Nuuskommentaar: Teenstand teen linkse onverdraagsaamheid

Die DA-leier John Steenhuisen. (Foto: Courtney Africa/ANA)

John Steenhuisen is die afgelope Sondag tot DA-leier verkies met Helen Zille wat herverkies is tot federale leier. Die DA het die afgelope paar maande ʼn groot karakterverandering ondergaan. Hulle het wegbeweeg van die ANC-rassepolitiek wat onder Mmusi Maimane floreer het en weer teruggekeer na die DA se sogenaamde klassiek liberale wortels.

Hierdie karakterverandering het gepaardgegaan met die DA wat hard vry na die Afrikanerstem wat hulle in verlede jaar se nasionale verkiesing verloor het. Hoewel die DA ʼn sterk klassiek liberale draai geneem het, was dit ongetwyfeld in die rigting van die konserwatiewe Afrikaner.

Selfs belangriker as die DA se verandering was egter die reaksie op die DA se verandering en nuwe leierskap.

Linksgesinde politieke kommentators het met groot skok, verbasing en woede die afgelope week op die DA neergedaal. Dié kommentators het egter nie die moeite gedoen om die DA se beleidsverandering en nuwe leierskorps nugter te ontleed en te kritiseer nie.

Eerder as om die beleid te ontleed, het linksgesinde kommentators die karakter van Steenhuisen en die DA-leierskap aangeval. Siende dat dié party en leiers wegbeweeg het van die kommentators se manier van dink en doen, is hulle skielik as aartsrassiste bestempel. Nie op grond van hulle beleid nie – eerder omdat hulle van die linksgesinde kommentators se wêreldbeskouing verskil.

Die DA het veral onder kritiek deurgeloop omdat hulle topleierskap grootliks uit wit mans bestaan. Hierdie kritiek is gelewer sonder om ooit individuele optrede, oortuigings of beleid te oorweeg – slegs hulle velkleur en geslag maak saak. Sommige kommentators meen selfs dat die DA met hulle nuwe wit leierskap, ondersteuning van moedertaalonderrig en standpunt teen plaasmoorde besig is om na die Alt-right te beweeg.

ʼn Mens moet regtig waardeer hoe absoluut verregaande dié argument is. ʼn Wêreld waarin moedertaalonderrig en ʼn standpunt téén móórd onaanvaarbaar is, is absoluut onleefbaar. Hierdie wêreld bestaan nie op grondvlak nie, maar net in linksgesindes se eggokamer. Hierdie elite-kommentators glo regtig dat hulle siening van die wêreld die enigste aanvaarbare een is – enige mens wat op enige manier van hulle verskil, is by verstek ʼn onderdrukkende, rassistiese, vrouehatende, aaklige mens. Nie noodwendig oor die idees wat hulle aanhang nie, maar eerder omdat hulle van die linkses se wêreldbeskouing verskil.

Die kommentariaat het ʼn ongelooflike groot probleem daarmee dat die DA poog om die sowat 300 000 kiesers te volg wat hulle verlede jaar verloor het. Eerder as om te probeer ontleed waarom die kiesers in die eerste plek geskuif het of hoe die DA hulle probeer terugkry, word die kiesers én die DA as verregse rassiste uitgekryt. Die kommentariaat stel nie belang om te verstaan waarom soveel kiesers geskuif het nie. Dit móét die kiesers wees wat verkeerd is, want die linkses se wêreldbeskouing is die enigste een wat reg is.

Die rede waarom hierdie kommentariaat nie bereid is om werklik met die ander kant se idees in gesprek te tree nie, is omdat féite dalk hulle wêreldbeskouing kan bedreig. Die oomblik dat hulle werklik in nugtere gesprek moet tree met idee-opponente, is daar ʼn kans dat hulle verkeerd kan wees. Hulle is bloot nie bereid om dit te doen nie. Derhalwe is ongegronde karakteraanvalle al taktiek wat hulle het.

Die DA se liberale nierassigheid is veral gekritiseer. Dié nierassigheid kom neer op ʼn tipe kleurblindheid wat nie ras nie, maar faktore soos meriete en maatskaplike vermoëndheid in ag neem. In sy aanvaardingstoespraak het Steenhuisen hierdie beleid verdedig en verduidelik aan die hand van ʼn Martin Luther King Jr.-aanhaling. King het daarvan gedroom dat sy kinders eendag “nie aan hulle velkleur nie, maar aan die inhoud van hulle karakter geoordeel sal word”. In so ʼn samelewing maak hoe jy lýk nie saak nie, maar eerder hoe jy optree.

Linksgesindes het natuurlik ook ʼn probleem hiermee gehad. Nie omdat hulle van King se droom verskil nie, maar eerder omdat ʼn wit man wat duidelik nie onderdruk word nie dit durf waag om King aan te haal. Dít is iets wat die linkses gereeld doen. Die oomblik dat diegene aan die regterkant dit durf om linkse woorde of argumente téén linkse idees aan te wend, word dit onderdrukkend en aanstootlik.

Die linksgesindes was en is uitstekend daarmee om hulle wêreldbeskouing te propageer. Hulle het die groot media-instellings, kulturele instellings, universiteite en produkte van kultuur soos films byna volledig in hulle besit. Daarom is hulle goed daarmee om baie slegte idees goed te laat klink. Die regses, daarenteen, het vir lank nie dié kuns geleer nie en ook nie middele van kultuur en kommunikasie besit nie. Daarom het hulle goeie idees weer baie sleg laat klink. Nou sit linksgesindes in hulle eie eggokamer vas en is ver verwyder van gewone mense se wêrelde en menings.

Die gevaar van hierdie eggokamer is dat jy so uit voeling met gewone mense is dat jy deur gebeure soos Trump se 2016-verkiesing en Brexit oorrompel word. Deur so ver van gewone mense verwyder te wees, maak jy jouself irrelevant en verklein jy stadigaan die invloed wat jy het.

Linksgesindes stel nie meer in alternatiewe idees belang nie – daarom is dit byna sinneloos om op hulle platforms met hulle daaroor te argumenteer. Toetrede tot hulle platforms is bloot toetrede tot hulle reëls van onverdraagsaamheid teenoor idees en ongegronde karakteraanvalle.

Die idee-oorlog is egter nie iets waaraan ons net kan onttrek nie. Die antwoord hierop is om ons eie platforms te skep waarop daar ruimte vir ons éie idees is. Dit is belangrik om alternatiewe middele van kommunikasie en kultuur soos Maroela Media te skep. Hierdie platforms moet dit vir konserwatiewes moontlik maak om hulle idees te deel en te verdedig. Hierop moet ons ook nie in die linkse strik van karakteraanvalle trap nie. Alternatiewe mediaplatforms moet mense die geleentheid gee om hulle konserwatiewe idees veilig te deel, met redelikheid te verdedig en deur debat te verbeter.

Sodoende sal ons ook die geleentheid en ruimte hê om praktiese veldslae in hierdie krities belangrike idee-oorlog te wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Adam Adriaan ·

Linkse Liberale Kommuniste stel in niks anders belang as die NWO nie. Hierdeur moet alle inwoners van die aarde met ‘n yster vuis beheer word. Almal moet slawe word van ‘n klein elite groepie mense. Hier word verwys na die Fourth Dimension/Prison Warders/Brotherhood/Bilderbergers en nog vele meer.Die Demokratiese party van die VSA is ‘n baie goeie voorbeeld . Hoof doelwit is om die bevolking van die aarde te verminder tot 500 miljoen mense. Bewyse van wat hulle tans mee besig is sal jou hande laat saam slaan.

Sarel ·

Is dit nie maar wasrmee SA nog alyyd te doen het. Leunagtige beriggewing nie. Die traagedie is hierdie mense word geglo eerder as gebalanseerde brriggewing

Vrijburger ·

Puik artikel en ontleding. Presies wat hier in die VSA gebeur, gebeur ook in SA.
Die kamstige hoofstroom media, of meer korrek die (s)linkse media, is die vyand van demokrasie.

Konserwatief ·

Ek kan nie meer beklemtoon hoe belangrik dit is dat ons teenstand teen linkses moet ondersteun nie. Uitstekende artikel. Ons mag eenvoudig nie die onverdraagsaamheid teenoor meer konserwatiewe sieninge verdra nie en dus nie toelaat dat ons wat anders dink gemanupuleer word, hetsy in die werkplek of ons openbare mening in die media nie.

koos ·

Nou word daar gerieflikheidshalwe vergeet dat die meerderheidstem wat “JA” gestem het, ook uit ‘n helse klomp blanke mans bestaan het. Vandag word hierdie persone verag, minderwaardig geag vir werksposisies, hoog bo aan die lys van afleggings, teen gediskrimineer en selfs vermoor. Praat van stank vir dank. Ek wens ek was jonk genoeg of ryk genoeg om hierdie stinkende land permanent te verlaat. Ek is moeg vir alles.

Pieter ·

Te danke aan die anc se linkse gesindheid en gepaardgaande vewoesting van SA, is ek trots om regsgesind the wees.

Adriaan ·

Die linkse onverdraagsaamheid is duidelik te siene op Maroela in die kommentare wat gelewer word op enige artikel wat oor Pres Trump gaan. Hy en sy ondersteuners word bv gereeld met behulp van beledigende byvoeglike naamwoorde beskryf.

Die linkses glo dat as jy van hulle verskil, dit nie is omdat jy n ander opinie het nie, dis omdat jy verkeerd is.

Adam Adriaan ·

Kan nie genoeg met jou saam stem nie. Trump stan loodreg in die pad van die NWO drywers. Daarom die haat teenoor hom. Dan is daar ook nou nog sukle mens wat hom haat hier in ons land.

Jackie ·

Dis ongelukkig waar dat ons in n gebroke wêreld lewe. Opinies gaan te dikwels gepaard met emosies wat buite beheer is en dan is onverdraagsaamheid die resultaat. n Politieke party wat pragmaties in sy benadering tot bestuur is behoort die grootste steun te hê, maar heellaas, emosionele keuses veroorsaak dat swak leiers gevolg word. Voorbeelde hiervan is Juju en oorlede ET. Glad met die bek, maar mistig wanneer dit by pragmatisme kom.

Danie ·

Stem 100% saam met koos.
Alhoewel my een stem nou seker nie saak maak nie is ek skaam dat ek ja gestem het.

Marius ·

Puik artikel Monica. Die hoofstroommedia en akademiese instellings is die gif in die pot. Die uitdaging is om daardie instellings weer ewewigtig te kry. Ek is bekommerd oor ons jeug wat deur die linkses op sleeptpu geneem word. As ons nie “n manier kan vind om hulle te bereik nie gaan die meeste deur die linkse stelsel opgevreet word. Skryf weer asseblief.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.