Nuuskommentaar: Tegnologiese revolusie: Werklikheid soms vreemder as fiksie

Die Internasionale Ruimtestasie (IRS) soos gesien vanaf die ruimtetuig Atlantis. (Foto: NASA via ANA)

Die politici en ekonome besin reeds etlike jare lank oor die aanpassings wat aan opleiding vir nuwe werksgeleenthede gemaak moet word wat uit die tegnologiese revolusie spruit en nog gaan spruit. Soms, om sinvol genoeg die toekoms te kan verstaan, moet ook in die verlede teruggekyk word, want so lui die spreekwoord (en verewig uit een van die waarnemings van die skrywer, wyle PH Nortjé, se boeke): “daar is niks nuuts onder die son nie”.

Herman Toerien, die skrywer van “Ruimtenuus” vir RSG se program Sterre en Planete, maar ook ’n amateur-argeoloog en opgelei in Bybelse argeologie, tuur via die verlede en die hede, byvoorbeeld deur sy nuuskommentare, in die toekoms in om ʼn bietjie sin te probeer maak uit die toekoms wat vir ons kinders voorlê, en nou reeds aanpassings vereis.

Die nuus in die Los Angeles Times oor die ontdekking van ’n planeet “net” 31 ligjaar van die aarde af in ’n sone om sy eie son waar water in ’n vloeibare vorm kan voorkom, volg kort na die eerste bemande besoek aan die maan vyftig jaar gelede.

Dit wat die mensdom nou daagliks ervaar wat deur meer en meer nuwe inligting wat teen ’n verstommende spoed aan die mens bekend word, laat die kop duisel. Baie mense kan nie meer “hul koppe om die vordering gebuig kry nie”, en lewer dan ook heelwat ontkenners op. Met die herdenking van die eerste bemande maanlanding het ’n hele paar plat aarde-aanhangers van hulle laat hoor.

Terwyl wetenskaplikes verstom gelaat word oor die vreemde nuwe wêrelde “daar buite” waarvan hulle danksy tegnologie soos die Tess-tegnologie (NASA’s Transiting Exoplanet Survey Satellite) geleidelik al meer bewus word, en al meer teoreties bewoonbare wêrelde ontdek, is ander wetenskaplikes, veral gedragswetenskaplikes, net so verwonderd oor die vreemdhede en onverstaanbaarhede wat elke sekonde hier om ons afspeel. Individue wat kort-kort iewers tot massamoord oorgaan, tot mense wat verbete bly klou aan ideologieë wat al dekades lank, indien nie eeue nie, nog nooit kon werk nie, wat aangehang word en waarvoor selfs oorlog gemaak word.

Hierdie soort verskynsel het tot uitdrukkings, soos “niks nuuts onder die son nie” en “die werklikheid is (soms) vreemder as fiksie” gelei.

Soos die destydse inkwisisie soms die verskriklikste martelingmetodes gebruik het om nuwe kennis te smoor, en selfs mense brandstapel toe gestuur het omdat hulle destyds geweet het wat ander nie wou glo nie, en vandag as die waarheid aanvaar word, is daar vandag steeds ’n onverdraagsame inkwisisie. Ander martelmetodes word wel ingespan, maar die karaktermoord deur die milde aanwending van vitrioel is nie altyd minder wreed nie.

Daar is ander manifestasies van alternatiewe denke wat aanhangers trek, soos die kultus bekend as Spoegwolf.

Terwyl meer en meer gevorderde tegnologie ingespan word om verder en verder in die toekoms in te probeer tuur, word ewe gevorderde tegnologie ingespan om die verlede al duideliker te kan “sien” en duideliker te belig. Soms is die mens se kennis nog nie daar nie, en soos om te probeer verstaan wat wetenskaplikes nou eintlik beet het aan twee stukkies been uit China van 110 000 jaar oud, met groewe daarop gekerf, en eens met oker gekleur. Veelbetekend beskryf die Vlaamse koerant De Standaard die betekenis van die vonds as: “volslagen onbekend”.

Terwyl ons nog kopkrap oor wat ons nog uit die ruimte kan verwag wat nou (nog) aan ons “volslagen onbekend” is, kan ons die argeologie bestudeer om ’n idee te kry van hoe gemeenskappe wat duisende jare van mekaar geïsoleer was totaal uiteenlopend kon ontwikkel. Soms was gemeenskappe so lank van mekaar geïsoleerd dat weerstandigheid teen mekaar se siektes verval het. Die verlies aan kontak oor duisende jare het gemeenskappe so kwesbaar vir mekaar se siektes gemaak dat letterlik miljoene mense gesterf het. Tog, te midde van die kulturele verskille, was daar ook soveel ooreenkomste in byvoorbeeld boustyle tussen die Inkas en die Tibettane dat dit moeilik is om te aanvaar dat daar nie voorheen kontak was nie. In nuwe navorsing is opnuut aanduidings gevind dat inwoners van Ecuador in Suid-Amerika mense in Oos-Asië sedert die skeiding van ongeveer 20 000 jaar gelede weer tussen 4640 – 4460 voor Christus kontak moes gehad het.

Ook die voorkoms van piramides en grondpiramides uit verskeie periodes, en op verskillende plekke op die aardbol, laat baie mense glo daar moes eens kontak gewees het. Ironies glo sommige mense wat die onderlinge kontak hier deur wesens uit die buitenste ruim moontlik gemaak is.

Op die oomblik word weer lekker kop gekrap oor die herkoms van dagga-stuifmeel in ’n groot, vermoedelik vullishoop op die eiland New Foundland naby ’n gewese Vikingnedersetting van sowat ’n duisend jaar gelede. Die daggastuifmeel se laag is egter sowat 200 jaar jonger as die tyd toe die Vikings volgens huidige kennis hul kolonie op die Noord-Amerikaanse vasteland Vinland (Wynland) ontruim het. Omtrent al wat nou nie hieroor “volslagen onbekend” is nie, is dat die geskiedenis oor die Vikingkolonies nog baie gate bevat.

Die spertyd wat die destydse pres. John F Kennedy gestel het vir die VSA om ’n bemande besoek aan die maan te bring, het enorme eise gestel. Die VSA het sy Nasa-begroting van ongeveer ’n half persent van die nasionale begroting tot sowat vier persent gelig, en deur samespanning is die rekenaarwese met sowat twintig jaar vervroeg. ’n Hedendaagse iPhone is ongeveer 130 000 keer kragtiger as Apollo 10 se rekenaar, en die rekenaar wat vir die SKA gebou word, ongeveer ’n biljoen keer (of ’n Amerikaanse triljoen keer) kragtiger.

Tog was die maanlandings so “primitief” dat verskeie kenners die suksesvolle uitvoering daarvan as wonderwerke beskryf het. Intussen het die tegnologie so gevorder dat die nuwe beoogde maanlandings as nie net veel meer gevorderd beskou word nie, maar baie veiliger.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gerrit

NASA se Polar Orbital Environmental Satellite projek is ook baie interesssnt. Google dit gerus om meer te leer.

Gerrit

Ekskuus. Polar Operational Environmental Satellite projek.

Henk Stander

Dankie vir die stukkie.

Rudi

Die skrywer moer eers seker maak voordat hy aanhalings maak, daar is niks nuuts onder die son nie kom uit die bybel en is nie verewing deur een of ander skrywer nie,
Prediker 1:9 . Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur, en daar is glad niks nuuts onder die son nie.

Cherokee

Kennis is tog deur die eeue oorgedra dmv Internet.