Nuuskommentaar: Sus en so en glo.  Maar wat van die bewyse?

Voorblad van die staatskaping-verslag wat op 2 November 2016 bekend gemaak is

Die temperatuur in die Suid-Afrikaanse politiek het gister heelwat nader aan kookpunt gekom toe adj.pres. Cyril Ramaphosa by die SAKP-kongres ’n striemende aanval op die Guptas en staatskaping aan die gang gesit het, en oudminister van finansies, Trevor Manuel, by ’n ander geleentheid vir pres. Jacob Zuma reguit daarvan beskuldig het dat hy korrup is. Maar beskik hulle oor die bewyse, of het die omvang van die berigte oor die staatskaping so ’n grootte aangeneem dat die kantelpunt bereik is waar dit nie meer “nodig” is om bewyse vir sulke stellings te maak nie?

Deur bewerings die wêreld rond te strooi oor hoe die Guptas die land deur staatskaping van sy hulpbronne stroop, en of pres. Jacob Zuma – deur voorbeelde  te opper – ’n swak president is, mag een waarheid nie in die slag bly nie. Dít wat beweer word, moet ook bewys word.

Soos gebruiklik is Suid-Afrika nie uniek nie. In die Rooms-Katolieke wêreld draai die gety sterk teen kerklikes wat kinders reeds lankal binne kerklike strukture seksueel uitbuit. Tradisioneel is sulke praktyke met mening deur kerklike gesag onder die mat ingevee, maar uiteindelik het die gety te sterk daarteen gedraai, en ’n veldtog is wêreldwyd van stapel gestuur wat nogal herinner aan die proses wat nou in Suid-Afrika ontkiem om vals kerklikes, wat groot geld uit naïewe gelowiges maak, in hul spore te stuit met praktyke wat soms selfs lewens eis.

Die media en ander burgerlike instellings speel ’n belangrike rol om, deur openbaarmaking, wat tot openbare druk lei, die wanpraktyke aan die groot klok te hang en onwillige instansies te dwing om op te tree. Maar … is dit bewys?

Word onskuldiges nie soms gekruisig nog lank voor hulle eers verhoor word nie?

Dié kwessie het ’n jong Vlaamse juris, Joris van Cauter, laat sê: “As jy ernstige kritiek uitspreek, bring dan ernstige bewyse.” Voorts meen hy dat die uiter van bewerings sonder om dit te staaf, die regstaat ondermyn.

In dié stadium is dit nie nodig om te gaan beredeneer of Suid-Afrika ’n regstaat is of nie. Volgens die oorgangsgrondwet was Suid-Afrika statutêr ’n regstaat, maar volgens die huidige grondwet nie – bloot ’n grondwetlike demokrasie (wat nie deur Zuma verstaan word nie, en wat demokrasie gelyk stel aan die diktatuur van die meerderheid, en knaend gal braak oor die howe wat as “DA-agente” optree en die meerderheidsparty strem in sy strewe om sy wil op die bevolking af te dwing – ’n verskynsel wat in die politieke wetenskap as die tirannie van die meerderheid bekendstaan).

Vir die doeleindes van hierdie ontleding is dit egter onnodige haarklowery om die kop te breek of Suid-Afrika ’n regstaat is, of ’n grondwetlike demokrasie waar die oppergesag van die reg (bv. die grondwet en howe) magsmisbruik temper. Die posisie is (veronderstel) om te wees dat iemand onskuldig is tot hy skuldig bewys is.

Die aard van die saak bepaal of die bewyslas van prima facie, met ’n oorwig van waarskynlikhede of bo redelike twyfel genoegsaam is om ’n hofbevinding teen die betrokkene te kry. Die ANC was meesters om die reg om hierdie stelsel te rek, deur uitsprake eenvoudig te ignoreer terwyl verder en verder appèl aangeteken word. Só dien daar jare lank LUR’e terwyl hul sake van hof tot hof voortsleep. Dit het uiteraard ’n probleem begin skep omdat dit die indruk geskep het dat die ANC oneerlikheid met allerlei truuks beskerm. ’n Integriteitskommissie is in die lewe geroep, wat hier en daar kenterings gebring het soos in die bekende John Block-sage, en dit het onlangs aan die lig gekom dat dié liggaam Zuma gevra het om te bedank. Zuma het geweier en een van sy belaglike “redes” aangevoer, naamlik dat hy al een is wat kan keer dat die weste die ANC “oorneem.”

Zuma is ook op rekord dat hy meen hy vaar goed as president, en dat “niemand” hom moet sê wat hy verkeerd sou gedoen het nie – die aandrang van onder meer die #ZumaMustFall-veldtog en SARK dat hy moet bedank (of afgedank word) is dus onbillik.

Om bloot die lewe vir een moeilik te maak deur ongestaafde aantygings uit te basuin, kan ’n mens aan die verkeerde kant van die gereg laat beland en onder meer ’n lastervonnis en ’n groot gat in die sak op die lyf laat loop. Waar trek ons, bewysgewys, in die staatskapingsdrama?

Hoeveel van die “feite” wat soos golwe deur die media rol, en stellings deur politici van verhoë buite die sanksie van die parlement gemaak word, is niks anders as hoorsê nie? Kritiek teen die Seriti-kommissie oor die wapenskandaal sal voortduur tot ’n hersieningsaansoek van die kommissie se verslag eendag daaroor beslis. Maar wat belangrik is, is dat talle van die helde in die onthulling van die skandaal, deur die kommissie gestuit is omdat hulle, as fluitjieblasers, in effek (volgens die kommissie) oor hoorsê-getuienis beskik het.

Wat die Gupta-sage betref – ná aanvanklike mededelings oor regstappe wat geneem gaan / kan word oor die “bewerings” teen die Guptas, is dit nou stil op daardie front, sodat dit eintlik na stilswyende instemming begin lyk. Daar is wel periodieke ontkennings, maar van die verwagte regsoptrede teen diegene wat die bewerings maak, is daar nie juis tekens nie. So kon die kwessie oor die R30 miljoen van die Vrede-suiwelprojek wat glo vir die omstrede, maar erg uitspattige Gupta-troue betaal het, en wat die nuuswêreld aanvanklik stil-stil betree het (sodat sommige groot media dit aanvanklik geïgnoreer het), geleidelik en, soos Maroela aanvanklik deur hierdie rubriek voorspel het, die hele staatskapingskwessie na ’n volgende rat laat oorskakel.

Dit het trouens die kantelpunt oorgesteek waar dit in so ’n mate die openbare mening geword het, dat dit nou (te midde van die era van fopnuus en in die era van die post-waarheid) as ’n “onbetwisbare” werklikheid begin staan. ’n Goeie analoog was kritiek op enigiets wat na apartheid geruik het – kritiek daarop het geen bewyslas meer vereis nie, want daar was gewoon prakties nie meer ’n teenkant nie. Selfs die befaamde Helen Zille moes al twietend besef dat in sekere geledere daar geen “ander kant” in die benoeming van bose kolonialisme is nie.

Die Reitz-vier-proses was sekerlik nóg ’n goeie voorbeeld, sodat ’n uitstellanddros naderhand ’n beroep op veral die media en die politici gedoen het om nie in hul bespreking van die saak die regsproses vooruit te gaan, en die vier voortydig skuldig te bevind nie. Minder as ’n week later publiseer ’n groot Afrikaanse koerant ’n brief waarin na die vier as skurke verwys word. Uiteindelik blyk dit onder appèl dat die verhoorlanddros (die hooflanddros) die vier ook gevonnis het vir dinge waarvoor hulle nie eens aangekla was nie.

Die kwessie van skuldig of nie, berus uiteindelik by die howe (en selfs die afdwingbaarheid van die openbare beskermer se bevindings, kan deur ’n hof op hersiening tersyde gestel word).

Wat die Guptas betref, dit kan aanvaar word dat die “bewerings” wat aan die groot klok gehang word, die produk van puik, en versigtige ondersoekende joernalistiek is. Tog sal gemerk word dat ander joernaliste wat ook in daardie skat van inligting baai, met die oorskryf daarvan versigtig woorde invoeg soos dat iets “glo” so is, of “na bewering,” of dat dit sus en so is wat die bewerings maak. Alles dra daartoe by dat die kantelpunt omtuimel van waar dit kwalik meer “nodig” is om die nodige bewyse te voorsien.

En dan is daar die kwessie van openbare belang, en niemand kan twyfel dat dit in openbare belang is om elke greintjie beweerde korrupsie met alle mag aan die kaak te stel, en uiteindelik uitgeroei te kry nie. Solank dit in die regte vervolgingsbaan ingedwing word – en as die Nasionale Vervolgingsgesag dan die proses smoor of verstop, dit deur privaat vervolging deurgedruk word soos wat AfriForum met adv. Gerrie Nel se eenheid probeer doen.

Uiteindelik moet die reg eenvoudig geskied. In Brasilië was dit ’n langsame proses om die voormalige president, Lula da Silva, aan korrupsie skuldig te bevind, maar hy is pas nege jaar tronk toe gestuur in die eerste van vyf sake.

In die Amerika het ’n kongreslid pas ’n mosie ingedien om pres. Donald Trump in ’n staat van beskuldiging te plaas, met die oog op sy afsetting. Dit handel nog oor die beweerde smoor van pogings om beweerde Russiese inmenging in die Amerikaanse presidentsverkiesing te laat ondersoek. Die kwessie van Trump se seun met sy eie #TrumpLeaks, moet nog genoegsaam in die baan van optrede inskuif.

Wat Zuma as president betref, moet hy hom daarby berus dat, om uitvoerende president (regeringshoof) te word, ook die ou politieke waarheid skep: “As jy jou vir ’n toffie uitgee, moet jy bereid wees om gekou te word.”

Die uitvoerende president, meer as enigeen, is deur sy grondwetlike ampseed verbind tot die dien van al sy onderdane. As hy versuim, pleeg hy kontrakbreuk van die sosiale kontrak wat tussen hom en die bevolking tot stand gekom het. Dit klink nou amper onwerklik dat dr. Blade Nzimande, SAKP-leier, in ’n stadium saam met ander prominente mense gepleit het vir ’n grondwetlike wysiging sodat Zuma soos ’n simboliese staatshoof, deur die beginsel van “The king can do no wrong” beskerm, en dus ook nie beledig mag word nie.

Optredes soos dit wat die skaal na rommelstatus laat kantel het, of ander groot negatiewe ekonomiese implikasies vir die land ingehou het, tel as skitterende voorbeelde van die verbreking van die sosiale kontrak. Op meriete en in belang van die land moes Zuma lankal as president afgesit gewees het, en die vervolgings teen hom begin – of in die geval van die meer as 700 klagtes teen hom – hervat geword het.

Maar dit het nie gebeur nie, en die saak het nou in ’n straatgeveg ontaard. As die wetstoepassingsagentskappe nie baie gou intree nie, gaan bitter baie mense ’n erg versteurde beeld van die juridiese skaal ontwikkel, en sukkel om die verskil in erns te besef tussen ’n verkeersboete en bedrog of korrupsie.

Die gevolge om Zuma nog ’n dag lank as president te duld, is skrikwekkend. Sy afsetting nou weeg baie swaarder as die gedagte om hom te los sodat hy nog meer skade kan aanrig sodat die ANC in 2019 die prys daarvoor by die stembus betaal. Wat moreel reg is, kan eenvoudig nie takties op die ys geplaas word nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

15 Kommentare

Ramkat ·

Hierdie persepsie van onskuldig totdat hof skuld verklaar word te ver gery.

Neem die volgende as voorbereiding.
Iemand ry.met sy motor oor n kruisiging in stryd met die rooi lig vir hom. Talley mense sien dit. n Verkeerd beampte sien dit ook, keer hom voor en skryf n dag aard ingredients uit. Die motorists verduidelik dat hy binne ure die land gaan verlaat em sal eers oor ses maande terug wees en sal dan redeliketwys verantwoording in die hof kom doen.

Volgens die stelling waarmee begin is sal hierdie motors vir ses maande lank “ONSKULDIG” wees en dit terwyl talle die klakkelose oortreding waargeneem het.
Is hy nou skuldig aan n oortreding of is hy nie (hy het NIE die oortreding be gaan nie)

Genieve ·

Ai maar hulle sukkel darm om Zuma uit die pos te lig. Bewyse kom al na vore maar nogsteets word blindheid in die oe gestaar.

Kannaland ·

…en die feit dat die bestaande klagtes teen hom netnie ondersoek word nie en die ondersoek daarvan bloot so sterk teengestaan word, is nog n totaal oortuigende bewys.

MCH ·

Uitstekende, nugtere en beredeneerde artikel, groot waardering. Ek het gister na n paar videogrepe gekyk van onderhoude wat Westerse joernaliste met Vladimir Putin, die president van Rusland gevoer het. Die kwessie van bewyslewering het het tydens die onderhoude weereens bewys in hoe n mate hoorsê en nie koue feite nie, openbare mening kan beïnvloed. Nodeloos om te sê sê Mnr. Putin het ernstig gemors met ervare onderhoudvoerders wat vrae en standpunte gehuldig het wat gebaseer is op menings. Dit sal n kwade dag in ons geskiedenis wees indien die staatskaping en die ander bewerings van ernstige korrupsie soos by onder andere Prasa, nie in n hof bewys kan word nie. Die media het reeds die totale wanadministrasie gedryf by die publiek tot massahisterie. Voeg by uitsprake van die SAKP ens, en dis duidelik dat die situasie as feite aanvaar word. Wat gevolglik spoedige deursigte hantering noodsaak. Kan ons, ons verlaat op joernalistieke beriggewing alleen? Die verlede is maar bemors met joernalistieke beïnvloeding gekleur deur politieke siening, bevooroordeeldheid en politieke korrektheid eerder dan feite. Die Reitz 4 se voorbeeld dien ook hier as bewys. Aan die ander kant van die munt is dit belangrik vir die openbare belang dat die kwessies gedryf word en die stoompot se deksel styf vasgedruk word ten einde verkeerdhede spoedig aan te spreek. Mag goeie joernalistiek gebasseer op feite seëvier.

Nico K ·

Dit is waar dat ‘n persoon eers in ‘n hof skuldig bevind moet word. Maar wat is die kans dat Zuma ooit in ‘n hof sal staan. Ek kan nie sien dat dit sal gebeur nie. Ons wag nou nog dat hy in die hof moet kom vir ‘n saak wat 6 jare gelede al begin is.

Grassie ·

Die beginsel dat iemand onskuldig geag word totdat hy in die hof skuldig bevind word, is vinnig besig om geloofwaardigheid te verloor. Aan die een kant word getuienis in sekere sake, soos bv Zuma se 700+ sake, in ‘n voertsek-legger (daar is ‘n beter beskrywende word) geplaas en iewers in ‘n donker kas gesmyt deur die vervolgingsgesag en die oortreder stap heel onskuldig weg. Aan die ander kant, veral waar witmense betrokke is soos bv die doodskissaak of die verdagte dief wat van die bakkie afgespring het, word ‘n groot bohaai opgeskop en die mense word voortydig deur ANC-leiers en die liberale pers as boewe en moordenaars uitgekryt. Borgaansoeke is dan soms ook nie onpartydig nie, asof die aangeklaagdes reeds as skuldig beskou word. Die hofprosedures self lyk of dit nog redelik op standaard is maar die hele aanloop tot die saak uiteindelik verhoor word is deurspek met korrupsie en is onaanvaarbaar.

John ·

Hoe ons ook redeneer of wat die Wet se, indien die ANC met sy Zuma en Zuma met sy vriende en familie aangaan soos hul aangaan, sal ons agteruit boer en uiteindelik oor die krans stort van al die ‘wetttige’ aksies van hierdie revolusionere knus-beskermde en uitverkore nasate van ons roemryke en foutlose martelaar: Nelson Mandela, ons wonder- mandala… of so glo die wereld, maar wat vere voel of ons vlieg of duik…

Pieter ·

Grassie verwys na die term “onskuldig geag”, soos wat ons dit vroeër geken het. Die term wat deesdae (ook in dié artikel) gebruik word, is dat jy “onskuldig IS” totdat jy skuldig bewys word. Dit is mos lagwekkend!

*As ek ‘n oortreding begaan, is ek skuldig – ongeag of ek skuldig BEVIND word of nie.

Die regsbeginsel word dus verkrag, en die jeug word groot met die idee dat hulle slegs skuldig word wanneer hulle uitgevang word, nie wanneer jy die oortreding begáán nie.

*In die samelewing word die werklike oortreding dus dat jy úítgevang word, nie dat jy steel/moor/bedrieg/beledig nie.

So ondermyn ons self subtiel die waardes in ons samelewing.

Jy kan altyd onskuldig geag word, maar jy ís slegs onskuldig wanneer jy glad nie ‘n oortreding begaan het nie…

Herman Toerien ·

Dankie Pieter, jy is is heeltemal reg. Ek dink baie van ons word beïnvloed deur die nabyheid van Engels, en “innocent untill proven guilty.” Neem niks weg van die feit dat jy reg is nie.

Koos1 ·

So verdwyn my kommetaar weer!
Ek het net die punt gemaak dat tydens Shabier Shaik se verhoor, die hof reeds beslis het dat daar ‘n korupte verhouding tussen hom en Zuma was.

amelia ·

Ek is nie n kenner. Maar het nog altyd gese gee tyd, als gaan weer omdraai. Wel ek dink die tyd is nader as wat ons enigeen kan dink. Dit gaan sekerlik n oorlog wees der oorlogte, maar als gaan regkom.

Leendert ·

Cyril en al die ander, die media inkluis tel nou spoed op omdat hulle sien Zuma is ‘oud en op sy laaste bende’, maar toe hy nog fighting fit was, het almal laag gelê, Cyril het die voorbeeld gestel hoe om dit te doen, maar nou is hy lekker rammetjie uitnek, nou, na al die ander hom moeg geveg het, is hy wat Cyril is gereed om die uitklophou te plant.

Leendert ·

En Cyril, hy wat, na almal die harde werk vir hom gedoen het, nou laat hy van hom hoor. Nou is hy reg om oor te vat.

Leendert ·

Kom ons probeer weer. Cyril tree dus nou na vore, na die ander die harde werk vir hom gedoen het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.