Nuuskommentaar: Tasse vol geld

geld 4

Argieffoto.

Dis geen geheim nie: Suid-Afrika se amptelike geldkrane drup nog net. Onder die tekens dat geld skaars is, tel die feit dat die Inkomstediens na raming tussen R50 miljard en R70 miljard te min gaan invorder dié jaar. ’n Kommissie van ondersoek gaan glo kyk wat skort, en ekonome vererg hulle, want volgens hulle is die probleme reeds algemene kennis.

Dan is daar ramings oor hoeveel miljarde korrupsie en staatskaping die land jaarliks kos, terwyl die land na verwagting ’n kapitaaluitvloei van tussen R80 miljard en R140 miljard kan beleef.

Te midde van die gespartel is daar ook diegene wat nog behoorlik rol in die geld. Die een luukse strandwoning oortref die ander in luukshede. Nie almal het skynbaar hul rykdom deur entrepreneurskap of erflating bekom nie.

As iemand die nuus met ’n redelike fyn oog volg, speel vreemde gebeure hom so tussenin af – tasse vol geld waarmee mense veral op lughawens betrap word. Diegene wat betrap word, het dikwels ooglopende slimstories oor wat se geld dit is. Omdat dit darem ʼn bietjie baie vir vakansiegeld is, is die versoeking sterk om te aanvaar dat dit “warm geld” is. Dit is geld wat gemaak word maar op só ’n manier dat die Ontvanger nie daarvan kan weet nie, en weens die land se Fica-stelsel, ook nie sommer gebank kan word sonder dat die Ontvanger dit gaan “optel” nie.

En dit is die probleem – om die “spoor” te kan volg moet taamlike wilde spronge met gevolgtrekkings gemaak word. Dit is nie die styl van hierdie rubriekskrywer nie, maar die ANC se verkiesingskongres is op hande, en as daar ’n band is, moet dit vinnig uitgesnuffel word. Lesers kan vandag ’n belangrike rol speel om gapings in te vul, of skeefgetrekte denkspronge reg te stel.

Hoekom die geld nou juis van een plek na ’n ander vervoer moet word, en so aan opsporing blootgestel kan word, sal seker van geval tot geval verskil. Maar is dit alles “warm geld”? Dit kan mos net sowel die vrug van transito- of ander rooftogte wees, of van bedrog of diefstal uit die staatskas.

Miskien kom daar ’n klein leidraad uit die jongste bewerings wat hul oorsprong in die sosiale media het – dat ’n tas met R2,8 miljoen in die kattebak van Dihlabeng se burgemeester se kar gevind sou wees. Na berig word was die geld bestem om by ’n ANC-takvergadering mense om te koop om met die ANC se verkiesingskonferensie vir “Nkosazana Dlamini-Zupta” en die “Magashupta-groep” te stem.

Die ontkennings neem twee vorme aan: die een dat dit nie omkoopgeld is nie en die ander dat die vonds bloot fopnuus is. (Die ANC in die Vrystaat se provinsiale konferensie vind eers van 1 tot 3 Desember plaas.)

Dihlabeng (wat Bethlehem insluit) is een van die munisipaliteite wat by Eskom weens wanbetaling in die sop is. R2,8 miljoen kon baie leë gaatjies vul – mits dit wel bestaan. En bestaan dit wel? Lees gerus Jacques Pauw se jongste boek en spesifiek deur wie Dlamini-Zuma se verkiesingsveldtog gefinansier word.

Dan raak die “slegs ’n gerug” ietwat van ’n hardebaard-gerug.

En alles word natuurlik ontken, behalwe deur die beweerde bron van die geld.

Nkosazana Dlamini-Zuma. Foto: ANA/David Ritchie

Na afloop van die ANC se Mangaung-kongres in Bloemfontein, waar pres. Jacob Zuma vir ’n tweede termyn verkies is, was daar ook hardnekkige gerugte oor mense wat tot in die orde van ’n kwart miljoen rand uit karre se kattebakke betaal is “om reg te stem”.

Ook na afloop van die kongres was daar hardnekkige gerugte dat verskeie provinsiale departemente vergrote begrotingstekorte beleef het weens “bydraes” wat vir die ANC se verkiesingskongres gemaak is. Groot geheimsinnigheid het ook ’n geval omgeef waarin iemand wat by die organisering van die kongres betrokke was, ’n peperduur sportmotor om ’n elektriese boks op ’n sypaadjie in ’n luukse woongebied gaan vou het.

En terwyl op die onderwerp – die Noord-Kaapse premier het vroeër vanjaar haar kabinet hersaamgestel en ’n storm veroorsaak. Volgens haar het sy agtergekom een van die LUR’e het staatsgeld gebruik om ’n groot deel van die provinsiale ANC-kongres te befonds. Sy is danksy druk van bo en elders gedwing om haar ou kabinet in ere te herstel.

Daar is bepaalde redes hoekom borge en skenkers vir vanjaar se ANC se verkiesingskongres ʼn bietjie anders oor sake kan dink. Ten eerste kan ’n borgskap, anders as by vorige kongresse, ’n baie swak belegging wees as die “dice” met die kongres verkeerd kan val. Hier is die oë veral op Dlamini-Zuma gerig wat haar gewese man se staatsvernietigende ekonomiese en ander beleidsrigtings wil voortsit, en vanselfsprekend rassespanning sal verhoog. Skenkers kan op hul beurt eerder belangstel om kandidate as die kongres met ’n meevallertjie te bedien.

Onverklaarde tasse vol geld laat ongelukkig weens die land se streng fiskale reëlings min alternatiewe as om te aanvaar dat dit misdaadverwante geld is. En die bewerings oor die betaling van politici uit tasse in kattebakke is ongelukkig so sterk dat dit moeilik is om nie te vermoed dat groot bedrae misdaadgeld gebruik word om stemme mee te bekook nie.

En Suid-Afrika het nie nóg ’n president nodig wat ereskuld aan misdadigers moet betaal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

piper ·

ons moet almal ons belasting verminder. daar is baie wettige maniere om dit te doen. self n gewone salaristrekker kan dit dien deur bv. net n annuteit uit te neem.

Eish ·

Ek is van mening dat dié klip wat in die bos gegooi is, tog ietsie getref het. Indien Mnr. Pauw nie gearresteer word nou tot jaareinde nie, is daar meer as genoeg stof vir n nuwe boek.

Soos een van die ANC ampsbekleërs op n tyd gesê het, hul het die aan die stryd deelgeneem om arm te wees nie. Min het ons gedink dat die modus operandi korrupsie, bedrog, misdaadpelle, staatskaping en nog n paar goed waarvoor daar nog nie name is nie, sou behels. Dalk iets soos beleidsrigting finansiering, koöpteringskontant en bootbetalings.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.