Nuuskommentaar: Teleurstellings (en ‘bloopers’) van verkiesingsveldtog

Argieffoto

Daar is nog sowat ʼn week oor voor die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaanse kiesers na die stembus kan opruk. Sommige partye het ver bo hul gewigsklas geboks, en ander het fatale flaters begaan. Sommige het moontlik met die spreekwoordelike moord weggekom.

Uiteraard het hierdie nuuskommentaarskrywer self ’n party wat sy stemme gaan kry, maar dit sou uiters onprofessioneel wees as dit uit sy skrywes sou duidelik wees welke. Hy moet onverbonde komplimente kan uitdeel, en kan kritiseer, maar kant kies in die openbaar, aikôna.

Maar daar is ’n hele aantal blapse begaan. Dis onmoontlik om elkeen hiervan onder die loep te neem of van te weet, maar die volgende het die oog getref:

– Stem vir Ramaphosa

Min of meer elke kieser buite die Zuma-kring sou kon voorspel dat die verkiesing van pres. Cyril Ramaphosa en die onttroning van oudpres. Jacob Zuma nuwe bloed aan die ANC sou besorg. Dit was dus geen verrassing nie toe daar stemme begin opgaan het dat kiesers vir Ramaphosa moet stem, so asof die stemme vir Ramaphosa nie die ANC sou baat nie. “Smee die yster solank dit warm is.”

Natuurlik is daar nie so iets dat iemand vir Ramaphosa kan stem sonder om ook vir die ANC te stem nie. Trouens, daar kan nét vir partye gestem word. Ná die min of meer verdamping van die aanvanklike Ramaforie het dié veldtog ’n knou gekry, en is nie meer veel aandag aan die diskreditering daarvan gegee nie. Maar dit blyk dat daar tog mense is wat hiervoor, ʼn netjiese manifestasie van eenpartydenke, “geval” het.

Daar is geen waarborg dat die Zuma-aanhangers nie ná die verkiesing van Ramaphosa ontslae gaan raak nie. Trouens, hulle moet eintlik, anders gaan heelwat van hulle waarskynlik tronk toe. Dan het hierdie Ramaforie-artefakte hul stemme in effek vir die ANC sonder Ramaphosa uitgebring.

Ramaphosa het self verskeie verkiesingsblapse gemaak, maar seker die pikantste is om die kiesers (en die buiteland) te probeer oortuig dat grondonteiening sonder vergoeding slegs ingevolge die Grondwet sal geskied. Vir ʼn wêreld wat nog redelik ontvanklik is vir die bedenklike storie dat die Suid-Afrikaanse Grondwet die beste in die wêreld is, sal dit mos soos musiek klink. Maar dit terwyl die proses reeds aan die gang is om daai einste Grondwet te wysig sodat dit juis onteiening sonder vergoeding sal moontlik maak.

– Moenie jou stem op ʼn klein partytjie mors nie

Menings oor hierdie stelling wissel van dat dit ’n infame leuen is, tot dat dit die reine waarheid is, of dat dit onder sommige omstandighede waar is, of selfs dat groter partye ’n beter kans staan om stemme so verlore te laat gaan. Boonop speel die grootte van die “klein party” ’n rol.

Wat dit lastig maak, is dat die gebruikers van hierdie standpunt onkundige kiesers van hul stemreg beroof. Hulle misken die staatkundige begrip dat dit in ’n demokrasie eintlik elkeen se plig is om te gaan stem. En die bedoeling is dat hy dan sy stem gaan uitbring aan ’n party waarvoor hy wil stem, omdat hy met die beleid saamstem, of in ’n mindere mate, die party hom as eerlike party beïndruk.

Wat hiermee gepaard gaan is dat die eerste bekende oproep van hierdie aard van die destydse leier van die Nasionale Party, Marthinus van Schalkwyk, gekom het. Destyds was die NP ’n redelike groot party, die DP (die DA se voorganger) ’n klein partytjie onder die leiding van Tony Leon. Leon het goed gal afgegaan in sy vloermoer oor Van Schalkwyk die kiesers met so ’n kluitjie ’n gat in die kop probeer praat het. Dit is gewoon beledigend teenoor kiesers se intelligensie om eers die stelling as leuens af te maak, en daarna dieselfde slagspreuk te bevorder. Dit is swak smaak, en behoort riskant te wees omdat kiesers juis gebelgd kan voel dat hul party so stert omgeswaai het.

– Ons veg vir Afrikaans

Veral twee partye is sigbaar oor die bevordering/beskerming van Afrikaans, naamlik die DA en die Vryheidsfront Plus, in elk geval wat partye betref wat in die parlement verteenwoordig word. Terwyl daar baie Afrikaanssprekendes is wat stry dat dit sidder en sê Afrikaans, of sy juridiese posisie in die land word nie bedreig nie, is dit darem duidelik dat daar van regeringskant – en ander – ʼn volskaalse oorlog teen Afrikaans is. Bepalings in die Grondwet word eenvoudig ondergeskik gestel aan beleid. En as die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, se houding jeens Afrikaans nie baie gou deur die ANC, en spesifiek Ramaphosa, in die bek geruk word en omgekeer word nie, dop Ramaphosa nóg ’n toets deur so in die pylvak “versekeringe” oor Afrikaans te gee.

Die beskuldigings van die Vryheidsfront Plus teen die DA oor Afrikaans gaan Vrydag deeglik onder die soeklig kom wanneer Maroela Media ’n internet-debat tussen die twee partye uitsaai. In die aanloop het prof. Annelie Lotriet, Vrystaatse LP van die DA, ’n artikel op Maroela Media gepubliseer waarin sy kiesers probeer oortuig dat die DA sterk vir Afrikaans intree. Uit die lesersterugvoer was dit duidelik dat die meeste “respondente” gemeen het die DA probeer nou skadebeheer toepas.

Die idee van ’n debat het ontstaan toe die VF Plus-leier, dr. Pieter Groenewald, die DA-leier, Mmusi Maimane, tot debat uitgedaag het. Lotriet van die DA het namens Maimane die uitdaging aanvaar. Die DA se reaksie om ’n “ondergeskikte” te stuur om die VF Plus se leier aan te durf, kon as afjak beskou word, en die VF Plus stuur nou dr. Corné Mulder na die slagveld.

Klik hier om jou vrae aan die debatskandidate te stel.

– Wes-Kaap is nie ’n land nie

Jesse Duarte is (weer) deur die ANC in die Wes-Kaap ontplooi om stemme vir die ANC te werf. As lid van die topses word sy as ʼn swaargewig beskou, en daarom word daar beter van haar verwag as die groot oeps in haar reaksie op die Wes-Kaap se dispuut en voorgenome hofsaak teen die minister van polisie, die Cowboy-generaal, Bheki Cele.

Die Wes-Kaap se verhouding van polisie-tot-bevolkingsgetalle is die laagste van alle provinsies, en met die bendebedrywighede op die Kaapse Vlakte, is sy misdaadsyfers baie hoog. Die Wes-Kaap wil meer polisielede hê.

Toe kom Duarte met die juweeltjie dat die DA met ’n tweederde meerderheid (landswyd) die verkiesing moet wen, om dié soort regte te bekom waarop nou aanspraak gemaak word. Hier en daar is daar mense, soos byvoorbeeld dr. Piet Croucamp, wat meen dat die polisie grondwetlik ’n nasionale kompetensie is. Croucamp het daarom gemeen die hooggeregshof het in ’n saak enkele jare gelede tussen premier Helen Zille en die minister van polisie, gefouteer deur vir Zille gelyk te gee.

Die harde werklikheid is dat die polisie volgens die Grondwet ’n gedeelde nasionale en provinsiale kompetensie is, en dat elke vlak van regering se funksies in die Grondwet uitgespel word. Een van die provinsiale funksies is doeltreffende polisiëring. Dit is internasionaal ’n taamlik algemene beginsel om minstens simbolies te voorkom dat ’n staat se volle swaardmag op slegs een regeringsvlak gesetel is, en dus in beginsel staatsgrepe moontlik maak.

ʼn Mens sou verwag dat Duarte darem van beter sou weet. Trouens, as die regering die Grondwet dwarsboom om dit moeilik of onmoontlik te maak om doeltreffend te polisieer, deur byvoorbeeld nie polisiestasies en mannekrag te voorsien waar dit werklik nodig is nie, kan daar ’n sterk saak uitgemaak word dat dit op sedisie neerkom.

Daar is natuurlik ander partye ook wat blapse begaan het. Dit is egter nie net politieke partye wie se optredes as blapse beskou kan word nie, en dinge kan sê of doen wat ’n ingrypende invloed op die verkiesing kan hê. Dink maar aan die Menseregtekommissie wat woorde wat Julius Malema kwytgeraak het wat soos haatspraak en aanhitsing tot volksmoord klink, en so deur die slagoffers ervaar word, nie as haatspraak te verklaar nie. Dié saak word nou deur AfriForum hof toegeneem.

Die OVK se registrasie van die BLF as politieke party, al laat die BLF strydig met wetlike bepalings nie wit mense as lede toe nie, skaad die OVK se beeld nog verder, en sal noodwendig ’n negatiewe impak op die verkiesing hê.

En dan is daar die hele Steve-ding, wat kiesers erg gaan beïnvloed oor waar hulle hul kruisies gaan trek. Veral MultiChoice se dekreet dat niks van Steve meer op sy kanale toelaatbaar is nie, gaan nagevolge hê. Dit terwyl omtrent als wat met gesag kon praat, daarop gewys het dat MultiChoice ongrondwetlik optree deur mense se grondwetlike plig tot meningsvryheid te ondergrawe. Die hofstryd oor die ou Suid-Afrikaanse vlag, en veral die tydsberekening daarvan, kon veel sensitiewer aangepak gewees het. Dis nie asof SA nie by die oorlog op konfederale simbole in die VSA kan gaan leer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Andreas ·

Herman, en dan is dit nou so in die pylvak dat met die blapse wat Cyril en die leiers van sekere politieke partye, of hul ondersteuners, soos veral MultiChoice, gemaak het, werf hulle nou eintlik stemme vir die opposisie. Miskien is dit ‘n bedekte seën wat mense se oë weer sal laat oopgaan, hulle weer sal laat besin oor die erns en waardes van die onderskeie partye en of hulle hul daarmee kan vereenselwig.

Kan net ‘n interessante uitslag tot gevolg hê, dis nou veral as die mense hier onderkant in hul kommentare en diesulkes, hul uitsprake en ongelukkigheid met sekere sake dit in hul uitgebragte stem sal laat weerkank vind. En natuurlik ook in die proses hul waardes gestand sal doen.

Gys ·

Die grootste blaps was die 1992 gemors van “stem JA vir voorspoed en vryheid”, of iets in daai lyn. En iets soos 70% het sowaar daai feeverhaal geglo.

Andreas ·

Herman, ek beloer vanoggend al hou opskrif bokant die paragraaf waarvan jy met Duarte inlei, “Wes-Kaap is nie ‘n land nie”. Toe dink ek nou so by myself, die dag as die Wes-Kaap hul eie krag kan aankoop en nie meer van Eskom afhanklik moet wees nie, sterf die ANC seker tien dode, want dit sal vir hulle voel asof die Wes-Kaap wel ‘n aparte land is, juis waar hulle nie in beheer van die provinsie en die Kaap se stadsraad is nie.

Marietjie Blignaut ·

Kan mnr Toerien nie asb lig werp op Mike Hampton se skrywes nie? Hy beweer hy vrees ‘n aanslag op sy lewe omdat hy korrupsie wil ontbloot. Tans sit hy sonder enige middele by ‘n Namibië se grenspos…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.