Nuuskommentaar: Terreurherdenkings, versoening en Malema

Argieffoto

Argieffoto

Twee herdenkings van terreurvoorvalle, asook Julius Malema se hofverskyning vandag, noop mens om te besin oor die kompleksiteit van versoening. Suid-Afrika se posisie is ontsettend kompleks en word boonop deur uiteenlopende persepsies bemoeilik.

Dit was gister die eenjarige herdenking van ʼn ISIS-aanval op die Bataclan in Parys, waartydens vyftien mense omgekom het. Dit was deel van ʼn reeks aanvalle in Parys en Frankryk het sedertdien onmeetbare verliese aan die hand van ISIS gely. Sommige slagoffers is nog in die hospitaal, maar veel meer dra geestelike letsels, soos die instink om op loop te gaan as hulle ʼn onverwagse geluid hoor en hulle wantrou mense om hulle.

Dit was egter nie die enigste terreurherdenking nie. ʼn Bom van die Ierse Republikeinse Leër het in November 1987 elf burgerlikes in die dorp Enniskillen in Noord-Ierland, op die grens met die Ierse Republiek, se lewens geëis. Dié herdenking staan nou as “Remembrance Day” bekend.

Met ʼn onlangse besoek aan die dorp, om te kyk hoe versoening gevorder het, het joernaliste skoliere van sowel die Rooms-Katolieke skool op die dorp, as die Protestantse skool, saam op die skoolterrein gevind, heerlik aan die speel. Die twee skole se uiteenlopende uniforms verklap die skool waar die kind opvoeding kry.

Die geleentheid is ʼn gedeelde opvoedingsdag, waar leerlinge van die een skool ʼn dag lank saam met die kinders van die ander skool skoolgaan. Die idee om by die kinders te begin om versoening in die hand te werk, het by een mens in sy kantoor ontstaan, maar word nou in baie lande regoor die wêreld ingespan waar daar skerp verdelings is.

Voordat so ʼn gedagte egter as universele versoeningsmodel opgehemel kan word, moet mens egter dadelik in gedagte hou dat tyd nie altyd die enigste faktor is wat versoening moontlik maak nie.

In Ierland, in die Republiek en in Noord-Ierland, woon immers Iere en hulle verteenwoordig Ierland in verskeie sportsoorte. Met die Britse besetting van Ierland is heelwat Skotse Protestante op veral die noordelike deel van Ierland gevestig, wat lojaal aan die Engelse / Skotse kroon was en eintlik meerderwaardig jeens die Rooms-Katolieke, “inboorlinge” opgetree het.

Baie groot vyandelikhede het sedertdien plaasgevind, maar Brittanje en Ierland is lank reeds op vriendskaplike voet. Behalwe vir Protestantisme, is daar weinig spore oor van sommige Iere se eertydse Skotse herkoms.

ʼn Voortgesette vyandigheid is nou soos ʼn vis op droë grond.

Versoening is “maklik,” hoewel kompleks, met heelwat vendetta-tipe herinneringe by individue en groepies wat mettertyd rustigheid moet verkry. ʼn Vorm van restitusie is ook plek-plek nodig.

Wanneer heterogeniteit egter heel ander perspektiewe oor die “gedeelde” verlede bly voed en veral nog moedswillig polities geplooi word, is dit baie ingewikkelder.

Julius Malema het vandag in die landdroshof in Bloemfontein verskyn. Hy word aangekla omdat hy ondersteuners, of swart mense in die algemeen, aanhits om grond te beset.

Malema laat heel dikwels blyk, veral as hy bruin gehore toespreek, dat hy wel deeglik bewus is daarvan dat swart mense nie die oorspronklike inwoners van die land was nie.

Hy “oorkom” die probleem deur periodiek te verwys na die grond wat oorspronklik aan die “inboorlinge” behoort het, wat klaarblyklik die swart mense insluit, maar wit mense wat byna gelyktydig seelangs die land bereik het, uit te sluit.

Hiermee kan hy die persepsie voed dat blankes die grond van swart mense gesteel het, ʼn persepsie wat onder meer in die een of ander vorm deur pres. Jacob Zuma gekoester word en waaroor hy ook al klagtes van haatspraak by die Menseregtekommissie op die lyf geloop het (maar die kommissie maak skynbaar net onder regsdruk vordering).

Maar hoe wyd loop hierdie persepsie?

In  2008  het die Matie, Charl Swart, sy meestersverhandeling, Public Opinion on land reform in South Africa, voltooi.

Om tot sy gevolgtrekkings te kom het Swart die data van verskeie meningspeilings ontleed. Hoewel hy deurgaans die liberale en die bevrydingsmodelle van demokrasie teen mekaar gemeet het, het hy ook verreken hoe persepsies deur kultuur, historiese perspektiewe, die invloed van arbeidswetgewing op die landbou, die institusionalisering van segregasie, die stigting van die ANC en ander faktore die perspektiewe beïnvloed.

Die verskille in perspektiewe blyk onder meer uit die antwoorde op die stelling: “Blankes besit grond wat hulle van swart mense gesteel het.” Terwyl Afrikaans- en Engelssprekendes meestal skerp hiervan verskil, stem die meeste swarttaalsprekers hiermee saam. Trouens, bitter min verskil hiervan.

Onder die Zoeloesprekendes, stem 51% baie sterk saam met die stelling en meer as 80% stem saam. Onder Afrikaanssprekendes stem 8,2% sterk saam en net 13,5% stem saam. Die syfers vir Engelssprekendes is 18,2% wat saamstem en 9,5% wat baie sterk saamstem. Die impak van die post-1994 werklikheidsvoorstellings blyk daaruit dat meer Afrikaans- en Engelssprekendes in 2007 dié menings oor gronddiefstal toegedaan was as in 2004, toe die vorige opname gedoen is.

In sy opsomming skryf hy: “Verskillende groepe het nie net verskillende perspektiewe oor grondhervorming nie, maar ook oor hoe die oppergesag van die reg en transformasie binne ʼn demokrasie uitgeleef moet word.

“Hierdie fundamenteel kontrasterende menings, ten opsigte van hierdie sleutelelemente van demokrasie, illustreer Suid-Afrikaners het uiteenlopende menings oor demokrasie in die vorm van ondersteuning van hetsy die liberale- of bevrydingsmodelle van demokrasie.

“Hierdie modelle is as twee duidelike en afsonderlike interpretasies van demokrasie voorgestel en beskryf. Hierdie twee modelle verteenwoordig skerp uiteenlopende normatiewe beskouinge oor demokrasie en bied daarmee saam botsende beleidsvoorskrifte vir demokratiese konsolidering, insluitende beleid oor grondhervorming.”

Dit lyk nie asof die land gou kan bekostig dat Swart se navorsing onder die stof kan beland nie.

Die feit is egter dat Malema van sy standpunte, wat in baie kringe as haatspraak teenoor blankes beskou word, op persepsies vestig wat nie deur die meerderheid van die wit bevolking gedeel word nie. Hy slaan dus eiehandig klowe in enige versoeningspoging. Hiermee erodeer hy die poel van goedgesindheid wat by ʼn breë deel van die gemeenskap bestaan.

Dit stuur ook “versoeningspogings”, deur onkundiges wat die kompleksiteit van versoening in ʼn heterogene omgewing onderskat, by voorbaat na die maan. Restitusie as oplossing is sinneloos, solank daar sulke uiteenlopende perspektiewe is. Die mens reageer immers op sy persepsie van die werklikheid, eerder as die werklikheid self.

Suid-Afrika het nie die luukse van Enniskillen in Noord-Ierland nie.

Malema appelleer teen die grondwetlikheid van die wet waarkragtens hy aangekla word, maar belangriker, hy aanvaar nie die historiese werklikheid wat sy aansprake weerlê nie. Daar rus ʼn belangrike onus op ʼn rolspeler om tydens die appèl in die hooggeregshof onweerlegbare feite oor die land se grondgeskiedenis op die tafel te lê, sodat regspraak voortaan op feite en nie verkeerde persepsies nie, gevorm word.

Versoening kan wel in die kindertuin begin word, mits mens nie met kwessies, soos moedertaal, karring nie. Maar as die persepsies oor die verlede nie ook reggestel word nie, gaan die Malema’s van die tyd dinge beduiwel.

Versoening is ʼn holistiese proses waar faktore soos taal, geskiedenis, die sosio-ekonomiese, ras, kultuur, godsdiens, horisontale nie-paternalistiese kommunikasie en vele meer en die persepsies van al hierdie faktore, ʼn rol speel.

Om selektief te raak in die aanspreekmodel, soos net ʼn staatkundige oplossing te probeer vind, of net deur sosiale integrasie, is soos die dood in die pot.

Suid-Afrika het nie die luukse van elkeen wat die land na sy eie persepsies probeer skik nie. ʼn Gesonde, universele feitebasis is nodig, en dit gaan nie moeiteloos gevestig word nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johann

As ek dus reg verstaan, het Swart se navorsing gegaan oor die persepsies van mense oor die kwessie en nie oor die waarheid nie? Word die verdraaide persepsies van mense, na hulle disinformasie gevoer is, dan nou as die waarheid deur hom en andere voorgehou?

Milan

Maroela gaan my kommentaar in alle waarskynlikheid weer afgooi. Ek herhaal my opmerking van 2 weke gelede: Mnr. Malema se uitlatings veroorsaak dat toekomstige konfrontasie onafwendbaar is.

Ou Erdvark

Baie politieke opportuniste floreer en teer op die ongeskooldheid van ‘n groot deel van die land se bevolking, dat die ongeskooldes nie die landsgeskiedenis ken nie, en hulle nie eens die koerante kan lees om eie menings te kan vorm nie. Dit maak van demokrasie en versoening in Suid-Afrika ‘n volslae klug. Hoe kan sulke ongeskooldes oor kultuurgrense bruê bou? Persepsies word geplant en uitgebuit. Suid-Afrikaners moet fokus op primêre skoolonderrig sodat ALLE kinders kan lees, skryf en oor basiese rekenvaardigheid beskik. Suid-Afrikaners moet eers leer kruip alvorens hulle kan loop, hardloop, swem en vlieg en op ekonomiese gebied wêreldwyd… Lees meer »

callie

My kommentaar word ook gereeld afgegooi. Feit bly as jy iets bly herhaal skep jy n persepsie. N persepsie word baie gou as die waarheid aangeneem al is die persepsie vals of totaal verdraaide waarhede. Vra weer, hoekom is daar n persepsie dat die witman die grond gesteel het Slegs omdat die Malemas en Zumas dit bly herhaal en niemand stel die feite reg nie. Wat nie meer vir my net n persepsie is nie is dat almal behalwe die wittes van die land kan doen en se wat hulle wil. Malema kan op n openbare verhoog noem dat wittes… Lees meer »

Karring

Daarby is die radikale persepsie gebou op swak geletterdheid.