Nuuskommentaar: Sweedse diensplig en Russiese bedreiging

swede-vlagTerwyl die Sassa-kwessie ontvou (waarteen Maroela Media reeds op 14 Desember verlede jaar gewaarsku het), die Brian-Molefe-sage koers kry, die ANC besluit of hy vir of teen grondroof is, en ontleders nog probeer sin maak uit pres. Donald Trump se toespraak voor die Amerikaanse kongres waarmee hy sy opponente se wind grootliks uit hul seile gehaal het, is daar ’n blaaskans om na ander aspekte in die buiteland te kyk. Swede se herinstelling van diensplig dui op die hervatting van die Koue Oorlog, maar waar sy ou neutraliteit nou duidelik vir die Weste begin plek maak.

Swede stel van volgende jaar af weer diensplig in. Die redes is kompleks, maar die eerste wat genoem word is die Russiese bedreiging wat weer baie aktueel is ná die besetting van die Krim-skiereiland, betrokkenheid in Oos-Oekraïne en die Russiese swaard wat oor die Baltiese state, Estland, Letland en Litaue, hang.

Suid-Afrikaners wat die dae van PW en Vennote se “troepie doepie”, “Boetie gaan border toe” en uiteindelik ’n volskaalse Grensoorlog onthou sal dalk bietjie glimlag oor presies wat die Swede as diensplig beskou.

Swede het diensplig in 2010 afgeskaf. Die land het egter ’n jaarlikse behoefte van sowat 4 000 gemotiveerde vrywilligers wat nodig is om die masjinerie aan die loop te kan hou – ’n teiken wat aanvanklik maklik gehaal is. In die onlangse verlede kon slegs 2 500 vrywilligers egter jaarliks gewerf word.

Die idee is om nou jaarliks sowat 100 000 jongelinge wat 18 geword het, “op te roep”. Hulle word aan uitgebreide mediese en psigometriese toetsing onderwerp, waaronder om vas te stel of hulle gemotiveerd is, en uiteindelik word net die nodige 4 000 seuns en meisies gekeur. (Ander word op ’n soort bystand geplaas.)

Dit gaan geen bloue duit verskil maak teen ’n beduidende Russiese aanslag nie.

Trouens, Swede se reaksie op ’n skynaanval van die Russiese lugmag op die Sweedse lugruim in 2013 is begroet met ’n verlammende reaksie. Die Sweedse lugmag het nie eens opgestyg nie.

’n Jaar later was daar ’n patetiese reaksie toe ’n Russiese duikboot skynbaar tot baie na-aan Stockholm beweeg het voordat op ’n lamlendige wyse gereageer is.

Swede is nie lid van Navo nie, maar het in die middel 90’s saam met Finland, Rusland en verskeie ander lande wel by Navo se vennootskap vir vrede aangesluit. In die jongste verlede is daar vele berigte hoe Swede al nader aan Navo beweeg (iets wat nie van Rusland gesê kan word nie), terwyl Swede ook sy eie verdedigingsvermoë opskerp. Swede het ook lanklaas sy verdedigingsbegroting verminder.

Drie uit elke vier Sweedse burgers steun die herinstelling van diensplig, en die regering het ook breë steun daarvoor in die parlement gekry.

Deurgaans word genoem dat die Russiese beer die belangrikste faktor is waarom die Swede nou militêr wil begin vinger trek (al is dit maar flouerig en effentjies).

In Junie verlede jaar het dit nog gelyk of die kanse goed is dat Swede en Finland by Navo sou aansluit en is op die hoogste vlak om die ronde tafel vergader.

In September het Swede egter, in weerwil van ’n verslag wat op die voordele van aansluiting gewys het, besluit om nié aan te sluit nie. ’n Paar maande later, ná die verkiesing van Trump as Amerikaanse president, was daar weer sprake van aansluiting.

Dit val saam met die Trump-administrasie wat dit duidelik aan Europese lidlande gemaak het dat die VSA taai in die bek raak om Navo finansieel te dra, terwyl baie van die Europese lidlande minder as hul geldelike kwota bydra, en ook te min op hul verdedigingsbegroting bestee.

Die Sweedse gesaghebbende internasionale navorsingsinstituut vir vrede, SIPRI, het onlangs die verhoogde internasionale wapenhandel met die hervatting van die Koue Oorlog  in verband gebring. Tydens die Koue Oorlog het Swede formeel ’n neutrale houding ingeneem en homself as ’n soort buffer tussen die Sowjetunie en die Weste beskou. Met dié, soos dit gestel is, hervatting van die Koue Oorlog lyk die Swede se aptyt vir neutraliteit al yler. Teen 2016 het Swede sy missielafweerstelsel begin heropbou, en daarvoor onder meer onderdele uit museums gaan verwyder.

Swede se nuwe houding jeens Rusland spruit tot ’n groot mate uit Rusland se ongelukkigheid dat drie voormalige Sowjet-deelstate, Estland, Letland en Litaue, by Navo gaan aansluit het. Hoewel verskeie lande wat voorheen agter die ystergordyn geval het, soos Roemenië, Bulgarye, Pole en Tsjeggië by Navo aangesluit het, is die drie Baltiese lande die enigstes wat deel van die Sowjetunie was wat so gemaak het. Dit verskraal Rusland se toegang tot die Oossee tot die enklawe Kalingrad (die voormalige Oos-Pruise wat deur die Russe gebuit is).

Letland het boonop ’n groot Russiese bevolking, wat byna 30% van die bevolking uitmaak. Estland se Russiese bevolking maak 8,2% van die bevolking uit, en dié van Litaue byna 6%. Baie van hierdie etniese Russe, soos ook in die ooste van die Oekraïne, wil eerder deel van Rusland wees en hou byvoorbeeld eerder Russiese burgerskap as die burgerskap van die lande waarin hulle woon. Daar is kommer dat Rusland hierdie irridentiese gevoelens kan benut om die lande weer in sy ideologiese greep te kry.

Sedert die onafhanklikheidswording van die Baltiese state het Swede noue betrekkinge met al drie aangeknoop. Hulle is ook naby genoeg aan Swede dat gereelde veerbootdienste ingestel kan word. Baie ou bande wat tydens die Sowjetunie grootliks vergete geraak het, kon hervat word, en sluit onder meer godsdienstige en taalverwantskappe in. Estland was vir bykans 200 jaar deel van Swede en die Estlandse taal is ook baie nou verwant aan Fins.

Kortom, die lande voel onderling hulle pas bymekaar.

Die vreemdheid is dat alles nie altyd klopdisselboom tussen die drie lande gaan nie. Hoewel die regerings van Letland en Litaue noue betrekkinge nastreef, is die bevolkings tradisioneel nie so gemaklik met mekaar nie.

Maar nie een is gemaklik met die Russiese beer wat bly grom nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

gatiep ·

Swede leef in n droom wereld.
Hulle het nie nodig om mense op te lei nie hulle het oorgenoeg ISIS soldate daar wat verniet teen Rusland sal baklei.
Rusland is n bedreiging vir die global outjies nou moet die hele weste sommer ook kwaad wees vir Rusland.

Rissiepit ·

Baie goed geskryf. Ek vermoed dat die binnelandse onrustigheid in Swede, ook ´n rede kan wees dat diensplig weer ingestel word.

Nico K ·

Dit is interessant hoeveel lande glo dat Rusland weer ‘n bedreiging word. Rusland was ‘n koloniale moondheid en redelik sterk teen die self-regering van minderhede gekant. (En daarom vreemd hoe baie Afrikaners die Russe ondersteun.) Is hy besig om weer na imperialisme te neig?

Fanie ·

Rusland het ‘n tradisie van uitgebreide vryheid aan minderhede, mits hul die oorhoofse gesag van die Russiese Ryk aanvaar. Dit het kleiner volke lojaal aan Rusland gemaak, bv tydens die Duitsers se invalle.

Basson ·

Hoekom nou bang vir Rusland?
Swede het dan saam met die USSR die oorlog in Angola (en meer spesifiek die ANC / MK ‘magte’) gesteun teen die SA magte?

Darius Els ·

Kyk nou ! Die GROOTSTE borg van terrorisme gedurende 1962 -1989 , wil diensplig instel !Swede, Frankryk,Nederland VSA en Engelse het terroriste teen SA ,GEBORG!Nou is dit die lande wat bloei en hulle wil wend tot wat SA daardie tyd voor geboikot het! Shame.

Pietman ·

Swede moet maar hoop die russe annekseer hulle voor die moslems doen.

John ·

Swede sit met groot probleme weens die oormassa leegleende immigrante, in so ‘n mate dat ambulanse dit nie waag om die gebiede te betree nie. Wat is nou makliker as om die probleem te systap deur die probleemkinders op te roep as voetklonge teen die kamma-dreigende 1984-gevaarte: Rusland. Dit is dieselfde vir Europa en vir die bedorwe brokkie Navo-007. Die wapenbedryf steun op vrese om geld te genereer. Die VSA se paranoiese millitere menere moet ook iets he wat hul salarisse en ego’s in stand hou en fondse om VVV-besoeke te boekstaaf. Trump mag eenvoudig nie die kaarthuisies laat tuimel nie. En die joernaliste speel vrolik saam wat hierdie chaos hou die groot roomkoeke op hul tafels vars uit die oond.

Grassie ·

Dankie, Herman, vir ‘n insiggewende kommentaar. ‘n Mens is hier in ons land so besig om jou te bekommer oor die chaos in die landsbestuur dat jy soms vergeet wat in die res van die wereld aangaan.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.