Nuuskommentaar: Term “swart man” nou ook rassisties beledigend (soms)

Die konstitusionele hof. Foto: Reint Dykema

’n Wit man is ná ’n uitspraak van die konstitusionele hof finaal sy werk kwyt nadat hy ’n swart kollega ’n swart man genoem het. Dit handel volgens die regter oor die gesindheid en bedoeling, veral binne Suid-Afrika se lang apartheidsgeskiedenis.

Suid-Afrika is ’n grondwetlike demokrasie wat beteken dat die land deur wetgewing gerig word, wat op sy beurt deur die grondwet geanker word. Oor of die land ook ’n regstaat is, word in hoë regs-akademiese kringe koppe gestamp nadat dié term uit die teks van die finale grondwet weggelaat is. Daar word selfs liggies kopgekrap oor daar ’n onheilige motief vir die weglating is.

Dis alles hoë akademiese sake. Dit is voldoende om te weet dat die regstaat aan Suid-Afrikaners baie regte gee, ook die regte wat in die handves van menseregte vervat is, en dat verskille in uitleg sommer gou iewers in die regsproses kan beland. Afgesien van die “gewone” howe, is daar die arbeidshofstelsel, die openbare beskermer en vele meer wat ’n skeeftrappery in ’n nagmerrie kan laat ontaard.

Mits jy weet jy trap skeef. Suid-Afrika is ’n heterogene land, en nie alle gemeenskappe voel noodwendig dieselfde oor sake nie. Dink maar aan die koppestamp tussen die DA-leier, Mmusi Maimane, en die vorige leier, Helen Zille, oor opvattings van kolonialisme. Dat “black facing” ’n sensitiewe kwessie was het stellig nie net vir die twee studentemeisies (en later nog twee perses van die US) as yslike verrassing gekom nie, maar baie ander wit Suid-Afrikaners.

Hieroor kan boekdele geskryf word. Die kort en die lank is om so ver as moontlik ’n bewustheid te ontwikkel van wat die ander groep as kwetsend kan ervaar. Dit is uiteraard veronderstel om ’n tweesnydende swaard te wees, soos om wit mense as gronddiewe uit te maak.

grondwethof2

Die konstitusionele hof. Foto: Reint Dykema

Nou het ’n regter van die konstitusionele hof beslis dat ’n wit werknemer by ’n myn oortree het deur na ’n swart kollega as ʼn swart man te verwys. Die keuse van woorde sou normaalweg geen probleem wees nie, maar die situasie is só vertolk dat die wit man dit bloot as siniese, en baie eenvoudig gestel, plaasvervanger van die k-woord gebruik het. Wat die werklike waarheid is, sal ’n mens nie weet nie. Voorts het die regter geoordeel die man het geen berou getoon nie.

Net ’n pikante nagedagte: Het die agbare regter in haar uitspraak ook in gedagte gehou watter vernietigende uitwerking jare van apartheid het op wit mense, en veral wit mans, se vermoë om weer ’n behoorlike, en selfs enige werk te kry? Om te bevind ontslag is ’n gepaste vonnis in só ’n geval, is dus ’n veel harder oordeel as “normaalweg”. Was dit nog iets aspris soos om die k-woord te gebruik, sou ’n mens maar min simpatie kan hê. Maar om na iemand wat hy nog nie eens ontmoet het as ’n swart man te verwys, en daaroor die trekpas te kry? Maar in ag genome die impak van baie jare van apartheid, is dit volgens die regter geregverdig.

Dit speel af teen die agtergrond van ’n nuwe debat oor of (wit) mense wat eers na apartheid gebore is, of dit selfs effektief teengestaan het, kollektief vir apartheid gestraf moet / kan word.

Regstaat of nie, ’n behoorlike stel wette en gemeenregtelike reëls kan nie op sy eie verseker dat almal in die land net die regte dinge gaan doen om te voorkom dat hy in die sop beland nie.

Hoeveel keer het ons al uit regeringskringe die woorde “zero toleransie” gehoor – ook dikwels in die konteks van iemand (gewoonlik ’n wit mens) wat hom aan rassistiese gedrag skuldig maak. Misdaad gedy egter steeds. En die slagoffers van plaasaanvalle moet ervaar hoe ’n minister gal braak teen mense wat daardie vorm van groeiende misdaad onder die buiteland se aandag wil bring. Gister weer het die uwe ervaar hoe ’n kliënt van sy vrou, wie se pad al meer keer met die reg gekruis het oor die gebruik van die k-woord, en by geleentheid deur die uwe gegryp is weens die lustige aanwending van die k-woord voor die gesin se huishulp, dit weer lustig doen.

Nou het dit ’n trappie moeiliker geword om nie in die sop te beland nie. Dit beteken ’n (gesonde) verstand en gemeenskapswagtorings skouer aan skouer met die wet staan om strafbare oortredings te bepaal. ’n Goeie gesindheid sal help om gevaarseine uit te stuur. Elke opmerking sal nie sommer ’n kwetsende bedoeling bevat nie, en ’n motief vir kwetsende opmerkings sal nie sommer gesoek word nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

110 Kommentare

jongste oudste gewildste
AmY

Ek is sprakeloos.

Johann

Ongelooflik hoe n sekere ras se selfbeeld en funksuonering afhang van drakoniese wetgewing en meer drakonkese eensydige toepassing daarvan afhang?

Shame…

Hoe nou

Kan iemand mens dan inlig wat die polities korrekte term dan veronderstel is om te wees? “African”? Volgens wikipedia is “Black man” die aanvaarbare term. In hierdie artikel word die term “wit man” dan gebruik? Die polities korrekte term vir wit man is “kaukasiese man”. Ons kort dan ‘n nuwe menseregte handves met korrekte polieke terme.

Linda

Mag mense ons dan nog wit noem? Wonder maar net …

Willem

Herman, in hierdie dae word daar ook weer baie oor Apartheid deur kommentators in die media geskryf, n.a.v Kallie Kriel se uitlating oor Apartheid en Misdaad teen die mensdom. Betreffende Misdade teen die Mensdom en Apartheid laat Wikipedia hom as volg uit: “Die stelselmatige vervolging van een rassegroep deur ‘n ander, soos onder die bewind van die Suid-Afrikaanse apartheidsregering, is in 1976 deur die Verenigde Nasies as ‘n misdaad teen die mensdom verklaar. Die VN se Algemene Vergadering het egter nooit enige bevindings gemaak oor apartheid as sulks nie, en daar was ook geen misdade teen die mensdom rakende apartheid… Lees meer »