Nuuskommentaar: Transnet-pensioenarisse en plaasmoorde

AfriForum Jeug het op 16 Junie 2014 die Witkruismonument in Mokopane ter herdenking van plaasmoordslagoffers, opgeknap en gerestoureer Foto: AfriForum Jeug

AfriForum Jeug het op 16 Junie 2014 die Witkruismonument in Mokopane ter herdenking van plaasmoordslagoffers, opgeknap en gerestoureer Foto: AfriForum Jeug

By ‘n regering wat, soos daar veronderstel word, om in algemene belang te regeer, behoort daar nie gevra te word wat ‘n mens eerste wil hoor nie; die goeie nuus of die slegte nuus?

Plaasmoorde

Die goeie nuus is dat die nuwe minister van polisie, Nkosinathi Nhleko nou groter erns aan die dag wil laat lê om plaasmoorde te bekamp. Dit is nog nie heeltemal die verlangde taal nie, maar “betekenisvolle ingryping” om dit te bekamp, is die mees belowende geluid oor die kwessie sedert plaasmoorde ná die regeertydperk van pres. Nelson Mandela, opgehou het om ‘n prioriteitsmisdaad te wees. Dit word nou “hoog op die agenda” van die bekamping van misdaad in die land geplaas. Trouens, die minister werk sedert sy aanstelling in Mei al aan ‘n plan en het onder meer met verskeie belanghebbendes gesprekke gevoer. Hy hoop om teen September met ‘n plan vorendag te kom.

Dit volg nadat die nuwe adjunk-minister van landbou, Bheki Cele, ook positiewe geluide in hierdie rigting gemaak het.

Agri SA het die aankondiging as musiek in die ore beskryf.

Dit staan in skrille kontras met die vorige minister se opmerking dat AfriForum se pogings om dit tot prioriteitsmisdaad te laat verklaar, “goedkoop propaganda” is. Het hier ‘n kentering ingetree wat wyd deur die regering loop? Landbou is immers gewoond aan die bontpratery uit regeringsgeledere oor landbousake, afhangende van die gehoor wat toegespreek word.

Die Vrystaatse LUR vir landbou, Mamiki Qabathe, het byvoorbeeld tydens haar onlangse begrotingstoespraak die volgende gesê oor die mense wie se belange sy moet dien: “Farmers are among others to blame for the slow transfer of land, white farmers chase up land prices when they hear the government wants to buy it and farmers make land unproductive by starting game farms.

Tydens ‘n streekvergadering van Vrystaat Landbou sê dieselfde LUR: “We thank farmers for their hard work to produce food and reassure them that they should not fear policies and bills with regards to land and agriculture – they must work and focus on the facts. We will never take land willy nilly! Please have faith and have trust. When will people trust the ANC? The ANC will never ever take irresponsible decisions about South Africa!

Sal die regte Mamiki asseblief opstaan?

Voorlopig lyk dit egter of Nhleko van ‘n heel ander stoffasie is. Hy het nie net ‘n vinnige uitspraak gemaak nie – volgens hom is daar al heelwat spitwerk gedoen, en sal daar baie gou iets gebeur. Uit sy uitspraak is dit ook duidelik dat hy in ‘n kort tyd ‘n massa inligting ingewin, en sy eie gemaak het.

Transnet-pensioenarisse

Nou die slegte nuus. Intussen is die wiele aan die rol vir die grootste klasaksie ooit in Suid-Afrika waardeur R79.963 miljard van Transnet geëis word. Derduisende Transnet-pensioenarisse is erg verarm sedert Transnet die grootste bate van die pensioenfonds, skuldbriewe, verkoop en die opbrengs nie in die pensioenfonds gestort het nie. Hierdeur is noodwendig veroorsaak dat die pensioenarisse, wit, swart en bruin, jaarliks verarm het. Met ‘n uitkoms na jare se gestoei dalk nou in die vooruitsig, is talle van die pensioenarisse reeds oorlede.

Transnet se hoof uitvoerende beampte, Brian Molefe, het vroeër teenoor Rapport gesê dat die lot van die pensioenarisse hom nie aangaan nie, “want hulle het voordeel uit apartheid getrek”. Hy het dit later ontken.

Intussen kom die een ontstellende hartroerende verhaal aan die lig van die verskriklike lot waaraan bejaardes wat hul lewe lank hard gewerk, en hul bydraes vir die pensioenfonds pligsgetrou bygedra het, hulle bevind.

Klein partye en burgerlike instellings se waarde

Nog ‘n les, maar nie aan die adres van die regering gerig nie, is dat ‘n klein party ‘n baie groot rol kan speel. Geen party in die parlement het so hard gewerk aan die twee sake as die Vryheidsfront Plus nie, en hy verdien al die krediet wat hom toekom.

Dit toon ook die enorme rol wat burgerlike instellings speel. AfriForum se rol om plaasmoorde op allerlei maniere, ook deur internasionale forums, tot prioriteitsmisdaad te laat verklaar is baie bekend. Trouens, AfriForum is dikwels uit die geledere van die eietydse Reid en Van der Kemps vir sy veldtogte oor die kole gehaal, terwyl hierdie “liberale” paternalistiese beterweteriges self geen bydrae tot die oplossing van die probleem gelewer het nie.

Arbeidswetgewing

Intussen het Anglo American Platinum aangekondig dat hy, soos wat reeds voor die beëindiging van die Numsa-staking, vyf van sy platinummyne wil verkoop. Volgens Amplats hoef dit nie noodwendig tot werksverliese te lei nie, aangesien die koper(s) dalk beter toegerus sal wees om die myne te optimaliseer, terwyl Amplats self elders op sy sterkpunte sal kan fokus en uitbrei.

Die boodskap is egter duidelik, as stakings die mag het om onbekostigbare ooreenkomste op te dwing, gaan iemand die prys daarvoor betaal. Die regering sal bitter gou, soos beloof, die bestaande arbeidswetgewing moet hersien. Daar sal ook meer daadwerklik wetstoepassing moet kom om die vandalisme en intimidasie, en selfs geweld, wat met die NUMSA-staking aanwesig is, te stuit.

Sonskynjoernalistiek

Die minister van polisie se positiewe opmerkings laat ook ‘n duidelike boodskap aan pres. Jacob Zuma en ander soos hy wat ‘n versugting het na sonskynjoernalistiek: stel die regte mense aan wat dit wat haper op die regte manier aanspreek, en die sonskynjoernalistiek sal self volg. Sekere sake meng egter nie. Een is sonskynjoernalistiek en misdaad soos erge korrupsie, vergrype teen mediavryheid, bontpratery tussen verskillende gehore, onbevoegde ministers en LUR’e, administratiewe en bestuurskrississe, soos die Vrystaatse gesondheidskrisis, die onderwysstandaarde… Ruk dit reg en vee met nuwe besems skoon, en die sonskynjoernalistiek volg self. Dan klink dit soos musiek in die ore.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Dirk Viviers ·

Ek sal baie graag op hoogte van die Transnet pensioene gehou wil word. Dis so n groot saak maar jy hoor nie eens op die nuus wat aangaan nie dit kan ek nie verstaan nie lieflike dag vir julle daar dankie.

Illa Conradie ·

Ek het Maroela Media maar onlangs ontdek toe ek besef het Die Burger se amptelike kommentators beoefen ‘n erg partydige politieke korrektheid. Die Burger sukkel lank reeds om te bepaal wie sy lesers is en die kommentators het dit dus in die onlangse debat oor die singery van Die Stem goedgedink om uiters beledigend te wees teenoor ander Afrikaners, Ek het ‘n kleintjie dood aan enigiemand wat diegene wat van hom/haar verskil probeer stilmaak deur hulle as dom, kommin en ander beledigende name uit te skel. Dis dikwels die toevlug van diegene wat nie ‘n geldige argument het nie. Dankie, Maroela Media, vir julle feitelike beriggewing. As ek die feite het, sal ek my eie mening vorm. Ek is ‘n Afrikaner en ek gaan nie voorgee om iets anders te wees nie. En ek het nie tyd vir Afrikaners wat ander Afrikaners probeer verneder en uitskel omdat hulle eie openbare beeld of die werk wat hulle doen van hulle vereis om polities korrek te wees tot op ‘n punt waar dit absurd raak nie.

Petrus Swanepoel ·

My vrou se Oupa het sy hele lewe lank by Transnet gewerk en hy het as pensioenaris verarm tot die dag met sy afsterwe wat hy omtrent niks oorgehad het. Nogal gerieflik van die regering om die apartheidsjare se fondse kan gebruik maar as dit by terugbetaal kom dan staan dit hulle nie aan.
Jammer vir ons huidige regering, die meeste van julle besluite is nie volhoudbaar en een of ander tyd gaan iemand anders sake oorneem.

Alida ·

Wat van my arme ouers wat reeds oorlede is. Transnet het nie mooi gemaak daar nie. Kan ek dalk uitvind wat het van my oorlede pa se pensioen geword.

Kan iemand raad gee asseblief.

Eugene W Steyn ·

Hi Alida,

Gewoonlik stop die pensioen as die lid oorlede is – daar is geen eenmalige uitbetaling by afsterwe soos by byvoorbeeld ‘n lewende annuiteit nie.

Miskien moet jy kontak maak met Adv. Anton Alberts – kyk vir kontakbesonderhede by vfplus.org.za

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.