Nuuskommentaar: Tot op die been toe verrot

Jacob Zuma daal2

Suid-Afrika het onder leierskap van president Jacob Zuma verder gedaal op die korrupsiepersepsie-indeks.

Terwyl sommige media soos RSG-nuus en die SABC TV-nuus dit nie eens meer nuuswaardig genoeg beskou om aandag aan te skenk nie, stuur Suid-Afrika se verdere daling op die korrupsiepersepsie-indeks skokgolwe deur ander media.

Van 2009 tot vanjaar se indeks wat Dinsdag uitgereik is, het Suid-Afrika van die 55ste plek tot die 72ste plek teruggesak. En raai in wie se presidensiële bewindstydperk het dit gebeur?

‘n Mens kan maar net sidder om te dink hoe die prentjie daaruit sou sien as die onlangse uitlek van voorlopige Openbare Beskermer-verslae, wat onder meer Nkandla en die SAUK insluit, betyds sou gebeur het om die jongste indeks te kon beïnvloed.

Volgens AfriSake se uitvoerende hoof, Cornelius Jansen van Rensburg, bevestig die Transparency International-verslag dat Suid-Afrika sedert die aanvang van pres. Zuma se ampstermyn in ʼn afwaartse korrupsiespiraal vasgevang is. “Die land strompel van die een korrupsieskandaal na die ander en die president se naam word by vele van hierdie skandale betrek. Die staatsdiens volg eenvoudig sy voorbeeld,” het Jansen van Rensburg gesê. Volgens Jansen van Rensburg is daar ʼn “vat alles”-mentaliteit onder staatsamptenare, met die armste Suid-Afrikaners wat die ergste daaronder deurloop. Miljoene mense sit sonder werk en huise, en hulle het gebrekkige toegang tot water en ander dienste terwyl owerheidsamptenare die staatskas stroop.

Botswana in die 30ste plek is die mins korrupte land in Afrika. Kaap Verde in die 41ste plek, die Seychelles in die 47ste plek, Rwanda (49), Mauritius (52), Lesotho (55), Namibië (57) en Ghana (63) is die Afrikalande wat heelwat beter as Suid-Afrika op dié indeks vaar.

Maar hoekom voel dit vir baie Suid-Afrikaners of die land eintlik baie swakker as die 72ste uit 177 lande moes vaar? Die antwoord is daarin geleë dat korrupsie ‘n veelkoppige slang is, waarvan omkopery – dit wat baie Suid-Afrikaners daagliks aan die bas voel, slegs een deel is. Op die omkoopindeks wat reeds vroeër deur Transparency International bekend gestel is, maak Suid-Afrika ordentlik skande. In hierdie verslag is bepaal hoeveel persent van 95 lande se inwoners het die voorafgaande jaar omkoopgeld betaal. In Suid-Afrika se geval was dit net minder as die helfte – naamlik 47%.

Dit is byna dubbel die gemiddeld van 27% vir lande wat gemeet is, en die gemiddeld is weer baie hoog omdat Afrikalande die gemiddeld so hoog opstoot. Kenia is 70%, en Sierra Leone is 83%.

Die ongemaklike is dat Suid-Afrika se syfer heelwat hoër is dié van Egipte se 36%, waar korrupsie as een van die redes aangevoer word vir die afsetting van die president. Suid-Afrika vaar ook swakker as Ethiopië, die DRK en Nigerië om maar ‘n paar te noem. Dit is ook ligjare verwyder van Finland en Australië se 1%, terwyl die meeste Westerse lande tussen 2%, en in die geval van die VSA 7% val.

Die perspektief is dus dat Suid-Afrika (72) op die korrupsiepersepsie-indeks beter vaar as Egipte (144), Ethiopië (111), die DRK (154) en Nigerië (144), maar kom dit by omkopery kan die burgers van dié korrupte lande by Suid-Afrika kom graad kry.

In sy reaksie op gister se bekendmaking wys die DA daarop dat 83% van Suid-Afrikaners die polisie as die mees korrupte instelling beskou. Altesaam 74% glo staatsamptenare is uiters korrup. Sowat 70% glo die land se wetmakers is korrup.

Paul Hoffmann, direkteur van die Instituut vir Verantwoordbaarheid in Suider-Afrika, het aldus Die Burger gesê die regering se vasbeslotenheid om nie onafhanklike stelsels teen korrupsie te skep nie, veroorsaak eenvoudig dat die land verder en verder teen die lys afgly.

Op die keper beskou lyk dit egter of die stappe wat wel gedoen word om korrupsie in die bek te ruk, Suid-Afrika ‘n taamlike sagte landing op die indeks laat maak het. Die probleem is dat die burgers ‘n heel ander persepsie ontwikkel as wat die buitewêreld van die land het, en dit word geaksentueer deur die indruk dat na al die maatreëls sekere kaders weens politieke bande onaantasbaar is. Verskeie analiste noem presies dieselfde drie faktore wat hierdie persepsie voed – Nkandlagate, Guptagate en die manier waarop verbete gekeer word dat die sogenaamde spioenasiebande onder die vergrootglas geplaas kan word.

Al drie impliseer Zuma, en die Chinese wysheid lui dat ‘n vis van sy kop af verrot. Verskeie LUR’e in die Noord-Kaap en die Vrystaat bly in hul ampte aan terwyl hulle in die howe op aanklagte van onder meer bedrog en korrupsie tereg staan. ‘n Meer verdoemende boodskap kan nie uitgestuur word nie.

Het die ANC se aandrang Dinsdag dat die volledige Nkandla-verslag – nog net ‘n voorlopige verslag – onmiddellik vrygestel word meer om die lyf as ‘n beeldpoetsaksie?

Die ANC bevind hom nou in ‘n baie moeilike posisie. Die party het ten spyte van baie aanduidings dat hier moeilikheid kom, besluit om Zuma die gesig van die verkiesing te maak. Daar was geen aanduiding van ‘n plan B nie. Boonop is Zuma se posisie in die ANC wat grondvlaksteun betref, bykans onaantasbaar.

Maar nou begin dit duidelik word dat die prys vir die ANC baie hoog kan word. Hoe gouer die ANC van Zuma ontslae kan raak en ‘n nuwe leierskap respektabel kan vestig, hoe beter vir die party, en in alle waarskynlikheid vir die land.

Dit lyk inderdaad of daar binne die kabinet ‘n weerstandigheid teen die maak-en-breek-magte van Zuma-kornuite aan die ontwikkel is. Minister Pravin Gordhan gooi sy gewig agter die Tesourie in, wat ernstige bevindinge oor die Vrystaatse premier maak, en wat spesifiek verband hou met die omstrede webwerf wat glo sowat R140 miljoen kos. Ou ANC-strydrosse soos Frene Ginwala en Ronnie Kasrils spoel nou al ‘n geruime tyd die mond erg uit oor die huidige ANC-leierskap.

In die politiek kan slegs een dag ‘n bitter lang tyd word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gunter ·

Moet nooit ‘n statistiek glo wat jy nie self vervals het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.