Nuuskommentaar: Taliban steeds ʼn terroristegroep

(Foto: AFP)

Die wêreldnuus word die afgelope tyd oorheers deur die chaos en gebeure wat afspeel in Afghanistan. Dit volg nadat die VSA ná ʼn 20 jaar lange teenwoordigheid in Afghanistan finaal sy weermag onttrek het.

Die Taliban het in minder as tien dae ná hierdie onttrekking alle stede in die land oorgeneem en ook beheer geneem van die meeste provinsies. Die president van Afghanistan het reeds uit die land gevlug met die burgery wat ook desperaat probeer om die land te verlaat. Die Taliban is volledig terug op die toneel en hulle is van plan om beheer te neem en dit te behou. Met die VSA se onttrekking is die geveg nou tussen die Taliban en die Afgaanse regeringsmagte.

Die bestaande (demokratiese) polisiemagte en ander gewapende lede is in baie gevalle egter nie op hulle pos nie en het hul uniforms en wapens oorgegee. Met die VSA se onttrekking – spesifiek hul onttrekking van militêre lugondersteuning – is die Afgaanse weermag eintlik volledig ontmagtig om die Taliban te beveg. Die magswanbalans is versteur en die Afgaanse regering is eintlik maar uitgelewer.

Die Afgaanse regering het ook reeds aangedui dat hy onderhandeling begin het met die Taliban om bloedvergieting te voorkom – Afghanistan se nuwe regering gaan binnekort amptelik die Taliban wees. ʼn Mens moet jouself net die heeltyd herinner dat die Taliban wel ʼn terroristeorganisasie is wat volgens kommentators eintlik nie van Al-Kaïda geskei kan word nie.

Franse soldate staan wag by ‘n weermagvliegtuig op die lughawe in Kaboel terwyl hulle wag om Franse en Afgaanse burgers uit die land te neem. (Foto: STR/AFP)

Die VSA het aanvanklik ná die 9/11-terroristeaanval op die land – en eintlik maar op die Weste as geheel – ʼn teenwoordigheid in Afghanistan gevestig. Die oomblik toe Amerika Afghanistan verlaat, het presies die anti-Westerse-terrorisme wat hulle probeer beveg het, teruggekeer. Dit is moeilik om na hierdie gebeure te kyk en nie die VSA se 20 jaar lange teenwoordigheid as ʼn volledige mislukking te sien nie. Is hulle nie maar net terug op dieselfde bladsy van 11 September 2001 nie?

In hierdie stadium lyk dit ook asof hierdie verwikkeling pres. Joe Biden se groot skandvlek gaan wees. Dit ten spyte van die feit dat hy ook nou poog om voormalige pres. Donald Trump te blameer vir die situasie waarin die VSA en hyself tans is. Biden ontvang egter ook heftige kritiek van beide kante van die politieke spektrum oor hierdie byna terloopse en plotselinge onttrekking. Biden het oorgegaan tot hierdie drastiese stap téén die raad van feitlik al sy adviseurs.

Presies dit waarteen hierdie raadgewers Biden gewaarsku het, is dit wat uiteindelik gebeur het. Die Taliban is toegelaat om te floreer as die terroristeorganisasie wat hulle nog altyd was.

HR McMaster, voormalige Amerikaanse sekuriteitsraadgewer en senior Hoover Institution-genoot, het in ʼn onlangse podsending genoem hoe ʼn mens nie net ʼn oorlog kan beëindig deur daarvan weg te loop nie. Daar is gevolge daaraan om ʼn oorlog te verloor. Biden het besluit dat hy die president sal wees wat uiteindelik die sogenaamde eindelose oorloë beëindig. Hy is nie bereid om die oorlog te laat aangaan nie, maar verstaan duidelik nie wat die impak is om daarvan weg te loop nie.

Pres. Joe Biden. (Foto: Saul Loeb / AFP)

Die onttrekking van die Amerikaanse weermag het ʼn groot leemte gelaat, ʼn groot magswanbalans geskep en eintlik maar die Afgaanse regering as bondgenoot van die VSA versaak. Die boodskap wat Amerika aan bondgenote in soortgelyke situasies met soortgelyke teenstanders stuur, is angswekkend.

Die somtotaal van die Biden-administrasie se reaksie nadat die Taliban oorgeneem het, was ʼn sterkbewoorde brief. Die administrasie het in ʼn verklaring die Taliban se terroriste-, onderdrukkende en militante optrede afgekeur. Die sterkbewoorde verklaring het die Taliban gemaan om diegene wat landuit wil vlug, te laat vlug. Die administrasie het ook genoem hoe die internasionale gemeenskap die “Taliban-administrasie” verantwoordbaar moet hou vir sy optrede. (Daar is selfs gepraat van die ongenaakbare “woedestorm” van ekonomiese sanksies waarmee die wêreld hulle kan straf!)

Die Amerikaanse weermag is tans teenwoordig in meer as 100 lande regoor die wêreld. Een van die mees prominente oogmerke vir die VSA in hierdie internasionale teenwoordigheid is om saam met sy bondgenote anti-demokratiese, anti-Westerse en terroristeaktiwiteite te beveg.

Een van die redes waarom die VSA se teenwoordigheid in Afghanistan dan ook so belangrik was, was om die dreigement van terrorisme te help onderdruk. ʼn Volgende 9/11 is aansienlik moeiliker om te realiseer wanneer die VSA aktief djihadiste onderdruk en beveg daar waar dit voorkom.

McMaster verduidelik in ʼn meningstuk dat die VSA as gevolg hiervan weer die les gaan leer wat hy 20 jaar gelede met 9/11 geleer het – djihadiste-terrorisme van Afghanistan bly nooit net in Afghanistan nie. ʼn Terugkeer van hierdie soort terrorisme is in die leemte wat die VSA laat eintlik baie voorspelbaar en te verwagte. Sodoende kan ʼn mens aflei dat dit in die belang van die VSA, die res van die Weste asook die Westerse liberale projek sou wees om in Afghanistan aan te bly. Die VSA het immers ʼn traumatiese 9/11 in sy verlede wat hy nie graag in die toekoms sal wil herhaal nie.

Mense keer onverrigter sake van die grens met Pakistan terug nadat hulle vergeefs uit Afghanistan probeer vlug het. (Foto: AFP)

Sodoende vervaag die lyne tussen die VSA wat sy eie belange – gebaseer op trauma in die verlede – wil beskerm en die bevordering van sy Westerse liberaal demokratiese projek. Een van die oogmerke van sy teenwoordigheid in Afghanistan was ook nog altyd om ʼn stabiele demokratiese regering op sy voete te help. Indien Afghanistan dit kan doen, kan hierdie regering teoreties van die VSA se eie laste verlig in die bevegting van terrorisme. Dit was egter van die begin af ʼn byna doodgebore projek.

Die vraag is dan nou of die VSA se blywende teenwoordigheid nie op die ou einde net neerkom op die najaag van sy eie liberale projek nie – een wat vas oortuig is dat die res van die wêreld ook die lig sal sien indien hy net ʼn liberale demokrasie tot stand kan bring. Een wat vir die VSA dalk neerkom op liberale universalisme, maar vir die res van die wêreld neerkom op liberale imperialisme.

Hoe versoen ʼn mens radikale Islam met die Westerse liberale demokrasie van die VSA op die internasionale verhoog? Is dit moontlik vir die VSA om voort te gaan met sy anti-terroriste-oorloë – wat sy eie belange beskerm – sonder om nie uiteindelik vasgevang te word en te bly in ʼn konstante imperialistiese oorlog van ideologiese oorheersing nie?

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Blikkies ·

Wel, my opinie, ek weet nie wat het Biden besiel om so ‘n stap te neem nie. Hy gaan nou die oorsaak wees dat nog meer mense se lewens vernietig gaan word. Dit is seker maar die VSA se tweede Vietnam.

Oranje-Blanja-Blou ·

Ek herinner my aan Amerika se magspeleties. Sommer hier by ons in Angola, toe ons SA se weermag op die punt was om Angola skoon te maak: te bevry van kommunisme. Toe mos dat Chester Crocker, buitelandse sake van Amerika, vir ons Buitelandse sake, mnr. Pik Botha, kry om ons magte te onttrek. (O ja, toe word kommunisme mos deur politici “dood verklaar”). Toe val Angola finaal, daarna Suidwes-Afrika … en helaas ook SA. Amerika is niemand se vriend nie. Hulle eie politieke hoogmoed versteur net alewig magsbalanse in die wêreld.

Pietertjie ·

Wat is die verskil tussen Taliban en ANC? Myns insiens nie veel nie…

Esme ·

Die VSA het nie juis ‘n trotse tradisie as hulle betrokke raak in ander lande se sake nie. Vietnam was een van die die grootste verleenthede en wraggies, hier kry Amerika dit weer reg.
Biden – wat het Amerikaners besiel om hom in te stem? Hy is ‘n legkaart met 20 000 stukke en hy weet nie juis wat waar inpas nie.

Johan ·

Ek is jammer vir die VSA se bondgenoote hulle gaan baie swaar kry….Afganistan behoort (weer) deel van Iran te word. En terloops is ons seker 9/11 was jihadiste? Ek weet nog nie so lekker van daai een nie, Israel kon makliker dit gedoen het, en het baie meer voordeel daaruit getrek …ek sê maar net dat die Taliban maar n eenvoudige klomp is en dat die 9/11 aanval op hulle gepin is met n hoofstroom media veldtog..

annie ·

Dalk is die waarheid ‘n groter skande nl dat die VSA gewaarsku is dat die Taliban in aantog is en hulle toe soos bangbroeke gevlug het. Die vreeslike verduidelikings van die Pentagon al stotterende wil so lyk. Miskien is hulle beter met skynaanvalle om Trump verdag te laat lyk, volgens Nancy se voorskrif.

Thomas ·

Afghanistan was nooit ‘n ‘land’ nie, behalwe dat die Weste dit tot sodanig wou dwing. Die Taliban is ‘n natuurlike hawe vir talle stamme omdat dit juis nie ‘n Westerse vorm van regering (en derhalwe Westerse oorheersing) verteenwoordig nie. Die feit dat hulle so maklik weer beheer kon kry- moet die relaas dat hulle nie deur die gewone mense gesteun word nie, in twyfel stel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.