Nuuskommentaar: Terreur, haatspraak en persvryheid

Grafika: Verslaggewers Sonder Grense (http://en.rsf.org/)

Grafika: Verslaggewers Sonder Grense (http://en.rsf.org/)

Suid-Afrika is een van die min lande waar persvryheid nie uit die reg tot meningsvryheid en ander regte afgelei hoef te word nie. Persvryheid self word in die grondwet gewaarborg.

Tog vind die toutrekkery tussen wat mag, en nie mag nie, in hoofsaak binne die reg op meningsvryheid plaas.

In die Suid-Afrikaanse grondwet word meningsvryheid ook, soos alle ander menseregte, beperk. Van die faktore wat dit beperk, is onder meer haatspraak en die aanhitsing tot oorlog. Die grens waar meningsvryheid begrens word, of begrens behoort te word, is een waar die regspraak en ideologie nie altyd saamloop nie. Julius Malema se skuldigbevinding aan haatspraak is byvoorbeeld wyd binne liberale kringe afgekeur. Die hof is van ’n “eng interpretasie” beskuldig, en dit het taamlike stewige beslag gekry toe die partye wat die saak teen Malema gedryf het, waaronder AfriForum en die TLU SA, ’n ooreenkoms met die ANC bereik het wat ’n bevel van die appèlhof gemaak is. Dit het ’n redelike groep bitterbek-kritici agtergelaat, waarvan baie regsgeleerdes is. Dit het goed gemanifesteer toe AfriForum die Kaapse kletsrymgroep, Dookoom, vir moontlike haatspraak gaan verkla het. ’n Stroom emosionele kritiek het van veral akademici van die Universiteit van Kaapstad gekom, en daar is erg onder die karakter van AfriForum, Solidariteit, en sommer Solidariteit se voorganger, die Mynwerkersunie (MWU), ingeklim. Selfs die staatsregkenner, prof. Pierre de Vos, het hom eerder op ’n emosioneel-ideologiese aanslag as ’n juridiese, beroep.

Teoreties is dit juis hierdie grense wat die Franse satiriese koerant, Charlie Hebdo, voortdurend uitdaag.

Volgens Arthur Goldhammer, in ’n artikel op Al Jazeera se webtuiste wat in Beeld herplaas is, het Charlie Hebdo se manier van doen sy herkoms uit die verre verlede, toe kritiek op owerhede eintlik op ’n uitdaging van die Allerhoogste neergekom het. Goldhammer spel dit nie so uit nie, maar verwys in alle waarskynlikheid na die tyd toe konings hulle onbeperkte mag toegeëien het omdat hulle, deur geboorte, deur God self vir die werk (van koning wees) uitverkies sou wees. Enige kritiek op die koning is dus met kritiek op God gelykgestel. Goldhammer stel dit dan ook dat Charlie Hebdo daarop uit was om alles wat heilig was te ondermyn.

Na afloop van die aanval het ’n redaksielid gesê dit is “onverstaanbaar” dat die Moslems so reageer terwyl die koerant geen soortgelyke reaksie van die konserwatiewe deel van die Rooms-Katolieke Kerk kry wat op soortgelyke wyse mee die spot gedryf word nie.

Godsdiensvryheid word wêreldwyd as ’n universele mensereg beskou, en is daarom in talle grondwette opgeneem, ook in Suid-Afrika. Oor wat dit behels, is daar egter uiteenlopende menings. ’n Gedagtegang dat dit daarop neerkom dat die owerheid self ’n houdings van “geen godsdiens” moet inneem om neutraal te wees, het veral in die VSA sterk ontwikkel, en word nou sterk uitgedaag omdat ateïste hulself al hoe meer in drukgroepe organiseer en die een regsaanslag na die ander op enige moontlike manifestasie van godsdiens uitvoer. Die teenargument is dat geen geloof, in die konteks van godsdiensvryheid, ook ’n geloof is en nie geloofsvoorkeur kan geniet nie. Ook in Suid-Afrika word elemente hiervan gesien met die komende hofsaak waarin probeer word om enige Christelike etos uit staatskole te weer.

Op die internasionale terrein, is die neiging om godsdienste self vir kritiek oop te laat, maar dat nie teen iemand (’n persoon) gediskrimineer word op grond van sy godsdienstige oortuigings nie. In ʼn stadium het die VN se Menseregteraad onder die oorheersende invloed van Moslemstate in die raad, kritiek op godsdiens self tot ʼn menseregteskending verklaar, maar dit is later weer verander.

Dit sou vanselfsprekend baie moeilik wees indien kritiek op godsdienste self ’n oortreding sou wees. Die Bybel leer ons immers dat die Here van die Bybel die enigste Here is, en dat geen ander gode of afbeelding daarom gedien mag word nie. In die VSA het ’n kapelaan afdanking in die gesig gestaar omdat hy uit hierdie “verbode deel” van die Bybel voorgelees het omdat dit ander godsdienste aanstoot sou gee.

In Suid-Afrika word al hoe meer intergeloofsgeleenthede gehou, waar mense, ook lidmate van Christelike kerke, saam aanbid. Dit sluit aanhangers van animistiese godsdienste in, en heel dikwels word van hierdie rituele voltrek. Dit sou byna vreemd wees sou daar geen kritiek van minstens sommige Christene wees op hul kerkleiers wat aan hierdie byeenkomste meedoen nie.

Pres. Jacob Zuma en ander ANC-leiers skok gereeld met vreemde godsdiensuitsprake. Zuma het pas tydens sy Kaapse ekskursie herhaal dat die ANC sal regeer tot die wederkoms. Toe hy oorspronklik hiermee begin het, het kerke woedend reageer en sulke uitsprake as godslasterlik beskou. Nou, so ver bekend, het slegs die Christen-Demokratiese Party dit gekritiseer. Onder die ander voorbeelde wat onder skerp kritiek deurgeloop het was Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC en SAKP-veteraan se stelling dat die ANC se driekoppige alliansie met God Drie-enig vergelyk kan word.

Die praktyk gaan ongestoord voor ten spyte van die afkeurende reaksie.

ʼn Mens kan baie moeilik anders as om met Goldhammer saam te stem dat publikasies wat nou uit solidariteit met Charlie Hebdo van die koerant se spotprente publiseer, opportunisties is na hulle voorheen dit nie sou doen nie, omdat dit as obseen ervaar is.

Die kritiek op die terroriste en hul weersinwekkende daad, durf nie gelykgestel word met wat Charlie Hebdo gedoen het nie. Net so kan die terreurdaad nie goedgepraat word nie, en dit word ook deur gematigde Moslemleiers veroordeel. Trouens, hierdie leiers pleit dat alle Moslems nie nou oor dieselfde kam geskeer moet word nie.

Die Internasionale Persvryheidswaghond, Verslaggewers Sonder Grense met sy hoofkantoor in Parys, het op sy webwerf gereageer met ’n plakkaat wat lui: “Ons is Charlie [Hebdo]”. Hierdie verklaring van solidariteit het meer betrekking op steun vir persvryheid en meningsuiting, as op steun vir Charlie Hebdo se redaksionele inhoud.

Die ironie is dat persvryheid gewoonlik juis ’n pyl in die koker van terroriste is. Dade van terreur is dikwels teater, en die media verskaf die gehoor. Oomblikke nadat die terreurdaad gepleeg is, of in gevalle soos gyselaarhouding, begin het, kan mense oor die wêreld heen dit in hul sitkamers volg. ’n Haas obskure groep kan oornag wêreldbekend word. Terreur word daarom ook dikwels propaganda van die daad genoem. Dikwels is die slagting self veel kleiner as die terreurpotensiaal, soos om ’n stad se drinkwater te vergiftig en baie sterftes te veroorsaak, want die terroris wil baie mense se aandag vasvang, nie noodwendig baie mense dood hê nie.

Maar mense neig om afgestomp te raak, en daarom is dit dikwels nodig om die grusaamheid van die daad te verskerp. Dit word goed gedemonstreer daardeur dat die aanslag in Parys nie eergister die enigste terreurdaad in die wêreld was nie, en trouens ook nie die aanval wat die meeste lewens geëis het nie. In Sana’a, hoofstad van Jemen, het ’n selfmoordbom in ’n motor voor ʼn polisiekollege ontplof, en minstens 40 mense waarvan die meeste jong rekrute was, is in die ontploffing dood. In Turkye het ’n vroulike selfmoordbomplanter in Istanbul se toerismedistrik by ’n polisiestasie ingestap, en die bom laat afgaan. ’n Polisieman is dood.

Tog is dit die aanval in Parys wat die wêreldaandag aangegryp het, en regeringshoofde laat reageer het. Die ander aanslae het nie eens oral die media gehaal nie. ’n Taamlike lang lysie kan gemaak word oor hoekom dit juis die aanval in Parys is wat die aandag kry, maar een van die belangrikste redes is dat die aanval op die media self was.

Terroriste het gewoonlik juis onbeperkte persvryheid nodig om hul propaganda te versprei – hetsy vreedsaam of wanneer hulle tot die “propaganda van die daad” oorgaan. Lande neig dus om wetgewing te aanvaar wat persvryheid beperk, dikwels in die vorm van “noodwetgewing”, om terreurgroepe se benutting van persvryheid in te kort. Kort voor die bomaanslag in Parys was die Nederlandse en ander Europese media die naarheid in omdat Turkye binne ’n baie kort tydjie twee Nederlandse joernaliste aangekeer het. Die een staan juis as groot ondersteuner van die Koerde bekend, en vanuit Koerdiese geledere het daar al heelwat dade van terreur voortgespruit.

In Suid-Afrika voor 1994 is ruim van muilbandwetgewing gebruik gemaak om die ANC se propagandaveldtog te probeer stuit. Ironies, dikwels behou hierdie groepe juis daardie wetgewing wanneer hulle aan bewind kom om hul opponente se lewens te vergal, soos wat in Zimbabwe gebeur het.

Hoewel persvryheid in Suid-Afrika se grondwet ingeskryf is, beklee die land op die oomblik ’n powerige 42ste plek – teenoor die 22ste posisie enkele jare gelede. Boonop is Suid-Afrika se huidige posisie aan ’n misverstand te wyte – die land het ’n jaar gelede tien plekke verbeter omdat Verslaggewers sonder Grense verkeerdelik gemeen het pres. Jacob Zuma “weier om die snoerwet te teken”. Dit was na Zuma die wetgewing vir “tegniese regstellings” na die parlement terugverwys het.  Maar dis ook belangrik om daarop te let dat, in Suid-Afrika se geval, die posisie op die persvryheidsindeks nie net aan regeringsoptrede soos dreigemente vir ʼn mediatribunaal, te wyte is nie. Die media se versuim om die politieke diversiteit van ’n land te weerspieël is ewe skadelik vir die land se posisie op die persvryheidsindeks. So ook kwessies soos politieke korrektheid, rasgedrewe aanstellings, en redaksionele inmenging deur groot adverteerders. In Suid-Afrika is dit egter juis weer die regering met sy dreigemente oor wie advertensies gaan ontvang wat die land skade berokken.

Persvryheid is uiters belangrik en word as vierde, nie-amptelike been van die demokrasie beskou. Dit is een van die mees effektiewe waghonde teen korrupsie. Dit is veronderstel om kiesers oor hul politieke keuses in te lig, in die besonder wanneer dit volgens eie aansprake nie die lyfblad van ’n politieke party is nie. Dit is iets wat gekoester moet word.

Persvryheid, en meningsvryheid, soos alle ander regte, is egter nie onbeperk nie. Regte word gewoonlik begrens daar waar ander se regte, soos reg op geloofsvryheid en die reg op veiligheid ontmoet word.

Daar is geen regverdiging vir terreur nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hanno Visagie

Julle vra by die nuutste debatsartikel “Neem deel aan die debat”, maar telkens as ek iets vanuit ‘n Bybelse perspektief op Maroela Media plaas, en ‘n kommintator vloek Christus of Christene, en ek reageer met slegs ‘n kort enkelsin uitnodiging tot bekering, verwyder julle alles, insluitend my aanvanklike plasing. Hoekom? Is julle blote kultuurchristene wat die wereld navolg?

Hanno Visagie

Maroela Media, hoeveel ure wil julle bly “modereer” aan my herplaaste plasing? As julle dan nie jul webwerf volgens ware Bybelse Christus-beginsels bedryf nie, behoort julle eerlikheidshalwe op te hou om julleself as ‘n ware Afrikaner-Christen webwerf voor te doen.

Cathy Kotze

Die feit is, Charlie Hebdo het gereeld met ALLE godsdienste en baie politieke heilige koeie gespot. Net fundamentalistiese Moslems het besluit om hulle met die dood te straf.

Haatspraak is ongelukkig onafwendbaar in die huidige klimaat en onbeperkte internet toegang. Die meeste van ons gaan in ‘n mate daaronder gebuk. Ons reaksie is egter belangrik.

Ek WEET wat ek glo. Ek WEET wat my politieke oortuigings is. Dis jou reg om nie met my saam te stem nie. Dis nie my reg om jou lewe daaroor te neem nie.