Nuuskommentaar: Tot vreemdelinge getransformeer….

Racial-Transformation1‘n Interessante dokument oor selfbeskikking is pas bekend gestel.

Die dokument, Redefining Selfdetermination in the 21st Century, is die produk van ‘n kongres wat in April in die gebou van die Europese Parlement in Brussel gehou is. Die aanbieders was die Unrepresented Nations and Peoples Organisastion (UNPO), Centre Maurits Coppieters en die Centre Internacional Escarré per les Minories Ètniques i Nacions (CIEMEN). Die volledige verslag kan hier afgelaai word.

‘n Raadsvergadering vind vandag by die Universiteit van Stellenbosch plaas, maar van die raadslede is blykbaar erg omgekrap omdat ‘n sentrum vir transformasie tot stand gekom het, en ‘n transformasiebeleid wat deur die raad afgekeur is, begin implementeer het. By die Potchefstroomse kampus van die Noordwes-Universiteit kook dit ook oor sake wat met die sogenaamde Wessels-verslag verband hou.

Dit is te verwagte dat daar op Suid-Afrikaanse bodem meer en meer aandag geskenk sal word aan maniere waarop sake in die “regerende staat” (soos dit in die dokument genoem word) aangespreek kan word wanneer sake nie na wense verloop nie.

Hoewel Julius Malema en sy parlementêre meelopers nie as deel van die “regerende staat” beskou kan word nie, is dit tog simptomaties van gebeure wat daartoe lei dat sommige mense dit toenemend moeilik vind om hulle deel te voel van gebeure en praktyke wat hulle as kenmerke van die regerende staat beskou. Boonop voel hulle daar is druk om hulle van hul taal- en kultuurregte te stroop.

Hulle voel ‘n behoefte om hulle op die een of ander wyse daarvan te dissosieer.

Verskillende mense reageer verskillend op dieselfde stel feite. Daar is ‘n groep wat deur ander as “joiners” beskou word, en hul gedagtes probeer ”buig” deur iets wat soos ‘n klip in die maag lê, as “reg” te verdedig. Daar verskyn selfs vreemde “alliansies” op plekke soos Facebook waar rolspelers en analiste wat onlangs nog nie veel ooghare vir mekaar gehad het, mekaar se sterte prys. Van hierdie persone is toevallig in diens van die instellings wat ‘n soort transformasiepolisie kry wat ongeveer dieselfde rol as die Gestapo vervul, en wat ‘n soortgelyke intimiderende impak het. Selfs akademiese vryheid kom onder druk.

‘n Tweede groep is diegene wat nie soseer aktief aan die debatte deelneem nie, maar hul kinders in Engelse skole sit en dan ook op Engelse onderrig op universiteit aandring “omdat dit die kind beter toerus vir ‘n internasionale gemeenskap”. Dit maak nie saak hoeveel internasionale studies oor die waarde van moedertaalonderrig kenners ophaal, wat op die teendeel dui nie, dieselfde refrein word geopper. Minstens ‘n deel van hierdie ouers doen dit pertinent om hul kinders vir ‘n toekoms in die buiteland voor te berei, en gebruik bloot die argumente oor Engelse onderrig as rookskerm.

By die UNPO-kongres is die Europese manifestasie van verskillende selfbeskikkingsvorme as die beste ter wêreld voorgehou. In ‘n neutedop beteken dit dat die reg op eie identiteit, met sake soos moedertaalonderrrig as belangrike manifestasie, nie net as belangrike aspekte van minderheidsregte, en dus deel van die internasionale reg, beskou word nie, maar wenslik is om spanning tussen groepe te verminder. Die transformasiedrywers plaaslik neem op die oog af die teenoorgestelde standpunt in.

Oorvereenvoudig kom twee strome in Suid-Afrika tot stand – ‘n transformasiestroom, en ‘n stroom geskoei op minderheidsregte. Die transformasiedenke is duidelik deel van die “regerende staat” se verwysingsraamwerk. Die objektiewe beoordeling hiervan word baie bemoeilik omdat elke tweede transformasiedrywer sy eie beskouing het oor wat dit behels. Trouens, die mense wie se taak dit is om institusionele transformasie te implementeer, ervaar dikwels isolasie omdat hulle en die drywers van transformasie wat duidelik strydig met die grondwet en internasionale reg is, onder dieselfde kam geskeer word.

Die Universiteit van Kaapstad het pas ras as enigste norm vir toelatingsvereistes laat vaar, en ‘n redelike stap geneem om in pas met die gees van die grondwet te tree. Vanoggend berig die media dat Oregon Hoskins opdrag aan die Bok-afrigter, Heyneke Meyer, gegee het om meer “African” swart mense in die span in te sluit. Oor hierdie kwessie, en of dit wettig is, en versoenbaar is met onder andere die Internasionale Rugbyraad se handves, is al boekdele geskryf. Die gevaar bestaan altyd dat van die swart spelers, ongeag hul meriete, as “tokens” beskou kan word, en weer tot ‘n behoefte van dissosiasie met praktyke in die land kan lei.

Die probleem is dat, terwyl daar nog lank nie konsensus is oor wat transformasie beteken, of behoort te beteken nie, word ideologiese strepe in die sand hieroor getrek. Ou kennisse, en selfs vriende, neem stelling teenoor mekaar in sodat ou bande skynbaar onherstelbaar verbrokkel. In die sosiale media knyp van die betrokkenes mekaar soos laerskoolkinders wat mekaar tydens pouse agter die fietsloodse ontmoet, en mekaar vol knoppe en duike moker. Van die optrede is vreeslik kinderagtig, soos om iemand se kommentare te verwyder bloot omdat die persoon as behorende tot die “ander” beskou word.

Van akademiese statigheid is min te bemerk, en trek meer in die rigting van die styl van hoernalistiek.

Die UNPO se dokument improviseer vir nuwe opsies. Baie van hierdie “nuwe opsies” sal vir Suid-Afrikaners na ou nuus klink – sulke studies om deur staatkundige modelle die konflikpotensiaal te verminder, is immers al lankal in Suid-Afrika gedoen. Tydens die Kemptonparkse onderhandelings het die destydse regering juis in sy opdragte aan sy onderhandelaars sterk klem gelê op die bevindings en aanbevelings van die Presidentsraad se Staatkundige Komitee. Hoekom bloedweinig van hierdie opdragte gerealiseer het, is ‘n onderwerp vir ‘n ander dag.

Dit mag polities inkorrek wees, of iemand mag ‘n transformsiebederwer wees, maar as iemand in pas met die grondwet en die internasionale reg sekere minderheidsregte najaag, maak dit nie van hom ‘n uitvaagsel of “regs” of “verkramp” of iets nie.

So ‘n bietjie minder van ‘n angel wanneer mense teen mekaar stelling inneem. En om almal onder een kam te skeer wat nie jou eie sentimente deel nie, is soos om Hitler en Churchill oor dieselfde kam te skeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.