Nuuskommentaar: Tlok – Tlok! Wie’s daar?

Gister se tussenverkiesings landswyd, maar veral dié in Noordwes in die algemeen en Tlokwe (Potchefstroom) in die besonder het ongewoon baie belangstelling gewek. Dié belangstelling is veral groot omdat dit as ‘n soort kleedrepetisie beskou is van volgende jaar se algemene verkiesing, en ‘n aanduiding kon gee van of die onlangse gebeure in die ANC reeds ‘n bres in dié party se dominansie kon slaan. En of die DA hom as dié lewensvatbare plaasvervanger in hierdie bres kon vestig.

Voor te veel afleidings gemaak word, is dit nodig om te verstaan dat dié tussenverkiesings nie nou reeds vir projeksies oor toekomstige uitslae gebruik moet word nie. Dit kan hoogstens sekere sake belig, en vir partye aanduidings gee van hoe om die kiesers met die oog op volgende jaar se verkiesing te benader. In ‘n hele aantal tussenverkiesings, soos dié in Potchefstroom, Oudtshoorn en Mafikeng, het werklik baie uitsonderlike omstandighede afgespeel. In die algemeen is daar egter in elk geval net ‘n beperkte aantal afleidings wat gemaak kan word van munisipale tussenverkiesings se impak op latere nasionale verkiesings.

Verder moet in gedagte gehou word dat Agang (nog) nie deelgeneem het nie, en so ook nie Julius Malema se tragedie-sirkus nie. Die ANC het bepaald voordeel getrek uit die sirkus se afwesigheid, terwyl dit nog nie genoegsaam duidelik is wie die meeste vir steun vir Agang gaan bloei nie.

Die een gemene deler wat duidelik uit die tussenverkiesings blyk is dat daar nog harde werk vir al die partye voorlê voor volgende jaar se algemene verkiesing. Die wegblystem het oor die algemeen hard gepraat.

Die meeste belangstelling was by die Tlokwe-tussenverkiesing – wat op die laaste nog deur die kospakkie- en kombersskandaal ontsier is. Die ANC het die wyk behou, maar die stempersentasie was minder as 42%, met net 30% wat by een stembus opgedaag het. Die ANC het kwalik ‘n volstrekte meerderheid stemme getrek, naamlik 738, met ‘n onafhanklike wat 504 stemme getrek het. Die DA het ‘n teleurstellende vir hom, 196 stemme gekry. Daar was 32 bedorwe stembriewe – meer as wat Cope en die APC saam kon trek.

Die ANC het lank reeds die boodskap gekry dat om van sentrale vlak af sekere kaders as kandidate op wyke op te dwing, teen die gemeenskap se populêre keuse, in daardie wyke die ANC aan die hakskeen kan byt. Hoewel daar na die vorige munisipale verkiesing ‘n ondersoek was na ongerymdhede met die toepassing hiervan, gelei deur dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, is dit ‘n bloeifaktor wat die ANC bereid is om te verduur. Die sterk vertoning van ‘n onafhanklike kandidaat gaan dus nie ‘n rimpeling in ANC-denke veroorsaak nie, en sal waarskynlik in die algemene verkiesing, waar onafhanklikes by verstek uitgeskakel is, nie ‘n impak hê nie.

Trouens, in een van die Mafikeng-tussenverkiesings het een van die onafhanklike kandidate die ANC sleg afgestof – 658 stemme teenoor die ANC se 345. Boonop het nog ‘n onafhanklike kandidaat, met 317 stemme, in die ANC se nek geblaas.  Die stempersentasie was minder as 40%. In die ander Mafikeng-tussenverkiesing het die ANC maklik gewen, maar die stempersentasie was 13%.

In die Suid-Kaap het sake meer gelykop verloop. Die DA is nou in beheer van die Oudtshoorn-munisipaliteit na hy een van die drie tussenverkiesings daar gewen het. Met ‘n stempersentasie van onder die 50% het die DA met net meer as 150 stemme gewen. Ikosa, tot onlangs ‘n groot faktor in die gebied, is vermorsel.

In die ander twee wyke het die ANC met betreklike gemak die botoon gevoer. Ook in Plettenbergbaai kon die DA nie die knoop teen die ANC deurhaak nie.

In ander Wes-Kaapse tussenverkiesings, in Hermanus en George, het die DA die ander vermorsel, maar in Velddrif het die DA net-net die knoop teen die ANC deurgehaak.

Ook elders in Noordwes was dit duidelik dat die ontevrede ANC-kiesers in hierdie stadium eerder onafhanklikes as ander partye steun, of gewoon van die stembus wegbly. In ander provinsies lyk die ANC se posisie taamlik in beton gegiet.

Opsommend kan gesê word dat diensleweringsproteste en skandale binne die ANC ander partye nog min bevoordeel. Cope het ‘n enorme taak voor hom om as beduidende mag na vore te tree, en die uitslae sal dié party waarskynlik erg laat besin oor hoe om alliansie-politiek op dreef te kry. Agang sal baie skielik dramaties met ‘n kraglopie vorendag moet kom, of aanvaar dat volgende jaar se verkiesing ‘n ramp kan wees.

Buite die Wes-Kaap lyk dit in dié stadium of die ANC se sterkste opposisie van streekgebonde interne konflikte kom – en dat nie een van die ander bestaande partye op die oomblik oor die vermoë beskik om dié spanning in aardverskuiwings stemme om te sit nie.

In die politiek is een dag soms ‘n baie lang tyd, en die dag wat die Openbare Beskermer die Nkandla-verslag bekend maak, kan ‘n lang dag word.

Die uitslae beteken egter  nie dat die kleiner partye by voorbaat die handdoek moet inwerp nie. In die algemene verkiesing geld ‘n volledige proporsionele kiesstelsel, en ‘n kwart persent van die stemme verseker ‘n party van ‘n setel in die parlement. As die wegblystem in stemme omgesit kan word, kan die parlement na volgende jaar se verkiesing tog baie anders daaruit sien.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae