Nuuskommentaar: Teen-aborsie-wetgewing: Hier kom die Alabama

Kay Ivey, goewerneur van Alabama, onderteken ‘n wetsontwerp wat aborsie byna heeltemal onwettig maak [15 Mei 2019]. (Foto: Hal Yeager/Alabama Governor’s Office via AP)

Die suidelike Amerikaanse Republikeins-beheerde deelstaat Alabama, het die kop ver uitgesteek om aborsies op aanvraag te stuit, terwyl die sogenaamde pro-keusegroepe reeds aangedui het dat hulle die wetsontwerp wat oorweldigend aanvaar is, hof toe sal neem.

Aborsies op aanvraag is sedert 1973 wettig nadat die VSA se hoogste hof, die Supreme Court, in die saak van Wade vs. Roe ten gunste daarvan beslis het. ’n Aborsie kan wettig uitgevoer word tot die fetus buite die baarmoeder aan die lewe kan bly.

Kritici van die wetsontwerp wys daarop dat die feitlik algehele verbod op aborsies nie geldig sal wees solank die saak nog in die howe vertoef nie. Al wanneer dit van krag kan word, is as die Supreme Court Wade vs. Roe sal herroep. Die voorstanders van die verbod meen daar is ’n kans nadat pres. Donald Trump sedert sy verkiesing konserwatiewe regters in die Supreme Court aangestel het.

Trouens, dit lyk of die lede van Alabama se parlement die wetgewing so streng as moontlik gemaak het om die pro-aborsiegroepe te dwing om die wetgewing in die howe te betwis. Die enigste rede vir ’n wettige aborsie is as die voortgesette swangerskap die moeder se gesondheid ernstig sal benadeel. Selfs met verkragtings en bloedskande sal aborsies nie toelaatbaar wees nie.

Dokters wat dan onwettige aborsies uitvoer, kan tussen tien en 90 jaar tronkstraf opgelê word. Vroue wat aborsies ondergaan, sal egter nie aan enige strafmaatreël onderworpe wees nie.

Dit word geraam dat daar van die wettiging van aborsies in 1973 tot in 2017 sowat 53 miljoen wettige aborsies in die VSA uitgevoer is. Die getal het die laaste klompie jare afgeneem, maar is steeds byna ’n miljoen per jaar nadat dit voorheen in die omgewing van 1,3 miljoen per jaar was. In Suid-Afrika word sowat 200 000 aborsies per jaar uitgevoer.

In die VSA het veral suidelike deelstate reeds verskeie pogings aangewend om aborsies op aanvraag te voorkom. In afwagting dat dit dalk sou slaag, het aborsieklinieke ooreenkomste met Indiaanse stamowerhede gesluit, omdat hierdie reservate regstreeks onder federale beheer val. Pres. Barack Obama het egter baie gou opgetree en die implementering onmoontlik gemaak.

Obama se Republikeinse voorganger, pres. George W. Bush, wat uitgesproke teen aborsies gekant was, het skynbaar die geleentheid gehad om deur ’n konserwatiewe aanstelling in die Supreme Court Roe vs. Wade te laat herroep, maar het skynbaar voete gesleep. Dit het baie daartoe bygedra dat deelstate se voorbereidende wetgewing in die stof gebyt het.

’n Onlangse peiling het getoon dat daar ewe veel pro-lewe-voorstanders en pro-keuse-voorstanders is, naamlik 47% elk. In Januarie was die pro-keuse‑groep op 55% die meerderheid, en die pro-lewe‑groep net 38%.

Peilings deur verskillende peilingsagentskappe het wyd uiteenlopende resultate opgelewer, met pro-keuse‑mense wat gewoonlik die meerderheid steun gekry het.

Sekere grusame aborsie-metodes, soos die “partial birth abortion” het onlangs mediadekking gekry. Dis ’n metode waardeur die lewe van die fetus beëindig word nadat dit gedeeltelik uit die ma se liggaam onttrek is. Dié metode is deur Obama voorgestaan en waarnemers meen dit het tot opflikkerings van teenstand teen aborsies bygedra.

(Foto: AP Photo/Ted S. Warren)

’n Regsvraag speel ook ’n rol. Soms gebeur dit dat die baba die aborsie oorleef, en dan ingevolge die Roe vs. Wade-uitspraak nie meer doodgemaak mag word nie. Die vraag is of die dokter dan self vir die koste van die kind se versorging moet instaan?

Data oor hoe gekant of pro-aborsie Suid-Afrikaners is, is kompleks en hang van faktore soos die voorkoms van MIV/vigs onder groepe af, van sosio-ekonomiese faktore en Westerse blootstelling. Dit lyk of die feit dat sowat die helfte van aborsies wêreldwyd as onveilig beskou word, ook ’n rol speel. In die geheel wil dit uit ’n studie van 2013 voorkom of ’n geringe meerderheid teen aborsies gekant is.

Afgesien van godsdienstige morele standpunte kan die vraag gevra word of die goedkoop maak van lewens deur van die wêreld se liberaalste praktyke, nie bydra tot die land se hoë moordkoers wat ook deur dié gesindhede gevoed word nie.

Wat redelik duidelik uit die verskillende bronne blyk, is dat aborsies moeilik eenstemmigheid onder ’n land se burgers sal kry, veral waar daar ’n sterk godsdienstige grondslag aanwesig is.

En was die politieke partye die afgelope verkiesing verbaal genoeg in hul standpunt-stellings hieroor? Trouens, was kerke genoegsaam op hul profetiese roeping oor die saak ingestel?

Gaan die Alabama- (en omringende state) poging die Suid-Afrikaanse gewete ook aanspreek?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Jaco ·

Wat ek nie kan verstaan nie is, hoe kan aborsie wettig wees as genadedood van terminale siek mense onwettig is…in eerste geval word mense wat geen besluit oor hul eie lewe kan neem nie doodgemaak, in tweede geval waar terminale siek mense wel WIL sterf as gevolg van pyn, mag hul nie want die wet sê so….baie deurmekaar wêreld hierdie!!

KaterinaKat ·

Het jy al ooit die ou Engelse komedie reeks Monty Python gekyk? Wel, ons lewe in n Monty Python episode op hierdie planeet, lyk dit my. Net so absurd. In hierdie land is dit soos n kombinasie van die Monty Python reeks gemeng met die Hostel flieks.

Ronel ·

Ek gaan my nie uitspreek oor die kwessie van aborsie nie, maar wil net sê dat dit n plesier was om so n volledige en goed geskrewe berig te lees. Welgedaan Herman Toerien

Ouer van Vele ·

Die aborsiesyfer laat plaasmoorde en die algehele moordsyfer in SA na kinderspeletjies lyk. En tog het mense deesdae nie ‘n probleem daarmee nie. God se oordeel kom. Ons moet ons bekeer terwyl daar nog kans is.

Kobus ·

Goeie nuus.
Aborsie is die moderne vorm van wat in vervloë dae bekend gestaan het as om jou kinders vir Molog deur die vuur te laat gaan(Levitikus 18:21, Jeremia 32:35). Daardie tyd was dit gedoen met die pasgebore kinders en vandag doen ons dit met ongebore kinders.

Regs! ·

Jy is heeltemal reg Kobus. Daardie ongebore baba word verbrand nadat hy of sy verwyder is.

Liz ·

Mense moet maar aanhou om God te speel. Hierdie vermoorde babatjies se siele leef voort en gaan hul moordenaars inwag voor God se troon. Die Woord sê aan d einde van tyd sal sonde geregverdig word. Dis wat nou gebeur. Wat verkeerd is volgens d Woord word nie meer aanvaar. Alles verander, maar God dien nie. En wat in Sy Woord staan sal nooit verander. Die Bybel sê dat n regering gehoorsaam moet word. Maar as hul wette teen God se wet gaan override God se wet dié van die land. Julle kan my aanval. Dit gaan niks aan d saak verander. Elke knie SAL buig en elke tong SAL bely dat Hy God is En almal v ons gaan Hom face. Dan gaan al ons slimmighede geen waarde hê.

Judge Dredd ·

Aborsies kom al van bybelse tyd.
In die ou testament is daar ‘n resep vir vrug afdrywing.

DG ·

Die pro-keuse groepe argumenteer dat die moeder ‘n keuse oor haar liggaam het. Die mag dalk so wees, maar die fetus is nie deel van die moeder se liggaam nie, dit kan ‘n ander bloedgroep he, en het van konsepsie af ‘n eie unieke DNS kode tot die dag dat die baba oud geword het en dood gaan. Dit gaan my verstand te bowe hoedat iemand hierdie argument kan gebruik ter verdediging van aborsie.

Schalla ·

Presies DG. Die moeder moet ‘n keuse oor haar eie liggaam hê. Die dag toe sy besluit het om 1.)seks buite die huwelik te hê en 2.)onbeskermde seks te hê het sy daai besluit gemaak en moet sy met haar besluit saamleef en sal die abortering van die kind myns insiens dus moord wees. Waar ‘n vrou verkrag is en dus die keuse ontneem is oor die gebruik van haar eie liggaam, stem ek saam dat dit slegs menslik is om haar dan die keuse te gun om te besluit, of vir mediese redes waar voortgesette swangerskap ‘n hoë kans het om haar lewe of haar en haar baba se lewe in gevaar te stel. So die pro-keuse ouense wat so aangaan oor die reg om te besluit vergeet ewe gerieflik dat die besluit reeds geneem is/was! Mense vergeet dat ons almal sekere vryhede en regte het, maar dat saam met daardie regte kom ook verantwoordelikhede. Ek moet egter instem dat, ja, dit is ongelukkig so dat die samelewing nie regverdig is nie en dat “it takes two to tango”. Dus is die feit dat mans wat kinders verwek en dan van hul verantwoordelikhede wegloop lae skuim is wat verag moet word. Ouers van sulke ventjies moet maar hulle verantwoordelikhede teenoor hul kleinkinders nakom. Dit is nie regverdig dat net die meisie 90% met die nagevolge van ‘n lekker aandjie moet saamleef nie. Maar dit is bloot krimineel om die onskuldige kind se lewe te neem.

Rupert Ashford ·

@Scalla, baie goed gese. Wat mens kan byvoeg is dan die saak van neonatale sorg. Hoe kan mens aan een kant die mediese wetenskap ophemel as “lewensredders” as vroeggebore babas van ongeveer 25 weke af deesdae deurgehaal kan word met mediese sorg, maar mens wil vertel dit is “nie ‘n mens nie” en aborteer tussen 25 en 48 weke. As ons moraliteit so deurmekaar raak dat die besluit oor of “iets” ‘n mens is of nie, deur mense se opinie op ‘n sekere tydstip bepaal kan word (en ook verskillend toegepas kan word vir dieselfde situasie), is dit al baie ver na middernag vir ons klomp.

Kiskar ·

Mag God vir Alabama seën! Wat ek nie kan verstaan nie is dat liberale regters pro-aborsie is en konserwatiewe regters téén aborsie is. Ek dog die regstelsel staan neutraal teenoor enige saak. M.a.w. wanneer dit by iets soos aborsies kom, hang die uitslag af van die regter(s) se siening daaromtrent???

Realis ·

Baie sensitiewe saak die. Sal net graag wil weet as die pro-keuse mense so streng voel oor hul regte, hoekom laat hulle nie die baba ook kies nie? Hy het mos ook die “reg” om te kies dan nie?

sweis ·

Ek dink as n vrou verkrag of die fetus toon tekens van n abnormaliteit moet die ma self besluit.

Rupert Ashford ·

Onder watter omstandighede word die doodstraf opgele?

RERIG? ·

Aborsie=moord van 100% onskuldige.
Doodstraf is veronderstel om deur 100% onskildige volwassene uitgevoer te word.

Haan ·

Want n onskuldige baba is mos dieselfde as n reeksverkragter/moordenaar?… Petrus logika

Reinhardt ·

Selfs onwettig in die geval van verkragting… mmm klink nie vir my so lekker nie. So nou moet n vrou sit met n kind as gevolg van iemand wat haar verkrag het? En dan daagliks aan haar verkragter herinner word? Asb iemand help my met hierdie sogenaamde logika. En dan sodra die kind gebore is mag hulle nie op welsyn wees nie, want dieselfde mense staan welsyn teen. Dink bietjie.

Kellie ·

Maar nou word die onskuldige baba die doodstraf opgele oor sy/haar pa se verkrating.Moeilike een daai.

Zella ·

Hou op oordeel en besluit vir jouself. As jy dink dis nie reg nie, moet dit nie doen nie.
Hou op kyk wie doen reg en wie doen verkeerd en sorg dat jy die regte ding doen.

GM ·

In die geval van verkragting, hoef die vrou nie die baba te hou en ‘elke dag aan die verkragting herinner te word nie’, sy kan die kind weggee. Met of sonder kind, sy sal dit ongelukkig die res van haar lewe onthou.

Dis ‘n moeilike kwessie, want die kind is tog jou kind ook. Ek glo daar is ‘n handjievol mense wat verby die verkragting sal kan kyk en die kind sal kan liefhê.
Aan die ander kant, kan ek insien dat die ma bang sal wees dat die kind soos die pa sal uitdraai.

Ongeag wat die ma kies om te doen, haar keuses het hengse emosionele implikasies. Ek wens dit vir geen persoon toe nie.

Wat die genetiese defekte aanbetref – daar was al baie gevalle waar mense aangeraai is om die die baba te laat aborteer, en dan makeer kleinding niks tydens geboorte nie. Toegegee, daar is siektes wat later eers manifesteer, maar dan moet jy jouself die vraag afvra of dit beter is om vir ‘n paar jaar dalk goeie ‘memories’ saam jou kind te beleef, of net glad nie die kind te geken het in die eerste plek nie. Die kanse is natuurlik groter dat die toetse akkuraat is, maar ek glo nie ek sou kon saamleef met daardie ‘wat as ek verkeerd was’-stemmetjie nie.

Ongeag wat die omstandighede is, dis ‘n ingewikkelde kwessie en dis maklik om te sê ‘dis hoe ek gaan optree as dit met my gebeur’, realiteit is ongelukkig anders.

bosluis ·

Ek vra altyd die vraag : As jou kind op 1 jaar in die swembad val en breinskade op gedoen het of fisies gestrem is na n motor ongeluk, gaan daai ouer dan vir die dokter in die hospitaal sê : maak liewer dood, ek sien nie kans vir die kind nie? Nee !! Nou hoekom maak mense daai besluit as hulle hoor daai ongebore kindjie is gestrem??? Ek weet nie. Moord bly moord.

TDW ·

Ek is dankbaar vir Alabama. Ek wens die demokrate sal Francine Rivers se Atonement child lees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.