Nuuskommentaar: Telefoontjie speel lei tot misverstande, selfs in die media

koerant

Argieffoto

ʼn Onlangse onafhanklike artikel in Maroela se deelname-afdeling het tot ʼn kettingreaksie ver buite Maroela se domein gelei, waar ʼn klompie suur sop ook uitgeloop het. Stertjies bylas sonder om die oorspronklike stuk te lees, het daartoe bygedra dat die ongelukkigheid kwalik deur die kors van ordentlikheid bedek is. Dit het saamgeval met die aanwysing van Barnard Beukman as nuwe redakteur van Beeld en Beukman het ook versigtig reageer. Herman Toerien vat die gebeure saam en vra dat die belanghebbendes saam ʼn koppie tee drink eerder as om hul penne in gal te doop.

Die aankondiging van die aanstelling van Beeld se nuwe redakteur, Barnard Beukman, het toevallig saamgeval met ʼn diskoers in die media oor die toekoms van die gedrukte media. In die proses is Maroela Media, waar die diskoers ontstaan het, plek-plek met die teerkwas bygedam – nie soseer oor wat in Maroela verskyn het nie, maar wat langs die pad bygekom het van “deelnemers” wat nie die oorspronklike bydraes gelees het nie en hul eie stertjies bygelas het.

Eie agendas lei tot eie weergawes. Kyk maar na die twee uiteenlopende weergawes oor die neerskiet van ʼn Russiese vegvliegtuig op die grens tussen Sirië en Turkye. Volgens die oorlewende Russiese navigator het hulle nooit oor Turkse gebied gevlieg nie en is die Russe nooit deur die Turkse onderskeppers gewaarsku om uit te wyk nie. Toe reik Navo die vlugtrajek uit (opgestel uit radar- en satellietdata) wat duidelik wys die Russe het wél die Turkse lugruim geskend, maar miskien nie so wyd en lank soos die Turke beweer nie. En die Turke reik die klankopnames uit wat toon die Russe is nie minder nie as tien keer nie, gewaarsku. Maar bykans almal glo steeds die weergawe wat hulle wil glo.

Die diskoers, want dit verdien nie die “titel” van “debat” nie, oor die toekoms van die gedrukte media, het begin toe Maroela ʼn bydrae van die veteraan vryskutjoernalis, Org Potgieter, in die saamgeselsrubriek, Nou pra’ jy, geplaas het. By die stuk het Maroela dit duidelik gemaak dat die inhoud en standpunte nie noodwendig Maroela se standpunte verteenwoordig nie.

Org het wydlopend geskryf en AMPS (sirkulasiesyfers) aangehaal om te toon hoe groot die druk op die gedrukte media is. Hy het baie ander faktore bygewerk en nie net geskryf oor die impak van die internet nie.

Dit is opgevolg deur ʼn rubriek van die redakteur van Maroela Media, Susan Lombard, waarin sy dit duidelik stel Maroela verlang nie die ondergang van enige Afrikaanse gedrukte koerant nie.

Die volgende, moontlik onbedoelde bydrae, was ʼn rubriek deur die waarnemende redakteur van Beeld, Liezel de Lange. Sy noem Maroela glad nie, maar veterane soos Hennie van Deventer, oudredakteur van Volksblad en direkteur, gaan van die standpunt uit dit was reaksie op Org se stuk.

Let wel, hierdie diskoers vind nie op die ruimte wat Maroela skep en waar misverstande dadelik ondervang kan word, plaas nie, maar op ander forums, soms gewilde persoonlike forums. Bekende meningsvormers neem deel, al is dit deur bloot die “like”-knoppie te druk.

Gert Coetzee, redakteur van Volksblad, neem op Netwerk 24 en in Volksblad ook deel en noem Maroela pertinent by die naam, maar nie dat die bydrae waarop reageer word van die onafhanklike Org Potgieter af kom en dat Maroela hom nie tot die standpunte verbind het nie. Gert meld dat hy weens gebrek aan tyd nog nie Maroela se webwerf besoek het nie. Van sy lesers op Netwerk 24 openbaar in hul reaksie presies wat gebeur met telefoontjie speel wanneer kritiek op Maroela uitgespreek word. Vandag plaas Volksblad die diskoers op Gert se rubriek in die gedrukte koerant, wat ook bydra om op die gevolge van telefoontjie speel te wys.

Gert lewer ook, soos gebruiklik, waardevolle bydraes in sy stuk. Hy voer die aanvang van die druk op gedrukte media onder meer terug na die toetrede van TV tot die Suid-Afrikaanse mark. Ook ander faktore wat druk uitoefen, speel ʼn rol.

Vanoggend verwys die aangewese redakteur van Beeld, Barnard Beukman, in Marida Fitzpatrick se rubriek ook kortliks na die diskoers, maar ook hy raak ander faktore aan as net die opkoms van die internet. Hy het geloof in die voortbestaan van die gedrukte media en in Beeld. Hy noem onder meer die volgende as voorvereistes:  “Geloofwaardigheid, gehalte, balans, ʼn veelheid van stemme – om, in Beeld se tradisie, die groot storie hard te slaan.”  Beukman is gelukkig dat Liezel in die tydperk wat sy as redakteur waargeneem het, hard aan hierdie waardes kon werk.

Kyk mens egter na leserskommentare, is daar ʼn stroom wat aandring dat daardie tradisie nie altyd gegeld het nie en dat dit veel meer as ʼn nuwe blaadjie omslaan gaan verg om die skade ongedaan te maak. Die voorbeeld wat die meeste gebruik word, is die wyse waarop die PUK se sogenaamde Nazi-saluut aangebied is. Verdiend, of onverdiend, die term “hoernalistiek” het die lig gesien en die ou term, “lokvaljoernalstiek” is in ʼn ander nuusgebeurtenis afgestof.

Op die oog af het Media 24 remediërende stappe geneem sonder om egter foute te erken. Die naaste hieraan het van oud-gediendes soos Hennie van Deventer en Tim du Plessis gekom, wat stellig baie verlig was dat, om te leen by Max du Preez in ʼn ander konteks, Media 24 die “reboot”-knoppie gedruk het. Maar Media 24 het nooit erken dat die koerant, of Beeld se destydse redakteur, in “ʼn oorlog teen sy lesers” gewikkel was nie.

Hoewel baie mense, geoordeel aan leserskommentare, van veral Beeld sal verwag om “skuld te beken” vir sy eie rol in die duik in sy leserstal (Die Burger wat self gedaal het en effektief dieselfde eksterne drukfaktore as Beeld ervaar, het Beeld met verkope verbygesteek), is so ʼn verwagting waarskynlik onrealisties. Wat agter die skerms gebeur het dat dinge so verander het en ʼn ervare persoon wat volgens mense wat hom goed ken, ʼn soliede persoonlikheid het, as redakteur van Beeld aangestel is, sal waarskynlik altyd agter die skerms bly. Dit is egter ook duidelik dat daar nie niks gebeur het nie.

Om Maroela, vir Org of enige ander ontleders wat die pen oor die kwessie opgeneem het, te verkwalik, is soos om Nasa se Marstuig, Curiosity, te verkwalik omdat daar nie katte op Mars is nie. Want “Curiosity killed the cat.”

Suid-Afrika word letterlik toegegooi onder sake waar die media hul waghondfunksie met oorgawe moet speel en ʼn onderlinge tone-trappery is stellig nie die beste wapen hiervoor nie. Baie wat waghond-ingryping nodig het, verg ondersoekende joernalistiek en ondersoekende joernalistiek verg mannekrag, tyd en ervaring. Die sogenaamde snoerwet kan enige oomblik onderteken word en die ANC is vasbeslote om ʼn mediatribunaal in te stel, al is daar intussen weer vanuit die ANC witvoetjie by die media gesoek. Die uitdagings raak al groter om ʼn gedugte mediakorps te mobiliseer om die golwe van wanbesteding, korrupsie, wanbestuur, magsmisbruik en vele meer genadeloos aan die kaak te stel.

Terselfdertyd raak die aanslag teen Afrikaans al groter al is daar baie Afrikaanssprekendes wat dit nie glo nie, of nie omgee nie. Wat dit betref is Beukman se woorde ʼn riem onder die hart: “Hoewel Beeld baie sterk Afrikaans is en sy vinger op die pols van die vrese en strewes van die Afrikaanse gemeenskap moet hê, moet ons die gemeenskap ook help om krities te kyk na die omgewing waarin hy hom bevind.”

ʼn Koppie tee saam gaan hier veel meer verrig as ʼn pen in gal gedoop om op hoorsê te reageer.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Bessie de Kock ·

Baie dankie vir MaroelaMedia.
Ek wil net in kort melding maak.
Na 50 Jaar stop ons die aflewering v d Burger met ‘n rede.
Geen haan het daaroor gekraai, of ‘n telefoon oproep om te vra hoekom nie.
Binne twee weke kry ons ‘n oproep, met die afgerammelde versie, “wil ons nie vir die Burger inteken nie”
Ek slaan my hande saam as leser van die Burger oor 50 Jaar in die Kaap.
Ek onthou nog die viering toe die Burger 50 Jaar oud geword het. Sal wil weet hoe oud is dit nou
Groete
Bessie

Piet Pompies ·

Met verwysing na Bettie se kommentaar, dit gebeur as die verskaffer (koerant, media, voedsel ens) sy gevoel vir sy kliente verloor en jy net nog ‘n nommer word. Jou jare as intekenaar word glad nie erken. Dieselfde gaan met M-Net gebeur sodra “Maroela Media” ook ‘n Afrikaanse betaal kanaal uitbring. M-Net se kyker getalle sal val soos Beeld se verkope. Ons is al oor 20 jaar M-Net intekenare en ek skryf ‘n e-pos aan M-net rakende sake waar slegs sekere etniese groepe voordeel trek uit M-net se opleiding. Die eerste reaksie van M-Net af is dat ek my Dekodeerder nommer en reeksnommer moet verskaf voordat daar aandag aan my navraag gegee kan word. Word wakker M-Net, jy het nou ‘n groter kans om my as intekenaar te verloor as ooit.

Bruno Stef ·

En die man wat van n molshoop n berg gemaak het ontken seker ten sterkste dat dit sy bedoeling was om Afrikaans en die NWU belaglik te laat lyk. Hy het n voet in die deur gekry sonder om te dink wat die gevolge van sy voorbarigheid sou wees nou moet sy opvolger die skade en persepsies wat die Afrikaanse publiek daarvan het ongedaan probeer maak.Die skade is alreeds gedoen en sal nie sommer omgekeer kan word nie.

Janie Nel ·

Nuus24 se redaksielede het so ver voor die lesers uitgehol om die ANC terwille te wees dat ons hulle nie meer kon sien nie. Ook in die tyd toe die ANC begin maak en breek het soos hulle wil en gedurig op die wittes begin skel het. Dis toe wat ons die lesers ‘n gly in hulle gevang het, want die meeste van ons kon nie verstaan hoekom die ANC net skel en apartheid beskuldig en niks vir hulself tot stand bring nie maar net afbreek en Nuus24 juig hulle toe en beskuldig ons verder as sou ons glo regs wees. So hulle kan maar elke week ‘n nuwe redakteur aanstel, ek voel vere vir hulle.

Genis ·

Herman, jou Curiosity opmerking vat die koek. Ek het nou lekker gelag, dankie. Jy mág maar skryf.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.