Nuuskommentaar: Treurig oor Treurgrond-twis

treurgrond posterSo in ’n kombinasie van die konvensionele media en die sosiale media het ’n bitter twis uitgebreek oor iets waaroor alles Suid-Afrikaners eendragtig saam behoort te staan – plaasmoorde. Dit is ’n ideologiese stryd waar die rolprent, Treurgrond, en die feit dat Steve Hofmeyr die hoofrol vertolk, as slaansak gebruik word.

Waar Maroela Media se nuuskommentaar tot dusver aan hierdie saak geraak het, is probeer om nie petrol op die vuur te gooi nie. Die twis het egter ʼn momentum gekry en die een swaargewig na die ander word betrek, en wild en wakker geklap dat dit meer aandag verdien.

So het Maroela in die nuuskommentaar, Ras (en vermeende rassisme) in die kookpot na die Facebook-inskrywing van Hanli B******* verwys, sonder om haar naam te noem om bevooroordeeldheid te beperk. In die betrokke inskrywing het sy die media verkwalik vir die ophef wat oor plaasaanvalle gemaak word, en gesê boere is nie engeltjies nie.

Hierdie inskrywing sou van verbygaande aard kon wees, maar dr. Piet Croucamp dam in Beeld in sy rubriek  Skeptisisme oor fliekmotiewe onder meer vir Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, by omdat Rapport die mediaborg van die rolprent Treurgrond is wat oor plaasaanvalle handel. Hy kap ook na dr. Dirk Hermann van Solidariteit. (Dirk het self ʼn oom aan ’n plaasmoord afgestaan).

Croucamp begin sy artikel egter met ’n baie objektiewe agtergrondskets – ironies, aangesien hy hierdie rubriekskrywer in die RSG-program Kommentaar, waarin beide paneellede was, bruusk in die rede geval het oor plaasmoorde, en toe ’n baie ander aanslag gevolg het. Omdat Piet die tyd opgepraat het, moes die uwe die sosiale media gebruik om te sê wat hy Piet wou antwoord – en dit herhaal Piet nou in breë trekke. Hy het onder meer in die radioprogram gesê proporsioneel is die moordkoers onder bruin mense in die Wes-Kaap baie hoër as onder boere. Die werklikheid is dat die moordkoers onder bruin mans – nie alle bruin mense nie – in ’n stadium weens bendebedrywighede as die hoogste koers van ’n identifiseerbare groep ter wêreld aangegee is. Die syfer was in die orde van 90 per 100 000 per jaar. Hierteenoor is die syfer onder boere in die orde van 100 per 100 000 per jaar, en is dit nie die gevolg van boere wat onder mekaar skiet en mekaar bedwelm lem weens bendebedrywighede nie. Piet gee nou toe dat die moordkoers onder boere die hoogste is.

Hierop spoel Deon Maas sy mond in ’n artikel, Rapport en fliek ‘n ja vir rassisme  oor Rapport se mediaborg uit.

Maas, wat kortstondig rubriekskrywer vir Rapport was voor hy afgedank is, se relaas is nie baie koherent nie. Hy verkwalik Rapport weens ’n beweerde gebrek aan neutraliteit (objektief sou waarskynlik ’n meer aanprysenswaardige eienskap wees), terwyl hy self erg voorbrand maak dat Steve Hofmeyr en ander die mond gesnoer moet word. Hy trap pragtig in die slagyster wat Rhoda Kadalie gestel het, deur in ’n rubriek op te merk politieke korrektheid is die diktatuur van die liberalis. Hy meld ook dat 66% van die moorde op plase swart plaaswerkers is. Hy versuim egter om te meld dat Treurgrond oor plaasaanvalle gaan, en dat ’n mens dus kwalik ongevalle weens naweekmoles onder die verskynsel van plaasaanvalle kan inskryf nie. Met naweekmoles is dit gewoonlik mense wat aan mekaar bekend was, en selfs saam ’n paar doppe gemaak het, wat haaks raak. Boonop het ’n vroeë verslag aangedui dat by plaasaanvalle die wit slagoffers dikwels vermoor word, en die swart slagoffers gewoonlik verkrag word. Dié verslag is egter al baie oud en nuwe navorsing oor alle gewelddadige insidente op plase kan dalk nuwe insigte bring. Onder meer dra die regering se eise oor hoër kontantlone daartoe by dat minder in natura-vergoeding deel van die vergoedingspakket uitmaak. Aanvanklik was daar heelwat klagtes van die vroue van plaaswerkers dat hulle nou minder kos het, omdat die mans meer op die aankoop van drank bestee. Maas se artikel word van oral uitmekaar geruk, en dis onnodig om hier daarop tyd te mors.

Dit maak natuurlik nie dat een ongeval meer “reg” is as ’n ander, of noodwendig minder ingrypende gevolge inhou nie.

Pelser antwoord self op Croucamp en Maas se standpunte in sy rubriek Kan jy glo, die wederkoms van die alwetende wit man. Dit is ’n netjies-verpakte argument en die moeite werd om te lees en te waardeer.

Die debakel het egter nog groot kanonne betrek.

Die redakteur van Beeld (en hoofredakteur van Netwerk 24 se koerante), Adriaan Basson, val in sy rubriek, Hulle is nie boere se vriende nie vir Rhoda Kadalie aan. Hy skryf onder meer: “Wat boere ook nie nodig het nie, is opruiende ‘vriende’ wat baie ernstige probleme op plase uitbuit vir politieke of populistiese gewin. Een so ‘vriend’ is die ‘aktivis’ Rhoda Kadalie, wat hierdie week in Beeld skryf asof sy die self-aangestelde kenner van plaasmoorde is. Soos die verregse popsanger Sunette Bridges, beweer Kadalie plaasmoorde is ’n ‘volksmoord’ teen wit mense en dat die ‘uitwissing van boere’ ook gaan oor ‘wraak vir grondontneming’. Sy skryf dit as feit, sonder ’n greintjie bewys of navorsing wat haar wilde stellings ondersteun.”

Basson het, volgens Kadalie, haar reaksie op hierdie aanval vir publikasie volstrek geweier (’n aantal briewe waarin hy hieroor aangevat is, is wel gepubliseer). Sy het toe in haar rubriek in die Citizen, in die vorm van ’n ope brief aan Basson, An open letter to an editor, behoorlik onder Basson ingeklim.

Sy skryf onder meer: “As a free speech warrior, I have decided to use this column to expose my letter to him: ‘I have written about farm murders when Adriaan Basson, your editor, was in nappies. Long ago I wrote about farm murders when the UN Human Rights person was here to assess the state of farm murders, when at the time it totalled about 1 500 (I have lost those columns with the theft of my computer but they were published in Business Day when I was a columnist there for some time). As editor you are rather uninformed about the definition of genocide, as well as the difference between what I describe as farm murders and not ‘volksmoorde’ – a word that is not part of my vocabulary – as intimated by Sunette Bridges. You have conflated the two; not me. As for not ‘being a friend’ of the farmers, I can guarantee you by popular poll I am more a friend than you are. In fact, I am a director of a big farm in the Western Cape and know more about farming than you will ever know.’ ”

Kadalie is geen liggewig nie. Sy is ’n bekende menseregteaktivis, akademikus en ’n rissiepit. Maar liberaal is sy nie, soos haar steun aan Israel toon. Sy en prof. Amanda Gouws van die US was ook al aanmekaar.

Uit hierdie “debat” kom die volgende na vore:

  • Dit is vermetel om te aanvaar dat ’n liberaal die enigste resep het vir gesonde tussengroepverhoudinge. Dit beteken egter nie dat probeer voorgee word dat rassisme, komende van wie ook al, ’n bydrae tot gesonde tussengroepverhoudinge kan maak nie. Inteendeel, en Maroela Media is goed op rekord om dit vas te vat.
  • Die “liberale” wat so onverdraagsaam staan teenoor ander se sienings, diskwalifiseer hulself as liberale, en staan ontmasker as pseudo-liberale. Liberalisme beskou minderheidsregte as ’n integrale deel van menseregte – iets wat in Suid-Afrika feitlik geheel ontbreek. Dit manifesteer bv. gereeld in stellings dat dit twak is dat Afrikaans onder regeringsdruk is, soos dit by universiteite manifesteer, en gebruik dan inligting soos hoe die Afrikaanse boek en die Afrikaanse lied doen – dalk juis ʼn manifestasie weens die druk elders – en sal bv. verswyg dat die regering buite-proporsioneel baie advertensiegeld in die Guptas se New Age
  • Sou diegene wat nou so “alleswetend” die veldtog probeer diskrediteer om plaasmoorde (op sterkte van objektiewe feite) tot prioriteitsmisdade te verklaar, dieselfde gevoel het as oud-pres. Nelson Mandela nog president was en plaasmoorde steeds, soos onder sy bewind, ’n prioriteitsmisdaad was?
  • Sou hulle in hul eie oë objektief, of à la Maas, neutraal gebly het as ’n familielid soos ’n eie kind, tydens ʼn plaasaanval wreed gemartel en vermoor gewees het al was daardie persoon ook die toonbeeld van die handhaaf van goeie verhoudinge met ander – ook met ander rasse? In die Oos-Vrystaat was die slagoffer, ’n afgetrede dosent van Rhodes, dan juis as filantroop bekend. Is hulle werklik onaangeraak deur die moord op klein Willemientjie Potgieter saam met haar ouers – Willemientjie wie se grootste “ambisie” was om by die Kinderkrans ’n lofkleuter te word?

Die interessantheid is dat diegene wat so onder Pelser en Rapport inseil, volgens hul eie erkenning nie die boek Treurgrond gelees of die fliek gesien het nie. Die blote feit dat dit oor plaasmoorde handel, dat Steve Hofmeyr die hoofrol vertolk en dat AfriForum betrokke is, maak die fliek ongewens. Sou hierdie selfde kritici ook flieks as onwenslik afmaak omdat van die akteurs wat daarin speel hulle aan onaanvaarbare gedrag soos brassery en dwelmmisbruik skuldig maak? Of omdat die hoofakteur met Scientology deurmekaar is?

Uiteindelik gaan dit oor die saak wat op die tafel geplaas word… dat onskuldige mense dikwels na kerk, deur aanvallers van elders oorval en wreed aangerand en vermoor word.

Alle Suid-Afrikaners, ongeag ras, ouderdom, welvaart of wat ook al, verdien beter.

Ongelukkig gaan diegene wat kwaad stook se stemme steeds luid gehoor word – danksy daardie einste reg tot meningsuiting wat hulle ander so siedend misgun. Die doeltreffendste teenreaksies is om hulle nie deur ander se rassistiese optrede en uitsprake van droë kruit te voorsien nie… en om die voete die praatwerk na die teaters te laat doen.

Wanneer die polariserende uitwerking van die regering se praatjies en optredes aan die kaak gestel en gestriem word (en dis belangrik dat dit gedoen word), moet gesorg word dat die morele hoë grond beklee word. In daardie opsig is Basson reg – mense wat met vuil hande probeer om die saak van die landbou te dien, is nie die vriende van die boere nie.

Intussen is dit nodig dat liberale en pseudo-liberale ook introspeksie gaan doen. Dit is inderdaad so dat liberalisme baie elemente tot die moderne demokrasie bygedra het, maar dit het lank nie meer alleen-eienaarskap daaroor nie. Die kernvraag is of liberalisme, gebore uit die humanisme, strykdeur steeds die toets van humanitêr wees ook kan slaag? Die doodstraf vir moordenaars, verkragters en dwelmhandelaars word erg teengestaan, maar die duisende onskuldige, ongebore babas wat jaarliks deur aborsies uit die lewe gehelp word, is nie ’n dispuutpunt nie. Vryheid van uitdrukking word so opgehef dat daar vanuit talle kringe, ook in die juridiese veld, fout gevind is met die skuldigbevinding van Malema aan haatspraak. Die oortreder se “reg” om te sê wat hy wil mag nie sommer ingeperk word nie (tensy hy regs op die politieke spektrum staan en selfs iets wettigs doen soos Die Stem te sing), maar die onskuldige slagoffers van haatspraak moet maar sien kom klaar, selfs al word sy, en sy gesin se lewens deur die opswepery bedreig.

Die aanslag teen Treurgrond in die besonder, en teen die veldtog teen plaasaanvalle in die algemeen, is nie noodwendig georkestreerd nie, maar dit het steeds die effek van georkestreerdheid en is daarom iets wat doeltreffend geneutraliseer moet word – vanaf die morele hoë grond.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Lindie Lourens ·

Herman, dankie dat jy namens my ( ons ) jou mening lug. Ek wil ook so sê, maar weet nie altyd hoe nie. Jy slaan die spyker telkemale op sy kop. Dankie!

Flip Sadler ·

Ek voel ook soos jy, Lindie,en se ook weer dankie vir Herman, wil ook so se maar druk dit nie altyd so presies uit nie !!

Henry ·

Dit wil voorkom asof die siele wat hulself as liberales wil voordoen, se geloofwaardigheid uiteindelik en onafwendbaar besig is om in die hek te duik. Om die ganse tyd gif te spoeg en elke man en sy brak wat nie met hul eensydige oortuiginge saamstem as ‘regs’ te verdoem, kwalifiseer jou vir seker nie as ‘n liberalis nie. Kanariegeel hare, kopdoeke of ‘n Savannah is ook nie voldoende “props” om iemand as liberaal te tipeer nie. Inteendeel.
:-))

Om mense wat nie jou denkrigting deel nie, te vloek soos Max du Preez en sy maatjies ons die afgelope tyd getoon het, gaan uiteindelik die redelike mense aan alle kante van die politieke spektrum oortuig dat die temende vuilbekkige “liberals” nie werklik in ordentlike geselskap tuishoort nie.

Die ware liberales soos algaande blyk, vervloek nie andersdenkendes met “f…. and die” nie. Ware liberales aanvaar die reg van mense om verskillende standpunte te huldig en beskuldig nie andere as regs, links, onnooslik, ens wanneer daar van hulle denkrigtings verskil word nie.

Dankie Herman. Hierdie skrywe van jou is so welkom en betyds soos die heer Pelser s’n in Rapport.

Pieter van der Dussen Senior ·

Dank aan Herman Toerien vir hierdie uiteensetting. Die Hollanders het die gesegde: ‘n Liberalis is iemand wat sy lewe sal gee vir die reg van elkeen om te dink en te se wat hy wil – maar wee jou as jy durf om van hom te verskil. Terloops: Laat ons in ons uitlatings oor persone steeds inagneem dat die Sesde en die Negende Gebod met mekaar verband hou – karaktermoord is gelyk aan liggaamlike moord. Ek stel dit algemeen, al het dit nie regstreeks met die inhoud van hierdie artikel te make nie. Die gebruik van rassisme, liberalisme, verregs en dies meer het egter al so ‘n sterk beskuldigende betekenis gekry dat dit nie net siviel-regtelik strafbaar kan wees nie. Sulke woorde word wild rondgeslinger en as etikette om mense se nekke gehang met die bedoeling dat dit as skandelik, vernederend, selfs gruwelik-sondig beskou word in dieselfde trant as om iemand ‘n vuilgoed, skelm, dief, draadkruiper en dies meer te noem.

ladybug ·

Ek gee nie om wat enigiemand sê as Steve die hoofrol hier speel nie! Ek is so GATVOL vir almal se galbraak oor ons blanke Afrikaners wat vir ons voortbestaan en dié van ons nageslagte baklei! Ek sal so doen tot ek nie meer asem het nie, want as jy nog nie iemand aan die dood afgestaan het agv ‘n sinnelose moord nie, dan weet jy nie niks nie!

ek kan nie wag vir hierdie fliek nie! Dankie Steve dat jy weereens jou staal gaan wys!

Elizabeth ·

Herman, kan maar net sê ‘Nou pra’ jý’.

Een van die karaktertjies in die Andy Capp- strokiesprente het hom op ‘n keer gevra wat hy onder sy kopdoek, skuus ek bedoel pet, wegsteek waarop hy toe antwoord “niks nie”. ;))

Hernus ·

Ek hou van hierdie skrywe, maar iets wat my hare bietjie laat regop staan is die deel wat stel dat die hoofakteur deurmekaar is met “scientology”. Lees ek reg? En moet ek dus verstaan dat Steve Hofmeyer deurmekaar is met scientology? As ek die skrywe hierbo verder reg verstaan, mag ek die vraag vra sonder om aangeval te word of dinge toegedig te word a.g.v “Vryheid van Spraak”

Herman Toerien ·

Ek het hier na ‘n bekende Amerikaanse akteur verwys – uit die vuis dink ek dis Tom Cruise, maar ek praat regtig uit korrupsie – my netwerk in Hollywood is so te sê nie-bestaande.

Hernus ·

Dankie vir jou antwoord Herman, en dat jy dit op n respekterende wyse doen, anders as ander se snedige opmerkings. Gelukkig het klaarheid gewen bo moontlike wan-interpretering of wanpersepsie.

Hernus ·

Ek is eerlik jammer dat ek dalk n interpretasie fout gemaak het en n vraag gevra het. Gelukkig is daar mense soos jy wat altyd als perfek weet. Ek is dankbaar saam met jou.

Patrys ·

Hernus, ek dink hy bedoel dat bv oorsee of plaaslik geen wenkbroue gelig word as n hoofrol akteur met dwelms of vreemde gelowe deurmekaar (lees dit as GROOT SONDES) is nie, maar Steve wat bloot Die Stem gesing het (lees klein sonde – werlik n sonde?) word gekruisig daarvoor. Menende dat die sonde bloot n handige slaanstok is vir n ander, groter “grudge” wat teen hom gehou word. Niemand kruisig Tom Cruise/ander dwelm gebruikende akteurs nie, maar hulle doen dit wel met Steve.

Rene van Wyngaarden ·

Slim genoeg om saam met die ‘groot kanonne’ in die kryt te klim is ek nie. Maar so dom dat ek nie kan sien wat in die land aangaan nie, is ek ook nie. Dalk moet die ‘geleerde liberale’ menere van hulle troontjies klim en om hulle rondkyk en sien wat aan die gebeur is. In plaas daarvan om olie op die vuur te gooi en verdeeldheid te saai. My instink vertel my dat wat in die land aan die gebeur is, natuurlik georkestreer en gemanipuleerd. Hulle moet ophou om in die hand van die ‘verdrukker’ te speel en die leek teen mekaar op te sweep. My pa het altyd gepraat van iemand se geleerdheid wat hom tot raserny dryf , as die persoon, soos die genoemde here, twak kwytraak. Ek self is nie ‘n Steve Hoffmeyer aanhanger nie, maar dat hy ‘n goeie skoot boereordentlikheid weg het en ‘n goeie akteur is , is nie te betwyfel nie. En los die man dat hy ‘Die Stem ‘ sing. Dit staan immers opgeteken in die FAK Sangbundel. Hy mag mos voel soos hy voel. En die fliek? As dit ‘n goeie draaiboek is met goeie regie waarom nie? Of is die uitwerking wat ‘Mein Kampf’ op die Duitsers gehad het net te bekend.

Dalena ·

Piet Croucamp was maar nog altyd lief vir sy eie stem. Ek is siek en sat dat daar slegs van ons sg “witmense” verwag word om altyd polities korrek op te tree maar die res kan se en doen wat hulle wil.

Esther Coetzee ·

Uitstekende artikel en ‘n goeie samevatting hoe baie van ons voel. Ek is om die minste te sê, gatvol vir Piet Kopdoek, Adriaan Basson en hulle trawante

Cathy Kotze ·

Baie dankie vir hierdie artikel, mnr Toerien. Dis regtig jammer dat neo-liberale so ‘n groot inspraak het in die hoofstroom Afrikaanse media. Piet Crous, Max du Preez, Pierre de Vos Adriaan Basson en Deon Maas het lankal die meningskolomme in die Afrikaanse media gekaap en hulle duld geen menings wat nie met hulle s’n ooreenstem nie,

Dis steeds vir hulle moeilik om te aanvaar dat die regerende party wat hulle so hartlik en entoesiasties vanaf 1994 ondersteun het, lankal besig is om soos ‘n vis van die kop af op te vrot.

izak van zyl ·

Hierdie het ek so 4 dae terug op my muur geskryf. Ek dink dis van toepassing op die linkerkant en regterkant. Ons is besig om onnself te vernietig.

Wat ek vanaand gaan skryf, gaan dalk die meerderheid van die lesers die harnas injaag. Ek kan egter nie langer stilbly nie.
Ek het lank genoeg van my hart ‘n moordkuil gemaak en daardeur veroorsaak dat ek deelgeneem het aan die oorsaak dat die Afrikaner/Boer is waar hy is vandag.
Gedurende 1999 het ek by die NG kerk uitgestap om nooit weer terug te kyk na die valsheid en hoogmoed wat deel vorm van hulle hele samestelling nie. Vir my was die “establishment” die oorsaak dat ons as Afrikaner christene onsself in die woestyn bevind het sedert die laat tagtiger jare. Omdat ek deel was van ‘n interkerklike gebedsgroep en omdat ek myself laat groot doop het, is ek onder sensuur geplaas en gedwing om of te loop of myself te bekeer.
Ek het besluit om eerder te loop en het op ‘n tog vertrek om die pinksterbewegings van Neville Norden, Kobus van Rensburg en ja selfs die orde van die verbondsvolk van ds Gert Steenkamp te ondersoek.
Omdat ek geweet het wie ek is in Christus en omdat ek ‘n diepgewortelde kompassie het vir Afrikaans en die Afrikaanse kultuur en geskiedenis, het ek my spoedig in gematigde konserwatiewe kringe bevind.
Het ek saamgesels en gedebatteer oor vele onderwerpe wat handel oor ons voortbestaan en vooruitgang as ‘n minderheidsgroepie hier aan die Suidpunt van Afrika.
Aan die politiek het ek my sedert 1994 nie veel gesteur nie, hoewel die veiligheid van ons mense altyddeur ‘n prioriteit was en steeds is.
Die afgelope 6 jaar het ek die ongelooflike wêreld van die sosiale media bemeester en kontak gemaak met derduisende mense wat soos ek dink en voel. Sommiges was meer nutraal, ander weer effens regs en ander was – soos ek – dalk aan die liberale kant…..tog ook geneig om te vereenselwig met die regse konserwatiewes.
Nadat Jacob Zuma tot president verkies is, en die skrif aan die muur begin verskyn vir ‘n mislukte staat, het ek ewe skielik die oplewing van ‘n regse front gade geslaan. Versigtig om myself van meet af aan te verbind tot enige beweging of party, het ek as nutrale waarnemer en opinievormer myself telkens vasgeloop teen die argwaan en openlike haat van links en regs.
Is ek dikwels rondgestamp en selfs vervloek omdat ek myself op nutrale grond bevind en nie in die openbaar kant kies nie.
Die posisie waarin ek my steeds bevind stel my instaat om met begrip te luister na uiteenlopende standpunte en opinies. Sit ek my maklik in die skoene van die opinievormer en vereenselwig ek my maklik met standpunte van links en regs wat sin maak.
Ek is geensins ideologies beinvloedbaar of vatbaar vir enige dwang of emosionele breinspoeling van enige kant nie.
Miskien raak ek emosioneel wanneer ek die politieke arena in ‘n keper beskou en my dan in die geselskap van “Afrikaners” bevind. Emosioneel omdat ek vanuit my lewensbeskouing en geloof nooit sal kan of wil verstaan waarom daar so kloof is tussen verskillende denkrigtings bestaan nie.
Ek sal nooit begryp hoe die twee pole kan durf aanspraak maak op ‘n soort van selfbeskikking onder elkeen se vaandel van hoogmoed, ego en valse patriotisme nie.
Die liberaal is erger rassiste as die konserwatiewes omdat hulle bose metodes gebruik en onsigbare magte misbruik om hulle werktuie van vernietiging te wees. So is ek vas oortuig dat die EFF so ‘n werktuig is van die smelterparty van Helen Zille.
So is die konserwatiewes ook maar met ‘n bose spel besig deur alles wat nie saamstem en saamdoen met hulle nie, te vervloek en te brandmerk met die “pienk” labeltjie.
Ek gaan nie die moeite doen om die derduisende kommentare op vele blaaie te copy en paste om my standpunt te bewys nie….u kan maar self gaan lees noudat u aandag daarop gevestig is! Waarom kan die teenpole saam rugby speel, maar van die veld af is hulle aartsvyande???? Sal dit nooit verstaan nie!!!
Praat ek met die Here hieroor, kry ek geen antwoorde nie. Praat ek met my familie hieroor, bevind ek myself op dieselfde nutrale grond, want roer ek die onderwerp aan, is daar sommer dadelik ‘n twisgees in die geselskap….wat dikwels dreig om in ‘n gevloek en geskel te ontaard as ek durf waag om my standpunt te verduidelik of te verdedig.
Kom ek tot een gevolgtrekking…en dis juis hier waar ek die tone wat in die pad is, gaan raaktrap!
Die oorsaak van die dilemma waarin die Afrikaner/ Boer hom bevind kan net gevind word in die kloof.
Dis ‘n eeue oue kloof wat sy oorsprong het nog voor die sappe en natte mekaar met stoele geslaan en met eiers gegooi het. Dis ‘n kloof wat ‘n diepgewortelde haatboom laat opgroei het waarvan net die satan die skaduwee geniet.
Die twee pole bevind hulself in die midde van die gevaarlikste tyd waarin ons geliefde land haarself bevind, waar die 2 pole veronderstel om een te wees waarin denkwyses mekaar aantrek, stoot die denkrigtings mekaar af.
Het ons van die genade afvallig geraak, want nêrens is die Afrikaner eintlik meer welkom nie. Nêrens word die Afrikaner se standpunte gerespekteer nie. Nêrens word daar leiers geidentifiseer wat ons as ‘n totale volk vorentoe kan neem nie.
Verknogdheid aan populiste soos Steve Hoffmeyr en Sunette Bridges het lankal by my ‘n bitter smaak gelos, want ek weet dat hulle net die een pool saam met hulle neem, terwyl die meerderheid van onse mense hulself op nutrale grond-soos ek- bevind, waar die kloof die oorsaak is dat ek nêrens sal en wil betrokke raak nie.
Ek word letterlik siek in my liggaam as ek sien en lees hoedat wit teen wit uitvaar….en openlike haat teenoor hulle broers uitgespoeg word. JULLE WAT DIT DOEN IS NIKS BETER AS DIE HEIDENE NIE!!!
Ek word letterlik siek as ek sien hoedat die liberaal ons kultuur erfenis verag en geen poging aangewend word om Steve en kie te ondersteun om dit weer te laat herleef in ons harte nie.
Ek word aan die anderkant ook siek as ek sien hoedat liberales se oge oopgaan en hulle ook beginne sien wat die konserwatiewes sien en beleef, maar word as gebrandmerkte varke behandel. SIES!!!
Dit bring my op die punt waar ek vir die totale Afrikanervolk (regs en liberaal) wil los met die boodskap:
JY HET EEN KANS OM TE BEWYS DAT JY ‘N LIEFDEVOLLE VADER EN VERBRYSELDE VERLOSSER AS JOU GOD HET!
JY HET EEN KANS OM JOU ATTITUDE TEENOOR JOU NAASTE TE VERANDER EN JOU HAND VAN BROEDERSKAP NA JOU BROER TOE UIT TE STEEK!! DAN SAL JOU VERHOUDING MET ANDER RASSE OUTOMATIES REGKOM
WANNEER DIE DIKTATUUR VAN ZOEMA EN KIE OP JOU LOSGELAAT WORD EN JY ONDERWERP GAAN WORD AAN DIE VERDRUKKING VAN ‘N BOSE INTERNASIONALE NEIGING OM “MARSHALL LAW” IN GEMEENSKAPPE TE IMPLIMENTEER OP GROND VAN JOU GELOOF, VELKLEUR EN AFKOMS, GAAN JOU DENKWYSE JOU NIKS IN DIE SAK BRING NIE.
SOEK NOU EENHEID IN JOU GELEDERE TERWYL DIT NOG TE VINDE IS….
LEEF NOU DIE 2DE GEBOD TEN VOLLE UIT, TERWYL DIT NOG BESKIKBAAR IS.
LAAT GOD OOR DIE LOTGEVALLE VAN DIE NASIES BESLIS EN SORG DAT JY IN SY KAMP IS, WANNEER DAARDIE DAG AANBREEK!
Dis maar al wat ek wil sê

Cornu Pretorius ·

Izak, dit lyk vir my ook of versoening tussen die sogenaamde liberales en konserwatiewes van ons mense, net sal gebeur as ons in ‘n groot genoeg krisis is!
‘n Alkoholis of verslaafde veroorsaak egter krisisse vir almal rondom hom. Tog wil hy nie insien dat hy die probleem het en moet hulp soek.
Mag ons vrees vervang word die Liefde van die Vader. Ons rebellie deur Onderwerping aan Jesus Christus. Ons trots deur verootmoediging deur die Heilige Gees.

Annatjie Kruger ·

Baie van die sogenaamde kunstenaars het in die apartheidsera baklei om te kan doen juis dit wat hulle Steve Hofmeyer nou wil ontsê. Ek onthou nog hoe daar teen die boikotte van verhoogdramas, rolprente ensovoorts baklei het. Hulle wou vryheid van spraak, vryheid van assosiasie, ensovoorts hê. Nou het hulle dit, dit is selfs in die grondwet vervat, maar hulle gun dit nie vir ander nie. Die oomblik wanneer iemand iets sê of doen wat nie teen hulle “beginsels” indruis, soos Die Stem op ‘n konsert sing, word die persoon gekelder, ‘n rassis gemaak en word daar van almal verwag om hom/haar te boikot. Ek dink dat Treurgrond ‘n siekte van ons tyd uitbeeld, en die publiek moet die keuse gelaat word of hulle dit wil gaan sien of nie. Kunstenaars het geen reg om my my vryheid van spraak en assosiasie te ontsê nie. En konserte en byeenkomste soos die KKNK moet vir alle kunstenaars beskikbaar wees. As ek na die KKNK gaan om te gaan luister hoe Steve Die Stem sing is dit my saak.

Deon ·

Ek kan nie regtig begryp hoekom die genoemde liberales altyd vinnig reageer as daar oor gebeure soos plaas moorde gepraat of gesktyf word nie. Deur aan die kant van die vermoordes (lees plaas boere, hul famielies en plaaswerkers wat met voorbedagte rade aangeval en vermoor word) te wees beteken tog nie dat ek die ras van die moordenaars as my vyand beskou nie. Ek kom in opstand teen diegene wat moor. Dit wil my voorkom asof die tipe liberales wat hier genoem word ń klein groep is wat net hul monde wil spoel sodra enige persoon van Europese afkoms dit net durf waag om vir hul groep (soos alle groepe reg oor die wêreld ook doen) opkom.

Chris du Plessis ·

Dis tyd dat sekere elemente in Afrikaner geledere isoleer word op alle vlakke.

DIRK BOSMAN ·

Veels geluk dat almal wat deelneem aan die debat dit regkry om hulle standpunt te stel sonder kruheid of rassehaat wat so kenmerkend is van die koers van debat in die ander media.

Hermanus Potgieter ·

Ek wil ook elkaar bedank vir die debat. Is dit ‘n onmoontlikheid dat ons net voortaan, ongevraagde, oningeligde en opstekerige opinies ignoreer? Hoe kan ‘n libiralis voortgaan met debat, as daar niemand is om mee te debateer nie? Dan sterf sy sieningskersie ook in die wind, en ons ander kan voortgaan met die gesprekke waarby ons belang het.

Tjaart Lemmer ·

Die hoofstroommedia is almal uitverkoop. Hulle gee nie feite nie. Hulle gee die menings van sg “meningsvormers” soos Piet Croucamp, Adriaan Basson, Deon Maas en al hulle trawante. Hulle praat nie namens my nie en hulle mening beteken vir my niks. Dis verdraaings en wanvoorstellings en disinformasie. Kyk liewer na Afriforum vir inligting. Hulle doen wetenskaplike navorsing. Die wit Boer is die mees geteikende etniese groep in die wereld, dit het statistieke nou reeds bewys. Ek boikot Netwerk 24, Beeld, Rapport en elke medium wat n spreekbeurt gee aan “meningsvormers” van bg formaat.

vic pianaar ·

mense, waarom julle tyd te mors om te reageer op mens soos maas en hanli watook al en piet weet nie wie hy is Die meerderheid van ons weet wat aangaan hulle. vermy die mense asseblief.

Georgean ·

Ek stem saam met Herman dis vir my verstommend dat enige een hoegenaamd na Deon Maas se opinie luister!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.