Nuuskommentaar: Toerismeminister hou vakansie in gesondheidsdepartement

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, neem nou ook as minister van gesondheid waar. (Foto: GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Dinsdag op spesiale verlof geplaas weens die korrupsieskandaal waarby hy betrek word. Toerismeminister Mmamoloko Kubayi-Ngubane gaan intussen as waarnemende minister van gesondheid dien.

Die besluit om Mkhize op spesiale verlof te plaas, is deur die meeste politieke kommentators verwelkom. Hoewel dit beskryf is as die “sagte” opsie, meen die meeste kommentators dit is goed vir Suid-Afrika, die party asook Mkhize self. Dit is natuurlik die sagte opsie, omdat Ramaphosa ook net vir Mkhize kon skors. Prof. Bheki Mngomezulu verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland meen dat Ramaphosa hierdeur bewys dat hy na openbare verontwaardiging luister, asook sy kritici verkeerd bewys deur wel beslissend op te tree.

Dit is natuurlik waar. Die blote feit dat daar so vinnig teen ʼn beweerde korrupte regeringsamptenaar opgetree word, is byna ʼn wonderwerk. Die feit dat daar enigsins teen hom opgetree word, is ook al ongelooflik. Oudpres. Jacob Zuma het byvoorbeeld in 1999 na bewering korrupsie gepleeg in die Thales-korrupsieskandaal. Hy het steeds president van die ANC en land geword. Die hofsaak waarin hy vervolg word, is weer tot Junie vanjaar uitgestel. Dit is die standaard van optrede teen korrupsie waaraan ons gewoond is.

Die feit dat die minister van gesondheid in die middel van ʼn pandemie weens ʼn korrupsieskandaal tydelik vervang moet word, is egter ʼn aanklag teen die regering. Te midde van ʼn pandemie moet die regering eintlik besig wees om Covid-19 op alle fronte te beveg. Die ANC is egter so vasgevang in sy faksiegeveg en korrupsiekrisis dat dié interne struweling oënskynlik prioriteit geniet.

Suid-Afrika raak nou regtig baie vinnig ver agter in die maraton na kudde-immuniteit deur inentings. Dit is nie net in vergelyking met die ryk lande wat sogenaamde entstof-apartheid toepas nie, maar ook in vergelyking met die res van Afrika. Suid-Afrika het tans nog net 2,41% van sy bevolking met een dosis ingeënt, terwyl minstens 60% van die bevolking volledig ingeënt moet wees om kudde-immuniteit te bereik. Dit is in vergelyking met Afrika wat reeds 2,12% van sy bevolking ingeënt het en 11,78% van die wêreldbevolking wat ook minstens een dosis entstof ontvang het. Selfs Zimbabwe, Venezuela en Mianmar wat tans letterlik in ʼn staatsgreep vasgevang is, het al ʼn groter persentasie van hul bevolking ingeënt as Suid-Afrika. Dít is die geselskap waarin ons onsself tans bevind.

Indien ons teen hierdie tempo aanhou, kan ons ʼn derde, vierde en moontlik selfs ʼn vyfde golf ervaar.

Selfs al is Ramaphosa se optrede teen Mkhize bemoedigend en goeie nuus vir die land, is dit nie wat tans prioriteit behoort te geniet nie. Is die ANC nie dalk so besig met interne sake uitsorteer dat hy weereens die res van die land afskeep nie? Is lede nie so besig met voorgee dat hulle goeie, bevoegde en etiese regeerders is dat hulle glad nie besig is om goeie regeerders te wees nie?

Kubayi-Ngubane wat Mkhize tydelik vervang, is die einste minister wat dit steeds verdedig dat die departement van toerisme net vir toerismeondernemings in swart besit finansiële hulp verleen. Dít ten spyte daarvan dat die ganse toerismebedryf weens streng inperkingsmaatreëls verlede jaar gely het. Dié minister kan dit regverdig om op grond van ras te onderskei daar waar die verreikende gevolge van inperkingsmaatreëls nie het nie. Dit is ook hierdie minister wat steeds die nalatenskap van apartheid gebruik om die hedendaagse rassistiese beleid te regverdig.

In die lig hiervan laat dié aanstelling minderheidsgroepe nie juis met ʼn geruste hart nie. Dit is nie noodwendig aangenaam om dié minister nou in die mees relevante en sekerlik belangrikste ministeriële pos tydens die pandemie te sien nie – selfs al is dit net tydelik.

Verder is Kubayi-Ngubane, hoewel net in waarnemende hoedanigheid, hoegenaamd nie bevoeg om as minister van gesondheid te dien nie – veral nie te midde van ʼn pandemie en reeds sukkelende entstofprogram nie. Tog gaan haar aanstelling nie noodwendig enige aardskuddende gevolge inhou nie – dit gaan nie noodwendig die huidige stand van sake in duie laat stort nie, maar ook nie noodwendig enige wonderwerke teweegbring nie.

Hierdie feit laat ernstige vrae oor die rol wat ministers regtig in ons regering speel en kan speel. Diegene wat ministeriële poste vul, is nie juis kenners op hul gebied nie. ANC-lede word ook met die wisseling van kabinette tussen ministeriële poste rondgeskuif. Kubayi-Ngubane was byvoorbeeld al werksaam as minister van wetenskap en tegnologie, kommunikasie, energie, toerisme en nou gesondheid. Dit is doodeenvoudig onmoontlik dat sy ʼn kenner op al dié onderskeie gebiede kan wees. (Indien sy wel is, word haar ongelooflike talente op die regering vermors.)

Dit is daarom geensins te danke aan dié ministers dat enigiets in die land werk nie – dit is eerder die amptenary wat uiteindelik verseker dat ʼn departement óf slaag óf misluk.

Dit moet dan net weereens dien ter herinnering aan die absolute absurditeit waarin ons verlede jaar onder die nasionale koronavirusbeheerraad vasgevang was. Die ministers, wat nie kenners op hul gebied is nie, het hulself die reg toegeëien om soos konings oor ons te regeer. Hulle het hulself die reg toegeëien om namens ons oor ons eie sake beslissende en ingrypende besluite te neem. Dié ministers wat nie kenners is nie, het gepoog om vanuit sentrale mag oor ons te heers ongeag die grondvlakwerklikhede.

Tog het hulle in hul beheerraad belangrik en magtig gelyk en gevoel. Dit is dalk ook die hele punt. Die ANC hou vreeslik van regering speel, maar is regtig nie goed daarmee om regering te wees nie. Indien hy was, sou sy geskiedenis van prestasies heelwat anders gelyk het. Ten spyte hiervan is partylede mal oor die spoggerigheid en oordadigheid wat met die simboliese aspekte en sieraad van regering gepaardgaan.

Indien iets moet lýk asof dit gedoen word, kan jy regtig op die regering staatmaak. Indien jy egter iets gedoen wil hê, gaan jy dit self moet doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Jedi Knight ·

Soos roelf meyer wat destyds minister van staatkundige ontwikkeling (ek dink dit was die regte benaming) was en toe sommer minister van verdediging. Ook met geen militêre ervaring nie. Of soos een van die DA se skadu ministers wat n radio omroeper was…..

Jan Seerot ·

Roelf Meyer was ‘n “kanarie” met die rang van korporaal. Alla klippers, mens het mos ‘n veggenaraal in daardie pos nodig!

Kokerboom ·

Goeie artikel Monica. Ek vertrou Afriforum hou aan om die kader minister aanspreeklik te hou of tot verantwoording te roep oor haar toerisme rassisme.

Elize ·

Kader ontplooiing! Netnou besluit sy wie kan en wie kan nie van die entstof kry nie.

Persheks Adri ·

Sjoe sy’s seker verskriklik slim om in so baie afdelings te kan werk joh 3 vir die prys van 1 eish met Ace

Pieter ·

Die anc land is n sirkus en ons belasting betalers betaal ten duurste vir die sirkus. En snaaks genoeg ons almal lewer kommentaar maar ons neem ook nie standpunt in nie. Ek dink al hoe meer ons blankes het geen rug graat meer nie

Hoekom ·

Destyds met die Romeine wat oor die Ryn rivier geklim het. Kon die Germaanse stamme ook nie juis saamstaan nie, hul trots en rug graat doelloos van te min en alleen. Eers toe hulle moes alles gee, vanaf die laaste hoender tot laaste korrel koring, selfs hulle eersgeborene seuns, het hulle besef dat sonder mekaar sal daar van hulle niks oorbly nie…

Kokerboom ·

Pieter ek huldig baie lank al die standpunt en is diep skaam oor my mense. Waar is ons leiers of het geld die nuwe god geword?

Jacobus ·

Belaglikhede duur onverpoosd voort. Bewys dat Corona pandemie sekondêr tot dwang en droog besluite is. Hierdie posisie is sentraal tot ons hele gesondheids beleid. Lyk mos of plasings gedoen word volgens die persoon se gawe om op te goeters maar kragdadig voor te kop.
“Yes mister president our future is indeed black (and bleak).”

Thereza ·

ja nee wat, in die land van d blind is die een oog koning. wat a load of crap.

Werner ·

Weet nie wie dink hierdie onbevoegde lot van die staatspresident tot die tee maakster kan die land red nie.Ons is al lankal oor die afgrond .Ons gaan die bodem nou tref.

Sarel ·

Van Toerisme na Gexondheid meg die Covid Krisis
Wat kwalifiseer haar vir die Pos??? Lan foe DA of
VF PLUS ons inlig asb

Tiptol ·

Hierdie opskrif het my nou so lekker laat lag. Vyf woorde en dit omskryf alles.

Genis ·

Dit wys eindelik uit wat dink hulle van gesondheid… Solank hulle kan skep, en verwansel is alles honky dorey

Karina ·

Wat is haar kwalifikasies om Minister van Gesondheid te wees? Sekerlik moet jy mediese agtergrond hê

Anoniem ·

O !! O !! O !! Hier kom ;n fout???? Wat weet hierdie antie van medisyne en siektes????????? Maar dit is hoe die ANC hul kaders ontplooi!!!!

Moedeloos ·

Geskors moet of sonder salaris. Ek sal ook gaan RUS met volle salaris as ek weet ek gaan niks oorkom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.