Nuuskommentaar: Tree ANC nou soos koloniale mag op? – OG-verslag

Kimi Makwetu, die ouditeur-generaal. Foto: Flickr/GovernmentZA

Dit lyk of ’n kombinasie van ’n regering met komplekse wetgewing en ’n poging om op munisipale vlak Robin Hood te speel, op grondvlak sleg uit die bus val. Dit word deur ’n kriminele element wat polities beskerm word, nie net oor munisipale grense nie, maar op die wisselvlak na provinsiale regerings, verskans. Dit lewer rillerverslae van die ouditeur-generaal op, wat terloops kla dat van sy personeel gedreig word om gunstige verslae uit te bring.

In ’n stadium het die ANC graag hoog opgegee oor hoe hy die Wes-Kaap, die enigste provinsie nie in ANC-beheer nie, van die DA gaan “bevry”. Omgekeerd was die ANC woedend toe uit DA-geledere kwalik gefluister is dat die duisende mense wat jaarliks uit die Oos-Kaap na die Wes-Kaap migreer, “ekonomiese vlugtelinge” is. Dit het eenvoudig nie gepas by die ANC se “goeie storie” wat gereeld voor verkiesings opgedis is nie.

Maar wat word deur die ouditeur-generaal se jongste verslag oor die hoofsaaklike finansiële stand van munisipaliteite gespreek?

Wouter Wessels, woordvoerder van die Vryheidsfront Plus, som dit so op: “Die OG het vanoggend [Woensdagoggend] bevestig dat Suid-Afrikaanse munisipaliteite hulself in ’n donker landskap bevind met onreëlmatige uitgawes wat landswyd na R28,3 miljard (vanaf R 16.2 miljard in 2015/2016) toegeneem het. 128 munisipaliteite reg oor die land is volgens [die] nasionale tesourie in erge finansiële verknorsing, terwyl slegs 7% van munisipaliteite skoon ouditmenings ontvang het.”

Tensy die ANC aan rillers verslaaf is, is dit geen goeie storie nie – al jare nie – inteendeel, dit raak al erger. Die Oos-Kaap met sy potensiaal vir welvaart, vaar die swakste, en die eertydse modelrepubliek, die Vrystaat, die tweede swakste. Hulle tel onder die provinsies waar nie ’n enkele munisipaliteit ’n skoon ouditverslag kon kry nie.

Twee Vrystaatse munisipaliteite, die Matjhabeng- plaaslike munisipaliteit (Welkom, Virginia en Hennenman) en die Mangaung-metromunisipaliteit (Bloemfontein, Dewetsdorp, Wepener en Vanstadensrus), beklee onderskeidelik die twee topposisies vir ongemagtigde uitgawes of oorbesteding in die land.

In wat nou reeds as die gepaste woordrykheid van die Vrystaatse LPW van die Vryheidsfront bekend geword het, sê Tammy Wessels dat die toedrag van sake in die Vrystaat die gevolg is van optrede wat klassiek ooreenstem met dié van ’n koloniale mag met ’n tipiese stropersmentaliteit.

Die DA eis dat die nuwe minister van samewerkende regering, Zweli Mkhize, dringend hulppakkette vir die 83 swakste munisipaliteite moet instel.

Die feit is dat daar lank reeds ’n blinde kol is wat die ANC en sy beskouinge oor swak munisipaliteite betref. Elke jaar is daar in die parlement ’n opfladdering van ontsteltenis (gewoonlik aangevuur deur opposisiepartye) en deels vanuit regeringsbanke, maar meestal is daar ’n kopsku-houding om die slegte nuus “af te skaal” of te laat verdwyn. Op munisipale vlak is direktiewe van onder meer die minister van finansies vir sesse geslaan en lustig voortgegaan om byvoorbeeld die verbod op luukse motors in die wind te slaan. Sprekend was dat daar geskryf is dat Pravin Gordhan, toe minister van munisipale en tradisionele sake, “moeg” was na ’n rillertermyn in dié portefeulje, ná Zuma hom skynbaar as straf uit die uiters moeilike portefeulje van finansies geskuif het.

Miljoene rande word jaarliks deur munisipaliteite aan konsultante bestee (om leemtes met die gehalte aanstellings van onbevoegde amptenare ongedaan te probeer maak), maar as ’n reël duik dié munisipaliteite net so lekker in die hek. Dit dui op onbevoegde politieke inmenging wat aan kwaadwilligheid grens, korrupsie met die aanstelling van die konsultante, of bloot swak oordeel by die keuses van aanstellings. Ook munisipaliteite wat onder administrasie geplaas word neig om lustig saam in die kreeftegang af te dryf.

Dit is ook so dat wetgewing moontlik so kompleks en gevorder geraak het dat dit ’n kleinerige munisipaliteit wat nie ruim aan hoogsgekwalifiseerde amptenare kan spandeer nie, sal versmoor – ’n noot wat al meer uit die kabinet gehoor word van goeie wetgewing, maar swak uitvoering. In die verlede is al baie aan indiensopleiding (en waarskynlik meer aan die vervoer, luukse verblyf, spyseniering ensovoorts tydens die ekskursies) spandeer.

Befondsing van sentrale regeringsvlak is goedbedoeld, maar miljarde rande van dié fondse gaan jaarliks terug na die staatskas omdat dit nie spandeer word nie – volgens ’n kenner omdat die voorwaardes vir gebruik (byvoorbeeld vir infrastruktuur) so kompleks is dat dit liefs ongebruik gelaat word, omdat iemand in die sop kan beland weens die (onbedoelde) wanaanwending daarvan.

Die regering se beleid van gratis munisipale dienste veroorsaak weens die hoë werkloosheidskoers ’n bydraende krisis, en in ’n plek soos Soweto waar wanbetalings en kragdiefstal ’n lewenswyse geword het, gaan draai gepoogde owerheidsoptrede by burgeroorloë.

Die refrein uit opposisiegeledere bly egter dieselfde – besliste optrede teen kriminaliteit, onbevoegdheid en wangedrag in munisipaliteite word te selde duidelik en sigbaar aan die klok gehang om besliste optrede en wil van die regering te demonstreer, en het bitter min afskrikwaarde.

Wanneer politici (dikwels deur hul seuns en ander familielede) eers tenderpreneurs word en die instansie se tenderinstelling straffeloos soos ’n eie besitting begin regeer, is dit dikwels nie net die munisipaliteite wat bontstaan nie, maar provinsies self wat genadeloos gemelk word, maar al hoe swakker infrastruktuur oplewer.

In die Vrystaat is byvoorbeeld ’n klag gelê oor meer as R600 miljoen wat blitsig deur die destydse LUR vir huisvesting, Zwane, aan kontrakteurs laat oorbetaal is sodat dit nie aan die einde van die boekjaar verval en na die staatskas terugval nie. Na wat berig is het tot Hlaudi Motsoeneng en ’n minister se vrou daarby baat gevind. Bykans, of heeltemal dadels, het van die bedoelde aanwending van dié geld gekom.

Om weer behoorlik doeltreffende funksionerende munisipaliteite te kry, beteken omvattende holistiese optrede, maar ’n skerp fokus teen misdadigheid sal ’n goeie begin wees.

Maar 2019 en ’n verkiesing waar die band tussen munisipale oproer en dienslewering by die stembus gemeet gaan word, lê eenvoudig te na aan die deur – in elk geval vir die ANC se vermoë om die regte ding te doen. Dan is daar nog sterk sprake van ’n vervroegde verkiesing (op aandrang van leiers binne die ANC).

Dit verhoog eenvoudig die gevaar van ’n neiging wat politieke wetenskaplikes lank voor 1994 genoem, maar in politieke inkorrektheid verval het – wanneer dit nie meer help om die vorige bedeling te blameer nie, word ander geelwortels soos grondbesit voorgehou. Mense wat die blaam kan dra word uitgesoek en uit die hoofstroom geïsoleer sodat hulle makliker geteiken kan word.

Die gees van bestaande wetgewing en selfs die grondwet word verdraai en erg vermink voorgestel, soos nou met artikel 25 van die grondwet gemaak word.

Dan gaan iemand kwalik bemerk dat daar nog ’n kleinerige munisipaliteit of twee oproer beleef. Dit raak net te alledaags en versmelt in kwessies soos busstakings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

humor ·

Ja dit gaan rof, baie rof. en wie gaan uiteindelik die sake regruk, die belastingbetaler. So van die verwoesting van die grondwet gepraat. E T het voorheen van vergadering tot vergadering gese in Afrika le grondwette soos konvettie gestrooi. Wie kon dink dat dit moontlik die spog SA gespaar sou bly en dat die reenboognasie sou gedy?

Casper Labuschagne ·

@Humor, nee ons belastings is nie eens naastenby genoeg om selfs enkele munisipaliteite te red nie. Die tyd vir totale paniek is juis nou, want met onteiening sonder vergoeding is dit effektief die einde vir die wit minderheid in Suid Afrika. Daar is 10 miljoen swartmense wat wel hul huise besit, maar daar is 40 miljoen wat geen eiendom besit nie en die ongeveer 30,000 plase en 700,000 stedelike eiendomme in die hande van witmense sal nooit die honger vir grond kan bevredig nie. Dus sal daar net meer en meer grond van witmense afgeneem moet word ongeag van wat enige politikus vandag belowe.

Gaan soek op Youtube na ‘n video getiteld “South Africa Civil War About to Start” waarin Alex Jones ook is. Kyk sommer ook na my kommentaar op daardie video, ek hoop van harte ek sal verkeerd wees.

Willem ·

Ja en terwyl die land inplof haak Christi vanoggend voorspelbaar by Ashwin vas.

Casper Labuschagne ·

Hulle moet daar vashaak, rassisme is ernstig en wit bevoorregting is ‘n werklikheid – hulle kan nie anders nie.

Nee, mense soos Christi sit vas in ‘n positiewe terugvoersiklus waar hulle niks sien wat met hul mening verskil nie. Maar toemaar, die gemiddelde wit rugbykyker sit self in ‘n geslote terugvoersiklus waar alles in die land mooi perfek is mits die bokke op TV is en daar ‘n tjoppie op die vuurtjie is en ‘n koue bier in die hand.

Henry ·

Agge nee wat!

Asof die probleme om te oorleef en voort te strompel in ‘n gefaalde Afrikastaat nie moeilik genoeg is nie, moet die “gemiddelde wit rugbykyker” voortdurend allerlei neerbuigende, eenogige veroordelinge in sy eie taal aanhoor.

Die “gemiddelde wit rugbykyker” is steeds dieselfde gewone, gemiddelde en lojale siel wat hom/haarself die vryheid veroorloof om tsv die omgewing waarbinne ons almal moet oorleef, hulself die vryheid toeëien om rugby, krieket, golf ens ens te aanskou, sonder dat ons tred of perspektief met die aaklige werklikhede van hierdie droewe land verloor.

What a joke! ·

Moenie worry nie mensies! Al wat die Abc sorry ek meen anc volgende jaar gaan doen is om nog belasting verheffings op te stel!
Op kos op petrol op tolpaaie op alles op julle die belasting betaler wat alreeds oor en nogmaals oor belas is en voos gemelk is terwyl hulle die kaders lekka laaaaang slap karre ry en rond rits oor die wereld in weelde en helse parties gooi op die belasting betaler se onkostes natuurlik! En weereens sal hul boeke nie klop nie, en mense wonder hoekom! Hoekom nie want hul is deksels erg onbevoeg en deksels erg korrup en deksels erg arrogant en skelm!!,…. Maar moenie worry nie hul sal konsultante ten duurste aanstel om hul te wys hoe die werk gedoen behoort te word!!! Ai is daar hoop vir die hool!!!,

HP ·

Ja en onthou…. Die verslag wat gedoen is, is op laasjaar se syfers… So volgende jaar sal hierdie jaar tot Feb 2018 wees…. maw. die ergste is nog oppad. Hou vas jou matras!

Reguit ·

So word die land leeg geplunder en verwoes terwyl die wittes stelselmatig uitgemoor word. Red jouself (en jou gesin) en emigreer. Diegene wat gaan agter bly gaan die bloedige dag beleef wanneer alles finaal inplof tot ‘n volskaalse burgeroorlog. Die skrif is lankal teen die muur. Slegs die blindes kan dit nie lees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.