Nuuskommentaar: Terreur bly adder aan boesem

Foto: IHA via AP

Foto: IHA via AP

Nog heelwat inligting moet bekend word oor wie en wat agter die selfmoordbomaanslag op die lughawe van Istanboell sit, maar intussen bly dit ’n belangrike les dat dit nie wys is om omstandighede te skep wat die ontstaan van terroristegroepe bevorder, of selektiewe moraliteit aan die dag te lê met die steun en teenkanting van verskillende terreurgroepe nie – dit gaan jou aan die agterent byt.

Die wêreld is geskok deur die bloedige aanval van drie selfmoordbom-aanvallers op Europa se derde besigste lughawe, die lughawe in Istanboel, Turkye. Na berig word is minstens 36 mense dood en byna 160 mense beseer. ʼn Mens vermoed die aanslag het gewis ook die lewens van buitelanders geëis.

Terreuraanvalle in Turkye is geen onbekende verskynsel nie. Volgens sommige berigte is dit die sesde terreuraanval vanjaar in Turkye, maar dit is konserwatief bereken teen die agtergrond van byna deurlopende insidente wat met Koerdiese onvrede in die ooste van die land verband hou. Dit was minstens die vierde selfmoordbomaanslag vanjaar in die land.

Wat hierdie aanval effens anders maak, is dat daar nou vermoed word dat IS daarvoor verantwoordelik is, en nie Koerde, en veral die Koerdiese PKK nie.

Die veroordeling van reg oor die wêreld was dus baie vinnig en eenstemmig verdoemend. IS het hom immers as ’n formidabele terreurorganisasie onderskei wat die vermoë het om haas enige plek ter wêreld toe te slaan. Die aanval kon net sowel in Londen, New York of Johannesburg gewees het.

Turkye is ’n lidland van Navo, maar as Moslemstaat gebeur dit soms dat die belange nie altyd met die ander Navo-lidlande gesinchroniseer is nie, soos met die operasie om van Ghaddafi in Libië ontslae te raak. Hoewel Turkye nie met Ghaddafi bevriend was nie, moes sentimente binne die eie bevolking in gedagte gehou word.

Maar ook as Moslemstaat staan Turkye effens uit, soos die aankondiging pas dat die betrekkinge met Israel, ’n ou bondgenoot, herstel is. Die betrekkinge het in 2010 ontspoor toe Israel ’n Turkse skip onderskep het wat Israel se isolasie van die Hamas-beheerde Gasastrook probeer omseil het om humanitêre voorraad af te lewer. In die proses is agt Turke en ’n Amerikaner aan boord dood. Ingevolge die ooreenkoms, wat juis gister gesluit sou word, sal Israel skadevergoeding van $20 miljoen aan die Turkse families wat geraak is betaal en ambassadeurs weer uitgeruil word.

Daar is egter geen aanduiding dat die selfmoordaanval met die ondertekening verband hou nie.

Turkye het ook jare lank die Koerde en ander minderhede se mees basiese minderheidsregte, soos die formele gebruik van ander tale as Turks, verbied. Alle publikasies mag ook net in Turks geskied het. Koerdiese stede se name is ook na Turkse name verander.

Die Koerde is die grootste groep onder die minderhede en maak vandag sowat 16,6 miljoen van ’n totale bevolking van 80 miljoen uit – selfs nadat die Koerde, soos die Armeniërs, ’n eeu gelede ’n volksmoord aan die hand van die Turke beleef het. (Turkye ontken steeds die volksmoorde en het dit uit alle geskiedenisbronne laat verwyder.)

Hierdeur het Turkye nie net die internasionale reg geskend en sy kanse vertroebel om lid van die Europese Unie te word nie, maar ook die ideale teelaarde vir die ontstaan van terrorisme gekweek.

Duisende lewens is geëis in die stryd tussen Turkye en Koerdiese groepe, veral die PKK. Turkye het mettertyd sy beleid teenoor minderhede verslap en ’n skietstilstand met die PKK is selfs afgekondig, maar die PKK bly onder druk weens Turkye se voortgesette lugaanvalle op PKK-basisse in Irak se Koerdistan. En PKK-splintergroepe neem wraak in Turkye deur terreuraanvalle.

Terwyl Turkye skynbaar maklik en met groot venyn Koerdiese basisse aanval en Turkse Koerde se vermoë om hul volksgenote in Sirië te hulp te snel aan band lê, het Turkye ook lank ’n soort neutrale houding teen IS ingeneem. Weer eens het dit Turkye uit pas met sy Navo-bondgenote geplaas, wat die Koerde as belangrike speerpunt teen IS gebruik.

Boonop het dit gereeld voorgekom of Turkye se houding jeens IS net te hartlik was. Turkye is hoofsaaklik ’n Soenie-land, terwyl Irak, wat IS beveg, hoofsaaklik Sjiïties is. IS is by uitstek Soenie-gebaseerd en sterk onder die invloed van die Salafistiese leër. Vir ’n tyd lank het dit ook gelyk of Turkye hom van aanvalle deur IS gevrywaar het, maar uiteindelik het daar wel IS-aanvalle op Turkye plaasgevind en het Turkye langtand tot die stryd toegetree.

Indien IS wel vir die jongste aanval in Istanboel verantwoordelik is, sou dit egter steeds ’n nuwe dimensie in die stryd teen IS inlui. Turkye beskik oor die militêre vermoë, en danksy sy gereeld lugaanvalle op PKK-basisse die ervaring, om IS se magte in Sirië en Irak harde houe tot die rand van ’n uitklophou toe te dien.

Die les is dat terreur onaanvaarbaar is. Daar kan simpatie vir die saak van ’n groep wees, maar nie hul aanwending van terreur nie. Daar kan nie selektief om taktiese redes “sag” met sommige terreurgroepe opgetree word nie, en nie verwag om aan ’n ander front in die stert gehap te word nie.

Dit gaan ’n geruime tyd neem om te weet presies wat agter die aanval op Istanboel se lughawe sit, maar intussen bly die les onveranderd – daar is nie selektiewe regverdiging vir terreur nie.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Theuns ·

Herman, dit klink of jy die situasie in Suid Afrika beskryf. Byvoorbeeld die aanslag op Afrikaans! Alles moet nou Engels wees. Jy praat van moraliteit! Net witmense kan rassisties wees. Al die wigte en teen wigte in die sogenaamde Konstitusie wat ons vryhede waarborg word stadig maar seker ondergrawe. Wat het van die Vryheid van assosiasie geword? Dit staan soos n paal bo water dat veral minderhede soos witmense hulle nekke begin styf maak omdat hulle GATVOL verby is!!! Hoe lank nog voordat iemand kop verloor? Baie dankie vir jou kommentaar! Hoop die ANC/SAKP lees dit ook.

Grassie ·

Dankie, Herman. Nou verstaan ek ook die woelinge tussen Turkye, die Koerde en Irak beter. Die Turke is m.i. ‘n klomp draadsitters wat onvoorspelbaar en onbetroubaar is. Hulle het onlangs olie gekoop by IS en ‘n Russiese vliegtuig afgeskiet. Nou is hulle weer haaks met IS. Dit klink of hulle in dieselfde pannetjie gebak is as die ANC hier by ons as hulle optrede teen die Koerde vergelyk word met die ANC se optrede teen die Afrikaner. Hulle gaan stort al jare lank hul surplus-aanteel in Duitsland maar is nou kwaad vir me Merkel ook. Dan is hulle nog leuenaars ook. Niemand se vriend nie.

John ·

As mens vriende is met moordenaars en boewe moet jy nie verbaas wees as hulle ook jou familie vermoor en jou skatte steel nie. Die skielike ommekeer van die regering deur weer bande met Israel te smee en skuldig te pleit by Rusland oor die afskiet van die vegvliegtuig skaars ‘n dag voor die aanval op die lughawe, laat mens wonder of hulle snuf in die neus gekry het oor die moontlikheid van terreur, maar heellaas te laat vir bystand van elders…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.