Nuuskommentaar: Terwyl die Seunse Weenkoor sing en kerm, brand die land met plaasaanvalle

Argieffoto: AfriForum Jeug

As die enigste Afrikaanse webwerf op die jongste lys van tien grootste nuuswebwerwe in die land, durf MaroelaMedia nie as belangrike rolspeler in die Suid-Afrikaanse mediawêreld misken en selfs grootliks geïgnoreer te word nie. Maroela Media het so pas selfs erkenning (hoewel in ’n negatiewe sin) by ’n selfaangestelde lid van die Seunse Weenkoor gekry. Die hele kwessie is egter baie kompleks. 

Terwyl die TLU-SA en AfriForum die jongste plaasmoord- en plaasaanvalsyfers bekend maak, het ’n paar lede van die Seunse Weenkoor in hul beste falsetto-stemme losgetrek, en veral Solidariteit, Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, en AfriForum met die teerkwas bygedam. Ook Maroela Media is bygedam.

Die jongste twee skrywes is dié van Gert van der Westhuizen, rubriekskrywer vir Netwerk 24, en Max du Preez, vryskut-rubriekskrywer vir Netwerk 24. Max wys nie regstreeks na die Seunse Weenkoor wanneer hy Solidariteit en Flip Buys, AfriForum en Maroela Media voor stok kry nie.Van der Westhuizen verwys wel by name na die term, en lê dit grootliks voor die deur van Flip Buys, wat volgens die skrywer dit gebruik om joernaliste te beskryf wat Solidariteit en AfriForum kritiseer. (’n Kykie na Google wys egter daarop dat die “verwerwing” van “lidmaatskap” van hierdie “koor” selde met kritiek op Solidariteit of AfriForum te make het. Sake soos om byvoorbeeld ’n pleidooi vir transformasie in sport te lewer, en dan diegene wat ’n merietestelsel met ontwikkeling vanaf grondvlak voorstaan as rassiste uit te maak, is eerder ’n resep om vir opname te kwalifiseer. Buys antwoord vandag op Gert se bewerings teen hom en Solidariteit.

Hoewel Google toon dat die meeste verwysings na die term, Seunse Weenkoor, uit die dampkring van Solidariteit kom (met Maroela Media ’n belangrike lanseerbasis, want byna elke berig en rubriek waarin die term gebruik word, word op ander platforms voortgesit en daarop uitgeborduur), is dit nie ’n skepping van Solidariteit of Maroela nie. Die huidige gebruik daarvan het by Tim du Plessis, oudredakteur van Rapport, en deesdae rubriekskrywer vir die koerant, gekom. Maar ook hy was nie die eerste nie. In 2010 het “oom Daan” op LitNet reeds na die Seunse Weenkoor verwys, en geskryf dit staan onder die leiding van ene Kobus de Klerk.

Die lede van die huidige Seunse Weenkoor is nie afgebaken nie. Lesers het ruim besluit wie “lid” is, en sommige rubriekskrywers het hulself gaan aanmeld. Die jongste is Van der Westhuizen, (politieke) rubriekskrywer van Netwerk 24. ’n Goeie voorbeeld van hoe die lesers iemand as “lid aanwys” blyk uit Gert Coetzee, redakteur van Volksblad, se rubriek, Brandpunt, waarin hy meld dat nog ’n Netwerk24-rubriekskrywer, André le Roux, “lid” van die “koor” is.

Sommige “lede” het skynbaar ’n klein byltjie met iemand te slyp, en Solidariteit en AfriForum kom by dié lede gereeld onder skoot. Solidariteit is selfs daarvan beskuldig dat dit ’n staatskaping op die Afrikaner uitgevoer het.

Dis ’n bonte verskeidenheid wat breedweg beskryf kan word as links-liberale, links-deurmekaardes, links-naïewes.

Hulle het nog iets gemeen – hulle verwys selde of ooit na plaasaanvalle of plaasmoorde. Kom ons let oor die volgende paar dae op of enige van die “lede” gaan mond uitspoel oor die jongste syfers.

Dit is skokkende syfers wat nie verdien om in meningstukke geïgnoreer te word nie. Al sou die uwe hoe graag apaties wou raak oor die skrikwekkende euwel, is dit onmoontlik. Hierdie rubriekskrywer se oudste seun is plaasbestuurder op ’n vrugteplaas net buite die Paarl. Kort voor hy byna ’n jaar gelede vir werk aangemeld het, is die ander plaasbestuurder in sy opstal aangeval, en met ’n mes in die been gewond. In die jong man se vorige betrekking by Bothaville het hy aan verskeie hakkejagoperasies na plaasaanvalle deelgeneem.

Dit is duidelik dat Suid-Afrika vanjaar ’n rekordjaar van aanvalle en moorde kan beleef. Grafika dui egter nie die wreedheid aan van dit waarmee plaasaanvalle dikwels uitgevoer word nie.

Of Maroela Media nou al meer dikwels die skyf van aanvalle van die Weense Seunskoor gaan word, is nog nie duidelik nie. Daar is egter redes waarom Maroela nie langer geïgnoreer kan word nie, soos dat Maroela die enigste Afrikaanse nuuswebwerf onder die toptien nuuswebwerwe in die land is. Die uwe sou graag wou glo dat die afwesigheid van politieke korrektheid by Maroela bygedra het om politieke inkorrektheid wyd in Suid-Afrika te laat posvat, maar die oorsaak hiervoor is waarskynlik eerder in die opkoms van die sosiale media te vinde.

Wat Maroela graag nie wil glo nie, is dat teregwysings van ander joernaliste, lede van die Seunse Weenkoor ingesluit, nie ontstaan uit naywer of skoorsoekery, of selfs blote kompetisie nie. Inteendeel, in hierdie rubriek is Max verskeie kere al met die heuningkwas bygedam.

Van die land se toprubriekskrywers, of hulle as sodanig erken word of nie, lewer gereeld bydraes uit verskillende ideologiese invalshoeke – nie om die Seunse Weenkoor te ontstel nie, maar die demokrasie te verbreed.

Die kritiek op ander is nie net teen die vermaarde lede van die Seunse (en een suster) Weenkoor nie, maar elke joernalis wat weens ’n politieke motief feite verdraai (of dit nou teen Solidariteit of AfriForum gemik is, of enige ander saak soos die “Hitler-insident” op die PUK, of lokvaljoernalistiek om ’n vermaarde, bejaarde regsman te kan aanhaal as sou hy bog praat – dit bly noodsaaklik dat die leserspubliek die regte inligting kry.

Senior rubriekskrywers kan verwag dat hulle nie so liggies daarvan gaan afkom as ’n junior nie.

In ’n uiterste geval waar die redakteur van ’n groot dagblad, en lid van die Seunse Weenkoor, duidelik so optree dat hy oorlog teen sy eie publikasie maak, verg dit drastieser optrede soos selfs ’n lesersboikot. Maroela steun immers elke Afrikaanse koerant, asook radiostasies.

Voorts, as deel van die Solidariteit Beweging, het Maroela betreklik vrye toegang tot ’n indrukwekkende lys kundiges en byvoorbeeld regsadviseurs.

Dit beteken Maroela kan nie maar net geïgnoreer word nie. Daar kan eerder hande gevat word, en as dit op vriendskaplike grondslag kan geskied, soveel te beter. Daar is reeds goeie bande gesmee met gemeenskapsradiostasies wat in Afrikaans, of óók in Afrikaans, uitsaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

MCH ·

Gedagtig aan die Anton Goosen liedjie, Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgesietfontein,
baie dankie vir die ingezoomdedodelikakkuraterangskikkingvanfeite artikel.

Neoton ·

Dis baie waar wat jy sê Herman. Ek is ‘n betaalde lid van Netwerk24, Ek lees ook graag Maroela Media. Die krake in Netwerk24 begin duidelik te wys. Veral as jy gaan kyk na hul kommentaar afdeling. Die moderator(s) is baie eensydig wanneer dit kom by die plasing van kommentaar.

Ekstreme linkse kommentaar word toegelaat, maar wanneer dit bevraagteken word, of jou kommentaar val nie in ‘n sekere politieke diskoers nie, dan word dit summier geblok.
Dit is uiters moeilik om ‘n debat te voer. Ek kan twee voorbeelde gee: Ek het kommentaar gelewer oor die vermindering van Afrikaanse skole – Dis summier geblok. Ek het al my T’s en C’s nagekom, dis seker omdat ek “linkse rassistiese swart organisasies en partye” genoem het. Die ander voorbeeld was oor die Anc wat die provinsies wil verminder: Ek het feitlike kommentaar gelewer oor hoe moeilik dit gaan wees vir hulle – dis ook summier geblok.
Ek het aan Netwerk24 ‘n e-pos geskryf en hulle aangevat daaroor, en die feit dat sensitiewe artikels wat juis oor rassespanning en plaasmoorde gaan die kommentaar baie vinnig gesluit word. Ek het nog geen antwoord van hulle gekry nie.

MCH ·

Baie dankie vir die inligting. Ek gaan nie eens probeer daar na aanleiding van u ondervinding daar nie. Doodgelukkig by MM.

marous ·

Snaaks dat hulle so uitgewyk het na die suide . Wonder of hulle sekuriteits heinings en groot honde het ….vir beskerming teen hul makkers se dade.

Kosie ·

Wat is die plaasmoordsyfer in vergeleke met einde Julie verlede jaar?

Herman Toerien ·

Hallo Kosie
Soos ek TLU SA se tabel se syfers verstaan was daar teen middel van vanjaar 47 plaasmoorde teenoor 71 vi die hele verlede jaar.

Oudste ·

Die waarheid is die motor se wiel is pap. Jy mag ‘n linksgesinde opinie van hoekom die wiel pap is, of ‘n regsgesinde opinie, waaroor die linksgesindes sal ween omdat jy so konserwatief is in jou benadering. Jy sien, die waarheid (die pap wiel) behoort losstaande te wees van enige opinie en tot tyd en wyl die pap wiel (die waarheid) nie omgeruil (aksie geneem word om die situasie te herstel na normaal sodat die voertuig kan beweeg) word nie, gaan opinies niks aan die heil van die pap wiel doen nie. Slegs daadwerklike aksies lei tot resultate. Daar word baie gepraat, maar eintlik word daar niks gese nie en dikwels word die persoon / persone wat die pap wiel gerapporteer het, klaar geklassifiseer as polities totaal verkeerd.

Papwiel ·

Ag asb! Daar is nie meer plek vir liberale nie, tot die ANC het hulle al uitgeskop!! En ou Max en Adriaan het net die ander week getjank en hulp gevra by blankes toe hulle deur die BLF geteister is! Ou manteldraaier! Hoekom gee julle nog enige publikasie of aandag aan ‘n has been soos ou Max??

John ·

Ek wil net weet hoekom die hoof van koor so suinig is met sy glo voorgenome bydraes van slegs R80 pm tot die Aateekaavee Edms Bpk se nuwe robotfabriek op Mars vir toekomstige setlaars net in geval ‘n boertjie dalk onder die eerstes sou opdaag? Ten minste moet hy sy boedel en sy plasie aan hulle bemaak om reg te laat geskied aan sy vele diepsinnige odes as koorleier van die immer-nimmers en hul valsgetrapte dreunsang…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.