Nuuskommentaar: Terug by die Lapa-dieet – kwesbares ontbeer

Bathabile Dlamini, minister vir maatskaplike ontwikkeling. Foto: Flickr/GovernmentZA

Bathabile Dlamini, minister vir maatskaplike ontwikkeling. Foto: Flickr/GovernmentZA

Die minister van maatskaplike ontwikkeling se stelling dat R753 per maand genoeg vir ’n maatskaplike toelae is, se woorde was skaars koud of die media snuffel dit uit dat sy self in ’n hotel teen R11 000 per nag tuisgegaan het. Dit plaas die ANC se aanspraak dat die party die enigste is wat vir armes omgee sleg onder verdenking.

In 1981 het die destydse minister van gesondheid, dr. Lapa Munnik, tydens ’n verkiesingstoespraak aangehaal uit ’n wetenskaplike studie wat bevind het bejaardes kan op R20 per maand oorleef. Die volgende dag het die Rand Daily Mail ’n hoofberig gedra, geskryf deur die vuurvreter-joernalis Helen Zille, waarin geskryf is dat die Natte sê ou mense kan op R20 per maand oorleef.

Die koeël was behoorlik deur die kerk. Kort voor lank het ’n baie streng dieet as ’n Lapa bekend gestaan. Vir baie het die minister enige hoop finaal verbeur om weer politieke geloofwaardigheid te herstel.

Bykans dieselfde verhaal het hom pas weer afgespeel. Die minister van maatskaplike ontwikkeling, Bathabile Dlamini, het gesê R753 is voldoende vir ’n maatskaplike toelae. Soos skilpaaie wat nie laat los nie, byt die media nou aan haar vas.

Anders as die geval met Lapa, het die minister nie uit wetenskaplike navorsing (selfs absurde navorsing) aangehaal nie. Die DA het haar uitgedaag om saam met hulle R753 se inkopies te gaan doen om te kyk hoe ver hulle kom, maar die minister bly kopsku. Nou word berig dat die minister aan die KwaZulu-Natalse Suidkus in ’n hotel tuisgegaan het waar die koste R11 000 per enkele nag beloop. Volgens haar woordvoerder gaan die minister nie op “skinderstories” reageer nie.

Die minister staan egter nie alleen in die geselskap van diegene wat hul name met ’n plank geslaan het nie. Baie onlangs het die minister van internasionale betrekkinge, Maite Nkoana-Mashabane, met mening haar, en die land se naam, in ’n onderhoud met Al Jazeera krater gemaak.

Maar daar is waarskynlik nie ’n minister in die reusekabinet wat hiermee by die prez kan kers vashou nie.

Bathabile Dlamini het eenvoudig oop oë in ’n situasie ingestap waar sy as ’n hedendaagse Marie Antoinette uitgebeeld word, wat glo ongevoelig sou gesê het as die mense dan nie brood het om te eet nie, laat hulle dan koek eet.

So kort voor ’n verkiesing is dit soos manna vir die opposisie.

Inderdaad herinner Suid-Afrika onder die ANC-bewind aan ’n eietydse adelstand in die vorm van ’n soustrein. So beweer die oud-sekretaris-generaal van die ANC, Cheryl Carolus, dat pres. Jacob Zuma se regskoste die afgelope tien jaar die belastingbetalers al meer as R1 miljard uit die sak gejaag het. As ’n mens die beskikbare bedrae, soos die meer as R1 miljoen vir sy verkragtingsaak bymekaar tel, gaan ’n mens dalk nie sommer by ’n miljard uitkom nie, maar dit gaan bepaald honderde miljoene rande beloop – geld wat die oorbelaste belastingbetalers moet opdok vir sake wat die president meestal verloor.

Teen hierdie agtergrond is Zuma en die ANC se aanspraak dat die ANC die enigste party is wat vir die armes omgee pikant, en leef miljoene mense in armoede, en word die ekonomie gesmoor – ook deur korrupsie, kaderontplooiing en vele meer, wat dit juis moeiliker maak om op ’n sinvolle manier mense uit die armoedestrik los te wikkel. Trouens, veral sedert Zuma aan bewind gekom het, vind kommentators dit moeilik om voor te bly met nuutskeppings om ten beste die regeervorm uit te beeld – terme soos ’n kleptokrasie, ’n Zuptakrasie en vele meer.

Sowat 16 miljoen Suid-Afrikaners ontvang die een of ander vorm van staatstoelae. Die sogenaamde oumenspensioen en ongeskiktheidspensioen is meer as die R753 wat onder skoot gekom het, maar byvoorbeeld te min om aan ’n behoorlike mediese fonds te behoort. En dan is nog nie kos, krag of klere gekoop nie, en nie ’n sent vir onderdak opgedok nie. Ander toelaes is bitterlik min, maar verhinder nie dat talle jong meisies wat nog op skool hoort in die ander tyd beland sodat hulle ’n klein staatstoelaag kan kry nie. Verskeie maatskaplike euwels ontwikkel, soos dat onlangs berig is dat by meer as 60 persent van die babageboortes in Suid-Afrika net die ma se naam aangedui word.

Weens die hoë werkloosheidskoers in Suid-Afrika leef daar dikwels ’n ongelooflike aantal familielede van een ou mens se ouderdomspensioen.

Die hartseer is dat daar baie Suid-Afrikaners is wat nie aldag eens ’n Lapa het om van te leef nie. Heeldag staan die hoopvolles langs spesifieke strate in die hoop dat iemand hulle vir die dag, of moontlik bietjie meer, in diens sal neem. Teen die aand staan sommiges nog daar sonder dat hulle selfs ’n sent kon verdien. Werkskuheid is ook ’n groot probleem.

Miskien is dit heel gepas dat Suid-Afrika se Grondwet voorsiening maak vir die reg om, let wel, vreedsaam te staak, maar nie pertinent voorsiening maak vir die reg om te werk nie.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Chrisjan ·

Gaan die maatskaplikes haar nou stenig?? Nee, hulle sal weer vir haar en haar party stem. Al 16 Miljoen van hulle.

Theresa B ·

Hulle kan almal baie babble en mooi broodjies bak, maar ek glo NIKS wat hulle sê nie. Hulle worry niks oor ons land en ons mense nie. Hulle dink net aan hulself! Dit is nou al soveel male bewys en dit gaan nooit verander nie.

Theuns ·

Dankie Herman vir jou”dit is hoe dit is” skrywe. Ek lees vanoggend kommentaar van Max en ek moet jou se ek dink die aarts liberalis het ‘n o in sy kop! Seker ook water gedra op sy kop toe hy jonk was! Laasgenoemde is daarin gelee dat hy die witmense en veral die Afrikaner se beleid voor 1994 vir vandag se probleme blameer. Die feit dat die ANC nie kan regeer nie is nie hulle skuld nie. Hy is voor 1994 gewaarsku dat die die huidige bestel die pad is wat ons gaan loop as die ANC oorneem. Dit is asof hy wraak gesweer het teenoor witmense omdat sy visie vir SA nie ge realiseer het nie? Wonder wat sy uiteinde gaan wees?

Theuns ·

Is daar een Swart Afrika land wat suksesvol was, geword het nadat hulle onafhanlikheid van ‘n koloniale bewind gekry het? Ek glo nie omdat die hele Afrika soos n Rommel hoop lyk! Max du Preez moet dalk die probleme vir wat met SA gebeur by die swart bevolking van Afrika gaan soek. Iewers moet n korrelasie wees? Ek dink ek weet maar mag dit nie se nie! Miskien kan Hermann vir ons kommentaar skryf oor hoe Afrika lande gelyk het voor onafhanklikheid en wat daarna gebeur het?

Pieter ·

Ja dis hoe dit gaan druppel in die emmer is genoeg vir ander maar hulle spandeer miljoene op hulle self!

Pam ·

Ja en so ry sy die ANC soustrein maar elke dag ! En almal verkeer lekker vreedsaam ! Die res van die land se mense wat soms nie weet waar die volgende bord kos vandaan gaan kom nie, is bysaak! Maak mens siek maar hulle wil stemme werf !

Nee wat ·

Hul reageer net as iemand met hul saamstem, sy behoort haar te skaam om vir 11 000.00 per nag te bly, dit kan vir ‘n hele paar gesinne huurgeld wees per maand in armer gebied, ja Minister daar is mense wat so bly en belaglik as jy dink mense kan van die bietjie geld oorleef. Ek wil darem graag sien hoe jy oor die weg sal kom daarmee, as jou verblyf soveel kos is dit nie eens jou middagete geld nie, sies.

Lance ·

Presies die anc se dit maar doen anders …jy word aan jou dade geken …talk is cheap ….anc bly maar n joke ….veral as hulle munisipaliteite nie eers die basiese kan doen soos om die strate te vee nie ….ek sien deur die mense.

Kobus ·

Herman, alles wat jy sê stem ek mee saam, behalwe vir een ding. Dit is verkeerd om te sê hulle slaan hulle naam met ‘n plank, hulle is lankal daar verby, hulle klap hulle self deesdae met die hele Wendy huis.

Dirk T ·

Sy ontwikkel net haar eie voordele. Kyk na ‘n plek van veilige bewaring vir kinders in Edenvale. Geen kos of toilet behoeftes. Die skool op die terrein, wat nie deel is van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, verskaf voedsel aan hierdie inrigting. Wat die Minister kwytraak is nie verbasend nie.

neelsie ·

R11,000.00 p.p.p.n :
Dit is maar net wat bekend geword het.
Daar is baie ander misbruike,dink rekenaar se vermoe te min om alles te noem.
Ekurhuleni , laasjaar R35miljoen gemors vir reise oorsee….ens ens ens….
Dit is mos belastingbetalers se beskeie bydrae tot die demokrasie!

Ella ·

Hoekom is sovele verhewe bo die wet, en hoekom wil die mense (wie die bedrae vasstel) nie met dié karige bedrag inkopies gaan doen en nog oorlewe nie? Hoe is dit moontlik dat die kiesers na meer as 20 jaar steeds nie die som kan maak nie?

John ·

Die idee is juis om soveel swartes as moontlik arm te hou want hoe anders sal apartheid en rassisme bly voortbestaan en die skuld voor kan kry. Die probleem wat die ANC nie voorsien het nie toe ‘n massa-aanwas by die swart bevolking bepleit is om die meerderheid demokratiese stem te bekom, is dat hierdie mense uiteindelik kos en werk nodig gaan kry. Die probleem het hulle nou ingehaal. Gaan hulle die Mogabe-bloudruk volg? ‘What else?’

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.