Nuuskommentaar: Thaise staatsgreep het lang aanloop

Foto: Voice TV

Foto: Voice TV

Die staatsgreep in Thailand word wêreldwyd deur politici veroordeel, maar analiste is minder krities, en sommiges meen selfs dat die staatsgreep die enigste hoop op ‘n uitweg uit die gewelddadige politieke dooiepunt in die land bied.

In Thailand is daar ‘n baie duidelike onderskeid tussen stedelike en landelike kiesers. Die landelike kiesers is die meerderheid, en die politici wat hulle oortuig dat hulle in die beste belang van die platteland gaan regeer – al is die persoon hóé korrup – kry hul steun. Die bevolking is nie noodwendig onbewus van die skelmstreke nie – hul kultuur ag ‘n persoon wat oneerlik, maar oortuigend bly, baie hoog. Die stedelinge is egter meer aan Westerse en Islamitiese kulturele gebruike en opvattings blootgestel.

Die regeringsetel is egter in die hoofstad Bangkok waar die verkose regering aan die straatbetogings van die stedelike minderheid blootgestel is.

Hoewel die bevolking meestal tot ‘n vertakking van die Boeddhisme behoort, het die land se voorouers in hul trek na hul huidige woongebied in aanraking met die Hindoeïsme gekom, en is sterk beïnvloed, sodat die klasse-onderskeid betreklik skerp is. Die Thaise kultuur dui voorts op sterk individualisme, ‘n gebrek aan dissipline, en tot 1920 het die land hieroor nie oor ‘n vaste weermag beskik nie, hoewel verskeie oorloë teen buurlande gevoer is.

Selfs Thaise politici meen al lank dat ‘n politieke bestel wat op partypolitiek geskoei is, nie op die duur in Thailand sal kan slaag nie. Die invloed van individualisme is te sterk, en die kultuur van dubbelpratery maak dat ‘n politieke leier vandag ‘n bondgenoot het wat die volgende dag ‘n bondgenoot van sy opponent is.

Boonop maak die aanwesigheid van ‘n koning, deesdae grootliks seremonieel, die vind van oplossings moeilik, soos ‘n president wat argumentsonthalwe die landelike bevolking verteenwoordig, en ‘n premier wat die stedelike bevolking verteenwoordig.

Teen hierdie agtergrond kan daar dalk met groter insig geoordeel word oor die onafwendbaarheid al dan nie van die staatsgreep. Tipies van die Thaise kultuur was dit ook nie vanuit die staanspoor ‘n besliste staatsgreep nie – die weermag het aanvanklik bloot ‘n noodtoestand afgekondig waarin dit gehoop het politieke stabiliteit bereik kon word. Die individualisme en gebrek aan dissipline het egter die staatsgreep onafwendbaar gemaak.

Toe die hof onlangs premier Yingluck Shinawatra en nege van haar ministers afgedank het weens magsmisbruik, was daar al lank protesoptogte teen haar bewind en teen haar as persoon. Sy is die suster van ‘n voormalige afgesette premier, Thaksin Shinawatra, wie se bewind in ‘n militêre staatsgreep omver gewerp is. Hy het uit die land gevlug, en is in absentia skuldig bevind aan korrupsie, en woon nou as skatryk man in selfopgelegde ballingskap.

Thaksin het danksy sy gewildheid onder die landelike gemeenskap, wat hy oortuig het dat hy die meeste vir hulle sal doen, aan bewind gekom, en sy suster is op hierdie sentimente verkies. As skatryk mense met gevorderde oorsese kwalifikasies, en boonop deels van Chinese herkoms, het Yingluck en Thaksin min met die landelike Thaise gemeenskap in gemeen.

Yingluck is heel duidelik deur haar broer uit die buiteland deur afstandbeheer beheer. Dit is deur die opposisie as onaanvaarbaar beskou – benewens die aanklag van korrupsie is Thaksin beskou as die versinnebeelding van wat as “politieke korrupsie” beskryf is – om staatskontrakte so te bewimpel dat sy familie daaruit voortrek. Hy is voorts beskuldig van magsmisbruik.

Yingluck het in die oë van die opposisie die erfgenaam hiervan geword.

Na sy afgesit is, het die betogings voortgeduur, maar die waarnemende premier het geweier om te bedank, en het die weermag ingegryp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.