Nuuskommentaar: Terreur van die “internetgwarre”

Die onlangse bydrae van dr. Piet Croucamp tot Maroela Media se Groot Debat het ‘n stroom reaksie ontlok. Byna voorspelbaar het ‘n deel van die kommentare, of eerder, kômmintare, juis die stereotipes wat Croucamp geskets het, “bevestig.”

In Nieu-Seeland word ‘n groep mense nou afgepers na hulle kaalbas aan geselsies met swendelaars op die internet deelgeneem het.

Het die internet die speelveld van ghwarre geword, en hoort dit so? Maroela se Goot Debat, soos talle ander webwerwe wat debat stimuleer, het ‘n deelnemerskode wat ordentlikheid probeer verseker. News24 se kommentare bevat gereeld bydraes van mense wat kla dat hul kommentare verwyder is, terwyl sommige publikasies gewoon die kommentaargerief gesluit het weens die oormag vitrioel wat daarop losgelaat is.

‘n Nuwe Rasmussen-peiling toon dat 29% van die respondente meen die internet het ‘n negatiewe invloed op die Amerikaanse kultuur. Altesaam 31% meen egter die internet se impak op die Amerikaanse kultuur is goed, hoewel dit aansienlik minder is as die 37% wat in April nog hierdie mening toegedaan was.

Wêreldwyd is daar nou ‘n veldtog om die internet “skoon” te maak. Die probleme wat regerings, groepe en individue met die internet het wissel van pornografie, veral kinderpornografie, tot staatsgeheime wat doeltreffend uitgeblaker word, maklike “resepte” vir die maak van bomme, die verspreiding van geweldfilosofieë, maar ‘n groot deel daarvan handel oor wat die naam gekry het van “kuberboelies” wat ander in die kuberruim teister.

Die probleem word ook in Suid-Afrika al hoe groter.

Oor die jare het hierdie kuberboelies verskeie name gehad – soos  bloggogga’s – en hulle is aanvanklik byna desperaat deur die diensverskaffers beskerm op grond van die vyeblaar – die reg op privaatheid. Crimen injuria en kriminele laster bly egter misdade, en die insluiting van die internet hierby is onder meer reeds deur ‘n uitspraak van die appèlhof bevestig. Enorme gemeenskap- en mediadruk op diensverskaffers om die identiteit, vir vervolgingsdoeleindes, van byvoorbeeld die persoon wat ‘n “lys” van skoolmeisies op Mxit geplaas het, het die gety teen die beskerming van hierdie probleemgevalle laat draai.

Bitter baie navorsing moet nog gedoen word om te bepaal presies hoekom die skynbaar onskuldige Vaalseun in ‘n opperste boelie ontaard wanneer hy agter die toetsbord inskuif.

Die menslike brein is uiters kompleks. Pas was Japan opgewonde omdat hul superrekenaar, K, die vyfde sterkste superrekenaar ter wêreld, daarin geslaag het om een sekonde van een persent van die menslike breinaktiwiteit te simuleer. Dit het hierdie superrekenaar wat ‘n saal vol staan veertig minute geneem om hierdie een sekonde van een persent van ‘n mens se brein te simuleer.

Baie kan waarskynlik afgelei word uit die navorsing van die Sentrum vir Geregtigheid en Misdaadvoorkoming dat 7 uit tien van hierdie kuberboelies self die slagoffers was van boelies. Moontlik is dit ‘n soortgelyke verskynsel as die voorbokke van wrede ontgroeningspraktyke wat self ‘n jaar of wat tevore hul ontgroening die slegste “gevat” het – dié ervaring word nou op ander uitgehaal, en ‘n bose kringloop van al erger wanpraktyke ontstaan.

‘n Vroeë diagnose toe die verskynsel amper saam met die populêre gebruik van die internet ontstaan het, was dat dit gebeur het bloot omdat dit kán. “Veilig” gekoester agter ‘n skuilnaam kan smeerveldtog op smeerveldtog teen bykans enigeen gevoer word. Die duidelike bewustheid dat dit uiters lafhartig is, is verdoesel deur die kuddegevoel onder die leiding van diensverskaffers wat dit “geregverdig” het dat die internet die plek vir “robuuste debat” is.

Maar uiteindelik moes die bottel bars. Te veel eerbare mense het om byna enige denkbare rede die slagoffer van, wat Amerikaners “crackpots” noem, geword. Weens die gewildheid van die internet maak dit nogal saak as daar ‘n stukkie suiwer laster oor iemand op die internet vashaak. ‘n Werkgewer kan nou heel maklik ‘n aansoeker se naam Google, en op hierdie inkriminerende stuk twak, waarvan die aansoeker dalk heeltemal onbewus is, afkom. ‘n Politikus se loopbaan kan geknou word as ‘n stukkie twak van die internet af in omloop kom, en behoorlik loop voor die slagoffer eens daarvan bewus word.

Onder die mees onverstaanbare verskynsels is mense wat “namens” die Here ander mense, ook ander Christene, erg met die kuber-teerkwas bydam.

Daar is al gevalle aangemeld dat van hierdie “super-Christene” bedrog ingespan het om hul “vyande” met valse inligting te diskrediteer, soos om verskeie kommentare onder verskillende name te plaas en sodoende die indruk te probeer skep dat dit wyd-verteenwoordigend is. Die diensverskaffers spoor dit dan na dieselfde rekenaar terug.

Van hierdie laster “namens die Here” is teksboekgevalle van wat nié die vrugte van die Heilige Gees is nie, maar wat juis die eienskappe van die listige slang se slegte vrugte dra. (Die lys van Goeie en slegte vrugte soos saamgestel uit verskillende dele van die Bybel verskyn aan die einde).

Die meeste kundiges meen dat hierdie kuberboelies geïgnoreer moet word, omdat reaksie juis is wat die boelies soek. ‘n Reaksie is bykans gewaarborg om die onsmaaklikheid te laat vererger. Maar wat daarvan as die lasterlike onwaarhede op ‘n webwerf beland met ‘n Bybelse naam, en skynbaar as die waarheid staan wat die slagoffer groot skade kan berokken?

Dit is egter duidelik dat daar dwars oor die wêreld weerstand teen kuberboelies aan die ontwikkel is, en dat die een diensverskaffer na die ander hul samewerking begin bied om hierdie euwel te bekamp.

Hoe gouer, hoe beter, sodat die kuberruim sonder hierdie negatiewe element sy potensiaal beter kan ontwikkel.

Die goeie vrugte van die heilige Gees, Verstaan die genade van God, Die goeie, Regverdigheid, Waarheid, Leer wat gee God vreugde, Liefde, Vreugde, Vrede, Geduld, Vriendelikheid, Getrouheid, Sagmoedigheid, Selfbeheersing, Inskiklik, Vol genade, Onpartydig en Nie veroordelend

Die slegte vrugte; Deelname aan ongehoorsaamheid, Dade wat in die geheim gepleeg word te erg om te noem, Verwaandheid, Uitlokkend / skoorsoekerig, Jaloers wees, Selfsugtig, Vertel leuens, Skynheilig en Veroordeel kwaadwillig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kobus Swart ·

Trolle op kommentaar kan soms irriterend wees maar is dalk nodig om twee kante van die munt te sien? Vat dit weg en jy het gesensorde propaganda.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.