Nuuskommentaar: Toerismefonds hanteer wit mense soos tweedeklasburgers

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Maya Angelou het eens gesê: Wanneer mense jou wys wie hulle is, moet jy hulle glo.

Die een ding wat lede van die ANC-regering regdeur verlede jaar gedoen het, was om vir ons te wys wie hulle regtig is – diegene wat steeds kies om hulle nie te glo nie, word uiteindelik medepligtiges in hulle wandade.

In antwoord op ʼn parlementêre vraag deur Fanie du Toit, VF Plus-parlementslid, het die minister van toerisme, Mmamolo Kubayi-Ngubane, erken dat die nuwe ekwiteitsfonds (dalk) bedoel is om die toerismebedryf te transformeer. Hierdie “dalk” is veronderstel om haar stelling se ernstigheid te verminder, maar dui eintlik net aan wat ons reeds geweet het – die regering stel net daarin belang om sekere dele van die toerismebedryf te red. Min. Kubayi-Ngubane is blykbaar nie bewus van die aardskuddende transformasie wat die toerismebedryf tydens die Covid-19-pandemie beleef het nie – dit het getransformeer vanaf groeiende bedryf na smeulende wrakstuk.

In 2019 het toerisme met 3,5% gegroei teenoor die res van Suid-Afrika se 0,2%. Met die uitbreek van die pandemie en die instel van grendelregulasies is toerisme waarskynlik een van die sektore wat die heel hardste getref is. Dit was ook een van die sektore wat die langste onder die strengste inperkingsregulasies deurgeloop het. Selfs aan die einde van verlede jaar, toe die bedryf kans moes kry om asem te haal, is hulle ingeperk en weereens gesaboteer.

Die getal buitelandse besoekers in Desember 2020 het met 86% afgeneem in vergelyking met die besoekersgetalle van Desember 2019. Daar was slegs 36 357 buitelandse toeriste wat Suid-Afrika besoek het in ons besigste tydperk, waar dit normaalweg meer as 250 000 sou wees. Tesame met strenger grendelregulasies, veral op parke en strande oor Desember, het die regering enige kans vir herstel in die toerismebedryf gekniehalter. Geen bedryf kan ʼn 85%-verlies aan omset sommer net oorleef nie – veral nie as dit vir langer as ʼn jaar só aanhou nie.

Dit is so duidelik soos daglig dat toerisme ingeplof het en dringend hulp benodig om bloot staande te bly. Die ANC-regering bied egter oudergewoonte nie hulp aan nie, maar eerder transformasie. Indien jy as sake-eienaar in die toerismebedryf gehelp wil word, moet jy swart wees. Hierdie kwessie is so moreel aanstootlik soos ʼn paramedikus wat by ʼn treinongeluk aankom en slegs die swart slagoffers help. Tog hou die regering telkens voor dat dit die regte ding is om te doen.

Hierdeur erken die regering ruiterlik dat wit mense nie dieselfde agting, hulp en simpatie as swart mense verdien nie – hulle word gereduseer tot tweedeklasburgers in hul eie land.

Ons moet eintlik nie verbaas wees nie. Die ANC-regering is absoluut rasbehep en hoewel dit soms verdoesel word in mooipraatjies, is die ideologiese kern een van transformasie. ʼn Mens moenie vergeet dat Suid-Afrika ʼn land is waarin ʼn netbalspan van sy titel gestroop is omdat die span se spelers nie die regte verhouding van swart tot wit was nie – dit alles in die naam van nierassigheid en regverdigheid. So ook is dit dieselfde regering wat in die middel van die aanvanklike inperking daarop aangedring het dat maatskaplike hulp gesentraliseer moet word sodat hy kan verseker dat dit gelykmatig (dit is volgens ras) uitgedeel word. Dit kom basies daarop neer dat selfs maatskaplike hulp nie kwytgeskeld word van die transformasie-agenda nie.

Die ANC-regering regeer lankal nie meer vir alle burgers van Suid-Afrika nie. In sy mooi woorde en toesprake regeer hy net vir die swart burgers van Suid-Afrika. In sy beleidsuitkomste regeer hy éintlik net vir ʼn klein groepie politieke elite.

Die voorgestelde toerismefonds het verskeie voorwaardes – waaronder dat die onderneming in swart besit moet wees, maar ook dat die onderneming geregistreer moet wees vir belasting. Met hierdie voorwaardes sluit die minister ongeveer 93% van bestaande toerisme-ondernemings uit – dit is swart én wit ondernemings. Selfs belangriker is dat van die sowat 350 000 werknemers in die toerismebedryf meer as tweederdes swart is – logies volg dit dat 93% van ondernemings wat uitgesluit word ook ongeveer 93% van werknemers uitsluit. Met hierdie werknemers wat oorwegend swart is, is dit uiteindelik swart werknemers in die toerismebedryf wat die meeste hieronder gaan ly. Dit is hierdie swart werknemers wat ook by die huis gaan sit sonder kos en hoor hoe die minister trots aankondig toerisme is besig om te transformeer. Sodoende vloei die regering se harde antagonisme teenoor wit mense uiteindelik ook oor na die mees weerloses in die samelewing. Die fonds is sodoende nie net oneties in beginsel nie, maar uiteindelik ook oneties op verskeie van die uitkomste.

Dit is die hart van ʼn regering wat magsbehep en rasbehep is. ʼn Regering wat kyk na ʼn verwoeste en desperate toerismebedryf en trots aankondig dat hy slegs ʼn sekere ras gaan help. Hy beskou dit inteendeel as die moreel regte ding om te doen.

Die lede van die ANC-regering het ons nou al herhaaldelik gewys wie hulle is – hulle aksies spreek so luidkeels dat ons hulle woorde nie meer hoef te hoor nie. Inteendeel – dit raak al hoe wyser om hulle woorde te ignoreer en hulle net aan hulle aksies en uitkomste te meet.

As ʼn minderheid in ʼn land waar die meerderheidsregering geen belang of erg het om ons te help nie, is dit van sleutelbelang dat ons onsself help. Indien ons onsself nie gaan help nie, gaan niemand anders nie. Daar gaan nie ʼn morele ommeswaai kom vanaf die regering sonder eksterne druk deur litigasie nie. Selfs met eksterne litigasie gaan hulle soveel moeite moontlik doen om nie van posisie te verander nie. Wanneer hulle van posisie verander, gaan dit ook nie wees weens ʼn morele herlewing nie, maar eerder uit noodsaak. Die ANC-regering sal ten beste apaties teenoor ons staan, en ten slegste ons probeer saboteer.

In die aangesig van hierdie werklikheid is daar net twee goed wat ons moet doen:

  1. Glo die ANC-lede wanneer hulle hul karakter blootlê en moet ook nie hoop dat hulle gaan verander nie.
  2. Doen dit self.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

JohanR ·

Is daar ‘n manier wat ek as toeris kan seker maak dat ek net wit bedryfde toeris besighede gebruik? Siek, sat, dik en moeg vir BEE!

Sobymykoolkop ·

Geen uitsondering meer nie, as ek gastehuis of vakansie verblyf boek vra ek pertinent of dit aan ñ blanke behoort, ons is op ons eie, geen ander keuse meer as na mekaar te kyk en ondersteun nie.

Vrijburger ·

Doen dit al baie jare. Dieselfde vir vulstasies, slaghuise, liefdadigheidsorganisasies ens.

ChrisR ·

Baie moeilik……Hulle almal voldoen aand BEE….baie Afrikaners glo dis deel van die samelewing……..Geld is vandag baie meer belangrik as trots…

Sarel ·

Ons het ook gehoor dat opdragte uit Lethuli huis klm. So sy voer net opdragte uit.

Nell ·

Al hoe meer toeriste verneem deesdae ook wie die toeroperateur is en aan wie die maatskappy/besigheid behoort voordat hulle ‘n bespreking maak – praat uit ervaring.

JN ·

Rassisme bly rassisme en die lot is erg rassisties maak nie saak hoe hul dit probeer goed praat nie! Niks beter dan as die vorige wit regering wat hul dan so veroordeel vir rassisme nie!

Marianna ·

As ‘n mens sien hoe lyk die dorpe met sy vullis en slaggate kan jy nie glo dat die minister nog toerisme wil bevorder nie. As ek sy is sal ek my doodskaam om toeriste na Suid-Afrika te bring. Klerksdorp is ‘n skreiende skande. ‘n Mens voel vuil as jy deur die middedorp gery het. Mense van SA en mense van oorsee kom agter dat SA afgedaal het na die swakste land ter wêreld om na te gaan vir vakansie. Dis beurtkrag, moord, korrupsie, diefstal, ens. ens. Dienste bestaan nie. Ons moet afdaal na hulle ‘level’ toe want ‘our people’ sien nie raak wat om hulle aangaan nie en sodra ons kla is ons rassiste.

Persheks Adri ·

Voetsek ANC en julle verdomde BEE sommer reguit rassiste pffft

Pieter ·

Dan is ons blankes se belasting geld ook nie goed genoeg gaan ons ooit wakker skrik

Mad Mike die Rhodesiër ·

Afriforum, waarom skep julle nie ‘n organisasie vir hospitaliteitsinstellings wat deur blankes bestuur word nie? “BEE” vir blankes, met ‘n logo / sertifikaat wat vertoon kan word.

Eend Bessinger ·

Wat van ‘n vakbond van wit eienaars van hospitaliteit-instellings?

Tiptol ·

Hulle gaan die geld vir maatjies gee en die geld gaan net verdwyn. Eintlik wil hulle hê die wittes moet vou. Hul sal eerder die land laat agteruitgegaan sonder ons belasting as wat hul die blankes in enigiets gaan help. Hulle wil die blankes nie hier hê nie. Maak nie saak wat hulle sê nie.

Eragrostis ·

My vraag is: As blankes se belasting goed genoeg is om deur die regering aanvaar te word, waarom aanvaar die ANC dit nie om dieselfde geld ook aan blankes beskikbaar te stel in tye van nood nie, soos nou? Is my stelling reg dat dit eintlik regverdig is dat blankes se belasting dus drasties verminder moet word, of dalk eerder, afgeskaf behoort te word, veral vir diegene in die toerismebedryf, indien hulle geen voordeel daarvan kry in tye van nood nie?

Chris dupreez ·

Aag julle sal ons wit suid afrikaners nie onderkry nie, ons sal weer voor begin , sonder julle geld, en weer bo uitstyg.

john ·

My besigheid maak net gebruik van leweransiers in blanke hande . Nie net om BEE n vinger te wys nie ek kry net beter diens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.