Nuuskommentaar: Terreur: Is ons reeds verslaan en verslaaf?

terreur-terrorismeMet die oë van die wêreld op die IS-aanvalle in Parys is dit ook nodig om te besin of die voortslepende studentegeweld in Suid-Afrika nie ook reeds grootliks op ’n sielkundige oorwinning vir die anargis dui nie. Daar is immers duidelike tekens van sielkundige en geestelike kapitulasie. Herman Toerien bekyk die situasie deur self bietjie oorkant die onkantlyn te speel.

Wanneer aanvalle soos dié van die IS op Frankryk plaasvind, kan ons maklik vergeet dat terreur ook ander manifestasies het – manifestasies waarvan Suid-Afrika nou ’n oordosis het en wat ten minste deels deur die #FeesMustFall-veldtog losgemaak is.

In haar rubriek in Netwerk 24, “Die aard van universiteite”, lys prof. Amanda Gouws van die US enkele van die vorme van geweld wat nou in die land onder die ontleedmes deurloop namate dit soos bont masels manifesteer:

“Die afgelope week, nadat die senaatsvergadering aan die UK ont­wrig is en studente op verskeie kampusse by geweld betrokke geraak het en ook polisiegeweld sigbaar was, was daar debatte waarin die konsep geweld op baie verskillende maniere gebruik is: studentegeweld, strukturele geweld, polisiegeweld, die geweld van bestuursbesluite, epistemiese geweld (van die kurrikulum), ekonomiese geweld, die geweld van die Westerse blik (hoe Westerlinge na die wêreld kyk) en verbale geweld.

“Al die tipes geweld is die afgelope week in skrywes vermeld. Wat ons hieruit kan aflei, is dat geen ruimte sonder geweld is nie. Maar beteken dit dat daar ’n hiërargie van geweld is of dat sekere tipes geweld geregverdig kan word? Is dit geregverdig om waterbottels in die gesig van ’n rektor te gooi omdat hy nie aan sekere eise kan toegee nie? Is die vandalisering van geboue en busse geregverdig omdat dit ’n uiting van ontevredenheid is? Of word die konsep geweld só breed gebruik dat dit betekenisloos word?”

Dit is goed en reg dat aspekte soos die oorsaak, manifestasies en oplossings van geweld deurlopend ondersoek word. Om die verworwe kennis sinvol in die aanspreek daarvan te konsolideer en toe te pas blyk ’n groot probleem te wees, soos die eerste instink ook ná die aanvalle op Parys om met wapengeweld toe te slaan en die oorsaak met geweld van die aardbol te vee – terwyl daar stemme opgaan dat dit niks sal help solank die oorsake nie aangespreek word nie. So ’n reaksie is, onvolledig soos dit mag wees, natuurlik belangrik, want dit tap in op die opgewelde emosies en toon ook aan die terroriste dat dit nie ’n geval van hulpelose slaansakke is nie – die wêreld kan immers verhinder dat terreurbewegings grondgebied beset en sogenaamde “no go”-sones vestig – met die nodige wil wat nou duidelik manifesteer.

Maroela Media het reeds tevore breedvoerig die onderliggende oorsake vir die opkoms van die IS en soortgelyke bewegings toegelig en gaan dit nie nou herhaal nie.

Die voortrollende manifestasie van studente-onrus by veral sommige universiteite beteken nie noodwendig die polisie en ander veiligheidsmagte moes die studente – en in besonder diegene wat hulle tot geweld gewend het (al was baie van hierdie boosdoeners eintlik ANC-agente soos sommige ontleders beweer) – genadeloos laat vervolg het vir onder meer die verbreking van hofinterdikte nie. Maar word die prys nie nou vir ongekende verdraagsaamheid betaal met hierdie voortgesette voortsnellende aksie waarin vandalisme nog gereeld manifesteer nie?

Wat lees ons? Vandag plaas Netwerk24 weer ’n rubriek van Max du Preez met die titel, “Kyk koelkop na legitieme eise”. Dit is maar deel van ’n koor wat vanuit die aanvang van #FeesMustFall deur verskeie ontleders aangeraak is, en wel reeds deeglik deur die politiek verreken is. Maar wanneer raak die hamer op die eentonige deuntjie nie meer bydraes tot die openbare diskoers nie, maar ’n vorm van kapitulasie waar die anargis as die alleen-oorwinnaar met sy buit van die toneel wegstap?

Was die openlike omarming van #OpenStellenbosch se “bydraes” en die oë-toemaak vir AfriForum Jeug, die DA se Daso en Adam Tas deur die rektor van die US en sy bestuurspan nie ook ’n vorm van kapitulasie nie?

’n Belangrike les is dat geweld – ook strukturele en sielkundige geweld – op kapitulasie teer, maar daar is ander aspekte ook ter sprake.

’n Kommerwekkende aspek is jong mense – ook studente – wat hulle in rubrieke uitdruk om nie net te kapituleer nie, maar dié standpunte “regverdig” deur dit te koppel aan “die groeiende swart woede”. Natuurlik is die “groeiende swart woede” ’n aspek wat deeglik onder oë geneem moet word, en die oorsake soos oorgeërfde armoede aangespreek moet word. Maar hoe lyk dit nou as ’n struktureel bevoorregte wit student (want nie alle wit studente is [meer] struktureel bevoorreg nie) die simpatie opeis ten koste van bepalings in die Grondwet, empiriese werklikhede soos alternatiewe keuse feitlik binne loopafstand, en vele meer? Watter ruggraatlose leier word so aan die samelewing gelewer terwyl op die aarde niks opgelos word deur “maklike uitweë” nie?

Dit is goed en wel om versoening ’n hupstoot  te gee deur ook “die pyn te deel”, maar dit is darem te dik vir ’n daalder om te verwag ander wat geen aandeel aan die pyn gehad het nie, moet ad infinitum met skuldgevoelens opgesaal sit en in die proses net meer en meer grondwetlike regte op die altaar plaas.

Daar is egter bepaalde tekens dat ’n groter deel van die samelewing van die harde werklikhede probeer ontsnap deur nuusblind te word, en dit neem verskillende manifestasies aan. Wanneer na tabelle en ander aanduiders van nuusgewildheid gekyk word, is dit baie dikwels nie die werklike groot nuusstories wat onder die gewildste tel nie. ’n Voos-geskryfde storie soos die Oscar Pistorius-sage skuif maklik bo iets soos die studentegeweld of stryd om Afrikaans in, en selfs die bloedbad in Parys. Haelskade verdring die droogte-impak en die gevolge vir die ekonomie wat elkeen gaan raak.

Zuma-bashing bly gewild eerder as dat die openbare debat oor die land se toekoms werklik behoorlik kan nes skrop by lesers.

Ander hou eenvoudig op om koerante te koop en druk die radio-knoppie as dit nuustyd is om iewers anders musiek of “musiek” te luister.

“Verdomming” is hierdie verskynsel al genoem – mense wat werklik nie meer kontekstueel weet wat hul, en hul nageslag se lewens en belange raak nie, maar steeds stembus toe mag opruk.

Dit moet nog ontleed word, maar wanneer laas is bemerk dat rubrieke soos dié van Blou Willem Theron en Petro Hansen onder die gewildstes in ’n publikasie tel soos voorheen gereeld gebeur het? Skrywers wat op hul eie manier ook daarop wys dat daar in Suid-Afrika ’n ander werklikheid as net die swaar en onaangename is. Wanneer laas het die idealistiese Ilse Bigalke haar hand aan die pen gewaag?

As verdomming, ontsnapping en kapitulasie ’n toonlose vlak van hulpeloosheid beskryf, kan die vraag gevra word of die anargis nie reeds gewen het nie. Uit lesersreaksies bly dit verontrustend in hoe ’n mate baie mense taai is om nuuswerklikhede in die oë te kyk, maar bereid is om die allergrootste bog blindelings te glo wat iemand vir hulle op hul selfone aanstuur. Ooglopende vals profesieë word gereeld vir soetkoek opgevreet en aangestuur sonder om vir ’n oomblik te bedink dis byvoorbeeld die allergrootste bog dat Kalifornië op ’n bepaalde datum deur ’n ongekende groot aardbewing getref gaan word net omdat twee planete na bewering in ’n lyn gaan verkeer nie. En dit het geblyk bog te wees. Jaar ná jaar word mense met die Mars-“grap” uitgevang.

Vandag stel Die Burger en Beeld teleur met ’n hoofartikel wat doodgewoon die populistiese siening oor die opkoms van die IS verwoord en niks rep oor die werklike onderliggende oorsaak soos die opkoms van die neo-Salafiste en die impak daarvan nie. In hul eie publikasies was daar immers volop uitstekende stof wat die geykte opvattings in duideliker perspektiewe stel.

Daar is silwer randjies. ’n Plan B waarvan die steunvlakke wyd sny en skynbaar groter word – mense wat nié wil kapituleer nie; Maroela Media se godsdiens- en soortgelyke rubrieke wat gewild bly, want in Hom is daar immers versekering en hoop. Oop koppe met verruimde insigte is egter ook belangrik.

Verslawing kom maklik. Die jongste Rasmussenpeiling dui daarop dat al hoe minder Amerikaners veilig voel – en dié opname is voor die aanvalle in Parys gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

vermeende ·

Baie goed geskryf en aangenaam gewees om te lees maar die skrywer sit die pot mis op ‘n paar plekke.
Ons het nog nie anargie beleef nie en dit wat tot nou toe gebeur het was nog net ‘n wandeling gewees.
Dit is ook nie net Beeld en Rapport wat hulle skuldig maak nie. Al die media huis is skuldig aan eensydige nuus…… Maroela media ook!
Ek dink verder is daar net teveel analiste met teveel analises oor dieselfde onderwerp en almal verskil van mekaar.
Om heeltemal neutraal te skryf is ‘n kuns, maar voor jy dit kan doen moet jy eers alle politiese korrekte gedagtes verwyder.

Louis ·

Hoe verskil dié studente rebellie van dié van die apartheidsopstande.Eersgenoemde het die val van n verkeerde regering en ideologie in fokus gehad.Laasgenoemde is rebellie ter wille van rebellie en die hemel weet wat sit agter dit !!As die #feesmustfall” werklik legitiem was, wat ek graag sou wou, glo hoekom nie stop by hul bereikte doel nie!!

Wat gaan nou aan:studente wat werklike studente is wil nou hul jaar en baie hul finale jaar “in eer “afhandel.

En nou raak “studente” hand om die blaas met werkers!!Brand af,verwoes dieselfde instansies wat hul tegemoet gekom het met “legitieme”eise.En volgens alle aanduidings is hul n handjievol!!Logies,leiers,intelligent ???

Nee !!Dis n ander spel.Dis inderwaarheid “verdomming”!!

Gaan werklike studente nie opstaan en hierdie vigilantés aan die kaak stel nie!!En as hul nou werklik “studente”is sorg dat hul geskors word;alle agterstallige gelde verhaal word en meer nog hul aanspreeklik gehou word vir skade aangerig!!

Kapulitasie is die teelaarde vir tereur en tereur die speelveld van gesiglose lafaarde wat ongelukkig slaag omdat mense met verstand nie opstaan teenoor die minderheid idiote nie!!

Johann Marx ·

Louis, ek het meer as een student op kampus. “Gaan werklike student nie opstaan en hierdie vigilantes aan die kaak stel nie!!” Nee, Louis, hulle gaan nie. “Werklike studente” is nie daar om vigilantes uit te wys nie, hulle’s daar om hulleself beter te bekwaam sodat hulle van die wêreld ‘n beter plek kan maak deur die aanwending van hulle talente. Dit is die Universiteite en die regering se plig om die “vigilantes” te identifiseer en aan die kaak te stel…..maar doen hulle dit? Ons betaal deur ons nekke daarvoor…..dis tyd dat die universiteite begin om ‘n teenprestasie te lewer.

Johannes Meintjes ·

… en tog, ten spyte van soveel insigte onder ons mense, is daar steeds meer kantlynkommentaar en doodloopvergaderings as enige daadwerklike implimentering van Plan B en die se potensieele medewerkers. ‘n Verlammende en verblindende gees heers inderdaad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.