Nuuskommentaar: Tolke en foto’s – kantlynkwessies in die Oscar-saak

Oscar Pistorius praat met sy prokureur, adv. Barry Roux, op 4 Maart in die hof. Foto: SAPA

Oscar Pistorius praat met sy prokureur, adv. Barry Roux, op 4 Maart in die hof. Foto: SAPA

In ‘n stadium het heelwat Suid-Afrikaanse koerantredakteurs kriminele rekords gehad. By verre die meeste skuldigbevindings was vir minagting van die hof – dikwels nie vir iets wat hulle self gedoen het nie, maar omdat hulle ampshalwe vir die oortredings van hul koerante, of vir versuim om die verslaggewer wat “geblaps” het aan die man te bring, skuldig bevind is. Dié redakteurs het die beginsel uitgeleef dat hulle self pa staan vir wat in die koerant gepubliseer is.

Hofverslaggewing was ‘n belangrike leerskool vir jong joernaliste. Dit was ‘n tipe diep kant ingooi-ervaring om te leer om baie akkuraat en suiwer verslag te doen. En sommer om respek vir die regstelsel te ontwikkel.

Dit was ook nie snaaks dat woedende beskuldigdes, en soms selfs die klaers, die redakteur se drumpel kom deurtrap het om op “regstellings” aan te dring nie. Dikwels moes die opnames of transkripsies getrek word om vas te stel of die joernalis inderdaad gedwaal het. Dikwels nie. En joernaliste is heel dikwels gedreig.

Selfs die weglating van net een woord kon die regsbetekenis van ‘n berig heeltemal verander.

Soms is die howe ook benut om inligting oor verbode organisasies aan die groot klok te hang. Die Bloemfonteinse landdroshof was ‘n gewilde uithangplek vir “andersdenkende” media om die getuienis van Winnie Mandela, toe nog op Brandfort ingeperk, te kom opslurp en te publiseer wanneer sy op aanklagte verskyn het wat met haar inperking verband gehou het.

Al heers ‘n meer genaakbare gees nou soms, word niks van die beginsels ontneem as dit oor regspraak handel nie. Die beskuldigde is op ‘n regverdige verhoor geregtig, en die regter of landdros beskik oor wye magte (en pligte) om juis dit te laat geskied. Die aangeklaagde bly ongeag die getuienis wat gelewer is, onskuldig tot hy skuldig bevind is.

‘n Goeie voorbeeld van boendoe-geregtigheid was die wyse waarop ‘n groot deel van die media met die Reitz-vier omgegaan het. Tydens een van die uitstelle het die uitstellanddros die politici en die media gemaan om nie die uitspraak vooruit te loop nie. Enkele dae later plaas ‘n groot Afrikaanse koerant ‘n brief waarin die skrywer pertinent die vier misdadigers noem. Die persombudsman het geweier om ‘n klag hieroor te hanteer, en die saak het stil-stil verdwyn. Maar was dit nie maar doodgewoon minagting van die hof nie?

En was die versuim van baie koerante om te berig dat die vier om verskoning gevra het, al is die berig deur Sapa gedra, nie ‘n aanklag teen daardie koerante se verbintenis tot maatskaplike verantwoordbaarheid nie?

In die Oscar Pistorius-saak het ‘n regter streng mediavoorwaardes gestel om ongekende mediadekking, soos ‘n regstreekse TV-uitsending moontlik te maak.

Een van die voorwaardes was dat geen foto van ‘n getuie wat versoek dat die nie gedoen word nie, gepubliseer mag word nie. Sommer na die eerste dag publiseer eNCA en ‘n paar koerante so ‘n foto van ʼn getuie. Die verweer was dat die foto nie tydens die verhoor geneem is nie, maar van die internet bekom is. Die regter is nie beïndruk nie, en eNCA het om verskoning gevra oor die verskil in interpretasie van die bevel. Die regter het gelas dat die aangeleentheid ondersoek word.

Dit is duidelik dat die regter vroeg reeds wil seker maak dat die media nie hul geluk met haar op die proef wil stel nie. Die ondersoek sal hopelik aan die lig bring of die media wat oortree het ‘n bona fide-fout gemaak het, en of hulle ‘n vet kans gevat het.

‘n Ongemaklike kwessie is dat een van die oortreders die dagblad Beeld is, van wie die redakteur juis nou in die spervuur is oor die wyse waarop oor die PUK gerapporteer is. Media 24 het duidelik met ‘n beleid begin om jong redakteurs aan te stel. Adriaan Basson, die redakteur van Beeld, is nie die eerste van hierdie aanstellings nie, en is ook nie die eerste wat deur talle lesers (en selfs kollegas) as ‘n ramp beskryf is nie. Baie van Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, se eertydse kritici is waarskynlik baie verbaas oor die volwassenheid waarmee Rapport gerig word, en die wye spektrum standpunte wat in die koerant gestel word – ook van Rapport se felste kritici het al ‘n “spreekbeurt” gekry.

‘n Jong span by Volksblad moes ‘n hele ruk self die wa deur die drif sleep terwyl die koerant sonder redakteur was, en het waarskynlik die gehalte van die koerant in daardie tyd verhoog, soos ook uit sirkulasiesyfers geblyk het. Die koerant het hierna ook ‘n jong redakteur gekry, en uit die binnekring klink dit of sy heelwat vertroue inboesem.

Daarteenoor was daar ervare persone in dieselfde groep wat as redakteurs as niks anders as rampe beskryf kon word nie. Een van die hoofklagtes was ‘n redaksionele aanslag wat die koerant ideologies te ver uit pas met die teikenmark plaas.

Hoewel die media internasionaal ‘n verjongingskuur ondergaan, dikwels omdat ervare personeel duurder is en veral die gedrukte media geldelik onder druk is, word gewoonlik na ervare redakteurs gesoek. Dit is algemene praktyk om uitstaande redakteurs by ander koerante af te rokkel.  Hierdeur word probeer om te kompenseer vir wat genoem word “die verlies aan korporatiewe geheue”.

‘n Groot deel van hierdie korporatiewe geheue is lesse wat reeds geleer is oor hoe om met die regspraak om te gaan.

In Suid-Afrika is een van die belangrike aspekte kundigheid met taalgebruik – veral noudat soveel nuus uit Engels vertaal word en liederlike blapse oplewer – en selfs ‘n eenvoudige ding soos spelling.

Die kwessie oor die regstreekse beeldsending van die verrigtinge het selfs oorsee regsvrae laat ontstaan. Gaan die openbare mening wat gevorm word nie tot ‘n subjektiewe uitspraak lei nie? En daar is nou ‘n onus op die getuies om nie die medegetuies se getuienis te volg nie. Die algemene oordeel was dat die feit dat Suid-Afrika nie van ‘n jurie-stelsel gebruik maak nie, die gevaar van subjektiwiteit grootliks uitskakel.

Dieselfde beginsel geld die tolkkwessie. Tolke word juis ingespan om die regspraak so regverdig as moontlik te hou. Anders as met die “gebaretaaltolk” tydens oud-pres. Nelson Mandela se gedenkdiens is ‘n hoftolk wat verbrou nie net ‘n verleentheid en selfs ‘n skande nie, dit kan geregtigheid laat ontspoor. Juis om hierdie rede die Universiteit van die Vrystaat se Eenheid vir Taalfasilitering en Bemagtiging ‘n ooreenkoms met Departement van Justisie en Konstitusionele Ontwikkeling asook die Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerheid vir Veiligheid en Sekuriteit (SASSETA) gesluit om deur diplomakursusse die tolke professionele beroepslui te help maak. Dit is deur die direkteur-generaal, Nonkululeko Sindane, bevestig. Hoe gebeur dit dan dat ‘n tolk wat self meen sy is te onervare, as tolk in so ‘n belangrike saak ingespan is, en vir die land voor die wêreldmedia nog ‘n verleentheid besorg?

Media 24 berig dat baie hoftolke weier om Afrikaans te tolk omdat dit die “taal van die onderdrukker is.” Die departement moet dus vir Afrikaanse tolkwerk van vryskut-tolke gebruik maak. Indien dit waar is dat politiekery agter tolke se hantering van Afrikaans skuil, en dat dit daartoe gelei het dat ‘n tolk wat self aangedui het sy is nog nie gereed vir ‘n hooggeregshofsaak nie ingespan is, is dit ‘n losstaande kwessie wat ontbloot is ‘n bedreiging vir die regspraak inhou.  Dit moet onverwyld aangespreek word.

Of ‘n mens die hofsaak soos ‘n sepie slaafs volg, of geïrriteerd is met ander wat dit wel doen, die waarde van die regstreekse uitsending is dat dit ‘n groot deel van die bevolking in die regspraak help skool.

En dat dit nodig is, blyk baie duidelik uit die sosiale kommentare wat oor die verloop verskyn. Veroordelende menings oor die beskuldigde en die getuies wat druip van subjektiwiteit en onkunde word lustig geplaas. Tussenin help lesers wat duidelik meer kundig is reg, en verduidelik die ondervragingstegniek van die advokaat vir die verdediging.

Maar behoede as van daardie kommentaarskrywers as jurielede, of meer van toepassing op die Suid-Afrikaanse regspraak, as leke-assesore sou moes insit. Boendoegeregtigheid se moses sou die saak se voorland wees. Al word dit soos ‘n sepie aangebied, kan die logika en verloop van ‘n sepie nie op ‘n hofsaak van toepassing gemaak word nie.

‘n Kommerwekkende aspek is egter dat die enkele saak soveel belangstelling en mediaruimte opneem dat ander belangrike nuuskwessies nie die nodige aandag geniet nie. Belangrike wêreldgebeure soos dié in die Oekraïne en Venezuela, word plaaslik verdring, en baie mense kan letterlik met hul finansiële beplanning met die broek op die knieë gevang word. Oor twee maande ruk Suid-Afrika na die stembus op, en ‘n oningeligte kieser met stemreg is soos ‘n bom in ‘n besige mark. Daar word onder meer geskryf dat die ANC deur die hofsaak ‘n meevallertjie-vakansie in die stroom kritiek gekry het. Intussen loop duidelike politieke propaganda-advertensies oor die radio en TV waarvoor die belastingbetalers opdok.

Die onlangse verbetering met tien van Suid-Afrika op die persvryheidsindeks is grootliks aan ‘n vergissing te wyte. Verslaggewers Sonder Grense motiveer sy besluit vir hierdie verbetering daarop “dat pres. Jacob Zuma geweier het om die snoerwetgewing te teken, na aanleiding van die president se besluit om enkele aspekte van die wetsontwerp vir tegniese regstellings na die parlement terug te verwys”.

Suid-Afrika kan nie deurentyd op hierdie “gelukkies” staatmaak nie, en die media het ook ‘n groot rol deurdat een van die maatstawwe is om ook in beriggewing die politieke diversiteit van die land te weerspieël.

Die taak van die media is groot, te midde van ‘n baie uitdagende omgewing.

Sonder die media is die demokrasie uiters gebrekkig – trouens, daar is geen volwaardige demokrasie nie. Daar kan nie nog bekostig word dat die media ook so bedryf word dat dit bydra tot die beperking van demokrasie nie, en dit is die laaste ding wat die Suid-Afrikaanse media self in die oog het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.