Nuuskommentaar: Terreur teen Sanral

Sanral-bedryfsentrum Foto: @sacrimefighters op Twitter

Sanral-bedryfsentrum Foto: @sacrimefighters op Twitter

Terroriste is dikwels van die grootste na-apers denkbaar, wat veroorsaak dat sekere soorte terreurdade in vlae uitgevoer word. Onder die bekendste voorbeelde was die vliegtuigkapings na Kuba, enkele dekades gelede. Dit is gewoonlik die werk van individue of baie klein groepies. Die groter organisasies soos Al-Kaïda laat hulle minder beïnvloed maar sal ook gou iets nuuts in sy arsenaal toevoeg as hy sien dat ‘n tipe terreurdaad “suksesvol” is, soos die gereelde ontvoerings van getuig.

Die bomdreigement en die twee pakkies wit poeier wat Sanral ontvang, en sy werksaamhede nou reeds drie keer binne enkele dae ontwrig het, dui ook nie op die werk van ‘n groot, georganiseerde organisasie nie. Die impak wat dié dade het, is egter “doeltreffend” en die deur is nou vir na-apers geopen.

Uit die sosiale kommentaar blyk dit dat hierdie optredes populêre steun onder baie mense het. Dat doelbewuste verbreking van wette ondersteun word wat aan die definisie van terreur voldoen, word klaarblyklik nie besef nie. Weliswaar vloei geen bloed nie, niemand word beseer nie en daar is geen strukturele skade nie, maar dit versag bloot die impak. As die skuldiges gevang word en verhoor word, gaan baie mense waarskynlik met ‘n skok besef hoe ernstig die gereg iets soos ‘n bomdreigement opneem.

Tog dui die openlike steun vir hierdie dade op die vlak van weersin wat Sanral ontlok. Baie mense sal meen dat Sanral se optredes op staatsterreur neerkom.

Waar Sanral en die owerhede blykbaar verwag het dat die verset teen die e-tol sal verminder, en dat die publiek daaraan gewoond sal raak soos wat aan talle ander sake gewoond geraak word soos verhoogde brandstofpryse, swakker munisipale dienste en ander, lyk dit op die oppervlak of verset eerder toeneem. Sanral se eie houding wat aan dikvelligheid herinner, help ook nie om die gemoedere te kalmeer nie.

Benewens die feit dat die e-tol in Suid-Afrika veel duurder is as soortgelyke stelsels in Wes-Europa, en ‘n groot deel van die fondse landuit gaan, neem die klagtes oor foutiewe rekenings toe en dit lyk nie of Sanral die nodige begrip vir hierdie frustrasies toon nie.

Van die probleme is voorsien, soos mense elders in die land wat al lankal foutiewelik spoedboetes uit dele van Gauteng ontvang waar hulle nog nooit was nie. En selfs al is die voertuig op die foto baie duidelik ‘n ander voertuig as die soort en kleur wat op die eNaTISstelsel geregistreer is, het die persoon wat so onskuldig betrek word, baie frustrasies en koste om uit dié tameletjie te kom. Boere moet byvoorbeeld tot hul verbasing sien van hul trekkers en selfs sleepwaens het in Gauteng se strate gaan rondjaag. Die korrespondensie – wat dikwels geïgnoreer word – en wat beëdigde verklarings en geregistreerde pos insluit is skaars afgehandel, dan kom die volgende boete omdat die persoon wat met die vals nommerplate rondry nie vasgetrek word nie.

Met die inwerkingtreding van die e-tol word hierdie leemte van eNaTIS eenvoudig talryke kere vergroot. Oorledenes en mense wat al lank in die buiteland woon kry rekenings, om maar enkele van die probleme te noem.

Al kry almal wat gereeld op die paaie ry wat e-tol hef die skyfies, gaan die probleme wat voortspruit uit onder meer die leemtes op eNaTIS nie opgelos word voor ook dit met groter erns aangepak word nie.

Die Verbruikerskommissie gaan klaarblyklik baie besig gehou word as Sanral nie aanpassings in sy styl maak nie.

‘n Voorbeeld van hoe moeilik dit is om e-tol lewensvatbaar te bedryf, blyk uit die geval in Portugal. Dié voorbeeld het die afgelope ses maande talle stertjies in die sosiale media bygekry, maar die mees geloofwaardige weergawe is dat ‘n wanbetalingskoers van 19% daardie land se stelsel op ‘n verlies laat loop. Die administratiewe belading slurp te veel inkomste in. Intussen wyk duisende motors na ander paaie uit wat vertrap word, pryse word opgejaag en uiteindelik word minder werksgeleenthede geskep.

Ver van Gauteng, in die Oos-Kaap, vertel pres. Jacob Zuma aan sy gehoor “die grondliggende oorsaak van armoede, werkloosheid en ander maatskaplike probleme is gesetel in die wette van die apartheidsregime,” aldus RSG-nuus.

Dit is seker onrealisties om te verwag dat die ANC in die aanloop tot die verkiesing sal erken dat hy self deur korrupsie – soos onder meer weerspieël word op die tuimeling op die korrupsiepersepsie-indeks, deur wanbestuur deur kaderontplooiing, die aanwending van adviseurs wie se advies veel te wense oorlaat en vele meer darem ook nou al ‘n aandeel moet hê dat dinge nie koers wil kry nie.

Nie eens teenkanting vanuit Cosatu-geledere teen e-tol laat skynbaar die regering herbesin nie.

Maar om Sanral te teister met dade wat per definisie en volgens die regstelsel dade van terreur is, kan ‘n mens met die bas in die tronk laat beland. Daar is ander, wettige maniere om verset te toon, en uiteindelik kan die regering ook by die stembus gestraf word.

Moenie hierdie onwettige optredes na-aap nie, want in plaas van om ‘n kitsheld te wees kan so iemand ook ‘n ander na-aap deur die tronkdeure agter hom te hoor toeklap.

Lees ook:
Minister veroordeel Sanral-veiligheidsaanvalle
Sanral-hoofkantoor ontruim na bomdreigement
Sanral oorweeg aparte posbus
Sanral-poeier is skadeloos
Sanral wéér ontruim 
Sanral: Alles weer normaal ná antraksskok
Verdagte wit poeier by Sanral nie antraks nie
Poeier is skadeloos – Sanral

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.