Nuuskommentaar: Tel die seëninge; wysheid met keuse by vurk in die pad

‘n Beampte wat deel is van die polisie se onluste-eenheid gooi ‘n traangashouer om te probeer om plunderaars in Germiston, oos van Johannesburg uitmekaar te jaag (3 September 2019). (Foto: Themba Hadebe/AP)

Die land is in die moeilikheid, maar gelukkig is daar opsies om die regte koers in te slaan waar die pad vurk. Sak en as durf nie minderheidsgroepe se opsie te wees nie.

“Tel jou seëninge, tel hul een vir een.” Hoor ons die lied genoeg, en indien wel, neem ons dit ter harte?

Of het die “toksiese mengsel,” soos ’n hoogleraar dit beskryf, ons reeds oorwin? Die TLU SA se verklaring waarin die ANC-alliansie as die land se grootste bedreiging vir ekonomiese groei beskryf word, sluit hierby aan.

Maar wat is die toksiese mengsel? ’n Vlugge deurblaai van opskrifte van nuusberigte vanoggend beantwoord die vraag duidelik en sonder ruimte vir misverstand. Die vraag is, is dit georkestreer as deel van ’n aanslag wat sterk aan die eertydse totale aanslag herinner?

Boonop gaan dit broekskeur om iets positiefs in die nuusberigte raak te loop, ondanks die mooi dele van gister se nuus – ’n ontvoerde kleuter wat “ongeskonde” aan haar ouers terugbesorg is. En dit is nie al goeie nuus hieraan verbonde nie – ’n gemeenskaplike saamstaan landwyd ter ondersteuning van die kleuter en haar mense laat die harte ook warm klop.

Ja, dit word gedemp deur uitlatings van die EFF se Julius Malema tot dien effekte dat die huidige oproer teen die verkeerde mense gemik is – dit moenie swart teen swart wees nie, maar die onvrede moet teen wit monopolie-kapitaal gerig wees. Lees ook hier.

Heel toevallig val Malema se rassistiese haatspraak saam met ’n artikel deur die bekende behoudende Amerikaanse politieke kommentator, Patric J Buchanan. Die opskrif, “Who won, who lost World War II”, verklap min oor die verband met wat ons nou in Suid-Afrika beleef, maar sy historiese denkbeeld van wat vanjaar, 80 jaar sedert die uitbreek van die oorlog gebeur het, is taamlik ontstellend, en vir baie lesers stellig ontnugterend.

Kortweg kom dit daarop neer dat die Weste, gelei in daardie stadium deur Brittanje, ter wille van Pole se vryheid teen Hitler se aanval op Pole toegetree het. Die gevolg was egter nie Poolse vryheid nie, maar die onderwerping van Pole aan een van die wreedste diktature van daardie tyd, dié van Stalin. Maar om Pole van Hitler te bevry, het ’n deel van Duitsland self deel van die Russiese diktatuur geword, en so het verskeie ander Oos-Europese lande agter die ystergordyn beland.

Sonder om die nuusopskrifte in detail te ontleed, kan minderheidsgroepe kwalik tot ’n ander prima facie-oortuiging kom dat hulle soos vreemdelinge in hul eie land voel. Lees maar enige berig oor Malema se jongste “wysheid”. Ja, een van die Afrikaanse susterkerke het enkele jare gelede die “vreemdeling in eie land”-aspek as een van die onderwerpe vir ’n biddag vir die land ingesluit. Die knellende droogte was nog een, en gee ’n aanduiding van die gewig wat die kwessie reeds behaal het.

Dis stellig nie die eerste keer nie, maar daar kan min twyfel wees dat die land nou by ’n vurk in die pad gekom het. In die onlangse verlede is waarskynlik ’n wyse keuse, as keuse tussen twee euwels, gemaak toe Cyril Ramaphosa vir Jacob Zuma as president vervang het. Met die algemene verkiesing het dié keuse egter weer die negatiewe gestook deurdat Ramaphosa se verkiesing as leier vir die ANC die party meer stemme besorg het as wat die geval sou wees as Zuma nog die kitaar geslaan het (al was dit met afstandbeheer).

Ramaphosa kon egter nie genoeg swaeltjies byeenkry om ’n somer te bring nie, en die nuusopskrifte skets ’n land wat ongetwyfeld onregeerbaar geraak het.

Selfs lentedag het vir groot dele van die land byna-byna die koudste nag van die jaar gebring, in plaas van ’n dag wat aan latere pragoeste herinner.

Mense reageer verskillend oor hoe hulle die vurk in die pad aandurf wat weglei van die toksiese mengsel. Sommige emigreer. Veral sommige bruin mense probeer die ou “play for white” vervang met die konsep dat bruin mense eintlik swart mense is, en dat dit elitisties is om jouself swart te noem. Dit word deur skynbaar politieke korrektheid onder wit mense gerugsteun, terwyl bruin daagliks al hoe meer diskriminasie ervaar. Sommige het nog ’n geloof in die liberale lewensbeskouing, en daar is selfs ’n segment wittes wat probeer om “namens” swart mense te besluit wat swart mense (behoort te) pla. Laastens, maar nie die minste nie, is daar ’n groep wat die fokus op minderheidsregte laat val, met ’n wyd uiteenlopende spektrum van staatkundige opsies.

Burgerlike instansies soos Freedom Under Law, die Solidariteit Beweging, Outa en ander werk hard daaraan om ’n lewensvatbare resep vir die “toksiese mengsel” te vind – dat die regte keuses gemaak word waar die pad vurk. Intussen, fokus daarop om die seëninge te tel. En bring jou kant waar jy kan.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

KrokodilBotha ·

Ons hoop en bid maar , intussen draai die anderkanste wang mense.

Wicus ·

Ons het nog baie om voor dankbaar te wees, maar die redes raak al hoe minder. Suid-Afrika as ‘n eenheidstaat is en was nog nooit haalbaar nie. Die lewensuitkyk van die mengelmoes is eenvoudig net nie versoenbaar nie, daar gaan altyd ‘n groep of groepe wees wat aan die korstste end trek.

Die vurk in die pad, dit maak my bang, Dit maak my uiters moedeloos dat mense nie besef waarheen ons oppad is nie. Wanneer ‘n bees besef hy is in ‘n drukgang oppad slagpale toe is dit helaas te laat, en by ons al 30 jaar te laat! Dalk breek die damwal tog betyds.

Sarel ·

Ek het toevallig gisteraand .na lees van berigte en sommige kommentare gedink aan die verhaal van Sodom en Gomorra. How Abraham gepleit get en God se antwoord . Indien jy die kommentare lees waar God verloën word en toe niks gemaak word nie, wat anders kan ons verwag. God get reeds vir ons by meer as een geleentheid getoon dat tyd van Wonderwerke not nie verby is nie, Mars die mens de strewe ma ” selfbeskikking” staan in die pad

Al ·

God bly nog steeds in beheer!
Ons is geneig om dit te vergeet. Ondanks al die moeilikhede moet ons elke dag op ons knieë gaan en bid en GLO!
God het vandag my gebede verhoor in ñ onmoontlike situasie waarin ek as mens gestaan het. Ek het besluit om reeds dankie te sê al het ek dit nog nie op daardie stadium ontvang nie.
Kyk hoe sleg het dit gegaan voordat Zuma uitgeskop is.
Daar is lig aan die einde vd tonnel en God sal sy beskermengele op ons lewens plaas.

Natalene Visser ·

Al, jy het dit so pragtig gestel. Ons moet vashou aan die Here in alle omstandighede. Hy sal ons hierdeur ook dra.

Deon ·

Wittes, en veral Afrikaners, is gemarginaliseerde randfigure met weinig invloed, behalwe kundigheid en hier en daar geld. Ons invloed op die land se politieke toekoms is zero. Doen net jou werk en bly uit die moeilikheid. Maak jou kinders groot. Bly uit die moeilikheid en wees nederig. Die SA wat ons geken het is weg, dus moet jy soos ‘n Mannetjies Roux dartel om by die doellyn uit te kom. Jy is nie meer ‘n vooryman wat stoomroller na die doellyn nie.

Merkur ·

Dankie vir die interessante artikel en bv goeie beskrywing van die verskillende reaksies van mense wat voor die vurk in die pad staan. En ook vir die inligting oor Patric J Buchanan se skrywe. ´n Mens kan werklik praat van die dertigjarige oorlog van die 20ste eeu.

KDT ·

Wie val almal onder die vaandel van ‘n minderheidsgroep in SA?

Herman Toerien ·

Minderhede is enige groep wat minderheidsregte behoort te ontvang. As dit selfbeskikking, die reg op taalgebruik ens inluit (positiewe regte), word ras as norm uitgesluit. As dit kom by regte soos ‘n verbnnod op diskriminasie, verbod op haatspraak teen die groep, (negatiewe regte) sluit dit wel ras in.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.