Nuuskommentaar: Taal en die studente-onluste

tuks-afrikaans-geweld

Graffiti op ‘n muur by die Universiteit van Pretoria. Foto: Twitter via @_Dakie

Dit lyk of die EFF nou met ’n nuwe taalfoefie by die UP kom om ’n “verskoning” te vind om die universiteit onregeerbaar te maak. As Afrikaans bly, moet “al 11 ander” Afrikatale ook as onderrigtale ingestel word. Dis nie die eerste keer dat iemand die 11 amptelike tale (nie volgens die EFF se sommetjies nie) as foefie gebruik om Afrikaans onder druk te plaas nie.

Na berig word, is die EFF se jongste foefie om te sê hulle het dit nie teen Afrikaans nie, maar dat die UP, “al 11 ander amptelike Afrikatale ook moet inspan”. Volgens hierdie berig lyk dit of die EFF meen Suid-Afrika het meer amptelike tale.

Foefie inderdaad. Met die Kodesa-onderhandelings het van die onderhandelingspartye aangedring dat Afrikaans naas Engels ook ’n amptelike taal moet wees. As teenvoeter het die ANC toe op 11 amptelike tale aangedring, en die vermoede was baie sterk dat dit gedoen is omdat gemeen is 11 amptelike tale is so onprakties dat net een amptelike taal – Engels – sal uitkristalliseer.

Selfs Cachalia en ander het in hul gesaghebbende boek, Fundamental Rights in the New Constitution, tot hierdie gevolgtrekking gekom.

Die belangrikheid van Engels as wêreldtaal kan nie ontken word nie, maar word dikwels ook oordryf. Die VSA het pas ’n “kliklyn” ingestel waar mense skendings van die gedeeltelike skietstilstand in Sirië kan aanmeld. Toe van die belanghebbendes dit toets, blyk dit dat die operateurs inbellers in Engels aanspreek, maar wel na Arabies oorskakel as die inbeller nie Engels magtig is nie. Die probleem is dat die operateurs se Arabies so gebrekkig is dat hulle ook nie die mededelings kan volg nie. Dit word nou aan die haastige inwerkingstelling van die inbellyn toegeskryf, en regstellings sal gemaak word om mense te vind wat Arabies behoorlik onder die knie het.

Dit is ook die praktyk wat die ANC baie gou voltrek het. ’n Bepaling in die oorgangsgrondwet dat geen amptelike taal van ’n reg gestroop mag word waaroor dit in 1994 beskik het, is op onverbiddelike aandrang van die ANC in die finale Grondwet laat vaar.

PanSat het ook vroeg bevind dat die regering die grootste oortreder van grondwetlike taalregte is.

En nou, as derde gelui, kom die EFF met dieselfde foefie. Net om seker te maak dat dit onuitvoerbaar is, word skynbaar geëis dat dit feitlik onmiddellik ingestel moet word, saam met ’n aantal ander eise soos dat die EFF-studente wat voorlopig geskors is, vrygelaat moet word. Anders volg optogte en al die dinge waarmee die EFF so goed is.

Die grondwetlike toets vir die insluiting of uitsluiting van amptelike tale as onderrigtaal, naamlik dat dit prakties uitvoerbaar moet wees, bots lynreg met die EFF se eis. Afrikaans is een van die min, indien nie die enigste, inheemse Afrikataal wat ook ’n akademiese vlak bereik het wat universiteitsonderrig moontlik maak. Dit is danksy ontsettende harde werk deur die taalpioniers. Zoeloe word wel op ’n beperkte skaal, byvoorbeeld met die opleiding van verpleegpersoneel in KwaZulu-Natal, gebruik wat aantoon dat daar moontlik nie soveel werk ingesit moet word om dit ook vir ander tale haalbaar te maak nie. As die entoesiasme en bereidheid tot opoffering maar daar was.

Intussen lyk dit of die EFF bloot weer met ’n foefie gekom het om Afrikaans soos ’n seer duim te laat uitstaan. Uit die berig is dit nie duidelik of die taaleise wat die EFF aan Tukkies stel, ook vir ander universiteite gaan geld nie.

Boonop het die strome verguisings van Afrikaans as “taal van die verdrukker” nie in die niet verdwyn nie.

’n Belangrike aspek wat dikwels (moedswillig) deur diegene misgekyk word wat oor gebruikstale moet besluit, is dat die Grondwet dit vir provinsies moontlik maak om oor hul eie amptelike tale te beslis. In daardie verband is die 11 amptelike tale eintlik net ’n groslys om uit te kies.

Dit maak dit vir die Wes-Kaap byvoorbeeld moontlik om nie vir Venda voorsiening te maak nie, wat bykans geen sprekers in die provinsie het nie. Nasionale staatsdepartemente se formele taalverpligtinge is egter bietjie ingewikkelder. Maar elke provinsie het op drie tot vier amptelike tale beslis. As ’n skoukomitee dan aanvoer dat hy besluit het om slegs Engels te gebruik omdat dit onprakties of onmoontlik is om al 11 amptelike tale in te span, praat hy bog. Die gebruik van sy provinsie se eie amptelike tale is nié so onprakties nie.

Voorts lyk dit nie of die EFF genuanseerd genoeg optree om nie ook op die gebruik van Venda, Pedi, Tsonga en ander as onderrigtale by byvoorbeeld Ikeys, Maties en ander aan te dring nie. Sou dit in die praktyk realiseer, sal daar waarskynlik een of twee studente in sommige streke in klasse wees – op grond van die aanname dat daardie studente nie in elk geval sou verkies om hul klasse in Engels te loop nie.

Sou die EFF sy sin kry en al 11 amptelike tale as tale van onderrig op Kovsies afdwing, verval sy hoofoorweging om in die eerste plek van Afrikaans ontslae te raak. Die beswaar was dat die opsie van Afrikaans en Engels veroorsaak het dat wit studente (ook heelwat Engelssprekendes) verkies het om hul klasse in Afrikaans te loop, en swart studente weer Engels verkies het. Dit het ’n geskeide studentelewe tot gevolg gehad wat studente nie behoorlik vir die eise van die nuwe Suid-Afrika voorberei nie.

Hoe gaan afsonderlike klasse in al 11 amptelike tale daardie “probleem” oorkom?

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

StopTheMadness ·

Dit wys net weereens die belaglikheid daarvan om 11 amptelike tale te hê. Die praktiese implikasies is net onuitvoerbaar.
Ek stem volkome saam dat al die amptelike tale op dieselfde vlak moet wees, maar dit beteken beslis nie om almal af te trel na die laagste gemene deler nie. Die doel moet eerder wees om ander afrika tale te ontwikkel tot dieselfde standaard as Afrikaans. Die vraag is of dit moontlik en uitvoerbaar is? Die EFF is 100% korrek in hulle stelling dat studente wat in hulle moedertaal onderrig word n voorsprong bo ander studente het. Die uiteindelike doel moet wees om elke student in sy moedertaal te kan onderrig.

Francois le Cochon ·

Afrikaans en Engels is beide dinamiese tale wat geskik is vir enige akademiese onderrig.
Enige ander inheemse taal het nie die “vermoe” om as ‘n akademiese taal gebruik te word nie.
‘n Kwantum fisika handboek in bv. Pedi, sal dus meer engelse woorde as Pedi woorde bevat.
“Economic freedom” hang af van vlak van opvoeding. Dit is nie iets wat jy kan “demand” nie
Daar is baie wittes wat nie genoegsame opvoeding het nie, en is dus nie ekonomies bevry is nie.
Verder moet jou eie ras die vermoe he om jou in jou taal te onderrig. Dit is hier waar die probleem le^. SA se vlak van onderrig in nie Model C skole, is van die laagste in die wereld, en is gebasser op idologiee, om so veel as moontlik deur die skoolstelsel te sit, ongesag hoe swak hierdie leerders ook al vaar.

wynand ·

Ek stem saam Francois. Die staat het skole ook vernietig net soos hulle die hospitale, SAL, Polisie, ens. vernietig het. Die kinders is ongeletterd want die onderwysers is ongeletterd. HIerdie kinders gaan dit nooit op Universiteit maak nie – hulle gaan dit nie tot in Matriek maak nie. Hulle kan al 11 tale aanbied maar daar gaan niemand wees wat die klasse kan bywoon nie.
Hulle is nou op pad om die Universiteite ook te venietig,. Hulle ken weereens net van afbreek – en nie opbou nie.

Muis ·

Hulle moet dalk terug laerskool toe gaan en eers leer spel voor hulle op mure en vensters begin skryf!!!!!

Muis ·

Afrikaans nie Hafrikans nie daar is nie so taal nie hello!!!!

Eduard ·

He He daar staan #Afrikaans must fall…. as jy verwys na die foto….

Mielie ·

Dis net Nog ‘n taktiek van EFF. Afrikaans moet nie op dieselfde valk as die ander tale wees nie, ons kan nie daal in standard nie. Ander tale moet strewe om soos Afrikaans te wees indien nie beter nie. Die groot probleem is die leerder se potensiaal, as ook die van die opvoeder. As daar gese word dat selfs Engelsprekende leerder afr klas se bywoon, Dan doen ons iets reg. Die EFF moet veg vir beter bekwame opvoeders in moedertale. Dit is jammer dat die notas in Engels nie van dieselfde gehalte is as afrikaans nie. Ek sal ook jaloers wees op Afrikaanse studente. Ek is so n trotse AfRiKaNeR. PS. ….sien die DA se stempamflette is ook in Afrikaans. Dit het my verras, hulle stemme is heel tyd stil tydens al die oproerigheid. Hulle sal nooit weer my stem terug wen nie.

Hennie ·

Die EFF skreeu om Afrikaans weg te doen by die Universiteite, maar wie het daardie Universiteite begin? Wie het die geboue gebou of geinisieer? Wie onderhou dit al die jare? Het die EFF al enigsins bygedra tot die ekonomie van hierdie land? Maar as daar geskreeu word is hulle voor, hulle het die slimste antwoorde en die grootste bekke. Die EFF het hulleself gekwalifiseer as hierdie land se grootste vyand wat net belangstel om te vernietig.

Susan ·

Ja Hennie, 100% reg. “Satan came to steal, kill and destroy.”

Wicus ·

Solank SA as ‘n eenheidstaat bestaan sal daar probleme wees. Hier is net eenvoudig te veel taal, kultuur, godsdiens, lewensuitkyk en vele ander verskille. Daar is net twee uitkomste, ‘n ordelike konfederasie, eie sake en gemeenskaplike sake, of ons verdwyn almal in die grootste geheel!

Johan ·

Ek stem saam met die EFF dat hoewel die wit studente nie meer intelligent as die die swart studente is nie, hulle beter vaar op universiteit. Maar om die rede in die gebruik van Afrikaans te soek, is lagwekkend. Kyk eerder ernstig na dinge soos die feit dat die wit onderwysers bereid is om langer ure as hulle swart kollegas te werk . (Ek het elders die bewering gelees gelees van gemiddeld 6 en halwe uur teenoor 3 en halwe uur) As oud-onderwyser kan ek getuig dat van my skool se top-leerders keer op keer van die swart leerders was. Maar wat gaan in die townships aan?

hans ·

Die DA studenteleier op UP kampus het openlik aangedui dat hulle nie afrikaanse onderrig by die universiteit wil he nie. Die DA leier of Me P van Damme,woordvoerder, het nog nie die party van uitlating distansieer nie en gevolglik moet dit aanvaar word dit dra die party se goedkeuring weg.

Mielie ·

Dan moet hulle op hou om in Afrikaans te adverteer vir hulle stemme. Dan moet hulle slegs Engels praat en komunikeer, landward ook in hul Kaapstad parades.

sarie van heerden ·

Stem saam. Gee alle 11 tale gelyke waarde maar begin heel van onder af. Vewyder eers die haatlike Afrikaans en vervang dit met die ander tale. Verwyder ook sommer handboeke geskryf deur die Afrikaners en laat die ander tale voorrang geniet om hul op gelyke vlak met Afrikaans te bring.

AS ·

1. Suid Afrika het net 3 tale naamlik NGUNI, SOTHO, AFRIKAANS.

2. Setswana is die amptelike taal van Botswana, Sesotho is die amptelike taal van Lesotho, Swazi van Swaziland, Sevenda en Setebele van Zimbabwe, Setsonga en Sesjangaan van Mosambiek.

3. So die enigste tale wat nêrens in ‘n buurstaat amptelike taalstatus geniet nie is Xhosa / Zoeloe ( m.a.w. Nguni) wat in die Oos Kaap, Natal en Mpumalanga geakkommodeer kan word en Sepedi wat in Limpopo geakkommodeer kan word.

4. En natuurlik Afrikaans wat in die Wes Kaap, Gauteng, Vrystaat en Noordwes geakkommodeer kan word.

5. ENGELS wat die amptelike taal van Engeland is kan as tweede taal gebruik word om te dien as lingua franca in alle lande, ook in Suid Afrika. MAAR nie as MOEDERTAAL (1ste taal nie). Daarvoor is die getal moedertaal Engelssprekendes te min.

6. As al die 11 tale se sprekers bereid is om te betaal vir onderrig in hul moedertaal …..waarom nie?

7. Afrika mense kan nooit van kolonialisme bevry word met Engels as onderrig- en leertaal nie. Pappegaai leer sonder insig … is wat in die praktyk gebeur. Dit geld ook vir Afrikaanssprekendes!

Sakkie du Plooy ·

Dat Afrikaans moet bly by alle Universiteite waar Afrikaanse studente in groot getalle studeer soos Kovsies, US, Potch en TUKS staan vas. Baie vakke word met groot sukses by TUKS aangebied in afsonderlike klasse vir Afrikaanssprekendes en Engelssprekendes. NIEMAND word uitgesluit ogv taal nie. Die feit is egter dat al die betogings teen Afrikaans van die ANC/EFF, ondersteun deur die DA op Tuks, nie rerig die “issue” is nie. Hulle dryf die ANC/SAKP se agenda (ideologie) vir transformasie wat taal en Afrikaanssprekendes wil verdryf uit die Universiteite. Wat dan moet oorbly van ons Universiteite weet ek rerig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.