Nuuskommentaar: ‘Terug van weggewees’

Pieter Doorewaard en Phillip Schutte van Coligny wat skuldig bevind is aan die moord op ‘n 16-jarige seun (26 Junie 2017). Foto: ANA

Die titel van dié rubriek is ontleen aan ’n Belgiese strokiesreeks, in Nederlands vertaal as De sliert, en waarvan die een uitgawe as Terug van weggeweest, (of in Frans, La Ribambelle reprend du service) bekend staan.

Dit word nou algemeen as ’n soort spreekwoord gebruik, soos spesies wat feitlik uitgesterf het en nou “terugkeer”. Suid-Afrika het sy eie geskiedenis en realiteite wat ruim neerslag vind in ideologie, en uiteindelik politieke realiteite. Die nie-verbandhoudende werk met die titel, “Terug van weggewees” (later uitgegee as Terug van die doringpad) van Margaret Bakkes, is net baie oppervlakkig geraadpleeg.

Beteken die “rasseherries” op Schweizer-Reneke, Coligny en verskeie ander plekke dat apartheid net tydelik weg was, maar nou weer beslag kry en dat ons ons weer op daardie doringpad bevind?

Beteken die ANC se nuwe beleid oor grondonteiening sonder vergoeding dat kommunisme wêreldwyd feitlik “weg” was, maar nou in Suid-Afrika met mening terugkom?

Beteken die feit dat die eindelose aantal slaggate op Suid-Afrikaanse verkeersweë wat nou deur AfriForum en ander herseël word dat die staat faal en dat ons die “terugkeer” van die tegnokrasie beleef?

As ʼn mens oppervlakkige argumente en politieke propaganda as norm inspan kan ’n mens ’n eindelose lys saamstel, maar waarvan g’n snars geldig is nie. Maar sommige voorbeelde laat ’n mens wonder.

Onder die jarelange invloed van propaganda het die begrip apartheid algeheel ontaard, en kan vandag kwalik as iets anders as ’n sinoniem vir rassisme beskou word. In hierdie stuk word dus liefs na rassisme verwys, aangesien rassisme nie een van die doelwitte van die argitekte van apartheid was nie, maar eerder ’n soort onbedoelde neweproduk, en vir sommige ’n noodsaaklike euwel om die eindresultaat (wat dikwels as liberale beleid beskou was) te laat volvoer.

Dus moet die vraag eerder lui? “Beteken die Schweizer-Reneke-geval dat rassisme teruggekeer het?” Die antwoord is onbevange “nee”. Om terug te wees, moes dit immers weg gewees het. ’n Beoordeling van die geskiedenis sedert die NP die laaste apartheidswet teen 1992 afgeskaf het, bring duidelik aan die lig dat rassisme nooit dood was nie. Dink maar aan die heldeverering vir wyle Peter Mokaba, wat met die aanvuur van die lied “Kill the Boer, kill the farmer” berug geword het. Die lied is eers onder appèl deur die Vryheidsfront as haatspraak verklaar. Desnieteenstaande is die nuwe Wêreldbeker-sokkerstadion in Polokwane na hom vernoem. Rassisme staan geil in hierdie proses.

Julius Malema is berug vir sy omstrede en dikwels rassistiese uitsprake. Foto: Jonisayi Maromo/ANA

Of die destydse president, Jacob Zuma, wat by ’n spesiale saamtrek oor versoening na wit mense as “white supremacists” verwys het. Dit is ongeveer dieselfde as sou ’n wit president van enige land die k-woord gebruik het om na swart mense te verwys.

Die voorbeelde is legio, met mense soos Julius Malema wat voorop skree.

En die stelling word gereeld gemaak dat daar nou onder ANC-bewind meer rasgebaseerde wette op die wetboek is as onder die ou NP-bewind. En is mense wat dit goedpraat, al word enige term soos “transformasie” gebruik, enigiets anders as rassiste? Dalk soms onbedoeld, maar die praktyk skree gereeld ten hemele. Hoe dan as ’n wit kind pas met vyf onderskeidings matriek geslaag het, weens sy velkleur nie toelating aan ’n universiteit kon kry nie?

Hieroor sal menings verskil, maar dit verstrengel bloot die debat.

Die tweede deel van die argument is natuurlik of die mense wat vir die insident op Schweizer-Reneke “verantwoordelik” was, enigsins ’n rassistiese daad gepleeg het, of enigsins rassemotiewe gehad het? Op die oog af lyk dit immers of ’n taalbepaling in die Grondwet toegepas is.

Dit bied groot gemoedsrus vir diegene met ’n sin vir die positiewe, soos reg en regverdigheid, die waarheid en gesonde regspleging dat Solidariteit (lees hier) en AfriForum (lees hier) onderskeidelik in Schweizer-Reneke en Coligny aangebied het om in te tree.

Die argument dat rassisme ’n verskynsel is wat feitlik wêreldwyd terugkeer, en dat Suid-Afrika bloot ’n voorbeeld hiervan is, is bloot sydelings relevant. Die kern is dat die ANC dit met mening en hiperbolies voortgesit het.

Die ANC en die wêreldpers het feitlik deurgaans na staatsterreur as die handelswyse van die vorige regering verwys. As voortvloeisel hiervan verwys die ANC en ander min of meer eendersdenkende partye na mense wat weens onder meer dade van terreur, en waarin mense dood is, tereggestel is, as na vriende wat deur die vorige regering vermoor is. Zuma het byvoorbeeld pas weer so gemaak toe hy gekla het dat hy nou vir sy eie regskoste moet instaan (eintlik net dié wat deur die hof uitgewys is), terwyl mense wat betrokke was daarby dat van sy vriende deur die vorige regering “vermoor” is, almal staatsreghulp gekry het. Hierdeur vergelyk hy appels mildelik met pere.

Geldig of nie, die persepsie groei by baie dat minstens sommige voorsittende beamptes van hofsake die regspraak in die land kenmerke van staatsterreur, of minstens boendoehowe besorg. Hieronder tel die Reitz Vier-saak waar die voorsittende beampte (die hooflanddros van Bloemfontein) die vier onder meer gevonnis het vir iets waarvoor hulle nie eens aangekla is nie. Die vonnisse is onder appèl gewysig.

In die sogenaamde leeukamp-saak is die skuldigbevinding aan moord, waarvoor die beskuldigde reeds tronkstraf uitgedien het, onder appèl ter syde gestel omdat bevind is die oorledene was, volgens die getuienis van die patoloog, reeds dood toe die beskuldigde op die plaas opgedaag het. Daar was aansienlike kritiek uit regskringe op die regter se uitspraak in die sogenaamde doodskissaak. Die saak wag nog op appèl.

In die Coligny-saak was daar eweneens ernstige vrae oor die gemak waarmee die regter die getuienis van ’n getuie aanvaar het, ten spyte van skynbaar ooglopende teenstrydighede (deur die regter toegegee) en selfs waarskynlike onmoontlikhede. Die gevolg is dat die beskuldigdes se borgtog hangende vonnisoplegging teruggetrek is, en hulle maande lank, Kersfees ingesluit, agter tralies was en steeds is.

Dit is erg voortydig om na Suid-Afrika se regstelsel as “staatsterreur” te verwys, en selfs “boendoehof” is sekerlik oordrewe. Die punt wat egter hier gemaak word, is dat die regspraak moet waak dat (skynbare) rassevooroordele of elemente daarvan nie die regspraak insypel nie. Net soos sekerlik die oorgrote meerderheid regters van die vorige bedeling nie verdien het om hul eerbaarheid vertrap te kry deur as deel van die “terreurstaat- apparatuur” ingesluit te word nie.

Die waarskynlikheid dat van die beskuldigdes moontlik nie juis modelburgers of genieë is nie, is in wese irrelevant, aangesien die Grondwet gelykheid voor die reg “waarborg”.

Elana Barkhuizen, die onderwyseres van Laerskool Schweizer-Reneke wat geskors is en nou deur Solidariteit verteenwoordig word. Foto: Reint Dykema

Dat die howe tot dusver onder appèl sake reggestel het (hoewel daar bedenkinge kan wees oor die felheid van Penny Sparrow se vonnisse (verskeie vir dieselfde oortreding – ’n skynbare omseiling van die beginsel van “double jeopardy”) veroorsaak die nuut-bykomende sake dat die persepsies oor elemente van staatsterreur/boendoehof gereeld gevoed word.

Die skrywer besef ten volle sy bespreking hier sal deur baie as alarmisties en heeltemal buite orde beskou word, en dat die kritici politiek korrek waarskynlik volkome in die kol is. Die gevalle hierbo genoem kan egter nie weggepraat word nie.

Dit is ook nie heeltemal gerusstellend dat die konstitusionele hof al vir verskeie uitsprake onder die kritiek van regsgeleerdes deurloop nie. Selfs die FW de Klerk-stigting het etlike jare gelede verskeie uitsprake gelys waar die hof, na die stigting se mening, gefouteer het. Dit help ook nie dat die hof onlangs uitspraak gelewer het waar die swart regters almal ’n meerderheidsuitspraak gesteun het, en die wit regters dit met ’n minderheidsuitspraak nie eens was nie. Hoofregter Mogoeng Mogoeng se vloermoer in sy uitspraak oor Pretoria se straatname waarin hy AfriForum onbewese motiewe toegedig het, het ook ’n wrang smaak gelaat. Die aantal uitsprake wat instansies na internasionale forums wil neem om op ’n manier by reg en geregtigheid te laat uitkom, word al meer.

Miskien is dit uiteindelik hoog tyd dat iemand sy mond uitspoel.

Elke voorsittende beampte dra ’n baie groot verantwoordelikheid, en sy of haar eerbaarheid mag nie in gedrang kom nie.

Dit is hartseer dat dit nie die regspraak is wat genoegsaam self die vrede besweer nie, maar die optrede van burgerlike instellings soos AfriForum, Solidariteit, Outa en vele meer. Solidariteit en AfriForum verdien ondersteuning in hierdie sake. Dit dra by dat gewone, wetsgehoorsame burgers die regspraak as toevlug, en nie as vyand nie, beskou.

En ja, wees waaksaam om nie onnadenkend in ’n (rasse)slaggat te trap nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Annie Webb ·

PUIK ARTIKEL, Herman Toerien! Ek het Vrydagaand weer die twyfelagtige voorreg gehad om hier in die Kaap in geselskap te sit van mense wat al hulle inligting uit ons hoofstroommedia kry en dus volkome oortuig is dat wit mense oor die algemeen en die apartheidsregime in die besonder eintlik die vark in die SA verhaal is en dus ook verantwoordelik is vir die sosialistiese moeras waarin ons tans verswelg. (En dieselfde hoofstroommedia stel ook pres. Trump van die VSA as die groot wit vark in die wêreldpolitiek voor om hul duidelik linkse agenda te pas.) My gespreksgenote sien dus onouitder andere uit na die nuwe, meer “gebalanseerde” SA geskiedenis wat die ANC gaan komponeer, gebaseer op “mondelinge oorlewering.” Ek het daar gesit en stilweg dankie gesê dat die Hemelse Vader my genadig was en my genoeg verstand gegee het om vir myself te kan dink. En te kan oordeel wanneer dit wat ek hoor of lees, só polities korrek gekleur is dat dit alle ooglopende bewyse verdraai of ignoreer.

Chris ·

Ek het tog ‘n idee die regters laat hulle ook deur die gejil van die opruiende skare buite die hof, meestal gelei deur die EFF, beïnvloed.

Piet ·

Rassisme is normaal. Dit was van die begin af daar en sal bly tot en met die einde. Dit is God gegewe. Bestudeer die bybel behoorlik en raak wys.

Leon Pit ·

Stem Piet kom wys vir my met groot respek hoe lank is Apartheid in Amerika afgelas 50 jaar plus en steeds vier rassisme hooggety. Dis nie ons keuse gewees om wit of swart te wees nie God bepaal. Groete Leon

Piet ·

God bepaal inderdaad. Daarom het Hy vir Hom n afgesonderde volk uit verkies om Hom te dien nl Israel(12 stamme) Jesus het telkens herhaal dat Hy net gekom het vir die 10 verlore skape van die huis van Israel. Hierdie 10 stamme was verspreid oor die hele wes Europa en later die Evangelie na die meeste volke versprei. Die huis van Israel (10 stamme) en die huis van Juda (hoofsaaklik 2 stamme) sal in die toekoms herenig
soos geprofiteer deur hoofsaaklik Esegiel maar ook ander profete.

Dries du Toit ·

Dit is so verblydend dat daar mense is wat al hierdie dogmatiese bewerings van die sogenaamde geleerde akademici en politieke kenners as eensydige breinspoeling kan sien.

Thinus ·

Herman, uitstekend. Die geskiedenis herhaal homself, so seker as dag en nag! Solank as wat ons, mens gemaakte voorwerpe, as godelike wesens, met n skeppingsvermoeë, self sondes skep, deur dit te verafgod en self boetedoen vir menslike skeppinge, en sal ons deur die Mosesstoel veroordeel word. In Roemeine 13:1-7 :”Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is….” EN HIER BEGIN DIE LEUEN en ons voorbereiding vir die hel! ( Mat 23:15) Want 1 Sam 8:7 is nog steeds van toepassing Hand 10:10-16, en stel die Almagtige NIEMAND aan om oor sy volmaakte skepping te heers en the ontheilig nie! Daarom het Augustinus self gesê die mens kan nie die wil van die Almagtige met gebed beïnvloed nie, “laat U wil geskied” (Mat 6:10; Mat 26:42; Luk 11:2 en Luk 22:42) is net die bevestiging van 1 Sam 8:18:”.. en die Here sal julle in die dag nie verhoor nie.” Slegs deur die Waarheid, dws die Mosesstoel verkeerd te bewys dat dit nie n sonde is om Afrikaanse woorde as sonde af te maak nie, soos toe ons taxi ipv huurmotor te gebruik, (ek het banke soos n bobbejaan van rottangs agv my “gemixde” taal) Vandag het hulle die woorde in die Woordeboeke opgeneem en die angel is daar uit geneem! Hierdie “skelwoorde” is reeds op die Dakar konfensie aanvaar om verdeeldheid onder die Suid-Afrikaner te misbruik om deur verdeeldheid te regeer!

Paul ·

Dit is regtig ‘n skande soos hierdie regters ooglopend hul beroep se naam met ‘n plank slaan. Dit nou sonder om te blik of te bloos. Mens wonder wat deur hul gedagtes gaan as hulle die beredeneerde uitsprake skryf, hulle kon net sowel in die ANC parlement gewees het.

Alex ·

Baie goeie nuuskommentaar. Die realiteit van vandag se regspleging en diesulkes wat dink dit gaan verbeter onder hierdie multikulturele oefening wat n klaaglike gemors is droom drome.

Staan vir die eie, skep weer die eie met trots en durf en veg vir die eie – dit is vryheid. Nie dit wat die Afrikaner vandag het nie.

Koos de Meyer. ·

Ons land is in ‘n tregter in en ons gaan net verder daarin af. Kyk maar na die res van Afrika.

George Pelser ·

Die nie meer lank nie dan is die regsbank in SA ook soos die res van die land ten volle ge-“transform” . Dis net ‘n kwessie van tyd en dan sal die onlangse belaglike uitsprake deur veronderstelde afgestudeerde intelligente mense soos die regters aan die order van die dag wees. Die gordyn is stadig maar seker besig om te sak oor Suid Afrika. Dan word by vervang deur Azania.

Chris ·

Soos per die Coligny geval kan dit mos nie reg wees dat die twee manne, waar die enigste ooggetuie nou gesê het hy het nie die waarheid gepraat nie, nog in die trok sit en dan word hulle nog binne die volgende week of so gevonnis. Weet iemand wat die prosedure in so ‘n geval is?

Henk ·

Puik uitgelegde artikel. Mens lees dit met hartlikheid vir ons taal. Doen so voort.

Jongboer ·

Wonderlike artikel. Ek weet nie hoe oom dit reg kry nie.. oom dink en skryf so mooi.. oom is waarlik geseend met die gawe van kommunikasie. Wil oom nie politieke party stig nie ?‍♂️

Alida ·

Daar is nou n regsproses wat gevolg moet word. Hoop daai liegbek kry lewenslank vir regsverydeling.

Adam ·

Wat ‘n puik artikel!!! Ongelukkig is die rassisme-kurwe besig om opwaarts te neig en is dit huidiglik selfs meer sigbaar as in die apartheidsjare. Ek kan uit persoonlike ondervinding net noem dat die regbank nog nooit totaal vry van rassevooroordeel was nie, nie destyds nie en ook nie nou nie. Die groot gevaar is egter dat dit nou gepaard gaan met ongesonde oordeel. Dink maar aan Regter Masipa se gebrabbel tydens die Oscar saak wat op sy beste as ‘n regsdwaling gesien kan word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.