Nuuskommentaar: Tlokwe, demokrasie en geloofwaardigheid van politici

Betogers in Tahrir Square, Egipte, voordat pres. Mohamed Morsi ontsetel is Foto: Amr Nabil

Suid-Afrika en die Afrika-Unie het kommer uitgespreek oor die wyse waarop die Egiptiese bevolking van hul eerste werklik verkose burgerlike president, Mohamed Morsi, ontslae geraak het.

In Zimbabwe gaan die ongure Mugabe weer ‘n verkiesing tegemoet wat swaar in sy guns gelaai word.

In Suid-Afrika sluit die ANC geledere rondom die omstrede, ontsetelde burgemeester van Tlokwe…

Op ‘n kontinent waar die demokrasie nog sukkel om nes te skop, en waar Westerse lande neig om die hand toe te hou vir lande waar die demokrasie kortgeknip word, is dit te verstane dat daar kommer sal wees waar demokraties-verkose leiers ontsetel word.

Die westerse wêreld is egter reeds tevore deeglik onder die neus gevryf dat die blote verkiesing van iemand deur meerderheidstemming, vir die demokrasie die dood in die pot kan wees. Adolf Hitler is heel demokraties verkies, en hy het die demokratiese instellings gebruik om die demokrasie nek om te draai. Die Europese Unie was dus verstaanbaar onthuts toe dieselfde skynbaar onlangs in Hongarye begin gebeur het.

Die blote feit dat iemand selfs deur ‘n vrye verkiesing met meerderheidstem verkies is, is egter nie die absolute toets van demokrasie nie. Die demokrasie, en veral die grondwetlike demokrasie, behels soveel meer. Dit waarborg onder meer persvryheid, wat insluit politieke diversifikasie. Dit beteken dat die kiesers vrylik oor alle politieke opsies ingelig sal wees.

Dit behels ook ‘n behoorlike onderskeid tussen regering en politieke party, dit behels ‘n behoorlike onderskeid tussen die wetgewende, uitvoerende en regsprekende gesag, en dit behels behoorlike verantwoordbaarheid.

Morsi het nie aan ‘n groot verskeidenheid van die basiese vereistes van demokrasie voldoen nie.

Die ANC in Tlokwe is nie deur ‘n staatsgreep omver gewerp nie, of deur massa mense wat die strate ingevaar het en ‘n plofbare situasie geskep het nie. Die ANC het sy sentralistiese geneigdheid gebruik om die magsposisie van pres. Jacob Zuma te konsolideer, deur in effek aan die (ANC)-kiesers voor te skryf vir wie om te stem. En sulke ontplooide kaders word ten alle koste beskerm, al loop die aanduidings van korrupsie ook hoe dik.

‘n Kortstondige oorname deur die DA deurdat ‘n aantal ANC-lede die rug teen nasionale voorskrifte styf gemaak het, het tot ‘n wye reeks ondersoeke gelei, waarvan nog net enkels voltooi was toe die ANC van nasionale vlak af die terugneem van die munisipaliteit bewerkstellig het, en die einste gediskrediteerde burgemeester weer aan bewind gestel is.

Die ANC sou waarskynlik die bewind kon behou as by ondernemings gebly is dat die “rebelle” nie geskors sou word nie, maar die aanduidings was dat die dissiplinêre verhoor wél daartoe sou lei dat hulle uit die party geskop sou word, en hulle dus hul setels (en gewoonlik hulle hele inkomste) sou verloor. Dus is opnuut gerebelleer.

‘n Regstryd lê nou waarskynlik voor oor tegniese aspekte.

Die interessantheid is dat, volgens berigte, minstens die plaaslike tak van SANCO die rebellie steun. Hoewel SANCO deesdae minder prominent is, en die ANC dit min of meer ignoreer, beskou dié liggaam homself as die vierde been van die ANC se alliansie wat ook COSATU en die SAKP insluit.

SANCO (of algemeen bekend as die Civics) het in die aanloop tot die 1994-verkiesing in effek namens die ANC die swart woongebiede “regeer.” Die staat het ook vir alle praktiese doeleindes met hulle saamgewerk sodat dienslewering kon voortgaan. Die Civics het dikwels die sogenaamde “people’s courts” as boendoehowe ingespan en grusame vonnisse opgelê en voltrek om te verseker dat die gemeenskappe met ‘n ysterhand na hul pype dans.

Met die aanbreek van die 1994-bedeling is hierdie “comrades” dikwels oor die hoof gesien wanneer mense genomineer is om as ANC-kandidate te staan, en is dikwels haas onbekende mense as kandidate opgedwing.

Hoewel hierdie invloed lank nie meer so sterk is soos kort na 1994 nie, is dit steeds insiggewend.

Wat eintlik meer insiggewend is, is dat daar (nog) geen opsigtelike groot mededinging tussen partye soos Agang en Cope is om die geskorste ANC-raadslede te werf nie. Raadslede wat wyke verteenwoordig het, kan nie bloot deur die party vervang word nie, en daar moet tussenverkiesings gehou word.

Sou hulle in hul eie wyke groot steun hê, kan hulle vir partye soos Agang en Cope van groot waarde wees.

In dié stadium lyk dit egter of die ANC moreel getoets gaan word. Gaan die ANC lojaliteit aan ‘n beweerde korrupte burgemeester opeis, of gaan die ANC ‘n premie op skoon administrasie plaas en die rebelle optrede kondoneer? Dit lyk nie of die rebelle vergewe gaan word nie.

Staatsgrepe as metode om volksopstande soos in Madagaskar en nou Egipte, en moontlik ook die SAR, te “reguleer” kan nie goedgepraat word nie. Wanneer ‘n regering egter diktatoriaal word en verkiesings begin manipuleer soos deur mediavryheid op te skort, opposisiekiesers verhinder om te stem, dooies te registreer en op ‘n manier uit die graf te laat stem, dan is dit ook geen demokrasie nie.

‘n Bloedbad het na die vorige verkiesing in Kenia gevolg, en gekookte verkiesings daar en in Zimbabwe het tot bemiddelde magsdeling-regerings gelei. In Zimbabwe se geval het Mugabe se posisie kwalik verander. Tog prys Suid-Afrikaanse ministers Mugabe as rolmodel aan. Watter verbintenis tot demokrasie openbaar dit?

In die Ivoorkus het die vorige president die verkiesing duidelik verloor, maar geweier om gesag af te staan wat tot ‘n bloedige burgeroorlog gelei het. Weer eens het Suid-Afrika hieroor ‘n eierdans uitgevoer, tot die Franse in wese ingegryp en die verkose president gehelp het om sy administrasie te vestig.

Presies hoe ver is die grondwetlike demokrasie in Suid-Afrika al aangetas?

– Die beleid van kaderontplooiing is duidelik ongrondwetlik. Die grondwet maak wel vir “enkele” politieke aanstellings voorsiening, wat volgens internasionale konvensie (en nie eens oral nie) daarop neerkom dat departementshoofde deur ministers aangestel word en politieke affiliasie die vernaamste maatstaf is – dikwels met rampspoedige gevolge.

– Die grondwet vereis sekere kwaliteite van die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag. Die grondwet vereis dat die president aandag moet skenk daaraan of die persoon wat hy wil aanstel aan die vereistes voldoen. Die versuim om dit te doen, het tot die Simelane-debakel gelei. Nou omseil die president dit deur ‘n waarnemende hoof aan te stel, en gaan hy pogings om die howe te gebruik om hom te dwing om ‘n geskikte hoof aan te wys, teenstaan.

– Die rasbenepe beleide soos “regstellende aksie” kan onmoontlik nie met die grondwetlike verbod op onbillike diskriminasie onder meer op grond van ras versoen word nie. Die beperkingsbeginsel wat hiervoor ingespan word, kan egter nie, soos ook alle ander beperkings op die bepalings van die handves van fundamentele regte, so uitgelê word dit die oorspronklike regte in effek tot niet maak nie.

– Die regering gaan die uitsprake vanndie appèlhof en grondwetlik hof evalueer om vas te stel of dit voldoende “transformasie” weerspieël.

Baie van die inperkings van die demokrasie wat met openbare aanspreeklikheid verband hou, is op hul eie nie oortredings van die grondwet nie, of is grensgevalle, maar as die geheelprentjie na behore geskets en ontleed word is daar minstens ernstige gevaartekens.

Deur onversigtig oor situasies in die buiteland te reageer, word die gevaar ingehou dat die indruk geskep word dat die ANC ‘n blote verkiesingsoorwinning (ongeag of dit gekook was) as demokrasie beskou. Daarna sal selfs ‘n regering wat aan die definisie van ‘n diktatuur van die meerderheid beskou word, ook as demokrasie erken bly. Trouens, uit senior ANC-geledere is al dikwels ontevredenheid uitgespreek dat die grondwet in die weg van “meerderheidswil” staan en dat dit nie geduld sal word nie.

Maar dit is waaroor grondwetlike demokrasie handel. En dan is nog glad nie oor minderheidsregte geargumenteer nie.
‘n Nuwe peiling van Pondering Panda dui daarop dat ‘n kwart van die land se jongmense nie belangstel om in volgende jaar se verkiesing hul kruisies te gaan trek nie. Dit lyk of hulle nie vertroue in die geloofwaardigheid van politici het nie. Dit is ‘n formidabele aanklag.

Daar in die wyk van die Mooirivier, tussen die mielies en by die groen doringboom, daar gaan ‘n groot lakmoestoets kom vir die ANC se lippediens aan demokrasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.