Nuuskommentaar: Terreur geen speelmaat om waarskuwings te ignoreer

Argieffoto

Argieffoto

Groot verdeeldheid heers nog oor hoe ’n groot bedreiging die Islamitiese Staat (Isis) vir Suid-Afrika inhou. Suid-Afrika kan egter nie bekostig om waarskuwings oor beplande terreur ligtelik op te neem nie.

Kenners en ander meningsvormers in Suid-Afrika het dit nog nie met mekaar eens oor hoeveel waarde geheg moet word aan die Amerikaanse ambassade se waarskuwing dat ’n Isis-terreuraanval tydens Ramadaan op ’n Suid-Afrikaanse winkelsentrum moontlik is nie. Trouens, die waarskuwing het ongepoetste gedrag van twee Suid-Afrikaanse staatsdepartemente ontlok en pres. Jacob Zuma moes inmeng om te voorkom dat betrekkinge met die VSA ontspoor.

Ironies is dit toe weer die VSA self wat in die VSA onder ’n terreurdaad deurloop. ’n Enkele persoon, met Isis-simpatie, het vir die grootste massaslagting in die VSA se geskiedenis gesorg. En massaslagtings in die VSA deur enkelinge, of klein groepies, is nie ongewoon nie. Volgens die New York Times is dit gemiddeld meer as een per dag. Vragte dokumente is al geskryf deur kundiges wat agter die kap van die byl probeer kom oor hoekom onstabiele enkelinge hulle met soveel haat op die gemeenskap laat toesak.

Intussen het die VSA, soos verskeie Wes-Europese lande, te make met wat die Amerikaners “home-grown terrorists” noem.

Hoekom sal Suid-Afrika nie so erg onder hierdie soort geweld deurloop nie?

Die Islam, waarvan ’n vertakking, naamlik die Salafiste, met die Isis se terreur verbind word, is ’n komplekse godsdiens. In Duitsland, toe die verpligte aanbied van godsdiensonderrig aan leerders uitgebrei is om naas die Christelike geloof ook die opsie van die Islam te bied, is diep besin oor die aanstelling van Moslem-onderwysers om hierdie klasse aan te bied. Die Duitsers wil nie hul skole in terreurfabrieke omskep nie. Trouens, die rede hoekom godsdiensonderrig verpligtend is (die neem van die klasse is egter nie verpligtend nie) is om te probeer voorkom dat ’n situasie soortgelyk as die Hitler-era weer vastrapplek kan kry.

Moslems, hetsy Soenni (waarvan die Salafiste ’n onderdeel is) of Sjiïete, het ongeag land van herkoms problematies geblyk te wees, of dit nou van Turkye, Sirië, Marokko, Iran of Pakistan was. Dit het nie altyd oor die godsdiensvertolkings gegaan nie, maar oor kwessies soos verskillende vertolkings van die geskiedenis en kultuur. Uiteindelik het Moslems van Indonesië die mees geskikte geblyk te wees om as onderwysers aangestel te word.

’n Groot deel van die Suid-Afrikaanse Moslembevolking kom oorspronklik uit Indonesië, en sou dié logika deurgetrek word, behoort dit ’n gematigde en verdraagsame gemeenskap te wees. Maar ’n groot deel is ook van Pakistanse herkoms, en daar gaan dit nie aldag ewe rustig met die Pakistanse Taliban nie.

Voorts stroom groot getalle vlugtelinge uit Afrika Suid-Afrika elke jaar binne, baie van hulle Moslems. Daar is min waarborge dat ondersteuners van Boko Haram uit Nigerië nie die land sal binnesypel nie, en so ook simpatiseerders van Al-Shabaab uit Somalië. Trouens, ná Al-Kaïda se aanval op die Amerikaanse ambassade in Tanzanië het een van die verdagtes, Khalfan Khamis Mohamed, in Suid-Afrika kom skuil. Hy is aan New York-staat uitgelewer, waarop die konstitusionele hof in 2001 bevind het dat dit ongrondwetlik was omdat Suid-Afrika nie vooraf die versekering by die vervolgingsowerheid gekry het dat hy nie ter dood veroordeel sou word nie.

In 2004 het die eerste teen-terreurnuusbrief van die Instituut vir Sekerheidstudies breedvoerig berig oor hoe Al-Kaïda reeds in Suid-Afrika nesgeskop het. Die veiligheidsdienste het bevestig dat ’n oog oor verskeie Suid-Afrikaners in verskeie stede oor die land gehou word.

Sedertdien het die Isis grootliks die kollig by Al-Kaïda gesteel.

’n Aantal Suid-Afrikaners is al geïdentifiseer dat hulle simpatie met die Isis het. Dit is gewoonlik tot spesifieke gesinne en families beperk.

Omtrent al rede hoekom Suid-Afrika minder waarskynlik die teiken van Isis-aanvalle sal wees as die VSA en Wes-Europa is omdat Suid-Afrika nie op die een of ander wyse in lugbombardemente van die Isis in Irak en Sirië betrokke is nie, en ook nie in veldslae teen die Isis deelneem nie. Voorts bied Suid-Afrika se gebrekkige grensbeheer maklike toegang aan terroriste wat kom skuiling soek, terwyl korrupte amptenare vervalste Suid-Afrikaanse dokumente gewild onder terroriste maak.

Die Salafisme, wat Al-Kaïda en die Isis onderlê, is egter onverdraagsaam teenoor die Christendom, en met ’n groot deel van die Suid-Afrikaanse bevolking wat hul Christenskap bely, bly Suid-Afrika potensieel die teiken van sulke aanvalle.

Die aanval op Planet Hollywood in Kaapstad destyds het reeds bewys dat Suid-Afrika nie immuun is teen aanvalle van Moslem-radikale nie.

Dit bly maar beter om waarskuwings oor potensiële aanvalle ernstig op te neem.

 

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Loeis ·

So wat het Suid-Afrika werklik nodig?
Maklik: nie om homself as vyand van ISIS te benoem nie, maar goeie wetstoepassing en die uitwissing van korrupsie.

Soveel ander onderwerpe kom terug na bogenoemde antwoord. En dit kom alles terug na die politiek, en die ramp waarin die land sedert 1992 verval het.

Grassie ·

Ek stem saam dat die waarskuwings oor moontlike terreur in SA nie ligtelik opgeneem moet word nie. Daar is wel nie enige vyandigheid te bespeur tussen ISIS en die ANC nie maar die moontlikheid van kleiner radikale groepe wat veral Christene en ook Amerikaanse belangegroepe in ons land mag teiken moet nie onderskat word nie.
Daar is egter’n ander vorm van terrorisme in ons land wat baie, baie gevaarliker is as aanvalle deur infiltreerders. Dit is waar die aanstigters nie self die wapen opneem nie maar hul invloed (gewoonlik politieke invloed) gebruik om openlik, van openbare platforms af, by die “peoples” haat te stig teen die “koloniale” wittes wat hulle nou al geslagte lank onderdruk, uitbuit en ook hul grond gesteel het. Hulle is terdee bewus daarvan dat die peoples (kanonvoer) gewelddadig gaan reageer terwyl die opstokers dan hul hande in onskuld kan was. In my oë maak dit van sekere politieke agitators groter terroriste as as ‘n bende terries wat ‘n aanval uitvoer en ‘n paar mense skiet. Maak ‘n bietjie somme – hierdie aanvaller in Amerika het 53 mense gedood en dit is wêreldnuus, met al die gepaardgaande emosie. Die “stil” terrorisme in ons land het al meer as 2000 plaasmense alleen gedood oor ‘n tydperk maar dit gaan internasionaal sommer so stil-stil verby. Watter vorm van terrorisme is nou die gevaarlikste en dodelikste vir ons land?

gatiep ·

Hoop net nie ons weermag gaan op strike as ons dalk aangeval gaan word nie,want ons gewone mense het nie guns om ons mee te verdedig nie. Sal dan maar moet saam trek tot by n koppie.

Theuns ·

Herman jy slaan die spyker op sy kop! Ons probleem is ons regering kyk oonskynlik nie TV nie en lees ook nie koerante nie! Ons gewone mense is bekommered. Ek kyk om my rond dan sien ek goed wat ongelooflik en onverstaanbaar is en ek wonder dan hoeveel sogenaamde “Sleepers” hier in SA is wat enige tyd opdrag kan kry van hulle ISIS Meesters af om ‘n Terreur Daad uittevoer?!!!

John ·

Hier skuil beslis nog moeilikheidmakers, heel gerieflik. Die probleem is dat hulle ‘onsigbaar’ is maar wanneer een van die’ mense dalk ‘n gewone wet oortree, soos om oor ‘n rooilig te ry… of… , en aangekeer word, sal sy angs oorspoel na sy kamerade omdat hulle dalk ontbloot mag word. Oordadige aksies kan volg. Die Palistynse bevrydingsgroep het ‘n groot ondersteuningsnetwerk in die Kaap wat die Joodse gemeenskap nie goedgesind is nie. Dis ook ‘n netelige brandpunt.

Andries Erwee ·

ek dink julle lesers verstaan iets verkeerd. Die VSA waarskuwing was nie dat n tipiese SA teiken soos die parlement aangeval sou word nie, maar n “Amerikaanse” teiken in n SA winkelsentrum. Iets soos Macdonnalds of soos wat gebeur het met Planet holywood in Kaapstad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.