Nuuskommentaar: Tersiêre Afrikaans en kulturele volksmoord

afrikaner vraagtekenDie IS het pas weer groot ontsteltenis veroorsaak toe hy ’n video op die sosiale media geplaas het waarin getoon word hoe dié organisasie antieke beelde en voorwerpe uit die Assiriese tydperk in ’n museum by Mosoel in Irak verwoes. Volgens die kommentaar op die video is dit in opdrag van die Koran.

Een van die instansies wat met groot ontsteltenis reageer het, en dit kulturele volksmoord genoem het, was Unesco. Unesco het ’n spoedsitting van die VN se veiligheidsraad aangevra.

Intussen het ’n dispuut in die kleine losgebars. Kenners meen die film was “toneelspel” en dat die beelde wat stukkend geslaan is, nie die ware Jakob was nie. Dit breek eerder soos gipsafgietsels. Dit troos kwalik, want dit is bekend dat die IS ’n deel van sy bedryfskoste dek deur antiekhede uit Irak en Sirië op die swartmark te verkwansel. Trouens, daar is in argeologiese kringe ’n meningsverskil oor of die swartmarkhandel hierin so ’n slegte ding is, want die oorloë in die gebied het al onberekenbare skade aan die antieke erfenis aangerig. Om dit weg te smokkel verseker ten minste dat dit in die hande van mense wat omgee, beland – en heel dikwels in die hande van bevoegde owerhede.

Die Assiriese ryk, wat van ongeveer 2 500 voor Christus tot ongeveer 600 voor Christus bestaan het, bestaan nie meer nie. Die hedendaagse Assiriërs, ’n uitgedunde volk wat verspreid van Turkye oor Sirië tot in Irak woon, aanbid al duisende jare nie meer die afgode van destyds nie. Trouens, hulle is meestal Christene, en vorm in die meeste Midde-Oosterse lande die kern van die Christen-minderheidsgroepe. Hulle is al verskeie male aan volksmoord onderwerp, soos aan die begin van die twintigste eeu in Turkye, en meer onlangs in Irak. Groot dele woon in diaspora, met onder meer Australië wat ’n beduidende Assiriese gemeenskap het.

Die Soenie-vertakking van die Islam, waaruit Al Kaïda, Al Shabaab, Boko Haram, die Taliban en die IS hul inspirasie kry, die neo-Salafisme, het bekendheid verwerf vir die afbreek van heidense beelde, en selfs Islam-heiligdomme. Die Taliban was byvoorbeeld op die lippe van bewaringskundiges toe dit enorme Boeddha-gravures met plofstof vernietig het. Dié beelde dateer van ’n tyd voordat die Islam na Afganistan versprei het. Dit het eeue se Islam-beheer ontsnap voordat dié radikale vertakking dit vernietig het.

Toe radikale Moslems Timboektoe oorgeneem het, het die rebelle internasionale ontsteltenis veroorsaak deur praalgrafte te verwoes. Terwyl die neo-Salafiste praalgrafte as ’n vorm van mensverering beskou, beskou ander dit as bedevaartsplekke. So is sjeg Joesoef se praalgraf naby Kaapstad ’n bekende bedevaartsplek vir Moslems in Suid-Afrika.

Die IS het ook nie gras onder sy voete laat groei om praalgrafte in die gebied wat hy verower het, af te breek nie.

Maar presies hoe ver is hierdie optrede, wat Unesco kulturele volksmoord noem, verwyder van wat ons in Suid-Afrika ervaar? Dit is soms moeilik om te glo dat daar nie ’n aanslag teen Afrikaans gevoer word nie. Dit wissel van staatsinstellings wat byvoorbeeld inbeldienste slegs in Engels aanbied, tot instansies in die privaatsektor, soos mediese fondse, wat eenvoudig jare lange kliënte meedeel dat hulle nie in Afrikaans gehelp kan word nie.

Plek- en straatname byt in die stof – dikwels by munisipaliteite wat die vrotste diens lewer. In die Vrystaatse hoofstad, Bloemfontein, word die hoofregeringsgeboue wat eens die Verwoerdgebou en die CR Swartgebou geheet het, nou onderskeidelik die Fidel Castro-gebou en die Oliver Tambo-gebou genoem. Die historiese Kerkstraat is sommerso onderhands na die Oliver Tambo-straat herdoop. Van die eertydse modelrepubliek is nou, by wyse van spreke, net oop rioolslote, droë krane en ’n hoë werkloosheidsyfer oor. Miskien is die term “kulturele volksmoord” te kras, maar dit is beslis ’n geval van kulturele imperialisme.

Dit is egter veral op die gebied van onderwys en tersiêre onderwys waar Afrikaanssprekendes gereeld moet hoor Afrikaans moet ’n terugtog maak omdat die handhawing van Afrikaans “uitsluitend” sou wees. Op die oog af lyk dit of iemand bloot hoef te besluit waar hy wil studeer, en op onderrig in Engels aan te dring, en hy moet sy sin kry anders is dit “uitsluiting.”

Dit sou wel sin maak as ’n Afrikaanssprekende by Ikeys, Wits of Rhodes kon opdaag en op onderrig in Afrikaans aandring, en as hy die verwagte toffie kry, oor uitsluiting kan kla. Van die grondwetlike bepalings oor gelykheid en die verbod op onbillike diskriminasie bly egter net ’n bloedkolletjie oor.

Dit is presies die argument wat dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, gebruik het toe hy gedreig het om die privaat Afrikaanse universiteit, Akademia, weens “uitsluiting” te sluit. Akademia sluit egter niemand op grond van ras uit nie.

Hoewel die internasionale reg, veral soos dit in Europa gevorm het, baie duidelik moedertaalonderrig tot op tersiêre vlak erken en aanmoedig solank dit prakties haalbaar is (Maroela Media het al verskeie kere hieroor in nuuskommentare geskryf), het dit tog nodig geword dat AfriForum en Solidariteit ’n verslag van die internasionale taalregkenner, prof. Fernand de Varennes, aanvra.

Dat De Varennes, volgens die berig, op die term “mensereg” fokus eerder as die term minderheidsreg, is nie vreemd nie. Veral in Europa word minderheidsregte as ’n integrale deel van menseregte beskou, en trouens, in die Suid-Afrikaanse Grondwet se handves van menseregte word sekere minderheidsregte, soos taalregte, geïmpliseer. Minderheidsregte het ook deur artikels 232 en 233 deel van die Suid-Afrikaanse reg geword, soos die land se verbintenis tot internasionale verdrae wat dit geteken het.

Waar dit kan, is dit egter seker wys om na hierdie regte as menseregte te verwys (wat dit ook is) omdat die term “minderheidsregte” sekere ministers, rasgedrewe transformasiedrywers en links-liberale se woede laat ontvlam. So het Gwede Mantashe in ’n onderhoud met Beeld die moontlikheid van minderheidsregte vir die Afrikaner uitgesluit. Uit die onderhoud was dit egter duidelik dat hy die gebruik van die woord Afrikaner as sinoniem met blank beskou, en so minderheidsregte as ’n verskoning beskou vir die verskansing van wit bevoorregting.

Dit plaas nogtans die verantwoordelikheid swaar op minderhede om omsigtig om te gaan dat rasmotiewe nie in hul optrede raakgesien word nie. Dit bied aan die regering die verskoning om die baba met die badwater uit te smyt … en kort voor lank ’n land te skep waar Engels die enigste taal is wat enige beduidende praktiese waarde het.

Selfs sonder hindernis sal Afrikaans langs die omvangryke gebruik van Engels swaar kry. Onder die jongste voorbeelde wat in Afrikaanse radioprogramme opgeduik het, is dat iemand in sy “kapasiteit” op die program opgetree het, in plaas van hoedanigheid, maar onder die invloed van die Engelse “capacity”. Ons hoor gereeld van iemand wat “nommers” aanhaal, in plaas van syfers. ’n Afrikaanse gemeenskapsradiokanaal in Bloemfontein hou vol om adresse se nommers voor die straatname te gebruik. Dis nie eens swak Afrikaans nie, dis glad nie Afrikaans nie. Die gebruik van vasskryf in Afrikaans is sienderoë besig om vir ’n ses geslaan te word.

Mag dit nooit gebeur dat Afrikaans in die stof byt nie, en as dit dan eendag tog gebeur, mag dit nie wees dat gesê kan word die Afrikaner het kulturele selfmoord gepleeg nie.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Dirk ·

Ek verstaan nie die vergelyking wat die skrywer hier probeer weergee nie.
IS is volgens alle aanduidings ‘n organisasie wat deur menslike wil geskep is om ‘n wêreldoorlog af te dwing. Let daarop dat ek nie sê IS ‘n terroristegroep is nie. Dit is nie. Dit is ‘n instrument tot ‘n doel. Dit is doelspesifiek in plek gebring. Deur wie?
Die feit dat daar ‘n besliste mark vir gesteelde artifakte is bevestig die stelling. As daar nie ‘n mark geskep was nie, kon daar nie geld in IS se hande beland het nie. Gooi Amerika en ander westerse lande nie wapentuig uit die lug neer nie, sou daar geen IS kon wees nie. Was daar nie wapensmokkelaars nie, was daar nie ‘n IS nie. Dit is so eenvoudig. Iemand wil IS beslis inplek hê en dit is daar.
IS is ook ‘n klinkklare bewys dat die VN ontman bly sedert die stigting daarvan. Anders as in vorige gevalle van beweerde bedreiging, het die groot moondhede nie gegaan vir enige Veiligheidsraad resolusie nie. Waarom nie? Distabilisasie van die Arabiese wêreld?- om dit gedestabiliseerd te hou soos Afrika onstabiel gehou word? Die USS Liberty voorval van 1968 kom onwillekeurig hier op.
Die huidige situasie in Suid-Afrika het sy oorsprong in die marxitiese Ashkenazi radikalisme. Die Gwede Mantashese van die samelewing is ‘n skandalige produk daarvan. Nie net val hulle die behoudende Afrikanerkultuur aan nie, maar vernietig hulle ook die verskillende swartkulture in Suid Afrika. Daarmee saam moet dit reeds duidelik wees dat die Afrikaner homself vernietig het deur die verwerping van sy eie morele waardes deur die liberalism te om arm en hulle weergawes van die geskiedenis te glo. So het die Afrikaan ook sy eie Ubuntu waardestelel vernietig. Beide onder die invloed van die marxitiese Ashkenazi liberale Gwede Mantashese van die lewe. Vandag se liberale is die produk van die Frankfurt skool wat maar slegs ‘n verder manifistering van die marxitiese Ashkenazi radikalisme is.
Die spoor van vernietiging loop diep deur die wêreldgeskiedenis en is nie eie aan Suid Afrika nie. ‘n Multikultuur word op die weie wêreld afgedwing. Net een klein staat is onaantasbaar. Hoe is dit moontlik? Dit is ook nie verbasened dat wêreldburgers – lees Ashkenazi liberals – van die klein staatjie tot so veel as 50% van alle politieke- en universiteitsposte in baie lande beklee nie.
Net in Suid Afrika was daar die volgende promenente Poolse Ashkenazies: Joe Slovo, Harold Wolpe, Ruth First, Albie Sacha, Ronald Segal, Dennis Goldberg, Rusty Bernstein, Solly Sachs, Helen Suzman, Ray Alexander, Ronnie Kasrils, Raymond Suttner, Ray Simons, Moishe Geller, Wolfie Kodish en vele ander.
Die enigste vergelykbaarheid te vinde tussen IS en die Afrikaner is die liberale mag agter die chaos. Die argitekte van ‘n Marxsistiese multikultuur. As dit is waarop die skrewer sinspeel is ek dit eens met hom. Waarom dan die versiersuiker?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.