Nuuskommentaar: Swak ‘inligting’ mislei regering – regruk van intelligensiedienste noodsaaklik

Pres. Cyril Ramaphosa. Argieffoto: Elmond Jiyane.

Die swak inligting, of te wel intelligensie, waarmee die regering bedien word, is nie sonder gevolge nie. Dit het byvoorbeeld al dikwels van oudpres. Jacob Zuma ’n gek in die oë van die wêreld gemaak, en die hoop dat pres. Cyril Ramaphosa nie so ’n wandelende verleentheid sou wees nie, word al hoe meer verinneweer namate die verkiesing nader kom. Sommer in ’n ommesientjie het hy twee sake waar persepsies harder as feite spreek, opgerakel en so beklemtoon dat daardie persepsies nou eens en vir altyd deur harde feite verdring moet word.

Ramaphosa het tydens sy staatsrede onder meer verwys na planne wat daarop neerkom dat die intelligensiedienste van die land deur herorganisasie meer doeltreffend gemaak sal word. Die “intelligensieverslag” wat daartoe gelei het dat min. Pravin Gordhan en sy adjunk uit die buiteland teruggeroep en afgedank is, en wat vermoedelik die werk van Bell Pottinger was, is as voorbeeld vir die noodsaak van goeie intelligensie voorgehou. Geen land kan sulke opsigtelike prulwerk as “intelligensieverslae” aanwend nie.

Die gebruik van die woord “intelligensie” in Afrikaans is maar enkele dekades oud. Voorheen is die Engelse woord “intelligence” in inligtingsverband met inligting vertaal. Inligting, anders as die gebruik van nog ’n vertaal-kopkrapper, informasie, was die produk van informasie wat behoorlik geëvalueer en ontleed is om die betroubaarheid daarvan te bepaal. Verreweg die meeste informasie hiervoor kom uit oop bronne soos koerante, met ’n klein persentasie wat van agente en vertroulike elektroniese bronne verkry is.

Om verwarring uit te skakel is die woord “intelligensie” in gebruik geneem, en is die ou Buro vir Staatsveiligheid, na ’n naamsverandering of twee, toe tot die Nasionale Intelligensiediens herdoop.

Intelligensiedienste is selde gewild by regerings omdat hulle die regering moet inlig oor hoe dinge werklik daaruit sien, nie soos die regering graag wil glo dinge sien daaruit nie.

Die noodsaak oor hoekom dit so belangrik is dat ’n regering oor die korrekte inligting moet beskik, blyk uit Ramaphosa se stellings oor die toestande van plaaswerkers in veral die Wes-Kaap wat glo so mishandel word, en op ander maniere sleg behandel word en van plase afgesit word.

Gaan dit werklik soveel slegter op Wes-Kaapse plase as in die res van die land?

Die opvattings hieroor is nie nuut nie. Trouens, in ’n stadium was sake so erg in ’n slegte lig geskets dat Agri Wes-Kaap, in samewerking met die Wes-Kaapse departement van landbou en die polisie, ’n omvattende ondersoek onderneem het. Elke bewering is vir ’n geruime tyd opgevolg, en uiteindelik is drie boere voor die hof gedaag, maar al drie is onskuldig bevind omdat dit geblyk het die getuienis teen hulle is gefabriseer.

Die opvattings word gevoed deur ’n hele aantal nie-regeringsorganisasies wat slegs ’n bestaansreg het solank daar werklike gevalle van mishandeling en onwettige optredes teen plaaswerkers is. Dié organisasies word deur plaaslike vakbonde en buitelandse organisasies gefinansier.

Skietgoed word gewoonlik verskaf deur die vrot appels in die bedryf, wat net so hard gejag word deur landbou-organisasies omdat Wes-Kaapse boere besonder kwesbaar is weens afhanklikheid van uitvoere. Boere word byvoorbeeld jaarliks aan oudits van die Europese Unie onderwerp waarin onder meer gekyk word na die vereistes vir menswaardige behandeling.

Kort nadat die verslag opgestel is wat verwys na die vals verslagdoening, is ’n nasionale konferensie in Gauteng gehou, waar die einste NRO’s kans gegee is om daardie vals verslae te kom aanbied sonder dat enigsins aangedui is dat dit reeds gediskrediteerde verslae was.

So tussenin het die destydse minister, Thoko Didiza, tydens ’n saamtrek op Kerkplein losgetrek en boere as onder meer verkragters uitgemaak. Dit het geblyk haar stellings was op ’n enkele Wes-Kaapse geval geskoei. In daardie stadium het die klaagster reeds tot bekering gekom, en die boer vir die vals beskuldigings om verskoning gevra.

Dit is ook in ’n verslag van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat vervat, maar net aan ANC-lede van die Wes-Kaapse parlement uitgedeel. ’n Kopie het egter per abuis in die hande van die DA beland, wat alarm gemaak het.

Nogtans het Didiza dit goedgedink om dié gediskrediteerde inligting vir so ’n smeeraanval op boere landswyd te gebruik.

In ’n stadium moes premier Helen Zille ingryp en met jota en tittel ’n verslag wat ’n heethoof vir Amnestie Internasionaal opgestel het, te weerlê.

En nou kom rakel Ramaphosa dieselfde bewerings op.

Dit is ’n komplekse situasie. Baie Wes-Kaapse plase is bitter klein, en landboupotensiaal word ook dikwels weens berggrond beperk. Daar is eenvoudig nie ruimte om onbeheerste afgetrede of afgedankte plaaswerkers permanent te huisves nie.

Oor die algemeen word streng volgens die wet gewerk wanneer afsettings plaasvind, maar baie instansies erken eenvoudig nie die verskil tussen wettige en onwettige afsettings nie. Hul woordeskat ken slegs “onwettige afsettings”. Sekere media wat hieroor verslag doen, doen ook nie die moeite om eers vas te stel of die terminologie korrek is of nie.

Maar juis dan is die objektiewe (veronderstelde) insette van die intelligensiedienste so belangrik, sodat die regering minstens weet wat die ware toedrag van sake is.

Met ’n hele gwarriegat se opgehoopte klein klippies uit die skoen geskud, is dit nou ook nodig om te beklemtoon dat daar inderdaad hartseer gevalle is.

Zelda Jongboed, eens senior redaksielid van Die Burger en self die produk van ’n plaasskool, het by geleentheid geskryf oor ’n briljante leerling in haar skool wie se toekomspotensiaal kortgeknip is deur die kind verdere skoolonderrig te ontneem. Plaasskole in die Wes-Kaap is ’n kopkrapper. Dit is beleid van die nasionale regering om sover moontlik plaasskole te sluit en die kinders in groter sentra in koshuise te vestig, of oor groot afstande met busse en taxi’s te vervoer.  In die Wes-Kaap is daar weer dikwels groot ontevredenheid as sulke skooltjies gesluit moet word.

In nog media word berig Ramaphosa het aangedui dat grond in die middestede sonder vergoeding onteien moet word sodat armes daar gehuisves kan word, en hulle dan nader aan hul werk kan wees. Hy verwys na die buiteland as voorbeeld van wat gedoen moet word.

In die proses trek Ramaphosa nou self ’n streep deur die “gerusstellings” wat van die oorblyfsels van die Ramaforie-aanhangers kom wat byvoorbeeld “uitlig” dat onteiening sonder vergoeding handel oor plaasgrond wat nie benut word nie, en soortgelyk. Deur spesifiek na die middestad van stedelike gebiede te verwys, kon Ramaphosa nie duideliker gewees het nie.

Die kaping van geboue in middestede soos Johannesburg is inderdaad ’n groot probleem. Baie hiervan is egter onwettige immigrante, en hulle skep onhoudbare gesondheidsgevare. Dat plan gemaak moet word, is duidelik, maar basiese wetstoepassing sou die geboue se eienaars gehelp het om vestiging op ’n meer volhoubare wyse te laat geskied.

Soos in soveel ander situasies, is riolering ’n yslike kopseer. Dit is ontwerp om teen bepaalde hellings ’n bepaalde volume te dra. Oorbesetting verstop dit, lei tot krake en wortelindringing. By gebrek aan behoorlike vullisverwydering word werkende toilette dikwels ook hiervoor ingespan en vererger die probleem.

Daar is ’n domino-effek op die eiendomswaardasies, en die gevolg is dikwels ’n kruipende uitbreiding van slumtoestande soos mense kopsku raak om middestede te betree, laat staan nog daar sake te doen. ’n Geparkeerde motor is by voorbaat weg, of geplunder.

In die buiteland se nuwe wêreld se stede, waar die verslumming omgekeer word, is dit gewoonlik waar welvarende Yuppies ’n voet in die deur kry, en ’n domino-effek in die teenoorgestelde rigting aan die gang sit. Die gevolg is dat al hoe meer verarmde stedelinge juis uit die middestede verdring word. Die oprolstaaldeure voor uitstalvensters verdwyn een na die ander, en “window shoppers” wat die strate bewandel en verligte “venster-inkopies” kom saam met toeriste terug.

Maar die armes wat Ramaphosa wil akkommodeer bevind hulle weer in die stedelike buitewyke.

En dis maar een scenario wat in die literatuur beskryf word. Maar die wette van die ekonomie praat baie hard.

Ook hier moet die regering van behoorlike inligting bedien word, hoewel dit nie die tipiese forté van intelligensiedienste is nie.

Dis nou verkiesingstyd, en boonop bevind Ramaphosa hom voortdurend in die soeklig van die staatskapers wat uiteraard probeer keer dat hulle deel van die oranje-oorpakbrigade word. Maar om vir die res van die wêreld te probeer oortuig ons is al land wat in pas is, gaan kliphard boemerang.


• Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.

• Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos aan [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Afrikaner ·

Cyril Ramaphosa het in die dae gesê die episentrum van die landbourevolusie lê in Suid-Afrika se landelike gebiede. Nou wil hy ook mense in die stede, na grondonteiening, vestig om hulle nader aan die ‘ekonomie’ te bring.

Is lae behuising in stede en voorstedelike woongebiede, ook in parke en oop ruimtes ons voorland? Wat van misdaad wat goedkoop hoëdigheidbevolking saambring? In al die stede/voorstede is daar nie tekort aan werkers nie, daar is reeds ‘n ooraanbod van mense.

En Munisipale dienste?

Ek het al die afgelope twee of drie maande ‘n kennisgewing/proklamasie op ‘n parkie in ons woongebied langs ‘n winkelsentrumpie, ‘n paar honderd meter van ons af, gesien.

Dan is daar nog een, ‘n entjie op die Kaapsehooppad uit, vir sodanige nedersetting, nogal ‘n groot gebied, ons stap weekliks daar verby, nie ver van waar hulle ‘n groot winkelsentrum met konferensiegeriewe beplan nie, die grondwerke is al aan die gang.
In die omgewing is merendeels Lodges, ‘n kwekery, kleinhoewes, ‘n groot eksklusiewe wildomheinde woongebied teen die koppe uit. Ook is Core daar, ‘n gimnasium. Die ou vliegveld en plase is ook op daardie pad uit. Dit lyk asof hulle die dorp na daardie kant toe wil uitbrei.

Ek is van mening Cyril het sy idee van Patricia gekry.

En as diegene wat reeds in die stede werk, maar wat van buite af kom, nou daar gaan woon om nader aan die werk te wees, het Cyril dan nou nuwe werk geskep, of het hy net mense verplaas?

Verkiesingsfoefie?

Pieter ·

Ja, en wat van die dag as die werkloses na die stede toe trek en die besighede trek weer, as gevolg daarvan na ander gebiede, soos bv van Kaapstad na Durbanville?

Heinrich ·

Om die regerende party en ‘intelligensiedienste’ in dieselfde sin te gebruik is bietjie van ‘n oksimoron. Ek sou eerder dink dat die intelligensiedienste se naam maar weer verander moet word na propagandadienste toe.

Hennie ·

Dit kos intelligensie om inligting te verwerk, interpreteer en goeie besluite te neem. Die enigste intelligensie in die ANC is, “waar is daar nog bietjie geld” oor na Jakob se plundertogte en “hoe gaan ons dit in die hande kry? ” Dis hoekom die pleppe die pensioenfondse wil “beheer”.

Winx ·

Volgens Zuma se destydse geniale insette, pas al die ander wêreld vastelande mos binne Afrika… 🤔 Alles maak nou sin👌🏻

JohanL ·

Die land(en enige land) se intelligensiedienste is veronderstel om nie polities te wees nie en verwerkte inligting (intelligensie) aan die land se leiers te verskaf. As die intelligensiediens se besluitnemers egter die President net inligting voer wat hulle weet hy “wil hoor”, dan kan die intelligensiedienste net sowel toemaak.

Dit is korrek dat die land se intelligensiedienste ‘n regruk nodig het. Raak in die eerste plek ontslae van die onbevoegde bestuurders wat slegs intelligensie deurgestuur het wat die ANC se agenda gepas het. En daardie ding kan op verskillende vlakke plaasvind – nie net op topvlak nie. Die instruksie kom egter gewoonlik van bo af.

En natuurlik staak regstellende aksie aanstellings. Daardie monster het die land se intelliensiedieste uitmekaar geruk en veroorsaak dat vele kundiges die pad gevat het. En vele van die nuwe aanstellings is eenvoudig nie kundig genoeg nie. Maar daar moet mos 80% swart werknemers wees.

Die “laaste groep” blanke kundiges wat vasbyt gaan binne 5 jaar op pensioen wees. Wat dan?

Afrikaner ·

Mens wonder wanneer laas, was Cyril in bv Johannesburg se middestad, Kaapstad, edm, kyk hoe oorbevolk het dit vir der jare al daar geraak. Ek waag dit vir der jare nie meer in ons eie middedorp nie, genadiglik het ontwikkeling ons na winkelsentrums ver buite om geneem waar dit agv die uitleg en parkeer ruimte baie minder beknop, nie oorbevolk, gebruikersvriendelik, omhein en veiliger is. Die ou middedorp is jare gelede al klaar getransformeer, soos ook die sentrale gebiede van baie ander dorpe vandag daar uitsien en sover as moontlik vermy mens dit.

Afrikaner ·

Om die ‘eerste?’ en derdewêrelds by mekaar uit te bring moet vir Cyril ‘n kolossale uitdaging en kopseer wees. Hy soek ‘n kitsresep. Ignoreer hy dan die reuse ontwikkelings en uitbreidings wat mens in die bestaande swart nedersettings sien?

Hendri ·

Before one can attempt to gather information one should know ones elbow from ones arse.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.