘n verskuiwing was dat mense soos Bheki Cele (ook ‘n Zoeloe) mense soos Trevor Manuel op die NUK vervang het. Die klein bietjie wit, bruin en Indiër-verteenwoordiging op die NUK is feitlik uitsluitlik te danke aan die “spesiale status” wat die SAKP binne die alliansie geniet.

Op die vakbondterrein word ‘n min of meer parallelle poses waargeneem. Zwelinzima Vavi, ‘n Xhosa, is in die oop visier, en daar is gepoog om die mag na die president van Cosatu, Sdumo Mbongeni Dlamini te verskuif. Benewens Numsa, met sterk verteenwoordiging in die Oos-Kaapse motorvervaardigingsindustrie, het ook minstens ‘n deel van die Oos-Kaapse vertakking van Sadou, aangedui dat die behandeling wat Vavi geniet nie al te lekker afgaan nie.

Om die “tribalism”-dinamika wat op die oog af aan die ontwikkel met te veel stelligheid te dryf, sal egter ook op plataarde-joernalistiek neerkom, en dit is net so destruktief as sonskynjoernalistiek terwyl die blitse om die skrywer slaan.

Maar om die magskonsolidasie om die “100% Zulu boy” bloot weens die politieke inkorrektheid daarvan te ignoreer is ook gevaarlik.

Net so gevaarlik soos om weens politieke korrektheid die misbruik van transformasie in die proses van vervreemding te ignoreer.

Intussen is daar ‘n groot verantwoordelikheid op die kiesers om op die regte manier, by die stembus, te reageer op hoe gelukkig of ongelukkig hulle met die huidige toedrag van sake is. Stakings is veronderstel om deel van die arbeidsterrein te wees, nie om die land weens politieke toutrekkery ekonomies te knou nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Gemsbok ·

Die gebrek aan ‘n senaat wat op ‘n kiesafdelingsgrondslag verkies word verhoed enige direkte verantwoording aan en inspraak deur kiesers.

Daarmee saam word ‘n groot menigte van kiesers van hongersnood (en die plig om te werk) beskerm deur die toelaes wat die ANC so mildelik uitdeel.

Moet dus nie asem ophou vir kiesergedrewe verandering nie.

H J Bester ·

‘n Groot deel van die omstandighede in Suid-Afrika is ook te wyte aan die “onvolwassenheid” van ‘n groot deel van sy bevolking – daarom dan ook nie verbasend dat, ten spyte van die onvermoë van die ANC-regering om armoede te verlig, die massas steeds in die volgende verkiesing vir hom sal stem. Die rede: dit bly maklik om apartheid vir alles wat nie goed is nie, te blameer.

Nico Kruger ·

Dit is ongelukkig waar dat kiesers ten spyte van hul ongelukkigheid, nie vir ‘n party sal stem wat “blanke belange” enigsins sal bevorder nie, bv. kapitalisme, afskafing van regstellende aksie, ens. (Die feit dat Mugabe nooit uitgeskop is nie, is bloot omdat hy gesê het alles is die Blankes (kolonialisme) se skuld. Niemand in Afrika sal dan teen hom draai nie.)

‘n Ander interessante punt is dat ons land se inkomste gaping steeds die grootste is te spyte van ‘n Kommunisties gesinde regering. Ek ken persoonlik ‘n paar lede van die Kommunistiese party en hulle is skatryk, ry net die duurste (ingevoerde) motors en drink net die duurste drank. Ek wonder of enige persoon regtig in Kommunisme glo na hy ryk geword het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.